Kaptein James Cook—Onverskrokke ontdekkingsreisiger van die Stille Oseaan
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
BEHALWE in Engeland, Australië, Nieu-Seeland, Hawaii en die eilande van die Stille Oseaan sal die naam kaptein James Cook dalk nie eers deur die meeste mense herken word nie. Maar in die lande wat hierbo genoem word, weet byna elke skoolseun van kaptein Cook—net soos Amerikaanse kinders van Christophorus Columbus leer.
Dit is egter sonder twyfel in Australië—die Stille Suidsee se eilandkontinent—en in Nieu-Seeland waar die seevarende ontdekkingsreisiger die bekendste is, want die naam kaptein Cook kan orals gesien word. Daarbenewens word die onverskrokke kaptein se lof letterlik besing in die oorspronklike weergawe van die lied “Advance Australia Fair”, wat in 1974 die land se volkslied geword het.
James Cook, die mens
James Cook was ’n plattelandse seun wat in Oktober 1728 in Yorkshire, Engeland, gebore is. Hoewel sy vroeë lewe onbekend is, het hy blykbaar ’n mate van onderrig ontvang by die Ayton-dorpskool, wat nog bestaan. Later is hy as ’n vakleerling by ’n kruidenier in die vissershawe Staithes ingeskryf. Daarna het hy, met die seelug in sy longe, van loopbaan verander en in die steenkoolhandel gaan werk en geleer hoe om skepe te hanteer, en hy het langs die winderige kus van die Noordsee gewerk.
Die steenkoolskepe was nie die enigste voorbereiding wat Cook vir sy latere seereise gehad het nie. Terwyl hy aan land was, het hy sy studie van wiskunde voortgesit en uiteindelik in 1755 by die Britse vloot aangesluit. Hoewel hy ’n mate van aktiewe vlootdiens gedoen het, het hy beter bekend geraak vir sy land- en seekaarte van Newfoundland, Nieu-Skotland en Labrador.
Die wêreldtoneel van 1769
Groot-Brittanje het in 1763 die oorhand gekry as die vernaamste koloniale en kommersiële wêreldmoondheid. Ná 200 jaar van sporadiese oorlogvoering is Spanje, Nederland en Frankryk deur Groot-Brittanje oorwin. Die laaste van hierdie mededingers, Frankryk, het verpletterende nederlae gely. Dit was ’n dramatiese tydperk. Wetenskaplike vooruitgang was vinnig besig om bygelowigheid te verdryf en ’n wydverspreide dors na kennis te skep. Navigasiemetodes het ook geweldig verbeter. Die Britse vloot en wetenskaplike kringe het dringend na ’n seeman-wetenskaplike gesoek om ’n ekspedisie na die Stille Oseaan te lei. James Cook is die een wat vir hierdie veeleisende rol gekies is.
Cook se seereise begin
Die opdrag wat Cook vir sy eerste seereis, 1768-71, ontvang het, was om “lande wat tot dusver onbekend is, te ontdek en om kennis te verkry oor afgeleë dele wat, hoewel reeds ontdek, nog nie deeglik verken is nie”. Sy opdrag het verder gesê dat “daar rede is om te dink dat ’n vasteland of land van groot omvang moontlik in die suide gevind kan word” en dat hy “suidwaarts moes gaan om dié vasteland te ontdek”. Die eerste taak was egter om die Venus-oorgang verby die Son waar te neem in die hoop dat die afstand tussen die Aarde en die Son presies bepaal sou kon word. Dit moes op Tahiti uitgevoer word.
Die eerste seereis het 43 dae minder as drie jaar geduur. Cook het meer gedoen as wat aan hom opgedra is. Dit was gedurende hierdie eerste seereis dat hy sy beroemde landing in Botany-baai gemaak het, net ’n paar kilometer suid van die pragtige Sydney-hawe, wat eers later ontdek is. Hy het ook rondom albei eilande van Nieu-Seeland gevaar en was die eerste Europeër om die ooskus van Australië te karteer. Hy het natuurlik nie die denkbeeldige groot suidelike vasteland ontdek nie.
’n Tweede suksesvolle seereis
Op sy tweede ekspedisie, 1772-75, is Cook opdrag gegee om die twee skepe Resolution en Adventure op ’n seereis te neem wat nog ’n suksesvolle omvaring sou wees, hierdie keer van die Antarktika, met inbegrip van etlike draaie deur die leegte van die Stille Suidsee. Maar maande van ysige temperature en snydende winde het gehelp om hom daarvan te oortuig dat daar geen ontwykende suidelike vasteland was nie. Sy uitgeputte bemanning was bly om van die ysige see af weg te kom en na Tahiti terug te keer.
Cook se tweede seereis was ’n volslae sukses en is in die geskiedenisboeke opgeteken. Alan Moorehead het in sy boek The Fatal Impact gesê: “Aan die einde van Julie 1775 het hulle die anker in Plymouth laat sak. Hulle was drie jaar en agtien dae lank weg. Hulle het meer as 60 000 seemyl [110 000 kilometer] gevaar—drie keer die omtrek van die aarde—en Cook het net vier van sy bemanning verloor . . . Met hierdie seereis het hy naam gemaak as een van die grootste seevaarders van alle tye.”
Derde seereis is rampspoedig
Ekspedisie nommer drie moes die Stille Oseaan-kus van Kanada verken en na die veronderstelde Noordwestelike Deurvaart soek wat die Stille en Atlantiese Oseaan via die Noordelike Yssee verbind. Dit was kaptein Cook se laaste seereis. Hy het op 12 Julie 1776 van Engeland vertrek op die nuut toegeruste Resolution en het ook die skip Discovery saamgeneem. Op 18 Januarie 1778 het hy afgekom op wat nou as die Hawaii-eilande bekend staan, waar hy en sy bemanning gasvry ontvang is. Hulle het hulle kosvoorraad op hierdie pragtige eilande aangevul en toe in die noordelike somer van daardie jaar vergeefs ’n deurgang na die Atlantiese Oseaan probeer vind. Hulle het daarná teruggekeer om die winter in Hawaii deur te bring.
Geskiedkundiges is nie seker wat op hierdie tydstip ’n skynbare verandering in Cook se gedrag teweeggebring het nie. Daar bestaan onsekerheid oor die manier waarop hy, met sy terugkeer, die Hawaiërs behandel het. Party beweer dat hy hulle toe op hardvogtige wyse begin uitbuit het. Ander wonder of hy dalk hulle godsdienssiklusse oortree het. Wat die ware toedrag van sake ook al was, hy het hier op 14 Februarie 1779 aan sy einde gekom.
Hoe het hy gesterf? Met hulle terugkeer na Kealakekua-baai op 17 Januarie is die ontdekkingsreisigers deur 10 000 Hawaiërs begroet. Die eilandbewoners was besig om die makahiki-fees tot eer van hulle god Lono, die god van die grond, te vier. Dit lyk asof Cook as die god Lono vereer is, en hy en sy bemanning is weer eens met buitengewone vriendelikheid en gasvryheid ontvang. Drie weke later, op 4 Februarie, het hulle die anker gelig en uitgevaar. Maar ná net vier dae is hulle deur ’n hewige orkaan getref, en die Resolution het ’n mas verloor. Cook het na Hawaii teruggekeer.
Tot Cook se verbasing was die ontvangs hierdie keer vyandig. Party glo dat die Hawaiërs die saak dalk meer rasioneel deurdink het en tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle deur Cook en sy bemanning uitgebuit word. Ander doen aan die hand dat Cook se terugkeer teenstrydig was met die gedagte dat hy ’n “god” was. Wat ook al die rede, Cook se verwarde bemanning het ongelukkig met geweld gereageer. Dit het gelei tot die diefstal van een van die Discovery se bote. Cook het die boot probeer terugkry deur die hoofman, Kalaniopu’u, as gyselaar te neem. ’n Konfrontasie het gevolg en Cook is op die strand met ’n dolk gesteek en toe doodgeslaan.
Die dagboek van ’n bemanningslid van die Resolution, seekadet George Gilbert, beskryf die laaste paar minute van Cook se lewe in die fynste besonderhede. “Kapt. Cook het skaars die waterkant bereik en vir die bote gewaai om op te hou skiet toe een van die hoofmanne, wat waaghalsiger as die res was, agter hom ingespring en hom met ’n ysterdolk tussen die skouers gesteek het. ’n Ander een het hom op daardie oomblik met ’n kierie ’n hou teen die kop gegee, wat hom in die water laat val het; hulle het onmiddellik ingespring en hom ’n paar minute ondergehou, hom toe op die rotse uitgesleep en sy kop verskeie kere daarteen gestamp; sodat hy sonder twyfel vinnig gesterf het.”
’n Persoonlikheidsverandering
Cook se gedragspatroon het blykbaar op die derde seereis begin verander, en hy het nie meer dieselfde kalmte en beheerstheid aan die dag gelê as wat hy op sy twee vorige reise na die Suidsee gehad het nie. Op die derde seereis het hy die sweep op 37 persent van sy bemanning gebruik, feitlik twee keer soveel as op die eerste seereis. Hierdie keer het hy die Polinesiese eilandbewoners ook minder menslik behandel. Hy het byvoorbeeld op die Tahitiese eiland Eimeo koelbloedig beveel dat huise afgebrand en kano’s vernietig moet word omdat ’n dragtige bok gesteel is. Hy het selfs die ore afgesny van eilandbewoners wat op diefstal betrap is. Was hy siek of moeg of eenvoudig net wreed?
Erfenis van die seereise
Professor Bernard Smith doen in sy boek Captain James Cook and His Times aan die hand dat “Cook nie in die ware sin van die woord ’n ontdekker van nuwe lande was nie”. Dit is miskien waar, aangesien die meeste gebiede waarop Cook afgekom het reeds bewoon was. Nietemin sê Grenfell Price: “Sy uitstaande bydraes tot aardrykskundige kennis was die voltooiing van die oorsigkaart van die Stille Oseaan deur die ontdekking van die lang oostelike kuslyn van Australië, die aftekening van Nieu-Seeland, die verkenning van lang gedeeltes van die kus van Noord-Amerika; die ontdekking van heeltemal nuwe eilande soos Hawaii en Nieu-Kaledonië; en die herontdekking en noukeurige plasing van ander eilandgroepe. Cook is die seevaarder wat . . . as ’t ware die Antarktiese vasteland ontdek het, en in die Arktika het hy Bering se ontdekking van sy Straat bevestig.” Cook se see- en landkaarte was nuttig lank nadat sy mastop oor die Stille Oseaan se horison verdwyn het.
Maar ongelukkig dobber daar ook in Cook se kielwater slegte dinge, soos geslagsiekte, vuurwapengeweld, die uitdunning van die Antarktiese wild en die uitbuiting van die eilandbewoners van die Stille Oseaan. Alan Moorehead het oor Cook se Antarktiese ontdekkings geskryf: “Dit was weer eens Cook se lot om ellende agter te laat. Hy het afgekom op wat waarskynlik die grootste versameling wild ter wêreld was, en hy was die eerste mens wat die wêreld oor die bestaan daarvan ingelig het. . . . Cook se indringing in Tahiti en Australië was erg genoeg vir die inboorlinge: vir die Antarktiese diere was dit ’n slagting.”
Die jagters en walvisvaarders het Cook se uitvoerige verslag en kaarte gevolg en op die jag gegaan. Alan Moorehead sê verder: “Die slagting het aangehou totdat daar feitlik niks oor was om dood te maak nie, altans niks wat maklik en met wins doodgemaak kon word nie.”
[Prente op bladsy 15]
Cook se gewelddadige dood in Hawaii
Sy ontdekking van Botany-baai, Australië
[Erkenning]
Paintings: By courtesy of Australian International Public Affairs
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Painting by John Weber/Dictionary of American Portraits/Dover. Background: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck