Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 3/22 bl. 3-4
  • Waarom is daar soveel vals alarms?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is daar soveel vals alarms?
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Skugter dier—gehaat en gelief
    Ontwaak!—1994
  • Voorspellings van die wêreld se einde
    Ontwaak!—1995
  • Op soek na betroubare voorspellings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 3/22 bl. 3-4

Waarom is daar soveel vals alarms?

Die einde van die wêreld—Hoe naby is dit?

DIE verhaal word vertel van ’n seun wat die dorpie se skape opgepas het. Om ’n bietjie opwinding te veroorsaak, het hy eendag “Wolf! Wolf!” uitgeroep hoewel daar nie ’n wolf was nie. Die dorpenaars het met knuppels uitgestorm om die wolf te verwilder, net om uit te vind dat daar nie een was nie. Dit was soveel pret dat die seun dit later weer gedoen het. Wéér het die dorpenaars met hulle knuppels uitgestorm, net om uit te vind dat dit nog ’n vals alarm was. Daarna het ’n wolf wel gekom, en die seun het die waarskuwing “Wolf! Wolf!” gegee, maar die dorpenaars het sy uitroep geïgnoreer en gedink dat dit net nog ’n vals alarm is. Hulle is te veel vir die gek gehou.

Dieselfde geld vir diegene wat die einde van die wêreld verkondig. Deur die eeue heen sedert Jesus se dag is daar al soveel onvervulde voorspellings gedoen dat baie hulle nie meer ernstig opneem nie.

Gregorius I, wat van 590 tot 604 G.J. pous was, het in ’n brief aan ’n Europese monarg gesê: “Ons wil U Majesteit ook inlig dat die einde van die huidige wêreld, soos ons te wete gekom het uit die woorde van die almagtige God in die Heilige Skrif, reeds naby is en dat die oneindige Koninkryk van die Heiliges nader kom.”

In die 16de eeu het Martin Luther, vader van die Lutherse Kerk, voorspel dat die einde op hande is. Volgens een gesaghebbende bron het hy gesê: “Wat my betref, is ek seker dat die oordeelsdag net om die draai is.”

Daar word oor een van die eerste Baptistegroepe gesê: “Die Anabaptiste van die vroeë Sestiende Eeu het geglo dat die Millennium in 1533 sou kom.”

“Edwin Sandys (1519-1588), Aartsbiskop van York en Primaat van Engeland, . . . sê: . . . ‘Ons kan seker wees dat die koms van die Here naby is.’”

William Miller, wat oor die algemeen as die stigter van die Adventistekerk beskou word, word soos volg aangehaal: “Ek is ten volle daarvan oortuig dat Christus, volgens die Joodse metode vir die berekening van tyd, die een of ander tyd tussen 21 Maart 1843 en 21 Maart 1844 sal kom.”

Bewys die feit dat sulke voorspellings nie bewaarheid is nie dat diegene wat hulle gedoen het, as die woorde van Deuteronomium 18:20-22 in ag geneem word, valse profete is? Daardie teks sê: “Die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie?—as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie.”

Daar is party wat opsienbarende voorspellings oor die einde van die wêreld doen om aandag en volgelinge te trek, maar ander is opreg daarvan oortuig dat hulle voorspellings waar is. Hulle spreek verwagtinge uit op grond van hulle eie vertolking van die een of ander Bybelteks of fisiese gebeurtenis. Hulle beweer nie dat hulle voorspellings regstreekse openbaringe van Jehovah af is en dat hulle sodoende in die naam van Jehovah profeteer nie. In sulke gevalle moet hulle dus nie as valse profete beskou word soos dié waarteen Deuteronomium 18:20-22 waarsku as hulle woorde nie bewaarheid word nie. Weens hulle menslike feilbaarheid het hulle sake verkeerd vertolk.a

Party is nie deur vorige mislukkings ontmoedig nie en is blykbaar deur die aantog van die jaar 2000 aangespoor en het verdere voorspellings oor die einde van die wêreld gedoen. The Wall Street Journal van 5 Desember 1989 het ’n artikel gepubliseer met die titel “Millenniumkoors: Profete neem toe, die einde is naby.” Met die nadering van die jaar 2000 voorspel verskeie evangeliesgesindes dat Jesus kom en dat die negentigerjare “’n tyd van probleme sal wees soos nog nooit ondervind is nie”. Toe hierdie artikel geskryf is, het die jongste voorval hom in die Republiek van Korea afgespeel, waar die Sending vir die Komende Dae voorspel het dat Christus op 28 Oktober 1992 om middernag sou kom en gelowiges hemel toe sou neem. Verskeie ander oordeelsdaggroepe het soortgelyke voorspellings gedoen.

Die stortvloed van vals alarms is rampspoedig. Hulle is soos die wolf-wolf-uitroepe van die skaapwagtertjie—mense ignoreer hulle gou, en wanneer die werklike waarskuwing kom, word dit ook geïgnoreer.

Maar waarom was daar deur die eeue heen en tot op ons dag so ’n neiging om vals alarms te gee, soos Jesus gesê het daar sal wees? (Mattheüs 24:23-26). Nadat Jesus sy volgelinge van verskillende gebeurtenisse vertel het wat die teken van sy wederkoms sou wees, het hy die woorde in Mattheüs 24:36-42 tot hulle gerig: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. . . . Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”

Daar is aan hulle gesê dat hulle nie net moet waak en gereed moet wees nie, maar ook met verlange moet waak. Romeine 8:19 sê: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.” Die menslike natuur is só dat wanneer ons vurig op iets hoop, daarna hunker en met reikhalsende verlange daarop wag daar ’n sterk begeerte in ons ontstaan om dit voor die deur te sien staan, selfs wanneer die bewyse onvoldoende is. In ons gretigheid gee ons moontlik vals alarms.

Wat sal dus die regte waarskuwing van die valse waarskuwings onderskei? Sien asseblief die volgende artikel vir die antwoord.

[Voetnoot]

a Jehovah se Getuies het, omdat hulle gretig na Jesus se tweede koms uitgesien het, datums aan die hand gedoen wat later verkeerd bewys is. Om dié rede het party hulle valse profete genoem. Hulle het hulle egter in nie een van hierdie gevalle die reg aangematig om voorspellings ‘in die naam van Jehovah’ te doen nie. Hulle het nooit gesê: ‘Dit is die woorde van Jehovah’ nie. The Watchtower, die amptelike tydskrif van Jehovah se Getuies, het gesê: “Ons het nie die gawe van profesie nie” (Januarie 1883, bladsy 425). “Ons wil ook nie hê dat ons geskrifte hooggeag of as onfeilbaar beskou moet word nie” (15 Desember 1896, bladsy 306). Die Wagtoring het ook gesê die feit dat party Jehovah se gees het, “beteken nie dat die wat nou as Jehova[h] se getuies dien geïnspireerd is nie. Dit beteken nie dat wat in hierdie tydskrif Die Wagtoring geskryf word geïnspireerd en onfeilbaar en sonder foute is nie” (15 September 1947, bladsy 285). “Die Wagtoring maak nie aanspraak daarop dat sy uitsprake geïnspireer is nie en is ook nie dogmaties nie” (1 November 1950, bladsy 336). “Die broers wat hierdie publikasies voorberei, is nie onfeilbaar nie. Hulle geskrifte is nie geïnspireerd soos die van Paulus en ander Bybelskrywers nie (2 Tim. 3:16). Dit was gevolglik nodig om soms sekere beskouings reg te stel nadat ’n duideliker begrip verkry is (Spr. 4:18).”—1 Mei 1981, bladsy 19.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel