Die gewilde New Age-beweging
ONS lewe in ’n kritieke era. Tradisionele waardes en lewenstyle word voortdurend bevraagteken. Vanweë die vermenging van godsdiens en die politiek wat ’n plofbare situasie skep, beland ons in die een krisis na die ander. Die wetenskap en die tegnologie het nog geen blywende oplossings vir die mens se probleme voorsien nie. Baie mense is daarvan oortuig dat daar geen einde aan so ’n toedrag van sake kan wees tensy ’n algehele nuwe wêreldstelsel ingelui word nie.
Maar hoe sal so ’n era tot stand kom? Deur God se tussenkoms? Indien wel, moet ons aanhou wag? Of kan ons self iets daaromtrent doen? Kan ons die nuwe era voortbring wat ons so dringend nodig het? Miljoene mense oor die hele wêreld uit alle dele van die samelewing glo dat hulle ’n daadwerklike rol daarin kan speel om ’n nuwe era van vrede en broederskap te bewerkstellig. Hulle behoort aan die revolusionêre New Age-beweging en wil hê dat jy by hulle moet aansluit!
’n Wêreldwye beweging
Het jy al van die New Age-beweging gehoor? Die term “New Age” is al in baie lande losweg op sommige gewilde vorme van literatuur, musiek en kuns toegepas. Daar is dan selfs New Age-restaurante! Sporthelde en Hollywood-sterre bevorder die beweging. Lede hou gereeld byeenkomste en tentoonstellings. Die term “New Age” is ook al in ’n groot mate aan verbruikersgoedere, soos grimering, skoonheidsmiddels, vitamiene en gesondheidsorgitems, geheg. New Age-boeke word by die miljoene verkoop. Sommige winkels het ’n aparte afdeling daarvoor. Baie van hierdie boeke het ’n sterk godsdienstige invloed op lesers.
In sy boek The Cosmic Self—A Penetrating Look at Today’s New Age Movements praat die skrywer Ted Peters van die beweging as “die ekwivalent van ’n godsdienstige waterstofbom wat nou bykans drie dekades reeds in ’n verlengde ontploffing verkeer”. Hy sê voorts dat “New Age-profete bekeerlinge maak; en hulle leringe word . . . deur Protestante, Rooms-Katolieke, Jode, ateïste sowel as die groeiende aantal Boeddhiste en Hindoes in Noord-Amerika aangeneem”.
The Times van Londen berig dat dit “die oortuiging in die Weste is wat waarskynlik nou die vinnigste versprei. Volgens skatting sal 25 persent van die Amerikaners binnekort tot ’n mindere of meerdere mate die opvattinge van die New Age-beweging huldig.” Die Switserse tydskrif Fundamentum het gesê dat ongeveer honderd teoloë in Nederland gereeld byeenkom “om te bespreek hoe die New Age-denke in die kerklewe en ook in die preek ingevoer kan word”. ’n Ander tydskrif sê dat “lande oor die hele wêreld verskillende benaderings van die New Age het, maar dat die aantrekkingskrag daarvan universeel is”.
Sakeondernemings het al miljoene rande aan New Age-raadgewers en -opleidingsprogramme vir hulle werknemers bestee. Die San Francisco Chronicle berig dat die “New Age-denke die hoogste vestings van Amerika se sake-instellings deurdrenk het”. Die koerant sê ook dat een opname onder 500 maatskappye aan die lig gebring het dat meer as 50 persent van hulle op die een of ander manier by die New Age-denke betrokke was.
Maar wat is die New Age-beweging, en hoe het dit ontstaan? Sal dit werklik vrede en harmonie na die aarde bring? Wat is die leringe daarvan, en hoe raak dit jou?