Hoe om kinders van God te leer—Watter metodes is die doeltreffendste?
“Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”—DEUTERONOMIUM 6:6, 7.
OUERS voel moontlik soms oorweldig deur die verantwoordelikheid om hulle kinders op te voed. Maar wanneer hulle hulp soek, kan die ontsaglike hoeveelheid raad wat oor die onderwerp beskikbaar is, hulle selfs meer oorweldig laat voel. Familielede en vriende is dikwels gretig om hulle opinie te gee. En boeke, tydskrifartikels en Internetwebwerwe bied ouers ’n voortdurende stroom raad wat soms teenstrydig is.
Die Bybel daarenteen gee ouers nie net betroubare raad oor wat om hulle kinders te leer nie, maar ook praktiese leiding oor hoe om hulle te leer. Soos die Bybelverse hierbo toon, moet ouers elke dag ’n manier vind om met hulle kinders oor God te praat. Hier volg net vier Bybelse wenke wat al duisende ouers gehelp het om hulle kinders van God te leer.
1. Baseer lesse op die skepping. Die apostel Paulus het geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Ouers kan baie doen om hulle kinders te help om God as ’n werklike Persoon te beskou deur hulle aandag op God se skeppingswerke te vestig en hulle dan te help onderskei watter eienskappe van God deur hierdie skeppingswerke geopenbaar word.
Jesus het hierdie metode gebruik toe hy sy dissipels onderrig het. Hy het byvoorbeeld gesê: “Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26). Jesus het hier die aandag gevestig op Jehovah se eienskappe van liefde en medelye. Maar hy het meer as dit gedoen. Hy het sy dissipels gehelp om te redeneer oor hoe God hierdie eienskappe teenoor sy kinders geopenbaar het.
Die wyse koning Salomo het gepraat van die instinktiewe wysheid wat God aan miere gegee het, en hy het hierdie klein diertjies gebruik om ’n waardevolle les te beklemtoon. Hy het geskryf: “Gaan na die mier, jou luiaard; kyk na sy weë en word wys. Hoewel hy geen aanvoerder, leier of heerser het nie, berei hy sy voedsel in die somer voor; hy het sy voedselvoorraad tydens die oes ingesamel” (Spreuke 6:6-8). Wat ’n kragtige manier om te toon hoe belangrik dit is om goeie doelwitte te stel en dan ons godgegewe krag te gebruik om dit te bereik!
Ouers kan die doeltreffende onderrigmetodes van Jesus en Salomo navolg deur die volgende te doen: (1) Hulle kinders te vra in watter plante en diere hulle belangstel. (2) Meer oor hierdie plante en diere uit te vind. (3) Lesse oor God op hierdie skeppingswerke te baseer.
2. Volg die gesindheid na wat Jesus geopenbaar het teenoor diegene wat hy geleer het. Van al die mense wat nog gelewe het, het Jesus die belangrikste dinge gehad om te sê. Tog het hy dikwels vrae gevra. Hy het baie belanggestel in die gedagtes en gevoelens van diegene wat hy geleer het (Matteus 17:24, 25; Markus 8:27-29). Ouers het eweneens talle belangrike lesse wat hulle hulle kinders moet leer. Maar om doeltreffend te wees, moet hulle Jesus navolg en hulle kinders aanmoedig om openlik oor hulle gevoelens te praat.
Sê nou ’n kind openbaar ’n slegte gesindheid of neem lank om ’n waardevolle les te leer? Kyk na die manier waarop Jesus sy apostels behandel het. Soms het hulle bitterlik met mekaar gestry, en hulle het lank geneem om die voordele van nederigheid in te sien. Nogtans was Jesus altyd geduldig en het hy herhaaldelik gepraat oor die belangrikheid van nederigheid (Markus 9:33, 34; Lukas 9:46-48; 22:24, 25). Ouers wat Jesus navolg, sal hulle kinders geduldig reghelp en, indien nodig, dieselfde les herhaal totdat die kinders die belangrikheid daarvan ten volle begryp.a
3. Leer deur die voorbeeld te stel. Ouers kan baie baat vind by die raad wat die apostel Paulus aan die Christene in Rome gegee het. Hy het aan hulle geskryf: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy?”—Romeine 2:21.
Hierdie raad is prakties, want wat ouers doen, maak ’n baie groter indruk op hulle kinders as wat hulle sê. Trouens, as ouers se woorde en dade ooreenstem, sal hulle kinders meer geneig wees om te luister na wat hulle sê.
4. Begin terwyl die kind nog jonk is. Die apostel Paulus se sendelingmetgesel Timoteus het ’n uitstekende reputasie in sy gemeenskap gehad (Handelinge 16:1, 2). Een rede daarvoor was dat hy “van kleintyd af die heilige geskrifte” geleer is. Timoteus se ma en ouma het nie net die Skrif aan hom voorgelees nie, maar hulle het hom ook gehelp om oor die waarhede daarin te redeneer.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.
Waar jy hulp kan vind
Jehovah se Getuies gee ’n aantal publikasies uit wat spesifiek saamgestel is om ouers te help om hulle kinders die waarheid oor God te leer. Party is geskryf met jong kinders in gedagte. Ander kan ouers en hulle tienerkinders help om die kommunikasiekanale oop te hou.b
Voordat ouers hulle kinders van God kan leer, moet hulle natuurlik die antwoorde ken op ’n paar van die moeilike vrae wat kinders dalk sal opper. Hoe sal jy byvoorbeeld die volgende vrae beantwoord: Waarom laat God lyding toe? Wat is God se voorneme met die aarde? Waar is die dooies? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die antwoorde op hierdie en ander vrae te vind sodat jy en jou gesin nader aan God kan kom.—Jakobus 4:8.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse woord wat in Deuteronomium 6:7 met “inskerp” vertaal word, beteken om ’n punt dikwels te herhaal.
b Vir jonger kinders kan ouers die boek Leer by die Groot Onderwyser gebruik, wat die aandag vestig op die leringe van Jesus Christus, of My boek met Bybelverhale, wat belangrike lesse uit die Bybel in eenvoudige taal uiteensit. Vir jongmense kan ouers die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1 en 2 gebruik.