Die gordel wat lewens red
“DIE gebruik van veiligheidsgordels is een van die doeltreffendste maniere om die hewigheid van en die aantal beserings in motorongelukke te verminder”, sê die Morbidity and Mortality Weekly Report (MMWR). Volgens ’n studie word die risiko om in ’n motorongeluk te sterf met 43 persent verlaag wanneer passasiers goed gebruik maak van veiligheidsgordels. Die risiko om ernstige beserings op te doen, word met ongeveer 50 persent verlaag.
Die wet dat veiligheidsgordels gebruik moet word, is eerste deur die Australiese regering in 1970 ingestel. Nou vereis sowat 35 lande die gebruik van veiligheidsgordels. Oortreders moet dikwels boetes betaal, en in sommige gevalle loop hulle selfs die risiko dat hulle rybewys ingetrek sal word. Party regerings se wette vereis dat passasiers in alle sitplekposisies (die voorste sowel as die agterste sitplekke) veiligheidsgordels dra.
Die MMWR sê dat daar “na raming elke jaar 300 000 mense sterf en 10-15 miljoen mense in verkeersongelukke regoor die wêreld beseer word”. Daardie syfers sou aansienlik laer gewees het as al daardie mense sitplekgordels gedra het.