Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/22 bl. 11
  • Die Wêreldraad van Kerke—kom ooreen om te verskil

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Wêreldraad van Kerke—kom ooreen om te verskil
  • Ontwaak!—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Pogings om te verenig
    Ontwaak!—1991
  • Is Christelike eenheid moontlik?
    Ontwaak!—1991
  • Eenheid is ’n kenmerk van ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 3/22 bl. 11

Die Wêreldraad van Kerke—kom ooreen om te verskil

VAN 3 tot 14 Augustus 1993 het die stad Santiago, Spanje, ’n buitengewone groep pelgrims verwelkom. Die stad was die gasheer vir die Wêreldkonferensie oor Geloof en Orde, wat deur die Wêreldraad van Kerke geborg is. Die afgevaardigdes het ’n formidabele doelwit gehad—daar moes nuwe lewe geblaas word in die doodgeloopte poging om die Christendom se kerke te verenig.

Desmond Tutu, die Anglikaanse Aartsbiskop van Suid-Afrika, het die situasie ronduit as “ekumeniese traagheid” beskryf. “Ons steek ons tone in die water, maar het nie genoeg moed om in te spring nie”, het hy gekla.

Dit sal nie maklik wees om die ekumeniese sprong te waag nie. Verdeeldheid onder die afgevaardigdes het selfs tydens die openingsplegtigheid in Santiago se Katolieke katedraal kop uitgesteek. Die “Gesang tot St. Jakobus”, wat tydens die diens gesing is, is daarvoor gekritiseer dat dit eeue van aggressie deur Spaanse Katolieke teen Jode, Moslems en Protestante verheerlik het, al het die Katolieke aartsbiskop Rouco deelnemers aangemoedig om ‘mee te doen aan die gees van die pelgrims en versoening onder Christene na te streef’.

Is daar enige raamwerk wat kan help om Katolieke, lede van die Ortodokse kerk en Protestante te versoen? Een studiegroep het voorgestel dat die verskillende kerke die Niceense Geloofsbelydenis “as die vernaamste verwoording van die apostoliese geloof” moet beskou. Hulle het gehoop dat hierdie geloofsbelydenis kan dien “as ’n middel waardeur eenheid van geloof bereik kan word”, al is daar “’n verskil in sienswyses”.

Die “verskil in sienswyses” het herhaaldelik tydens die konferensie opgeduik. Ortodokse en Katolieke afgevaardigdes het hulle besware uitgespreek teen die onlangse Anglikaanse besluit om die ordening van vroue goed te keur. ’n Ander geskilpunt is die mededinging tussen die Ortodokse en Katolieke kerke in eertydse Kommunistiese lande. Aartsbiskop Iakovos van die Grieks-Ortodokse Kerk het gesê dat dit verkeerd is om te praat van die “herevangelisasie van volke wat eeue lank al Christene is”, maar wat ongelukkig dekades lank onder Kommunistiese ateïsme moes lewe. Om die waarheid te sê, ’n konferensieverslag het “proselitisme” as ’n hindernis vir eenheid afgekeur, ofskoon dit wel erken het dat daar ’n behoefte bestaan aan ’n ‘duideliker begrip van die sendingaard van die kerk’.

Samuel B. Joshua, die Biskop van Bombaai, het die eenheid van die kerke op sombere wyse as ’n “utopiese begrip” beskryf. Nadat hy self die probleme ondervind het wat betrokke was by die samesmelting van ses denominasies in Indië het hy gesê dat die “voordele oppervlakkig is” terwyl die las “ondraaglik geword het”. Hy meen dat Christelike eenheid nie nagestreef moet word “in terme van leerstellings en kerkorde” nie.

Maar sal eenheid wat nie leerstellings in aanmerking neem nie ware eenheid wees? Kan godsdienste wat steeds nie ‘die sendingaard van die kerk verstaan’ nie Christus waarlik navolg? Paulus het gesê dat ware navolgers van Christus moet aanhou “om eenders te dink” (2 Korintiërs 13:11). Om bloot ooreen te kom om te verskil, voldoen beslis nie aan daardie standaard nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel