Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 3-6
  • Kan die wêreld verenig word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die wêreld verenig word?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Daar is oral verdeeldheid
  • Mense se doelgerigte pogings
  • Die oorsake
  • ’n Straaltjie van hoop
  • Is etniese haat geregverdig?
    Ontwaak!—2003
  • Wat is die oplossing vir etniese onverdraagsaamheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Sal haat ooit tot ’n einde kom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Sarajevo—van 1914 tot 1994
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 3-6

Kan die wêreld verenig word?

‘Dit het dikwels gelyk of die woorde: Jy moet jou naaste haat, die leuse vir 1992 was.’

DIT is hoe Newsweek dit opgesom het. Die tydskrif het verder gesê: “Hierdie verdeeldhede—naaste teen naaste, ras teen ras, nasionaliteit teen nasionaliteit—is iets waartoe ons nog altyd geneig was, en hierdie jaar se gebeure laat twyfel ontstaan of ons enigsins vorder met ons strewe om hierdie verdeeldhede te oorbrug.”

Beleërings, massamoorde en verkragtings in die voormalige Joego-Slawië het onlangs wêreldwyd groot opslae in die nuus gemaak. In Bosnië en Herzegowina alleen is tot 150 000 mense dood of vermis. En nagenoeg 1500 000 moes hulle tuistes verlaat. Sê jy dat hierdie tragiese gebeure nooit in jou omgewing sal plaasvind nie?

Die VN-amptenaar, José-María Mendiluce, het gewaarsku: “Mense kan sonder veel moeite verander word in masjiene wat ander haat en doodmaak. . . . In die Weste is daar ’n gesindheid dat ’n oorlog drie ure van Venesië af woed bloot omdat mense van die Balkan-gebied wesenlik anders as ander Europeërs is. Dít is ’n baie gevaarlike fout.”

Kort nadat die Sowjetunie in 1991 verbrokkel het, het etniese geweld uitgebreek. In die voormalige Sowjetrepubliek Georgië is ongeveer 1500 doodgemaak en omtrent 80 000 ontwortel. Honderde mense het weens gevegte in Moldawië gesterf en duisende is ontwortel. Mense het ook hulle lewe verloor in gevegte tussen Armenië en Aserbeidjan sowel as in ander voormalige Sowjetrepublieke.

Rusland is die grootste van die voormalige Sowjetrepublieke. Selfs daar wil baie etniese groepe hulle eie onafhanklike state vorm. The European het hierdie somer gevolglik berig: “Verbrokkeling staar die Russiese Federasie in die gesig.” Die koerant het gesê: “Gedurende die afgelope paar weke het drie streke ten gunste daarvan gestem om republieke te word . . . Nog drie het die afgelope week getoon dat hulle dieselfde gaan doen.”

As afsonderlike lande gevorm word, sal jy dalk met onbekende name moet sukkel, soos Kaliningrad, Tatarstan, Stawropolje, Tsjetsjnia, Wologda, Swerdlowsk, Basjkortostan, Jakoetija en Primorje. Stem dit nie baie met die gebeure in die voormalige Joego-Slawië ooreen—waar Serwië, Kroasië en Slowenië gevorm is en waar nog ander lande gevorm kan word nie?

Die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Warren Christopher, het gepraat van “etniese, godsdiens- en groepskonflikte wat lank onderdruk is en nou te voorskyn kom” en het toe gevra: “Hoeveel lande sal ons hê as ons nie ’n manier vind waarop die verskillende etniese groepe in ’n land kan saamwoon nie?” Hy het gesê daar sal duisende wees.

Daar is oral verdeeldheid

Hoeveel etniese, godsdiens- en groepskonflikte dink jy was daar vroeg vanjaar? Sou jy sê 4, 7, 9, 13, selfs 15? The New York Times het in Februarie gesê dat daar altesaam 48 was! Jy sien dalk nie op televisie beeldmateriaal van bebloede lyke en verskrikte kinders uit al 48 konflikte nie, maar dit beteken nie dat die tragedie enigsins minder werklik vir die slagoffers is nie?

Daar is skaars ’n uithoek van die aarde waar konflik nie ’n wesenlike moontlikheid is nie. In Nigerië, waar daar nagenoeg 200 etniese groepe is, dreig ’n burgeroorlog. “Só ’n botsing”, het die tydskrif Time gesê, “kan die drie grootste etniese groepe—die Hausas, die Ibos en die Joroebas—in konflik met mekaar bring.” Dit het bygevoeg: “Volgens sommige analiste kan Nigerië in nog ’n Joego-Slawië ontaard.”

Die land Liberië in Wes-Afrika word eweneens deur etniese geweld verwoes. Een guerrillaleier het steun van die Gio- en Mano-stamme verkry om die president, wat van die Krahn- etniese groep was, tot ’n val te bring. Meer as 20 000 het in die daaropvolgende burgeroorlog gesterf, en honderdduisende is ontwortel.

In Suid-Afrika is wit en swart teen mekaar gewikkel in ’n stryd om politieke beheer. Maar dit is nie net swart wat teen wit baklei nie. Verlede jaar alleen het sowat 3000 in gevegte tussen vyandige swart groepe gesterf.

In Somalië het omtrent 300 000 gesterf, en ’n miljoen is dakloos gelaat toe stamgevegte op ’n burgeroorlog uitgeloop het. In Burundi en Rwanda het etniese botsings tussen Hutus en Tutsi’s in onlangse jare tot duisende sterfgevalle gelei.

Gevegte tussen Jode en Arabiere in Israel, tussen Hindoes en Moslems in Indië en tussen Protestante en Katolieke in Ierland duur skynbaar feitlik onverpoos voort. Rassegeweld het ook verlede jaar in Los Angeles, Kalifornië, uitgebreek en meer as 40 lewens geëis. Oral waar mense van verskillende rasse, nasionaliteite of godsdienste na aan mekaar leef, ontstaan daar dikwels verskriklike konflikte.

Kan mense hierdie dilemma van etniese twis oplos?

Mense se doelgerigte pogings

Beskou byvoorbeeld waarop mense se pogings in die voormalige Joego-Slawië en die voormalige Sowjetunie uitgeloop het. In 1929 is Joego-Slawië gevorm in ’n poging om die verskillende etniese groepe wat in Suidoos-Europa woon in een land te verenig. Die Sowjetunie het eweneens ontstaan deurdat uiteenlopende volksgroepe van verskillende rasse, godsdienste en nasionaliteite byeengebring is. Dekades lank het albei lande sterk sentrale regerings gehad wat hulle bymekaargehou het, en uiteindelik het dit gelyk of hulle burgers geleer het om met mekaar saam te leef.

“Die etniese kaart van vooroorlogse Bosnië, en trouens van vooroorlogse Joego-Slawië, was soos ’n luiperd se vel”, het ’n vooraanstaande Serwiër verduidelik. “Die volke was onafskeidelik vermeng.” Om die waarheid te sê, ongeveer 15 persent van alle huwelike in Joego-Slawië is tussen mense van verskillende etniese groepe voltrek. ’n Soortgelyke toestand van oënskynlike eenheid het deur die vermenging van etniese groepe in die Sowjetunie ontstaan.

Dit was dus ’n groot skok toe etniese geweld ná baie dekades van skynbare vrede uitgebreek het. Vandag, soos een joernalis geskryf het, “word Joego-Slawië op grond van ras, godsdiens en nasionaliteit ingedeel”. Waarom het hierdie lande verbrokkel toe hierdie magtige regerings geval het?

Die oorsake

Mense haat nie van nature mense van ’n ander etniese groep nie. Soos ’n gewilde liedjie eenkeer gesê het, moet ’n mens eers ‘sorgvuldig geleer word, voordat dit te laat is, voordat jy ses of sewe of agt is, om al die mense te haat wat deur jou familie gehaat word’. Hierdie liedjie het oor ’n jong paartjie met ooglopende rasseverskille gehandel. Tog is daar volgens ’n deskundige op die gebied van geestesgesondheid, Zarka Kovac, “feitlik geen fisiese verskille” tussen mense in die voormalige Joego-Slawië nie. Die geweld is nietemin so erg dat dit ’n mens se verstand te bowe gaan. “Jy vermink die persoon wat jy doodgemaak het sodat jy nie jou broer kan herken nie”, het Zarka Kovac gesê.

Sulke rasse- en etniese haat is klaarblyklik nie eie aan die menslike natuur nie. Mense is noukeurig geleer deur propagandiste en familielede wat ou gruweldade ophaal. Wie sit moontlik agter dit alles? ’n Sakeman van Sarajevo wat die gruwels van oorlog in Bosnië probeer verstaan het, het tot die slotsom gekom: “Ná ’n jaar van oorlog in Bosnië glo ek dat Satan in beheer is. Hierdie oorlog is absolute kranksinnigheid.”

Hoewel baie mense nie glo dat Satan die Duiwel bestaan nie, toon die Bybel wel dat daar ’n onsigbare, bomenslike persoon bestaan wat ’n uiters slegte uitwerking op die mens se gedrag het (Mattheüs 4:1-11; Johannes 12:31). Wanneer jy daaroor nadink—oor al die sinlose vooroordeel, haat en geweld—sal jy miskien saamstem dat hierdie woorde in die Bybel nie werklik vergesog is nie: “Die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei.”—Openbaring 12:9, NW; 1 Johannes 5:19.

’n Straaltjie van hoop

Wanneer ons aan onlangse wêreldonrus dink, lyk dit of die droom van ’n verenigde mensdom nog meer buite ons bereik as ooit tevore is. Nasionalistiese en etniese wedywering bedreig die mens se voortbestaan soos nog nooit tevore nie. Tog skyn daar ’n helder straaltjie van hoop te midde van hierdie wêreldomvattende duisternis. Gedurende die somer van 1993 het ’n groep mense wat uit strydende etniese groepe kom, bewys dat daar ’n gemeenskaplike band tussen hulle is wat hulle in staat gestel het om etniese twis te bowe te kom en in liefde en eenheid saam te werk.

Dit is ironies dat hierdie band juis die faktor is wat die mensdom al dikwels verdeel het—godsdiens. Die tydskrif Time het gesê: “Agter enige aggressiewe stamtrots of nasionalisme tref ’n mens gewoonlik ’n godsdienskern aan . . . Godsdienshaat is geneig om genadeloos en volkome te wees.” In ’n soortgelyke trant het India Today gesê: “Godsdiens is die vaandel waaronder die afgryslikste misdade gepleeg word. . . . Dit ontketen verskriklike geweld en is ’n uiters vernietigende krag.”

Trouens, godsdiens is gewoonlik ’n deel van die probleem, nie die oplossing nie. Maar hierdie een godsdiensgroep wat hierbo genoem word—’n groep met ’n aansienlike ledetal—het bewys dat godsdiens mense wel kan verenig en nie verdeel nie. Uit wie presies bestaan hierdie groep? En waarom het hulle merkwaardige welslae behaal terwyl ander misluk het? In antwoord hierop nooi ons jou om die volgende artikels te lees. Dit kan jou dalk net ’n nuwe beskouing van die mensdom se toekoms gee.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Graveyard in Bosnia. Haley/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel