Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lfs artikel 1
  • “My liefde vir Jehovah het my gedra”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “My liefde vir Jehovah het my gedra”
  • Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My soektog na geregtigheid en gemoedsrus
  • My liefde vir Jehovah word getoets
  • God gee my liefdevolle sorg en opleiding
  • Ek ervaar God se liefde toe ek weggestuur is
  • God se liefde het ons deur swaar tye gedra
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • Volharding tydens beproewinge lei tot seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Lewensverhale van Jehovah se Getuies
lfs artikel 1
Georgi Portsjoeljan.

GEORGI PORTSJOELJAN | LEWENSVERHAAL

“My liefde vir Jehovah het my gedra”

Toe ek maar net 23 jaar oud was, is ek na ’n strafkamp in die Magadan-streek in Siberië gestuur, waar die toestande haglik is. Op daardie stadium was ek nog net ’n jaar lank as een van Jehovah se Getuies gedoop. Ek was so impulsief en onervare dat dit amper op ’n bakleiery uitgeloop het toe ek met een van die ander gevangenes oor my nuwe oortuigings wou praat.

Maar hoekom het ek, wat voorheen ’n Kommunis was, by ’n godsdiensgroep aangesluit wat as ’n vyand van die Staat beskou is? En hoe het Jehovah se liefde en opleiding my gehelp om my persoonlikheid te verbeter gedurende jare se dwangarbeid en gevangenskap?

My soektog na geregtigheid en gemoedsrus

Ek is in 1930 in Tabani, ’n arm dorpie in noordelike Moldowa, gebore. My ouers het baie hard gewerk op ’n gemeenskapsplaas sodat hulle vir hulle ses kinders kon sorg. Ons het nie baie gehad om van te lewe nie. My ma het aan die Russies-Ortodokse Kerk behoort en my pa was ’n Katoliek. Hulle het baie keer erg gestry oor die skokkende dinge wat die priesters gedoen het.

Toe ek op 18 met skool klaargemaak het, het ek aangesluit by die Komsomol, ’n organisasie vir jongmense wat Kommunistiese leringe versprei het. Die organisasie se doel was om toekomstige lede van die Kommunistiese Party voor te berei. Binne ’n kort tydjie was ek as sekretaris van die plaaslike groep aangestel. Ek het gehou van waardes soos broederskap, gelykheid en geregtigheid, maar toe ek die ongeregtigheid en korrupsie oral om my gesien het, het ek leeg gevoel.

Omdat ek ’n aktiewe lid van die Komsomol was, moes ek die bevele van die regering van die Sowjetuniea ondersteun toe hulle kerke gesluit en godsdiensgroepe beëindig het. Daar was ’n paar van Jehovah se Getuies in ons dorpie. Al het ek gesien dat hulle eerlike en vreedsame mense is, het ek gedink dat hulle fanaties is. Min het ek geweet dat een van hulle binnekort vir my antwoorde op baie van my vrae sou gee.

My oom Dimitri wat in ons dorpie gewoon het, was een van Jehovah se Getuies. Op ’n dag in die lente van 1952 het hy my gevra: “Georgi, wat gaan jy met jou lewe doen?” Hy is die enigste een wat genoeg vir my omgegee het om so iets te vra. Om die waarheid te sê, ek het so baie vrae gehad waarvoor ek antwoorde gesoek het. Byvoorbeeld, ek het myself heeltyd gevra: ‘As daar ’n God is, hoekom laat hy toe dat mense so swaarkry?’ Die volgende agt dae het Dimitri die Bybel gebruik om my vrae te beantwoord. Partykeer het ons tot drieuur die oggend oor God gepraat!

Georgi en Dimitri het partykeer tot laatnag wakker gebly en oor die Bybel gesels

Ná hierdie gesprekke het ek besluit om die Bybel ernstig te studeer. Ek het begin besef dat ek ’n hemelse Vader het wat regtig lief is vir my (Psalm 27:10). Al het ek baie min oor die Bybel geweet, was my liefde vir Jehovah sterk genoeg dat dit my gehelp het om te doen wat ek geweet het ek moes doen. Ek het die Kommunistiese Party verlaat al het die plaaslike voorsitter my gedreig. In September 1952, net vier maande nadat ek die Bybel begin studeer het, het ek my aan Jehovah toegewy en is ek gedoop.

My liefde vir Jehovah word getoets

Destyds was die aktiwiteite van Jehovah se Getuies verbied. Maar ek wou iets doen om vir Jehovah te wys dat ek vir hom lief is, en daarom het ek aangebied om Bybellektuur by ander Getuies in dorpies af te lewer. Dit was gevaarlik omdat agterdogtige mense in die dorpies maklik ’n vreemdeling by die owerhede kon gaan aankla. Om die waarheid te sê, selfs party van die Getuies was skrikkerig vir my omdat hulle bang was dat ek een van die baie lede van die geheime polisie was wat die gemeente geïnfiltreer het. Maar dit het vinnig duidelik geword dat ek nie ’n spioen is nie. Net twee maande ná my doop is ek gearresteer en daaraan skuldig bevind dat ek verbode lektuur afgelewer het.

Ek was vir amper ’n jaar in aanhouding voor my verhoor, en gedurende daardie tyd het die beamptes my ondervra en my probeer kry om dislojaal aan Jehovah te wees. Maar op daardie stadium het ek alreeds ’n diep liefde vir Jehovah God gehad. Met verloop van tyd was daar ’n verhoor in die stad Odessa, Oekraïne. My gesin, wat toe nog nie Jehovah se Getuies was nie, is voor die hof gedaag.

Ek is daarvan aangekla dat ek deur ’n gevaarlike sekte mislei is om by hulle aan te sluit. Die owerhede wou hê dat my gesin moes glo dat ek mal geword het. Dit het my ouers baie bang gemaak. Hulle het gehuil en my gevra om my geloof op te gee. Maar ek het kalm gebly. Ek het vir my ma gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Niemand het my om die bos gelei nie. Ek het dít gevind waarna ek my hele lewe lank nog soek, en ek sal dit nooit opgee nie” (Spreuke 23:23). Ek het nie baie oor die Bybel geweet nie, maar ek het nogtans genoeg oor Jehovah geweet om aan hom vas te hou. Omtrent ses jaar later het my ouers beter verstaan wat ek glo en toe ook Jehovah se Getuies geword.

Georgi se ouers was daar toe die hof hom daarvan beskuldig het dat hy by ’n gevaarlike sekte aangesluit het

Ek is tot 15 jaar dwangarbeid gevonnis en met die trein na die Kolyma-streek gestuur, wat in die middel van ’n groot netwerk strafkampe in Siberië was. Die wagte en beamptes het ons geslaan en laat honger ly sodat hulle die gevangenes ten volle kon beheer. Ek het aan die begin gewonder hoe ek dit sou maak.

God gee my liefdevolle sorg en opleiding

Kort nadat ek daar aangekom het, het ’n paar van die 34 Getuies wat reeds gevangenes in die kamp was, versigtig vir my gevra: “Is daar enige Jonadabs in jou groep?” Ek het onmiddellik geweet dat hulle my geestelike broers is. Dit is net hulle wat so ’n Bybelterm sou gebruik! Hierdie ervare broers het my nie net geleer hoe om Bybelbeginsels in moeilike tye toe te pas nie, maar ook om geestelike eienskappe soos goeie oordeel te ontwikkel.

Ek het met masjiene in die kamp gewerk. Een dag het ’n werksmaat met die naam Matphei gespog dat hy die name van 50 van die heiliges uit sy kop ken. Toe ek iets beledigends oor die sogenaamde heiliges gesê het, wou Matphei my slaan, maar ek het weggehardloop. Later was ek ontsteld omdat ek gesien het hoe die broers lag. Ek het gevra: “Hoekom lag julle? Ek wou preek!” Hulle het my vriendelik daaraan herinner dat ons doel is om goeie nuus met mense te deel, en nie om hulle te beledig nie (1 Petrus 3:15). Matphei het die regering teëgestaan, maar hy was nogtans beïndruk met die respek wat die Getuies teenoor die wagte en die owerhede gewys het. Met verloop van tyd het hy in die Bybel se boodskap begin belangstel. Ek sal nooit die aand vergeet toe hy in die geheim in ’n drom koue water gedoop is nie.

Kort nadat ons in die kamp aangekom het, is ek en twee jong broers genooi om klasse oor politieke teorie by te woon. Ons het eers geweier om sulke vergaderinge by te woon. Ons het gedink dat dit ’n skending van ons Christelike neutraliteit sou wees as ons daaraan deelneem (Johannes 17:16). Ons is toe vir twee weke in ’n donker strafsel gegooi. Nadat ons daar uitgekom het, het liefdevolle broers aan ons verduidelik dat ons nie noodwendig ons neutraliteit sal verbreek deur bloot by sulke vergaderinge te wees nie. Ons kon eerder daarna kyk as ’n geleentheid om ’n goeie getuienis te gee. Hierdie liefdevolle broers het ons gehelp om wyser te word en om Bybelbeginsels toe te pas wanneer ons besluite maak.

Die geduldige manier waarop hulle my opgelei het, was duidelike bewys van Jehovah se liefdevolle sorg vir my. Byvoorbeeld, ’n gevangene wat ’n priester was, is as die hoofboekhouer aangestel. Elke keer wanneer ons mekaar tydens etenstyd gesien het, het hy my gegroet deur te sê: “Hallo, seun van die Duiwel!” ’n Ander gevangene het vir my gesê dat ek sarkasties moet antwoord: “Hallo Pa!” Ongelukkig het ek sy raad gevolg, en ek is toe erg geslaan. Toe die broers uitvind wat met my gebeur het, het hulle my gehelp om te besef dat ek verkeerd opgetree het (Spreuke 29:11). Ek het op die ou end vir die priester jammer gesê.

Voordat ek na die strafkamp gestuur is, het ek saans of vroeg soggens Christelike vergaderinge in die geheim bygewoon. Maar in die kamp was daar geen wegkruipplek nie. Daarom het ons broers elke dag in ’n kring gestaan – daar voor die wagte – om Bybelverse te bespreek wat ons vooraf op klein stukkies papier neergeskryf het. Ons doel was om soveel moontlik verse uit die kop te leer en dit gereeld te herroep. Wanneer ’n beampte ons vergaderinge onderbreek het, het ons vinnig ons papiertjies ingesluk.

Broers in die strafkamp is versigtig terwyl hulle Bybelverse bespreek wat hulle op klein stukkies papier neergeskryf het.

In die strafkamp was daar geen plek om weg te kruip nie, en die Getuies het die Bybel gelees – daar voor die wagte

Ek ervaar God se liefde toe ek weggestuur is

In die vroeë 1960’s nadat Georgi uit die strafkamp vrygelaat is

Nadat ek in 1959 uit die kamp vrygelaat is, is ek na die Karaganda-streek in Kazakstan weggestuur. Al was ek nog op parool het ek die owerhede gevra of ek 20 dae verlof kon kry om te gaan trou. Ek het na die Tomsk-streek in Rusland gegaan waar ek ’n getroue en lieflike suster met die naam Maria geken het. Soos gewoonlik het ek nie doekies omgedraai nie. Ek het vir haar gesê: “Maria, ek het nie tyd om jou die hof te maak nie. Trou met my!” Sy het ja gesê en ons het ’n klein troue gehad. Maria het waardering gehad vir die feit dat ek soveel toetse deurgemaak het en sy wou my help om Jehovah aan te hou dien. – Spreuke 19:14.

In die 1960’s kon ons nie openlik van huis tot huis gaan nie, maar ons het enige geleentheid aangegryp om informeel oor ons oortuigings met ander te praat. Wanneer ons as gaste iewers heen genooi was of op vakansie was, het ons dikwels vir ander vertel van ons hoop om vir ewig op die aarde te lewe. Ons het ook geleenthede geskep om met ander te praat. Byvoorbeeld, ons het na huise gegaan wat te koop was en met die eienaars oor Bybelonderwerpe probeer praat. Op hierdie manier het ek en Maria Bybelstudies met ses persone begin wat Jehovah se Getuies geword het.

Soms kon ons ’n getuienis gee wanneer daar verkiesings gehou is. Een dag het lede van die geheime polisie na die fabriek gekom waar ek en ’n paar broers gewerk het. Voor omtrent 1 000 van ons werksmaats het hulle ons gevra hoekom Jehovah se Getuies nie aan die politiek deelneem nie. Die hoofingenieur en ’n hele paar van die ander werkers het vir ons opgekom. Hulle het vir die polisiemanne gesê dat ons verantwoordelik en hardwerkend is. Hulle reaksie het ons die krag gegee om ons standpunt te verduidelik en Bybelverse daaroor aan te haal. As gevolg van ons moedige getuienis het vier werkers belangstelling in die Bybel begin toon en is hulle in minder as ’n jaar gedoop.

In die vroeë 1970’s het baie opregte mense in Kazakstan Jehovah se Getuies geword, en daarom het ons gevoel dat dit nodig is om ons eerste byeenkoms te reël. Maar hoe kon ons dit doen sonder om die owerhede agterdogtig te maak? Ons het besluit om ’n eendagbyeenkoms saam met ’n troue te hou in ’n dorpie naby die stad Almaty. Dit was ’n regte troue asook ’n Christelike byeenkoms met meer as 300 gaste wat by die bruid en bruidegom aangesluit het! My vrou en ’n paar susters het baie hard gewerk om die byeenkomsplek te versier en om heerlike kos voor te berei. Die gaste het veral die goeie Bybelonderrigting waardeer wat deur omtrent 12 sprekers gegee is. Daardie dag het ek vir die eerste keer in my lewe ’n Bybeltoespraak voor ’n groot gehoor gegee.

God se liefde het ons deur swaar tye gedra

Georgi saam met sy vrou, Maria, en sy dogter, Ljoedmila

My geliefde vrou, Maria, was regdeur haar lewe ’n getroue helper. Sy was saggeaard en onderdanig en het altyd Koninkryksbelange eerste gestel. Al was sy fisies ’n sterk vrou, het sy skielik ’n ernstige vorm van osteoporose ontwikkel, wat veroorsaak het dat sy vir byna 16 jaar bedlêend was. Met die hulp van ons goedhartige dogter, Ljoedmila, het ons goed na haar gekyk totdat sy in 2014 gesterf het.

Toe my liewe Maria soveel pyn verduur het, het ek gevoel asof my hande afgekap is. Maar ons het tot haar laaste dag toe die Bybel en aanmoedigende artikels saam gelees. Ons het dikwels oor die nuwe wêreld gepraat. Partykeer het ek stilletjies langs haar gehuil. Maar elke keer wanneer ons oor Jehovah se wonderlike beloftes gelees het, het dit ons kalm gemaak en die krag gegee om aan te gaan. – Psalm 37:18; 41:3.

Georgi en Ljoedmila by ’n Christelike byeenkoms

Vanaf die dag dat ek Jehovah se liefde die eerste keer ervaar het, het ek nog altyd gevoel hoe hy my ondersteun en vir my sorg (Psalm 34:19). As ’n onervare jong man het ek sy liefde ervaar deur dié wat my geduldig gehelp het om my persoonlikheid te verbeter. En ek het gevoel hoe Jehovah my deur sy Woord ondersteun tydens moeilike tye in die strafkamp en toe ek weggestuur is. Hy het my ook die nodige krag gegee om na my liewe vrou, Maria, te kyk totdat sy gesterf het. Vandag kan ek regtig sê dat my liefde vir Jehovah my regdeur my lewe gedra het.

a Kazakstan, Moldowa en Oekraïne was tot 1991 deel van die voormalige Sowjetunie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel