Ontmoet ’n ventjie wat vinnig vlam vat
Deur Ontwaak!-medewerker in Italië
EK DINK soms dat ek regtig ’n eienaardige ventjie is—dun, droog en so ontvlambaar dat ek vonke laat spat. Ek is so ’n vuurvreter dat dit net ’n oomblik neem om my te laat vlam vat. Ander weet dit en maak gebruik van my. My neiging om vurig te raak is egter deel van my geaardheid. Trouens, mense raak ergerlik as ek nie wil vlam vat nie. Maar nou-ja, daar is ’n rede daarvoor—ek is ’n vuurhoutjie.
Is dit nie waar nie dat jy my soms as vanselfsprekend aanvaar en net van my notisie neem wanneer ek nie vlam vat nie of wanneer die vuurhoutjiedosie leeg is? Maar ek sal graag wil sien hoe jy ’n vuur probeer aansteek soos wat hulle in die ou tyd gedoen het deur twee stokkies teen mekaar te vryf om ’n hoop droë blare aan die brand te steek of deur ’n vuursteen teen staal te slaan, en dan die gevaar te loop om jou vingers te kneus! In albei gevalle sou jy die nederige vuurhoutjie bedank.
Die uitvinding van ’n vuurhoutjie wat ontvlam
My familiegeskiedenis is vol eksperimente in ’n poging om ’n praktiese manier te vind om vuur te maak. Reeds in die 17de eeu, nadat die Duitse chemikus Hennig Brand fosfor ontdek het, is daar al aan die moontlikheid gedink van ’n uitvindsel waarmee vure makliker aangesteek kan word. Dit het langer geduur as wat wetenskaplikes verwag het.
Teen die begin van die 19de eeu het die Fransman Jean Chancel ’n ontvlambare mengsel van kaliumchloraat, suiker en Arabiese gom gemaak. Om dit te laat ontvlam, is ’n klein hoeveelheid op die punt van ’n stokkie wat deurtrek was van swael geplaas en kontak is gemaak met asbes wat in swaelsuur geweek is. Dit was nou nie juis die soort ding om in jou sak rond te dra nie!
Dit lyk asof die eerste vuurhoutjie met wrywingsontvlamming in 1826 deur John Walker, ’n Engelse apteker, uitgevind is. Hierdie vuurhoutjie het later as ’n Lucifer-vuurhoutjie, of Lucifer, bekendgestaan. Waarom “Lucifer”? Omdat dit die Latynse vertaling van die Griekse woord vir “ligdraer”—fosfor—is! En dieselfde Griekse woord word gebruik vir “ligdraer”, of “môrester”, in 2 Petrus 1:19! In party tale, soos Spaans en Portugees, word ek nou nog ’n fósforo genoem!
“Prometheërs” (van Prometheus in die Griekse mitologie, ’n Titan wat vuur van Olimpus gesteel en dit vir die mens gegee het) het omtrent dieselfde tyd toe Walker sy vuurhoutjie uitgevind het op die toneel verskyn. Hulle was iets tussen Chancel se uitvinding en die hedendaagse vuurhoutjie. Kaliumchloraat, suiker en gom is gemeng en in fyn papier toegerol. Aan die een punt was ’n klein glaskapsule vol swaelsuur. Wanneer die glas gebreek is, het die suur en die ontvlambare mengsel verbind en aan die brand geslaan. Charles Darwin het tydens sy reise met die Beagle deur Suid-Amerika ’n groot opskudding in Uruguay veroorsaak toe hy deur die glaskapsule van ’n Prometheër gebyt en dit aan die brand laat slaan het. Dit was nie wrywingsvuurhoutjies nie, maar vuurhoutjies met ’n chemiese reaksie.
Om en by dieselfde tyd het ’n Italiaanse chemikus, Domenico Ghigliano, ook in my familie begin belangstel. Na etlike eksperimente het hy ’n ontvlambare mengsel voorberei wat bestaan het uit antimoonsulfied en ander elemente wat hy op die punte van klein stokkies hard laat word het. Wanneer hulle oor ’n growwe oppervlak getrek is, het die mengsel onmiddellik aan die brand geslaan.
Die kaliumchloraat en wit fosfor, wat intussen die hoofbestanddele van die mengsel geword het, was gevaarlik sowel as giftig. Hulle is uiteindelik met looddioksied (of rooi lood en mangaandioksied) en rooi fosfor vervang. Dit het ook gehelp om probleme tydens hulle vervaardiging en gebruik uit te skakel.
Van boomstam tot vuurhoutjie
Waarvan word ek vandag gemaak? My kort, dun, droë lyfie kan van spar-, denne-, of witpopulierhout gemaak word. My kop is hoofsaaklik fosforsulfied, chloraat, yster- of sinkoksied, verpoeierde glas en rubber of gom.
Ons vuurhoutjies is natuurlik ’n veelsoortige familie, en daar is nog ’n groter verskeidenheid van dosies waarin ons kom. Ek is die gewone kombuisvuurhoutjie, maar daar is ook die cerino, of wasvuurhoutjie (’n tipiese Italiaanse produk waar die vuurhoutjie van gerolde waspapier gemaak word). Dan is daar die Sweedse vuurhoutjie (wat geen fosfor aan sy kop het nie en wat so verbeter is dat hy net ontvlam wanneer hy oor die fosforstrook van sy dosie getrek word).
Om dit eenvoudig te stel, kan ons vervaardiging in drie fases verdeel word: Eerstens is daar die voorbereiding van my liggaam, die vuurhoutjie; dan is daar die vermenging van die ontvlambare mengsel; en, laastens, die verbinding van die twee dele.
Vir die eerste fase word boomstamme van hulle bas gestroop en in miljoene fyn vuurhoutjies gesny wat vierkantig of reghoekig in dwarssnee is. Wanneer wasvuurhoutjies daarenteen gemaak word, word ’n lang draad van gedraaide waspapier deur ’n vorm getrek. Dan word dit in lengtes van 2,5 sentimeter gesny.
Die mengsel word van verskillende chemikalieë gemaak, en die koppe kan van een vuurhoutjiesoort tot ’n ander verskil. Die laaste fase is die verbinding van die twee dele. Ons vuurhoutjies word almal kop onderstebo in ’n raam gesit, en ons koppe word dan liggies oor ’n roller wat met die mengsel bedek is, gevoer. Dan laat hulle ons droog word, en uiteindelik word ons verpak. Die growwe oppervlak waarmee julle ons aan die brand steek, is ’n laag gom gemeng met glaspoeier wat aan die kant van die vuurhoutjiedosie gesmeer word. Vroeër is die hele vervaardigingsproses met die hand gedoen; nou is dit natuurlik gemeganiseerd. Hulle vervaardig miljoene der miljoene van ons.
Net ’n woordjie van waarskuwing—moet ons nie laat rondlê waar kinders ons in die hande kan kry nie. Hulle is baie nuuskierig en hou daarvan om grootmense na te boots—en voor jy jou kom kry, krap hulle my kop teen die kant van die dosie, en omdat ek ’n ventjie is wat vinnig vlam vat, kan ’n klein vlammetjie ’n groot brand veroorsaak. Wees dus asseblief versigtig met my!