Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 3-6
  • Die liefde vir geld—’n Wortel van allerlei kwaad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die liefde vir geld—’n Wortel van allerlei kwaad
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mag van geld in die gesin
  • Geld, oral geld
  • ’n Kontrasterende karakterskets
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Is geld die wortel van alle kwaad?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Geld
    Ontwaak!—2014
  • Hoe om met geld te werk
    Julle gesin kan gelukkig wees
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 3-6

Die liefde vir geld—’n Wortel van allerlei kwaad

ELKE geslag dink dalk dat húlle geslag die grootste najagers van hierdie mees gesogte artikel op aarde is—geld! Elke geslag kan die oorloë opnoem wat hulle gevoer het om rykdom en welvaart te verkry—die duur van die oorloë is dikwels bepaal deur hoe lank die geld gehou het.

Miljoene mense is al wêreldwyd vir geld doodgemaak. Kinders van welgestelde ouers is al ontvoer en ’n losprys is vir hulle vrylating geëis—geld wat die ouers sal betaal sodat hulle hulle kinders ongedeerd kan terugkry. Deur bedrog ontneem swendelaars hulle niksvermoedende slagoffers van hulle hele lewe se spaargeld. Inbrekers plunder mense se huise vir geld. Waaghalsige mans is al as die “Hoofvyand van die publiek” geklassifiseer omdat hulle ’n enkele bank beroof het. Geen enkele geslag kan sê dat slegs húlle hierdie skandelike dade ondervind het nie. Gedurende geen geslag was daar byvoorbeeld só ’n gierige poging om geld te verkry as toe ’n veragtelike boosdoener sy beste vriend, die grootste mens wat nog geleef het, vir 30 geldstukke verraai het nie.

Maar laat gedurende hierdie geslag het die najaging van hierdie immer ontwykende ruilmiddel—wat een Amerikaanse skrywer “die almagtige dollar, daardie groot ontvanger van universele toegewydheid”, genoem het—tot nuwe laagtes gedaal. Gedurende geen ander geslag is waaghalsiger bankrowe uitgevoer nie—miljoene rande is by kassiere gegryp terwyl hulle, nie net deur mans en vroue nie, maar selfs deur jongmense, met vuurwapens aangehou is. Sulke diefstalle is deesdae so algemeen dat hulle selde deur die nuusmedia vermeld word. Hope finansiële instellings het misluk omdat gierige eienaars onwettig miljoene rande van die deponeerders se geld vir persoonlike gebruik gemanipuleer het en die bank se bates sodoende uitgeput en baie beleggers finansieel feitlik vernietig het.

Wat kan van hedendaagse kantoorwerkers gesê word wat miljoene rande van hulle werkgewers verduister om die lewenstyle van die rykes en bekendes te beproef? Daar kan boekdele geskryf word oor mense wat langs donker strate wegkruip om verbygangers van die inhoud van hulle handsakke en beursies te beroof. En wat van die waaghalsige rooftogte wat helder oordag ten aanskoue van baie mense uitgevoer word en waartydens slagoffers doodgemaak en die geld uit hulle sakke geneem word? In sommige stedelike buurte kla die inwoners: “Dit is nie ’n geval van of ek in ons straat beroof sal word nie, maar hoe dikwels dit sal gebeur.” Sommige mense dra selfs ‘straatrowergeld’ waarmee hulle die rower kan paai wat op sy beurt dalk hulle lewe sal spaar. Ongelukkig ervaar hierdie laaste geslag van die 20ste eeu die meedoënloosste najaging van geld wat die wêreld tot nog toe aanskou het.

Die mag van geld in die gesin

Dink aan hoe mans en vrouens daagliks oor geld rusie maak. “Geld is ’n magneet wat al die frustrasies in ons lewe na vore bring”, het een navorser geskryf. “Jy moet verstaan hoe jy en jou huweliksmaat geld beskou en gebruik voordat julle sal ophou om daaroor rusie te maak”, het sy gesê. Die meeste kenners stem saam dat egpare meestal oor geld rusie maak, of gesinne nou ryk of arm of êrens tussenin is. “Dit verstom my”, het ’n ander navorser gesê, “hoeveel rusies daar oor die besteding of besparing van geld is.” Neem byvoorbeeld die skatryk mense. Die suinige huweliksmaat wil dikwels sy of haar geld spaar, terwyl die spandabelrige een dit wil uitgee. Rusies ontstaan ten spyte van die rykdom—nie vanweë die gebrek aan geld nie, maar vanweë die oorvloed daaraan. Daar is diegene wat vir geld trou, dan ’n fabelagtige lewenstyl geniet en mettertyd vir ’n ongelooflike groot onderhoudstoelae skei.

In hierdie geldmal stelsel van dinge is geld sinoniem met mag en selfrespek. Dit veroorsaak dikwels gegriefdheid wanneer ’n vrou meer as haar huweliksmaat verdien. Wanneer ’n vrou meer verdien, voel haar man dalk dat hy sy mag en selfrespek verloor het. Jaloesie steek dan sy lelike kop uit—nie vanweë die een of ander geheime indringer nie—maar vanweë daardie gesogte ‘almagtige dollar’ wat dit gewaag het om verdeeldheid tussen hulle te veroorsaak. In die stryd tussen liefde en geld gebeur dit alte dikwels dat geld loshande wen.

En dit is hoe dit gaan. Waarlik, “die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge” (1 Timotheüs 6:10, NW). En tog het ’n tekort aan geld al baie angs en lyding veroorsaak vir diegene wat slagoffers van ander se strewe na meer geld was.

Geld, oral geld

Daar word dikwels gesê dat ’n mens geld nodig het om geld te maak. Dink aan watter ontsaglike bedrae—multimiljoene rande—daaraan bestee word om die potensiële koper te lok om die produkte te koop wat deur adverteerders gesmous word. Kyk net na die pos wat jy ontvang—jy kan die volgende wees om “tienmiljoen rand” te wen. Niemand stel blykbaar meer in net ’n miljoen rand belang nie; dit is nou tienmiljoen rand en meer. Talle mense teken in op tydskrifte wat hulle nie wil hê en waarskynlik nooit sal lees nie uit vrees dat hulle ’n kans sal misloop om op die een of ander manier ’n klomp geld te wen. Die geadverteerde belofte: “Jy hoef nie iets te koop om vir die prys in aanmerking te kom nie”, klink vir baie mense verdag.

Sommige state in Amerika het nou loterye waarvan die uitbetalings aan die wenners in die miljoene kan tel! ’n Paar miljoen is “kleingeld”. Deesdae kan van 50 miljoen tot 100 miljoen dollar met ’n enkele uitloting gewen word. Die geld wat vir die pryspotte beskikbaar is, is blykbaar onbeperk. Nasionale loterye bestaan in baie lande al geslagte lank. Mense het al ’n hele week se salaris aan ’n enkele kans bestee om groot geld te wen. Gesinne moes al sonder genoeg kos en klere klaarkom—want die geld is eerder aan “die geluksgod” geoffer.—Jesaja 65:11.

Dink net aan die miljoene mense wat daarvan droom om groot somme geld in gelukspeletjies te wen. Dan is daar diegene wat hulle fantasieë uitleef deur in casino’s dwarsdeur die wêreld te dobbel. Hulle hoop om hulle drome te verwesenlik deur daardie een keer wat hulle die dobbelsteentjies gooi, deur daardie een kaart wat hulle trek en deur daardie een keer wat hulle aan ’n muntoutomaat se handvatsel trek. Maar vir sulke mense sal dit makliker wees om ’n hand vol olie vas te hou as om te wen.

En so hou die meedoënlose soeke na die ontwykende rand in volle vaart aan, ’n gejaag na wind. Dit het al gebeur dat party mense wat ’n fortuin gemaak het, gevind het dat dit skielik, in een onverwagse oomblik, weg is. Wyse koning Salomo se woorde moet dan vir hulle betekenisvol wees: “Jou geld kan in ’n oogwink weg wees, asof dit vlerke gekry en soos ’n arend weggevlieg het.”—Spreuke 23:5, Today’s English Version.

’n Kontrasterende karakterskets

Dit kan nie ontken word dat daar diegene is wat vir hulleself en hulle gesin baie lyding veroorsaak het deur hulle laaste rand op ’n gelukspeletjie te spandeer nie. Hulle is dikwels arm, het min besittings en maak nie veel meer as ’n karige bestaan nie. Ander is lui en verkies dobbelary in ’n poging om geld te verkry sonder dat hulle daarvoor hoef te werk. Maar vandag is die meeste van die wêreld se armes slagoffers van omstandighede buite hulle beheer. Diegene wat skaars genoeg opleiding het om hulle eie naam te kan skryf, kan onder die tallose miljoene getel word. Vanweë verswakkende plaaslike ekonomieë het hulle verdienste, asook dié van ’n menigte ander mense, tot die bestaansminimum gedaal. Selfs diegene met universiteitsgrade se aansoeke om ’n betrekking moes al afgewys word. Namate groot maatskappye op hulle produksie besnoei omdat die aanbod van hulle produkte groter as die aanvraag daarna is, raak nog duisende mense werkloos. Hoe bied hulle dit die hoof?

Geleenthede om geld op oneerlike maniere in die hande te kry, lyk dalk vir hulle aanloklik. Hulle redeneer moontlik dat die doel die middele heilig. “Ek sal enigiets doen om vir my gesin te sorg”, is ’n algemene gesindheid onder diegene wat in groot finansiële nood verkeer. Daar is baie maniere om oneerlik te wees, prostitusie deur vroue, diefstal deur mans. Is oneerlikheid, diefstal of dobbelary—pogings om onverdiende geld te verkry—ooit geregverdig? Die wêreld is vol mense wat so dink.

Glo jy in die Grootse Skepper, Jehovah God? Sy raad is dat ons ons sorge op hom moet werp, dat ons in tye van nood op sy bystand moet vertrou. Ná nagenoeg 25 jaar se ondervinding as ’n Christen kon die apostel Paulus skryf: “Ek weet inderdaad wat dit is om min lewensmiddele te hê, ek weet inderdaad wat dit is om ’n oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim geleer van wat dit is om versadig te wees sowel as wat dit is om honger te wees‚ wat dit is om ’n oorvloed te hê sowel as wat dit is om gebrek te ly. Vir alles het ek die krag deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:12, 13, NW). Paulus het hom klaarblyklik nie tot oneerlike gebruike gewend toe hy min lewensmiddele gehad het nie, maar hy het op Jehovah vertrou wat hom onderskraag het.

As jy dus arm is en gebrek ly, moenie op ’n oneerlike wyse iets probeer bereik nie. Daar is beslis niks daarmee verkeerd om op ’n eerlike manier geld te maak nie; Jesus self het gesê dat ‘die arbeider sy loon werd is’ (Lukas 10:7). Daar is ook niks daarmee verkeerd om ryk te wees nie. Maar ’n mens moet nooit jou morele waardes prysgee om in jou behoeftes te voorsien nie. Kweek ’n verhouding aan met jou Grootse Skepper, Jehovah God, en vertrou op hom om jou te help om die lewe se ontberinge en probleme die hoof te bied. “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:6‚ 7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel