Snork jy?
IS JY iemand wat baie snork? Party mense snork baie en is salig onbewus daarvan. Daarom weet hulle nie waarom hulle so swak en bewerig voel wanneer hulle opstaan nie. Hulle afwyking staan bekend as slaapapnee. Terwyl iemand met hierdie afwyking slaap, ontspan sy keelspiere wat die asemhalingskanale oophou in so ’n mate dat die lugkanaal afgesluit word. Tot ’n minuut kan verloop voordat die persoon na asem snak en vir ’n kort rukkie wakker word. Die meeste apnee-lyers weet nie dat hulle slaap onderbreek word nie. Hulle vind slegs uit as ’n kamermaat wat dikwels deur die snorkery wakker gemaak word iets daaroor sê. Deskundiges meen dat apnee tot motor- en werksongelukke bydra en dat dit moontlik ’n faktor by beroertes en hartaanvalle is.
Is daar ’n oplossing? Die Complete Home Medical Guide (Universiteit van Columbia se Kollege vir Geneeshere en Chirurge) sê: “Mans ly 20 keer meer hieraan as vrouens. Meer as die helfte van die lyers is vet, wat die normale lugvloei verder belemmer. ’n Belangrike deel van die terapie is dus om gewig te verloor.” Dieselfde bron stel voor dat ’n operasie om die obstruksie van die lugkanaal te verminder in ernstige gevalle dalk raadsaam is.