Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/8 bl. 6-8
  • Buiteaardse wesens—Waar is hulle?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Buiteaardse wesens—Waar is hulle?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die twyfelgedagtes begin
  • ’n Wankelende grondslag
  • Die verkeerde godsdiens
  • Buiteaardse wesens—die eeue-oue droom
    Ontwaak!—1990
  • Hoe het ons heelal hier gekom?—Die geskilpunt
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Ons ontsagwekkende heelal
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • ’n Piepklein reus
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/8 bl. 6-8

Buiteaardse wesens—Waar is hulle?

VOLGENS wetenskapskrywer Isaac Asimov is dit “’n vraag wat alles, op ’n manier, bederf” vir diegene wat in lewe op ander planete glo. Die vraag, wat oorspronklik in 1950 deur kernfisikus Enrico Fermi gestel is, het ’n argument bevat wat min of meer so gelui het: As intelligente lewe op ander planete in ons galaksie ontstaan het, behoort daar nou baie beskawings te wees wat ons eie beskawing miljoene jare vooruit is. Hulle moes reeds lank gelede interstellêre ruimtevaart ontwikkel en in die galaksie versprei het deur dit na willekeur te koloniseer en te verken. Waar is hulle dan?

Hoewel party SETI-wetenskaplikes weliswaar effens van stryk gebring is deur hierdie “Fermi-paradoks”, antwoord hulle dikwels hierop deur die aandag te vestig op hoe moeilik dit sou wees om tussen die sterre te reis. Selfs teen die spoed van lig, wat ontsaglik is, sal dit ’n ruimtetuig honderdduisend jaar neem om net deur ons galaksie te reis. Daar word gemeen dat dit onmoontlik is om daardie spoed te oortref.

Wetenskapsverhale waar ruimtetuie binne ’n paar dae of uur van een ster na die ander vlieg, is fantasie, nie wetenskap nie. Die afstande tussen sterre is byna te groot vir ons om te begryp. Trouens, as ons ’n model van ons galaksie kon bou wat so klein is dat ons son (wat so groot is dat dit ’n miljoen aardes kan insluk) so groot soos ’n lemoen is, sou die afstand tussen die sterre in hierdie model steeds gemiddeld 1600 kilometer wees!

Dit is waarom SETI-wetenskaplikes so baie op radioteleskope staatmaak; aangesien gevorderde beskawings nie tussen die sterre kan reis nie, meen hulle dat hulle steeds ander lewensvorme deur die betreklik goedkoop en maklike manier, naamlik deur radiogolwe, sal soek. Maar Fermi se paradoks kwel hulle steeds.

Amerikaanse fisikus Freeman J. Dyson het tot die gevolgtrekking gekom dat as gevorderde beskawings in ons galaksie bestaan dit so maklik behoort te wees om bewyse van hulle bestaan te vind as wat dit is om tekens van tegnologiese beskawing op Manhattan Island in die stad New York te vind. Die galaksie behoort te gons van vreemdelinge se seine en hulle ontsaglike ingenieursprojekte. Maar niks is gevind nie. Om die waarheid te sê, een artikel oor die onderwerp het opgemerk dat die woorde “ons het gesoek, en niks gevind nie” soos ’n godsdiensdreunsang vir SETI-sterrekundiges geword het.

Die twyfelgedagtes begin

’n Aantal wetenskaplikes begin nou besef dat hulle kollegas gans te veel optimistiese veronderstellings gemaak het wanneer hulle hierdie vraagstuk bespreek het. Sulke wetenskaplikes beweer dat daar heelwat minder gevorderde beskawings in ons galaksie is. Party het gesê dat daar maar net een is—ons. Ander het gesê dat daar wiskundig gesproke minder as een moet wees—selfs ons behoort nie hier te wees nie!

Dit is nie moeilik om die grondslag vir hulle ongelowigheid te begryp nie. Dit kan in twee vrae opgesom word: As sulke buiteaardse wesens bestaan, waar sou hulle lewe? En hoe het hulle daar gekom?

