HOU AAN WAAK!
’n Einde aan haatmisdade – Wat sê die Bybel?
Geweld wat deur haat gemotiveer word, het ongelukkig baie algemeen geword. Mense word aangeval bloot as gevolg van hulle ras, godsdiens, etniese agtergrond, geslag of ander redes. Hierdie aanvalle veroorsaak vrees in gemeenskappe en laat baie mense met diep en permanente fisiese en emosionele letsels – en party verloor selfs hulle lewens.
Die Bybel het voorspel dat ons tyd gekenmerk sou word deur mense wat “wreed [is] en sonder liefde vir wat goed is” en ’n gebrek aan “natuurlike liefde” het (2 Timoteus 3:1-5). So sal haatmisdade ooit tot ’n einde kom? Wat sê die Bybel?
Hoe haatmisdade tot ’n einde sal kom
Die Bybel verseker ons dat God ’n einde aan wreedheid kan maak en dat hy dit sal doen.
“Goddelose mense sal vernietig word . . . Maar die nederiges sal die aarde besit, en hulle sal groot vreugde vind in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:9-11). God sal nie toelaat dat gewelddadige mense aanhou om ander seer te maak nie.
“God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie” (Openbaring 21:4). God sal die gevolge van enige fisiese, verstandelike en emosionele skade wat mense al ondervind het, wegneem – dit sal wees asof dit nooit bestaan het nie.
“Daar [sal] ’n opstanding . . . wees” (Handelinge 24:15). God sal miljoene mense opwek, insluitende dié wie se lewens deur haatmisdade kortgeknip is.
Hoe om haat vandag te hanteer
Die Bybel gee ons meer as net hoop – dit help ons om die haat wat vandag so algemeen is, te hanteer. Ons nooi jou om te kyk wat die Bybel se antwoorde op hierdie belangrike vrae is:
Wat kan ons nou doen om die haat wat tot geweld lei, te oorkom? Kyk wat die Bybel leer in Die Wagtoring met die titel “Hoe om die siklus van haat te breek”.
Hoekom laat God toe dat so baie mense aanhou om swaar te kry? Vind ’n duidelike, Bybelgebaseerde verduideliking in die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry?