Wie gee hulle seksonderrig?
WATTER vreugde bring ’n nuwe baba tog! Ouers verheug hulle oor hom, speel met hom en vertel hulle vriende byna alles wat hy doen. Maar gou begin hulle besef dat hy ook groot nuwe verantwoordelikhede meebring. Hiervan is een van die belangrikstes dat hy geleer moet word om homself te beskerm in ’n wêreld wat steeds meer sedeloos word.
Hoe kan ouers ’n geliefde kleinding help om tot ’n volwasse grootmens te groei wat ’n hartlike en gelukkige gesinslewe sal geniet en miskien self godvresende kinders sal grootmaak? Party ouers beskou dit dalk as ’n byna oorweldigende taak en daarom sal ’n paar wenke ongetwyfeld waardeer word.
Jy leer jou kinders waarskynlik op feitlik dieselfde manier as wat jou ouers jou geleer het. Maar baie ouers het min, indien enige, onderrig oor seks gekry. Selfs al het jy goeie onderrig gekry, het die wêreld verander, en so ook die behoeftes van kinders. Daarbenewens het baie van hierdie tydskrif se lesers hoër standaarde en ’n beter lewenswyse aangeneem. Daarom moet jy jou afvra: ‘Het die manier waarop ek my kinders leer tred gehou met my huidige sienswyses en die toenemende behoeftes van my kinders?’
Baie ouers laat hulle kinders toe om sulke inligting self uit te vind. Maar dit gee aanleiding tot die skrikwekkende vrae: Wat sal hulle leer? Wanneer? By wie en in watter omstandighede?
Wat die skole leer
Baie ouers sê: “O, hulle sal dit op skool leer.” Baie skole gee wel seksonderrig, maar baie min van hulle gee onderrig oor sedes. Die voormalige Amerikaanse Minister van Onderwys, William J. Bennett, het in 1987 gesê dat skole “dit doelbewus vermy om sedelike riglyne neer te lê”.
Tom, die pa van twee pragtige dogters, het hulle skool se verteenwoordiger gevra: “Waarom sê julle nie net dat seks buite die huwelik verkeerd is nie?” Sy het gesê dat sy dit graag sou wou sê, maar dat die skool nie kinders se ongetroude ma’s en die kêrels met wie hulle saamlewe, kan beledig nie. Skole sal dus aan leerlinge sê dat hulle keuses het, maar hulle sal selde sê wat die regte keuse is.
‘Ek sal ’n boek koop’
Ander ouers sê dalk: “Ek sal vir hulle ’n boek koop.” Miskien kan ’n goeie boek help, maar jy moet doodseker maak dat jy saamstem met wat dit sê. Min boeke oor hierdie onderwerp handel oor sedes of noem selfs wat reg en wat verkeerd is. Party boeke beveel in werklikheid onsedelike gebruike aan. En dit is inderdaad ’n seldsame boek wat sê dat seksuele aktiwiteit tot die huwelik beperk moet word.
Die verantwoordelikheid om kinders sedes te leer, rus dus op diegene aan wie God dit in die eerste plek gegee het—op hulle liefdevolle ouers. Die Bybel het vaders beveel: “Jy moet [God se wette by] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:7.
Ouers kan in werklikheid die beste onderwysers vir hulle kinders wees. Geen boek of skool kan ooit die plek inneem van hulle kragtige oortuiging of van ’n gesonde gesinsvoorbeeld nie. Soos William Bennett dit gestel het: “Studies toon dat kinders minder geneig is om by seks betrokke te raak wanneer ouers die vernaamste bron van seksonderrig is. . . . Die ouers speel bowenal die belangrikste rol.”
Maar party ouers is bang dat kennis tot proefneming sal lei. Dit hang natuurlik in groot mate af van wat kinders geleer word en hoe dit geleer word. Die werklikheid is dat jongmense van seks gaan leer. Is dit nie baie beter dat hulle eerder op die regte en op ’n waardige manier daarvan leer by sedelike en liefdevolle ouers as by iemand in die straat of by die skool of by sedelose volwassenes nie?
Maar die vraag is steeds: Hoe kan jy hulle hierdie dinge op ’n godvrugtige en eerbiedige wyse leer? Hoe kan jy jongmense wat gedurig hoor dat “almal dit doen” daarvan oortuig dat die beste en gelukkigste mense dit nie doen nie? Hoe kan jy hulle help besef dat om volgens die Bybel se wet te lewe, naamlik om hulle te “onthou van die hoerery”, nie net tot die beste en gelukkigste lewens lei nie maar ook die enigste manier is waarop hulle God kan behaag? Die volgende artikels sal waardevolle antwoorde op hierdie belangrike vrae gee.—1 Thessalonicense 4:3.
[Lokteks op bladsy 3]
“Dit lyk asof die waardes wat ouers by hulle kinders inskerp die belangrikste is.”—U.S.News & World Report