‘Hulle sou op planete lewe’, antwoord party miskien op die eerste vraag. Maar daar is net een planeet in ons sonnestelsel wat nie totaal onherbergsaam vir lewe is nie, die een wat ons bewoon. Maar wat van die planete wat om al die ander duisendmiljoene sterre in ons galaksie wentel? Is daar nie lewe op party van hulle nie? Feit is dat wetenskaplikes tot dusver nie onweerlegbaar bewys het dat ’n enkele planeet buite ons sonnestelsel bestaan nie. Waarom nie?

Omdat dit uiters moeilik is om een te bespeur. Aangesien sterre so ver weg is en planete nie enige van hulle eie lig uitstraal nie, is dit asof ’n mens ’n stofdeeltjie probeer raaksien wat kilometers ver om ’n kragtige gloeilamp sweef wanneer jy selfs ’n reuseplaneet, soos Jupiter, probeer opspoor.

Selfs al bestaan sulke planete wel—en daar is indirekte bewys gevind dat hulle wel bestaan—beteken dit nog nie dat hulle om die regte soort ster, in die regte galaktiese omgewing, op presies die regte afstand van die ster, wentel en dat hulle self presies die regte grootte en samestelling het om lewe te onderhou nie.

’n Wankelende grondslag

Maar al bestaan daar baie planete wat aan die streng vereistes voldoen wat nodig is om lewe soos ons dit ken te onderhou, is die vraag steeds: Hoe sou lewe op daardie wêrelde ontstaan het? Dit bring ons by die grondslag van die geloof in wesens op ander wêrelde—evolusie.

Dit lyk vir baie wetenskaplikes logies om te glo dat as lewe op hierdie planeet uit dooie materie kon ontwikkel dit ook op ander planete kon gebeur het. Soos een skrywer dit gestel het: “Die algemene denkwyse onder bioloë is dat lewe sal begin wanneer dit ’n omgewing gegee word waar dit kan begin.” Maar dit is waar evolusie voor ’n onoorkoomlike beswaar te staan kom. Evolusioniste kan nie eers verduidelik hoe lewe op hierdie planeet begin het nie.

Wetenskaplikes Fred Hoyle en Chandra Wickramasinghe meen dat die moontlikheid dat essensiële lewensensieme per toeval ontstaan het een uit 1040 000 (een met 40 000 nulle) is. Wetenskaplikes Feinberg en Shapiro gaan nog verder. In hulle boek Life Beyond Earth sê hulle dat die moontlikheid dat die elemente in ’n organiese sop ooit die eerste elementêre stappe tot lewe gedoen het een uit 101 000 000 is. As ons daardie getal moes uitskryf, sal die tydskrif in jou hand ruim 300 bladsye dik wees!

Vind jy hierdie omslagtige getalle moeilik om te begryp? Die woord “onmoontlik” is makliker om te onthou en dit is net so akkuraat.a

Nogtans neem SETI-sterrekundiges ongeërg aan dat lewe oral in die heelal per toeval moes ontstaan het. Gene Bylinsky spekuleer in sy boek Life in Darwin’s Universe oor die verskillende vorme wat evolusie op vreemde wêrelde kon aangeneem het. Hy beweer dat intelligente seekatte, mans met buidels op hulle mae en vlermuismense wat musiekinstrumente maak, glad nie vergesog is nie. Befaamde wetenskaplikes het sy boek geprys. Ander wetenskaplikes soos Feinberg en Shapiro sien egter die gapende leemte in so ’n redenasie. Hulle kritiseer die “swakheid in die basiese eksperimentele grondslae” van wetenskaplikes se teorieë oor hoe lewe op die aarde begin het. Hulle sê egter dat wetenskaplikes nietemin “hierdie grondslae gebruik het om torings op te rig wat tot aan die uiteindes van die Heelal strek”.

Die verkeerde godsdiens

‘Waarom’, wonder jy miskien, ‘aanvaar soveel wetenskaplikes die onmoontlike as vanselfsprekend?’ Die antwoord is eenvoudig en nogal betreurenswaardig. Mense is geneig om te glo wat hulle wil glo. Wetenskaplikes is, ondanks al hulle bewerings van objektiwiteit, nie vry van hierdie menslike swakheid nie.

Hoyle en Wickramasinghe merk op dat “die teorie dat lewe deur ’n intelligensie geskep” is ’n “geweldig” groter moontlikheid as spontane ontwikkeling is. “Trouens”, voeg hulle by, “so ’n teorie is so duidelik dat ’n mens wonder waarom dit nie alom as vanselfsprekend aanvaar word nie. Die redes is sielkundig eerder as wetenskaplik.” Ja, baie wetenskaplikes deins terug vir die gedagte dat daar ’n Skepper is, selfs al dui die getuienis in daardie rigting. In die proses het hulle hul eie godsdiens geskep. Volgens die bogenoemde skrywers vervang Darwinisme die woord “God” eenvoudig deur die woord “Natuur”.

In antwoord op die vraag: “Is daar iemand daar buite?”, is dit dus duidelik dat die wetenskap geen grond vir geloof in lewe op ander planete gee nie. Om die waarheid te sê, soos die jare verbygaan en die stilte vanaf die sterre voortduur, is SETI ’n toenemende verleentheid vir wetenskaplikes wat aan evolusie glo. As verskillende lewensoorte so maklik uit lewelose dinge ontstaan, waarom hoor ons dan nie van hulle in hierdie eindelose heelal nie? Waar is hulle?

Hoe kan ons ’n antwoord vind as die vraag daarenteen in ’n godsdienstige lig beskou word? Het God lewe op ander wêrelde geskep?

[Voetnoot]

a Die res van die evolusieteorie gaan met net soveel probleme gepaard. Sien asseblief die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? uitgegee deur Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster op bladsy 8]

Besoekers uit die buitenste ruimte?

Baie mense glo dat buiteaardse wesens die mens op die oomblik besoek of in die verlede besoek het. Wetenskaplikes verwerp hierdie bewerings oor die algemeen; hulle meld die gebrek aan bewysbare getuienis in alle gevalle en hou vol dat die meeste VVV-waarnemings (vreemde vlieënde voorwerp) deur natuurlike verskynsels verduidelik kan word. Hulle is geneig om bewerings van ontvoerings aan onbekende gebiede van die gekwelde menslike psige of aan sielkundige en godsdienstige behoeftes toe te skryf.

Een skrywer van wetenskapsverhale het gesê: “Die drang om hierdie dinge te ondersoek en daaraan te glo, is amper godsdienstig. Ons het altyd gode gehad. Nou wil ons voel dat ons nie alleen is nie, maar dat beskermende magte oor ons waak.” Bowendien lyk dit asof sommige VVV-ondervindinge eerder aan die okkulte as aan die wetenskap grens.

Maar baie wetenskaplikes glo op hulle eie manier aan “besoekers”. Hulle besef hoe onmoontlik dit is dat lewe per toeval hier op die aarde ontstaan het en beweer dus dat dit vanuit die hemelruim hiernatoe moes gedryf het. Party sê dat vreemde wesens lewe op ons planeet geplant het deur vuurpyle vol primitiewe bakterieë te stuur. Een het selfs beweer dat vreemde wesens ons planeet eeue gelede besoek het en dat lewe per toeval ontstaan het uit die afval wat hulle agtergelaat het! Party wetenskaplikes maak gevolgtrekkinge op grond van die bewys dat eenvoudige organiese molekules redelik algemeen in die hemelruim voorkom. Maar is dit werklik ’n bewys dat lewe toevallig ontwikkel het? Is ’n ysterwarewinkel ’n bewys dat ’n motor homself per toeval daar moet bou?

[Prent op bladsy 7]

Selfs al bestaan ander bewoonde planete, is daar enige bewys dat lewe per toeval op hulle kon ontstaan het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel