Jongmense vra . . .
Só baie huiswerk—Wat kan ek doen?
“Te veel skoolwerk” is al een van die algemeenste oorsake van spanning onder jongmense genoem
“As jy nie goed georganiseerd is nie, verloor jy baie tyd terwyl jy besluit wat jy volgende gaan doen”
‘ONS het nie genoeg tyd nie!’ Dit was ’n groep hoërskoolleerlinge se klagte. Die oorsaak van hierdie probleem? Die eise wat die skool en huiswerk aan hulle stel. “My skooldag begin om 8:00 vm. en eindig om 5:30”, sê jong Véronique. “Teen die tyd dat ek by die huis kom, is dit 6:30. Dis moeilik. Ouers dink dit is ’n wonderlike lewe om op skool te wees. Hulle besef nie dat om op skool te wees ons moeg en gespanne maak nie, en dan is daar nog die huiswerk wanneer ons by die huis kom.” Sewentienjarige Sandrine voeg by: “Ek bestee twee tot drie uur per aand aan my huiswerk, sowel as naweke.”
Véronique en Sandrine woon in Frankryk, waar leerlinge een van die langste skooldae in Europa het. Leerlinge in baie ander lande ondervind ook spanning en frustrasie en word oorweldig deur al die eise wat daar aan hulle tyd gestel word. “Te veel skoolwerk” is al een van die algemeenste oorsake van spanning onder jongmense genoem.
Aangesien dit in die meeste dele van die wêreld moeiliker as ooit tevore is om werk te kry, dink talle jongmense dat ’n goeie opvoeding uiters belangrik vir hulle toekoms in die arbeidswêreld is. Soos Violaine, ’n hoërskoolleerling, sê: “Die kanse om ’n ordentlike werk te kry, is so skraal dat vandag se jongmense besef daar is net een ding om te doen—LEER!”
Nie genoeg tyd nie?
Kinders wat goed doen op skool weet nietemin dat dit baie tyd en energie verg. En as jy ’n jong Christen is, word daar ekstra eise aan jou tyd gestel: om gemeentelike vergaderinge by te woon, die Bybel te bestudeer en met ander oor jou geloof te praat (Johannes 17:3; Romeine 10:10; Hebreërs 10:24, 25). Die Bybel sê verder daar is “’n tyd om te lag” en pret te hê (Prediker 3:1, 4; 11:9). Soos die meeste jongmense wil jy waarskynlik ten minste ’n bietjie tyd vir vermaak en ontspanning hê. Maar dit lyk dalk asof jou skoolwerk jou nie genoeg tyd toelaat om dié dinge te doen wat jy moet nie—om nie eens te praat van dié dinge wat jy graag sou wóú doen nie.
Maar die probleem lê dikwels nie net by ’n gebrek aan tyd nie. ’n Onlangse studie het aan die lig gebring dat “swak tydbenutting” en “’n gebrek aan organisasie” twee hoofredes is waarom hoërskoolleerlinge akademiese probleme ondervind. Soos ’n jong man, Olivier, uitgevind het, benadeel swak persoonlike organisasie nie net jou punte nie. Hy sê: “As jy nie goed georganiseerd is nie, verloor jy baie tyd terwyl jy besluit wat jy volgende gaan doen.” Wat kan jy dus doen om georganiseerd te raak?
’n Gebalanseerde beskouing van skoolwerk
In die eerste plek moet jy jou skoolwerk in perspektief sien. Die Bybel sê ons moet “seker maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10, NW). En as jy daaraan dink, wat behoort werklik die belangrikste ding in jou lewe te wees? Moet dit nie jou geestelike verpligtinge wees nie? Jesus het tog vir sy volgelinge gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mattheüs 6:33). Dit beteken dat gemeentelike vergaderinge, gebed, studie en die predikingswerk eerste gestel moet word.
Beteken dit dat skoolwerk nie belangrik is nie? Beslis nie. Maar as ’n Christen moet jy nie na geleerdheid streef sodat jy jou vir die een of ander sekulêre loopbaan kan toerus nie. Jy moet eerder vaardighede aanleer wat nuttig sal wees in jou loopbaan as ’n dienaar van God. Terselfdertyd berei jy jou voor om ’n werk te kan behou en jouself, en moontlik eendag ’n gesin, te onderhou (1 Thessalonicense 4:11, 12; 1 Timotheüs 5:8). As jy dít besef, kan dit jou help om daarna te streef om jou allerbeste op skool te lewer. Terselfdertyd sal jy jou moet inspan om geestelik sterk te bly.
Dit kan ’n ware uitdaging wees om ‘die tyd uit te koop’ vir geestelike verpligtinge, huishoudelike takies, vermaak en skoolwerk, maar dit kan gedoen word.—Efesiërs 5:15, 16.
Die waarde van ’n roetine
Een manier om die tyd uit te koop, is om op ’n doeltreffender manier te leer. Hoofstuk 18 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gee ’n aantal nuttige wenke.a Het jy al byvoorbeeld probeer om ’n rooster op te stel of ’n roetine vir jou skoolwerk uit te werk?—Vergelyk Filippense 3:16, NW.
“Die grootste probleem ten opsigte van studie is ongetwyfeld dat studente eenvoudig nie dadelik inspring en met hulle studieprogram vir die dag begin nie”, skryf Harry Maddox in sy boek How to Study. Wat van jou? Stel jy uit om jou huiswerk te doen tot jy lus kry om dit te doen—of tot dit vir jou geriefliker lyk om dit te doen? Prediker 11:4 waarsku: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.”
Harry Maddox sê verder: “Dit is baie maklik om tyd te mors. As jy jou nie dwing om by jou studierooster te bly nie, sal jy die tyd wat jy moes studeer heel waarskynlik gebruik om TV te kyk, ’n tydskrif te lees . . . of enige van daardie honderd-en-een dinge te doen wat swak studente veel eerder sal doen pleks van aan die werk te spring. As jy ’n rooster het en van plan is om daarby te bly, dra dit al die gesag van ’n wet wat gehoorsaam moet word, en mettertyd raak dit maklik om daarby te bly, en jy begin dit as ’n natuurlike deel van jou lewe beskou.”
As jy jou skoolwerk op ’n goed georganiseerde en gedissiplineerde manier doen, sal jy waarskynlik meer tyd hê. Goeie beplanning kan jou ook help om te voorkom dat jy in ’n tweestryd gewikkel raak en dan nie seker is of jy jou skooltake moet voltooi of jou verpligtinge as ’n Christen moet nakom nie, soos om gemeentelike vergaderinge by te woon.
Organiseer jou tyd!
Wat van die ander dinge wat jy wil en moet doen, soos werkies in en om die huis? Hier is die sleutel ook dat jy georganiseerd moet raak. Probeer om die volgende wenke toe te pas:
Maak ’n lys van dinge om te doen. ’n Tydbenuttingsraadgewer, Stephanie Winston, raai aan dat jy altyd ’n sakboekie by jou het. Gebruik dit om ’n aantekening te maak van “elke idee, opdrag, telefoonoproep, projek, taak of boodskap—klein of groot, onbeduidend of belangrik—soos dit opduik”. Met die eerste oogopslag lyk jou lys dalk oorweldigend, maar as jy die volgende wenke toepas, kan jy dit verkort sodat jy dit makliker kan baasraak.
Plaas dinge in ’n volgorde van belangrikheid. Dit kan jou help om jou aandag toe te spits op dié dinge wat gedoen móét word. Terselfdertyd kan jy dié dinge uitskakel wat tot later kan wag of waarvoor jy eenvoudig nie genoeg tyd het nie.
Stel ’n rooster op. Ja, omskep jou lys in ’n plan van aksie—’n geskrewe rooster. Hier kan ’n sakkalendertjie of -dagboekie jou goed te pas kom. Pleks van jou vryheid te beperk, sal ’n goed gebalanseerde rooster jou in staat stel om beter beheer oor jou tyd uit te oefen.
Wees realisties. Probeer verskillende roosters en kyk wanneer dit die beste is om sekere dinge te doen. Jy vind dalk byvoorbeeld dat dit voordelig is om jou huiswerksessies bedags so vroeg moontlik in te pas, wanneer jy nog verstandelik wakker is.
Jy moet egter besef dat jy nie elke oomblik van jou lewe hoef te beplan nie. Hou jou rooster buigsaam en maak voorsiening vir dinge wat onverwags en skielik opduik. Maak aanpassings wanneer dit nodig is, maar bly sover moontlik by jou rooster. Onthou: Dit is gewoonlik beter om meer tyd opsy te sit as wat jy dink jy sal nodig hê om ’n bepaalde taak uit te voer. Jy kan altyd ’n verandering aanbring as jy voor die tyd klaarkry.
Stel jou eie tydgrense. Dit help jou om nie tot die laaste minuut te wag om iets te doen nie. As jy ’n skooltaak het, moet jy vir jou ’n datum probeer vasstel sodat jy die taak lank voor die tyd kan voltooi.
Dissiplineer jouself om by jou rooster te bly. Die versoeking kan groot wees om by ’n vriend te gaan kuier wanneer jy by die huis moet bly om vir die eindeksamen te leer. Maar as jy spaarsaamlik saai wanneer jy leer, sal jy waarskynlik later swak punte maai. (Vergelyk 2 Korinthiërs 9:6.) Jy sal buitendien jou vrye tyd meer kan geniet as jy klaar is met jou werk. ’n Nuttige beginsel is: Belangrike dinge eerste, lekker dinge later.
Dit sal tyd, geduld en aansienlike selfdissipline verg om ’n rooster op te stel en georganiseerd te raak, maar Christene word aangemoedig om in alle dinge selfbeheersing aan die dag te lê (1 Korinthiërs 9:25, NW). Om te leer om by ’n rooster te bly, is goeie oefening in die toepassing van hierdie beginsel. Dan sal jy die bevrediging geniet dat jy iets tot stand gebring het, jy sal meer beheer oor jou lewe hê en meer tyd hê om dié dinge te doen wat jy wil en moet doen.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 15]
Stel ’n studierooster op en bly daarby