HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Drukwerk word vereenvoudig om “alle soorte mense” te help
1 OKTOBER 2025
Jehovah God wil hê dat “alle soorte mense . . . akkurate kennis van die waarheid moet kry” (1 Timoteus 2:3, 4). Maar ons broers en susters en dié vir wie ons preek, praat honderde tale. Elke jaar druk ons amper twee miljard publikasies in daardie tale. Watter stappe het ons geneem om geestelike voedsel in soveel tale beskikbaar te maak, terwyl ons bydraes wyslik gebruik?
Minder drukkerye, beter toerusting
Gedurende die 1980’s het ons tydskrifte in meer as 40 lande gedruk. Van toe af het ons geleidelik die manier waarop ons ons drukwerk doen, herorganiseer sodat ons nou net in nege lande drukwerk doen. Maar gedurende daardie selfde tydperk het die aantal tale waarin ons gereeld publikasies beskikbaar maak, byna ses keer toegeneem! Hoe kan ons met minder drukkerye publikasies in meer tale druk? Een rede is omdat ons beter toerusting het.
Nuwer drukperse laat ons toe om meer publikasies in minder tyd te druk. Op ons ouer drukperse het dit lank gevat om oor te skakel van die druk van een publikasie na ’n ander. Nou, met beter toerusting, kan oorskakelings dikwels vier keer vinniger gedoen word. Ons kan meer publikasies vinniger druk. Ons kan selfs kleiner hoeveelhede publikasies druk in tale wat deur minder mense gepraat word. Elke publikasie wat gedruk word, het natuurlik nuwe drukplate nodig. Gedurende ’n onlangse tydperk van 12 maande het ons omtrent R35,5 miljoen net aan drukplate gespandeer. So, wanneer klein hoeveelhede publikasies gedruk moet word, gebruik ons digitale drukperse wat nie drukplate nodig het nie. Hierdie drukperse, insluitende dié wat lasertegnologie gebruik, druk klein hoeveelhede publikasies teen ’n lae koste en ons vermors nie baie hulpbronne nie.
Drukplate word gedurende oorskakelings verander
Oor die afgelope drie jaar het ons meer as R177,6 miljoen spandeer om ons druk- en bindtoerusting wêreldwyd te verbeter. Kyk na hoe ons van daardie toerusting gebruik om Bybels te maak. In die verlede was meer as 40 stappe nodig om ’n Bybel te maak nadat dit gedruk is. Dit sluit in om dit vas te werk, te knip, af te werk, te skuur en te verguld. Ons moes ook dikwels die Bybels tussen elke stap met die hand skuif en opmekaar pak. Vandag is daar net tien stappe nodig omdat die nuwe toerusting baie van die stappe kombineer en masjiene die Bybels van die een stap na die volgende skuif. So om Bybels te maak is nou omtrent helfte van die werk. Voorheen het die bindery by die takkantoor in Japan elke agt ure 2 000 Bybels gemaak. Nou word omtrent 35 000 Bybels in dieselfde hoeveelheid tyd gemaak!
Strepieskodes word gebruik om elke gedeelte van die Bybel te identifiseer, bymekaar te sit en te sorteer
Ons spaar geld deur minder papier en publikasies te stoor
Hierdie verbeteringe het ons gehelp om bydraes te spaar. Byvoorbeeld, noudat ons kleiner hoeveelhede publikasies kan druk en meer gereeld oorskakelings kan doen, het ons die hoeveelheid publikasies wat by elke drukkery gestoor moet word, verminder. Gary, wat by die takkantoor in die Verenigde State dien, sê: “Dit was eers moeilik om te verstaan hoe dit ’n goeie idee is om kleiner hoeveelhede publikasies meer gereeld te druk. Dit lyk dalk beter om groter hoeveelhede publikasies minder gereeld te druk.” Gary sê verder: “In die eerste jaar nadat ons kleiner hoeveelhede publikasies meer gereeld begin druk het, het ons kostes vir drukplate en papierafval met omtrent R1 miljoen vermeerder. Maar daardie selfde jaar het ons meer as R26,6 miljoen gespaar wat ons sou gebruik het om papier en gedrukte boeke te stoor!” Ons kan hierdie geld wat ons gespaar het, gebruik vir ander belangrike behoeftes, soos om Koninkryksale te bou en vir noodlenigingswerk.
Omdat ons minder stoorplek nodig het, het ons ook meer spasie by party van ons takkantore. Hierdie takkantore kan die spasie wat beskikbaar is, vir ander behoeftes by Bethel gebruik. Deur die drukwerk op minder plekke te doen, kan ons ook dikwels die grootte van nuwe takkantore wat ons bou, aanpas. Byvoorbeeld, in 2018 het die drukwerk wat by die takkantoor in Brittanje gedoen is, na die takkantoor in Sentraal-Europa en ander drukkerye geskuif. Dit het miljoene rande se boukoste vir die nuwe takkantoor in Chelmsford, Engeland, gespaar.
“U het my onthou!”
Nog belangriker, meer mense kom nader aan Jehovah as gevolg van ons vereenvoudigde manier van drukwerk doen. Ons kan nou publikasies in meer tale druk, selfs al is net ’n paar honderd kopieë van ’n publikasie nodig. Byvoorbeeld, daar is net omtrent 35 000 mense wat in Nieu-Kaledonië en Wallis en Futuna bly wat Wallisiaans praat. Maar in Augustus 2024 het ons die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Wallisiaans vrygestel. Selafina, ’n verkondiger wat Wallisiaans praat, sê: “Ek het woorde in die Franse Bybel gelees wat ek nie verstaan het nie. So, toe ons die Bybel in Wallisiaans ontvang, het ek trane in my oë gekry. Ek het gebid: ‘O Jehovah, u het my onthou! U is ’n onpartydige God.’”
Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling is nou in Wallisiaans beskikbaar
Al is daar minder as 500 000 mense in die Demokratiese Republiek die Kongo wat Sanga praat, is die hele Geniet die lewe vir ewig!-boek in daardie taal beskikbaar. Josué, wat in ’n Sanga-gemeente is, sê: “Dit het baie moeite gevat om sekere woorde en uitdrukkings aan my Bybelstudente te verduidelik of te vertaal. En selfs dan kon my studente partykeer nie verstaan wat die boek gesê het nie. Dit is wonderlik om nou die boek in Sanga te hê! Nou verstaan my studente wat die boek leer, en ek hoef nie meer vir hulle lang verduidelikings te gee nie.”
’n Bybelstudie word in Honduras gehou en die Geniet die lewe vir ewig!-boek in Garifuna word gebruik. Hierdie taal word deur omtrent 120 000 mense gepraat
Ons druk en versprei geestelike voedsel aan meer mense en in meer tale as ooit tevore. Julle donasies, insluitende dié wat op donate.jw.org gemaak word, het ons gehelp om dit te doen. Dankie vir julle vrygewigheid.