Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 4/8 bl. 20-22
  • Uitstellery—Die dief van tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitstellery—Die dief van tyd
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dit uitstellery?
  • Vang die dief
  • Dink aan die gevolge
  • Wat kan ek doen?
  • Hoe kan ek ophou uitstel?
    Jongmense vra
  • Hulp om uitstellery te vermy
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2022
  • Hoe kan ek my tyd goed gebruik?
    Jongmense vra
  • Maak goed gebruik daarvan want jy kan dit nie opgaar nie
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 4/8 bl. 20-22

Uitstellery—Die dief van tyd

“Uitstellery is die dief van tyd.”—Edward Young, ca. 1742.

STOP! Moenie hierdie artikel neersit nie! Jy weet wat kan gebeur. Jy sit dit dalk neer en sê: “Dit is ’n interessante opskrif, maar ek het nie nou tyd om dit te lees nie. Ek sal later daarby kom.” Maar later kom dalk nooit.

Moenie uitstel om ’n artikel oor uitstellery te lees nie! Kyk hoe lank dit jou neem. Jy sal waarskynlik hierdie artikel in ongeveer vyf minute kan lees. Jy sal dan al ongeveer 10 persent van hierdie hele tydskrif voltooi het! Kyk na jou horlosie en begin die tyd nou meet. (Jy het al klaar 5 persent gelees!)

Is dit uitstellery?

As jy wat jy nou kan of moet doen, laat oorstaan—dit tot later verskuif—is jy besig om uit te stel. Met ander woorde, jy stel uit tot môre wat jy nou, vandag, kan doen. ’n Uitsteller stel optrede uit wanneer optrede vereis word.

’n Opsigter vra ’n werknemer om ’n verslag op te stel; ouers vra hulle kind om sy kamer aan die kant te maak; ’n vrou vra haar man om die kraan reg te maak. “Ek het te besig geraak” of “Ek het vergeet” of “Ek het nie tyd gehad nie” is verskonings wat gemaak word wanneer dinge nie gedoen is nie. Feit is, min van ons hou daarvan om verslae op te stel, kamers aan die kant te maak of loodgieterswerk te doen wanneer daar genotvoller dinge is om te doen. Dan laat ons dit oorstaan; ons stel dit uit tot later.

Maar het jy geweet dat dit soms nie uitstellery is wanneer ons iets laat oorstaan nie? Wanneer een sakevrou ’n versoek ontvang en nie weet wat om daarmee te doen nie, liasseer sy dit in ’n doos op haar lessenaar wat “hangende” gemerk is. Ná ’n paar weke hersien sy hierdie items en vind sy dat die helfte van hulle geen optrede vereis nie. Hulle het hulleself opgelos of is nie meer nodig nie. As jy onseker is of jy moet uitstel of optree, kan jy probeer vasstel wat sal gebeur as jy dit wat jy uitstel nooit doen nie. Sal die uitslag waarskynlik beter wees as jy dit gedoen kry of sal dit slegter wees?

As ons nou kan en moet optree en as dit later meer probleme kan veroorsaak as ons die nodige optrede laat oorstaan, is dit uitstellery. Dit is byvoorbeeld moeiliker om skottelgoed te was as jy dit ’n tyd lank laat staan het en dit nou moet skrop. Om motoronderhoud uit te stel, kan later duur herstelwerk tot gevolg hê. As jy agterraak met die betaling van ’n rekening kan dit tot groter onkostes of die verlies van dienste lei. Een vrou het bereken dat die boetes vir haar agterstallige verkeerskaartjies, videobande en biblioteekboeke altesaam 46 dollar (167 rand) beloop het! Dit was net een maand s’n!

Vang die dief

Verstaan waarom jy uitstel. Kyk na die volgende redes en sien of daar een is wat by ’n huidige projek pas wat jy nog nie begin of voltooi het nie:

Gewoonte:

As ek tot op die nippertjie wag, sal ek meer motivering hê om dit klaar te maak.

Ek geniet die opwinding as ek dit op die allerlaaste doen.

Ek sal wag tot die baas my ’n paar keer herinner, dan sal ek weet dit is iets wat hy werklik gedoen wil hê.

Ek het soveel om te doen dat net die allerbelangrikste dinge my aandag kry.

Gesindheid:

Ek het nie die begeerte of deursettingsvermoë om die taak uit te voer nie.

Ek kom net by dinge wanneer ek daarvoor lus voel.

Ek wil iets anders doen.

Ek het ’n gebrek aan selfdissipline.

Vrees:

Ek is nie seker of ek dit kan doen nie.

Ek het nie genoeg tyd om dit te doen nie.

Die projek is te groot. Ek het hulp nodig.

Sê nou ek kry dit nie reg of maak dit nie klaar nie?

Ek moet die materiaal kry om die projek te voltooi.

Ek is bang dat ek gekritiseer of in die verleentheid gebring sal word.

Verskillende mense stel op verskillende stadiums uit. Party stel uit nog voor hulle begin het omdat hulle die projek as te groot beskou. Ander begin, maar omtrent halfpad deur die projek neem hulle geesdrif af en stel hulle die voltooiing daarvan uit. Nog ander maak dit amper klaar, maar begin dan ’n nuwe projek sonder om die eerste een te voltooi. (Terloops, jy doen heel goed. Jy is al halfpad met hierdie artikel.)

Die redes waarom jy ’n projek nie begin of voltooi nie, kan in al drie kategorieë val. In die boek The Now Habit het Neil Fiore geskryf: “Die drie grootste dinge wat agter die meeste probleme met uitstellery sit, is: om soos ’n slagoffer te voel, om oorweldig te voel en vrees vir mislukking.” Wat ook al die rede is, jy sal nader aan die oplossing wees as jy jou vinger op die oorsaak kan lê.

As jy onseker is oor waarom jy uitstel, kan jy ’n lys maak van wat jy met elke halfuur van jou week doen. Stel vas hoe jy jou tyd gebruik. Dit kan werklik verrassend wees om te sien hoeveel tyd ons tussen belangrike take aan betreklik onbelangrike dinge bestee. Maar wat dan?

Dink aan die gevolge

As jy verwag dat iets sonder enige inspanning klaar sal kom, kan dit jou goor laat voel. Namate jy nader aan die verwagte spertyd kom, begin jy druk en angs voel. Terwyl hierdie gevoelens oplaai, word jou skeppingsvermoë dalk belemmer. Jy is nie meer so geneig om verskillende maniere te ondersoek of te oorweeg om die doel te bereik nie, maar stel hoofsaaklik daarin belang om dit gedoen te kry.

Byvoorbeeld: Jy word gevra om ’n toespraak te hou. Die aand voor die tyd skryf jy ’n paar woorde neer. Jy het nie genoeg tyd daaraan bestee om navorsing oor jou onderwerp te doen nie, en gevolglik doen jy dit maar uit die vuis. Miskien sou jy, met net ’n bietjie meer inspanning, jou gehoor kon help om die onderwerp te visualiseer deur ondervindinge, aanvullende inligting of tabelle in te sluit.

Wanneer ons ’n projek uitstel, is nog ’n uitvloeisel daarvan die onvermoë om te ontspan wanneer ons vrye tyd het. Dit is omdat ons ’n knaende gevoel het (of iemand het wat ons knaend herinner) dat ons ’n projek nie klaargemaak het nie.

Wat kan ek doen?

Maak ’n lys. Doen dit die aand voor die tyd. Skryf die dinge neer wat jy die volgende dag wil doen. Op hierdie manier sal jy niks vergeet nie en sal jy jou vordering sien namate jy die afgehandelde punte afmerk. Skryf aan die regterkant van elke punt hoe lank jy skat dit sal neem om die taak te doen. Gebruik minute as jy ’n ‘Dinge om te doen’-lys vir die volgende dag maak. Gebruik ure as jy ’n lys van projekte maak. Maak hierdie lys die aand voor die tyd. Sit ’n paar minute opsy om jou lys vir die volgende dag gereed te kry. Hou ’n maandelikse kalender byderhand. Sodra jy ’n opdrag aanvaar of ’n afspraak maak, skryf dit neer.

Wanneer jy jou take vir die volgende dag hersien, moet jy die prioriteit van elke punt op jou kalender bepaal deur A, B, C, ensovoorts langs elke taak wat verrig moet word te skryf. Party mense doen beter werk in die oggend, terwyl ander beter werk in die middag of aand doen. Beplan jou grootste projekte vir die tyd wanneer jy die produktiefste is. Sit minder genotvolle take voor die genotvolles.

Hou tyd. As jy altyd laat is, moet jy leer om tyd te hou. Dit wil sê, maak ’n akkurate raming van hoeveel tyd jy nodig sal hê om ’n taak te voltooi. Voeg ’n paar ekstra minute by vir die “ramp” wat jou kan tref. Moenie vergeet om tyd tussen afsprake toe te laat nie. Jy moet reistyd byreken. Jy kan nie om 10:00 vm. met ’n vergadering klaarkry en om 10:00 vm. by ’n ander een wees nie, al is dit in die kamer langsaan, wat nog te sê aan die ander kant van die dorp. Laat genoeg tyd tussenin toe.

Delegeer. Ons probeer dikwels om alles self te doen al is dit nie altyd nodig nie. Iemand anders kan dalk vir ons ’n pakkie afgee as ons weet dat hy poskantoor toe gaan.

Deel dit op. Vanweë die grootte van ’n nuwe projek begin ons dikwels nie daarmee nie. Dalk moet ons die groot taak in kleiner takies opdeel. Namate ons die kleiner takies afhandel, sal ons ons vordering sien en aangespoor word om die volgende fase te voltooi.

Beplan vir onderbrekings. Daar is altyd onderbrekings in ons werksdag—telefoonoproepe, besoekers, probleme, pos. Ons wil doeltreffend werk, en dit sluit in dat ons saam met ander mense werk wat ook spertye het. As ons net daaroor besorg is om doeltreffend te werk, sal ons omgekrap raak wanneer ander mense ons onderbreek. Beplan dus vir onderbrekings. Laat daagliks tyd toe vir onbeplande verwikkelinge. Wanneer hulle ontstaan, kan jy daaraan aandag skenk, met die wete dat jy tyd daarvoor toegelaat het.

Beloon jouself. Wanneer jy jou beplanning doen, moet jy daarna mik om jou ongeveer 90 minute lank intens of kragtig in te span. Moenie vergeet om tyd vir voorbereiding van die taak opsy te sit nie. Ná jy werklik die taak begin en ongeveer ’n uur en ’n half gewerk het, het jy dalk ’n blaaskansie nodig. As jy in ’n kantoor werk, kan jy ’n bietjie ophou werk, uitrek en nadink. As jy buite werk, kan jy ’n bietjie rus. Beloon jouself vir jou werk.—Prediker 3:13.

Dink net, jy het hierdie artikel in ongeveer vyf minute voltooi ná jy die opskrif gelees het. Jy is dalk besig om reg te kom!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel