Watter boodskap hoor hulle?
IN WATTER soort wêreld wil jy graag lewe? Watter soort toekoms wil jy vir jou kinders hê? As dit vir jou moontlik was om volmaakte gesondheid te hê en vir ewig te lewe, sou jy dit kies?
Hoe sal jy daardie vrae beantwoord? Ongeag godsdiens- of politieke agtergrond sal die meeste mense graag in ’n wêreld van vrede en oorvloed wil lewe. Hulle sal ’n wêreld van volmaakte geregtigheid en harmonie, waar daar geen korrupsie sal wees nie, verwelkom; daar sal ook nie een wet vir die bevoorregtes en ’n ander vir die armes wees nie.
En jy sal ongetwyfeld graag volop voedsel, ’n aangename tuiste en ’n goeie opvoeding vir jou kinders wil hê. Met ander woorde, jy sal ’n bestendige toekoms vir jouself en jou nageslag wil waarborg. En as jy die geleentheid gegee word, sal jy kies om volmaakte gesondheid te hê en om lank genoeg te lewe om al jou heilsame begeertes en ambisies te vervul, selfs om die ewige lewe op ’n vreedsame, paradysaarde te geniet.
Dit alles is nie ’n onmoontlike droom nie. Dit is die boodskap van die Bybel wat Jehovah se Getuies wêreldwyd verkondig, ook in die Oos-Europese lande.
Die Bybel se praktiese hoop vir die toekoms
Die Bybel se betroubare profesieë wat baie eeue gelede opgeteken is, het die gebeure van ons 20ste eeu voorspel, ons ‘oorloë en gerugte van oorloë’; ons ‘aardbewings en hongersnode op verskillende plekke’; ons ‘benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, terwyl mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die aarde kom’; ons ‘verderwing en besoedeling van die aarde’.—Lukas 21:10-33; Openbaring 11:18.
Tog is al hierdie gebeure en baie ander ook ’n sekere teken dat God se beloofde nuwe wêreld ophande is. Dit sluit in “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, dit wil sê, ’n nuwe wêreldheerskappy, ’n hemelse regering, en ’n herskepte aardse gemeenskap “waarin geregtigheid woon”. Dit beteken ’n nuwe wêreld waarin ‘droefheid, die dood en geween nie meer sal wees nie’.—Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.
Dit is duidelik dat geen politieke stelsel, ongeag hoe opreg en pligsgetrou dit is, in staat is om so ’n program ten uitvoer te bring nie. Net die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God, het die wil en die krag om dit uit te voer. Om daardie rede het sy Seun, Christus Jesus, sy volgelinge leer bid: “Onse vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.
God se wil is dat die aarde ’n glansende juweel in die heelal moet wees, wat deur ’n vredeliewende mensegesin bewoon word. Binnekort gaan God ’n proses aan die gang sit om dit teweeg te bring. Dit sal ’n skoonmaakproses wees wat die aarde van alle besoedeling en besoedelaars sal bevry. Alle besoedeling, hetsy fisies of sedelik, sal van die aarde verwyder word. Wie sal oorbly? Jesus het gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Mattheüs 5:5; Openbaring 16:14-16.
Wil jy onder daardie sagmoediges wees wat God se seën sal hê? Nader dan Jehovah se Getuies in jou buurt en vra ’n gratis tuisbybelstudie, sonder enige verpligting. Ondersoek self wat die “goeie en welgevallige en volmaakte wil van God” is. En doen dit dan.—Romeine 12:2.