Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 3/22 bl. 15-18
  • ’n Kykie na asma

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kykie na asma
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is asma?
  • Wat veroorsaak asma?
  • Hoe om aanvalle te voorkom
  • Is jou kind asmaties?
  • Wanneer iemand ’n aanval kry . . .
  • Behandeling van die asmalyer
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 3/22 bl. 15-18

’n Kykie na asma

ASMA is ’n kwaal wat wêreldwyd voorkom. Daar word geraam dat 1 uit 10 hier in Nieu-Seeland daaraan ly. Jonk sowel as oud, dorpsmense en plaasmense, arbeiders en kantoorwerkers ly aan asma.

Tog is daar heelwat onkunde oor asma, veral by nie-lyers. Selfs asmalyers verstaan dikwels nie wat met hulle gebeur nie, en dit kan angs veroorsaak wat die toestand net vererger. Miskien sal die volgende kommentare wat op ondervindinge en navorsing in Nieu-Seeland gebaseer is, help om daardie gebrek aan begrip ietwat te verminder.

Wat is asma?

Tydens ’n tipiese asma-aanval voel die asmalyer ’n beklemming in die bors. Hy hyg en hoes terwyl hy sukkel om asem te haal. Dit is ’n angswekkende ondervinding! ’n Asma-aanval kan ernstig of heel lig wees. Simptome sowel as die frekwensie van aanvalle kan verskil. Party mense het altyd die simptome, hoewel hulle nie ewe erg voorkom nie.

Wat veroorsaak hierdie onaangename sensasies? Soos jy waarskynlik weet, word lug deur die lugpype in ons longe ingevoer. In die geval van talle asmatiese pasiënte veroorsaak allergiese reaksies oorsensitiwiteit in hierdie pype. Die spiere in die lugpypwand trek saam, die vlies waarmee die pype uitgevoer is, swel en die kliere in die lugpypwand produseer oortollige slym. Die gevolg? Die pype vernou. Geen wonder die pasiënt haal moeilik asem nie!

Wat veroorsaak asma?

Wat veroorsaak ’n asma-aanval? Moontlik ’n infeksie, emosionele ontsteltenis of ’n ernstige allergiese reaksie op iets. Maar as iemand eers aan die siekte ly, kan daar verskeie antigene, of spesifieke stowwe, wees wat oorsensitiwiteit in die lugpype veroorsaak. En wanneer die lugpype eers hiervoor gevoelig is, kan ander faktore soos temperatuurveranderinge, ’n verandering in humiditeit, emosionele ontsteltenis of oefening ook aanvalle veroorsaak.

Dokters kan sommige van die antigene identifiseer wat ’n asma-aanval aanbring, maar dit is nie altyd moontlik om almal te vind nie. En selfs wanneer hulle gevind word, is dit nie altyd moontlik om hulle te vermy nie. ’n Deeglike ondersoek na die oorsake van asma asook die beste manier om dit te beheer, kan tyd kos. Dit kan baie geduld van die asmalyer en die dokter verg. Maar tyd wat so bestee word, sal waarskynlik beter beheer van die simptome tot gevolg hê.

Hoe om aanvalle te voorkom

Daar is baie dinge wat die longe irriteer en ’n aanval in ’n asmalyer kan veroorsaak. Probeer om kontak met die volgende stowwe te vermy:

Tabakrook: Moenie rook nie, en vermy rookgevulde vertrekke. Dokters verloor gou simpatie met asmalyers wat aanhou rook. En vriende van ’n asmalyer moenie in sy teenwoordigheid rook nie. Hoewel hy nie dadelik ’n aanval sal kry nie, kan hy ure later hoog in die nood wees as gevolg van die rook.

Stof: Probeer om stowwerige, toe plekke te vermy, asook bedrywighede wat stof opjaag. As jou werk jou met baie stof in aanraking bring, moet jy dit ernstig oorweeg om van werk te verander. Sommige asmalyers vind dat hulle simptome net snags of in die slaapkamer voorkom. Is dit dalk te wyte aan huisstof of daardie klein huisstof-myte? Dit is in baie gevalle; daarom moet die asmalyer se slaapkamer so stofvry moontlik wees. Die volgende is ’n paar huishoudelike wenke wat in die besonder vir asmalyers bedoel is.

Maak die slaapkamer daagliks skoon.

Die matras, bedbasis, komberse en die vloer moet elke week deeglik skoongemaak en met ’n stofsuier gesuig word. Hardehoutvloere is beter as matte of tapyte, en skuifblindings as gordyne.

Stof meubels, die bokant van deure, vensterrame en vensterbanke met ’n klam of olierige lap af.

Die kamer moet deeglik belug word en daarna moet die deure en vensters toegemaak word. Dit moet gedoen word ten minste drie tot vier uur voor die persoon gaan slaap.

Die matras, komberse en kussings moet nie van stowwe gemaak wees wat allergieë veroorsaak nie, en hulle moet gereeld in die son belug word indien enigsins moontlik.a

Nog iets. Moenie troeteldiere in die slaapkamer toelaat nie. En as daar enige bewys is dat jy allergies is vir jou troeteldier moet jy ’n ander tuiste vir hom vind—of hom ten minste uit die huis hou.

Temperatuur en humiditeit: Skielike temperatuurveranderinge en uiterstes in hitte en koue kan ’n aanval veroorsaak. Dit is ideaal as die lug effens warm en vogtig is. As jy aan asma ly, moet jy gevolglik so min moontlik in mistige of koue weer uitgaan. Vermy warm, droë sentrale verwarming. As temperatuurveranderinge aanvalle gedurende die nag veroorsaak, kan jy gerus gedurende die wintermaande ’n termostatiese verwarmer in jou kamer hou. As humiditeit jou simptome aanbring, kan jy ’n humiditeitsbeheerder probeer gebruik.

Emosionele spanning en uitputting: Albei kan ’n asma-aanval veroorsaak. Ons kan weliswaar nie altyd ons emosionele spanning beheer nie. Maar baie asmalyers het gevind dat Bybelbeginsels hulle op hierdie gebied help. Die Bybel sê vir ons: “’n Kalm gemoed hou die liggaam gesond” (Spreuke 14:30, NAV). Daarbenewens probeer verstandige asmalyers om bewus te wees van hulle fisiese beperkinge en vermy hulle uitputting, wat ’n aanval kan veroorsaak.

Voedsel: Voedselallergieë kan asma-aanvalle veroorsaak, veral in kinders of volwassenes wat van kleins af aan asma ly. Selfs alledaagse voedselsoorte, soos melk, eiers en graan, kan verdag wees. Maar dit kan baie speurwerk verg om die skuldige vas te trek, veral as dit ’n bestanddeel is wat algemeen gebruik word, soos suiker. En natuurlik kan meer as een voedselsoort daarby betrokke wees. Volwasse pasiënte sal verstandig handel as hulle in gedagte hou dat alkoholiese dranke, veral bier en wyn, die toestand kan vererger.

Oefening: Ooreising kan soms tot ’n asma-aanval aanleiding gee, wat gewoonlik na die oefening toeslaan. As jy dit ondervind het, moet jy oefeninge, soos muurbal, vermy waar jy jouself kort-kort skielik kragtig moet inspan en reëlmatiger vorme van oefening probeer, soos swem en fietsry. Dit kan help as jy ’n brongodilator (’n geneesmiddel wat kongestie in die lugpype verlig) voor veeleisende aktiwiteite gebruik. ’n Fisioterapeut kan jou ook met ’n program help wat jou in staat sal stel om meer oefening te kan doen. Dit sal jou help om aan meer aktiwiteite deel te neem sonder om kortasem te word.

Infeksie: Geringe asemhalingsinfeksies, soos ’n verkoue of griep, veroorsaak dikwels ’n asma-aanval of vererger die simptome. Gewone medikasie vir die verligting van asma is nie altyd doeltreffend wanneer daar infeksie is nie.

Stuifmeel: Hoewel die wintermaande baie probleme veroorsaak vir diegene met asemhalingskwale, ly talle aan sogenoemde seisoenasma. Mikroskopiese stuifmeeldeeltjies sweef in die somerlug rond en kan eindelose ellende en ongemak vir asmalyers veroorsaak. Dit is onmoontlik om die oorspronge van hierdie stuifmeel uit te roei, maar ’n paar verstandige maatstawwe kan help. Probeer byvoorbeeld om pas gesnyde grasperke te vermy, sowel as wildernis- of plattelandse gebiede gedurende stuifmeelseisoene, en gebruik doeltreffende lugversorging, indien moontlik.

Skimmels: Duisende skimmels, of fungi, word in ons omgewing aangetref. Skimmels en swamagtige spore (voortplantingselle) groei op plantaardige of dierlike stowwe. Hulle kom ook volop voor op koring, hawer, mielies, grasse en blare. Hoewel daar bewys is dat net ’n paar vir asmalyers probleme veroorsaak, dui ’n studie in Nieu-Seeland aan dat spore moontlik ’n vername allergiefaktor is. Gevolglik kan die volgende maatstawwe help, hoewel dit onmoontlik is om spore wat in die lug is uit te roei:

Vermy klam, muwwerige kelderverdiepings en geboue.

Moenie blare of droë gras hark of verbrand nie.

Ontsmet of vernietig enige muwwerige artikels.

Moenie plante binnenshuis hou of ’n komposhoop in die tuin maak nie.

Ontsmet huishoudelike oppervlakke wat met skimmel besmet is.

Is jou kind asmaties?

Indien wel, sal hy jou ondersteuning nodig hê. Jy, sowel as sy onderwysers, sal sy probleem moet verstaan en hom moet help om dit te verwerk. Die kind moenie aangepor word om meer te doen as wat hy kan nie, maar hy moet ook nie toegelaat word om agter sy asma te skuil en aktiwiteite wat vir hom goed sal wees te vermy nie.

Sy fisiese aktiwiteite moet verkieslik nie-mededingend wees, hoewel baie kinders met asma aan die meeste sportsoorte kan deelneem wanneer hulle geen simptome het nie. Maar die kind met chroniese asma sal moontlik net beperkte aktiwiteite kan geniet, en volwassenes moet versigtig wees om hom nie aan te por om hom te kragtig in te span nie. Die verstandige gebruik van medikasie kan hom help om gereelde aktiwiteite soos liggaamsoefeninge te geniet, en die onderwyser behoort te weet wanneer en hoe ’n brongodilator-aërosol gebruik word.

Enkele kinders word so ernstig deur asma aangetas dat hulle voortdurend moeilik asemhaal en dikwels kortasem is. Sulke kinders is dikwels angstig en gespanne, en hulle ouers en onderwysers kwel hulle baie oor hulle. Die kinders is dikwels afwesig van skool en kan moontlik nie aan sport deelneem nie.

’n Ouer tree miskien oorbeskermend teenoor so ’n kind op. As die kind uit ’n huis kom waar daar voortdurend spanning en argumente is, kry hy moontlik nie die ondersteuning, liefde, begrip en aanmoediging wat hy so verskriklik nodig het nie. Ouers wat ’n gesonde, optimistiese benadering tot asma het, help om die kind se angs te verminder, wat die erns van die siekte, laat afneem.

Wanneer iemand ’n aanval kry . . .

Neem hom na ’n stil plek en stel hom gerus. Hy kan staan of sit terwyl hy vooroor leun, wat dikwels die gemaklikste posisie gedurende ’n aanval is, en hy moet sy brongodilator dadelik gebruik. As die brongodilator ’n inasemingsmiddel is, sal dit moontlik vinniger werk en gevolglik doeltreffender wees as medisyne wat mondeliks geneem word. As die aanval ernstig is—veral as die asmalyer nie behoorlik kan praat nie—moet hy so gou moontlik na ’n dokter geneem word. Terloops, die pasiënt verloor baie vog gedurende ’n aanval omdat hy na sy asem snak en hyg. Gee hom dus genoeg om te drink.

Behandeling van die asmalyer

Fisioterapie is ’n belangrike middel om die asmalyer te help, veral om hom te wys hoe om behoorlik asem te haal (deur die diafragma te gebruik) en hoe om kortasemigheid te verlig. Die terapeut kan hom ook leer om te ontspan, ’n goeie liggaamshouding te hê en watter oefeninge help om asma onder beheer te hou. Behandelings verskil. ’n Dokter is gewoonlik die bekwaamste persoon om die beste behandeling in elke individuele geval voor te stel.

Behandeling behels die gebruik van medisynes soos natriumkromoglikaat en steroïede, sowel as verskeie soorte brongodilators. Met die gebruik van medisyne kan daar natuurlik newe-effekte wees. ’n Dokter kan moontlik ander behandelings aanbeveel.

Asma is ’n komplekse siekte. Familielede en vriende moet dít verstaan as hulle enigsins wil help. Vermy uitdrukkings soos: ‘Moet net nie daaraan dink nie’ of: ‘Jy lyk vir my heel goed.’ Asmalyers wat leer om hulle siekte te verstaan, kan troos put uit die wete dat hulle, selfs voordat die mensdom van alle siektes in God se nuwe wêreld genees gaan word, beter voorberei kan wees op asma-aanvalle, beter toegerus kan wees om dinge te vermy wat daartoe aanleiding gee en dat hulle spanning, angs en ongemak grootliks verminder kan word. (Jesaja 33:22, 24).—Bygedra deur ’n asmalyer.

[Voetnoot]

a Soms kan ’n asmalyer te siek wees om hierdie huishoudelike take te verrig. Sien asseblief die artikel “’n Skoon huis ondanks swak gesondheid” in Ontwaak! van 22 Junie 1982 vir nuttige wenke.

[Diagram/Prent op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NORMAAL

Ontspanne spier

Slymvlies

Onbelemmerde luggang

ASMA-AANVAL

Saamgetrekte spier

Ontsteekte slymvlies

Vernoude luggang

Slym

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel