Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwbv artikel 55
  • Jeremia 33:3 – “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jeremia 33:3 – “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord”
  • Verduidelikings van Bybelverse
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Betekenis van Jeremia 33:3
  • Konteks van Jeremia 33:3
  • Vra jy elke dag: “Waar is Jehovah?”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Watter soort vriende sal jy kies?
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • “Ek het my woorde in jou mond gelê”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Jeremia—’n ongewilde profeet van God se oordele
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Verduidelikings van Bybelverse
ijwbv artikel 55

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Jeremia 33:3 – “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord”

“Roep na my, en ek sal jou antwoord en jou met graagte van groot en onbegryplike dinge vertel wat jy nie geweet het nie.” – Jeremia 33:3, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.” – Jeremia 33:3, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Jeremia 33:3

Met hierdie woorde het God mense genooi om tot hom te bid. As dié wat die uitnodiging aanvaar het wel tot God gebid het, sou hy vir hulle sê wat in die toekoms sou gebeur.

“Roep na my, en ek sal jou antwoord.” Die uitdrukking “roep na my” beteken nie om God se naam uit te roep of uit te skree nie. In hierdie sin beteken dit eerder om God se hulp en leiding in gebed te vra. – Psalm 4:1; Jeremia 29:12.

Hierdie uitnodiging was waarskynlik aan die nasie Israel gerig. Hulle was besig om deur die Babiloniese leërmag aangeval te word omdat hulle ontrou was aan God (Jeremia 32:1, 2). Jehovaha het die Israeliete genooi om na hom terug te keer deur hom in gebed aan te roep.

“Ek sal . . . jou met graagte van groot en onbegryplike dinge vertel wat jy nie geweet het nie.” Die dinge wat God belowe om te openbaar is onbegryplik (of onverstaanbaar) in die sin dat mense dit nooit op hulle eie sal verstaan nie. Die uitdrukking “onbegryplike dinge” kan ook vertaal word as “versteekte dinge”.

Watter “versteekte dinge” sou God openbaar? Dinge wat in die toekoms sou gebeur, dit wil sê die vernietiging van die eertydse stad Jerusalem en dat dit verlate sou wees, maar ook dat dit herbou sou word en mense weer daarin sou bly (Jeremia 30:1-3; 33:4, 7, 8). Maar God het ook belowe dat sy aanbidders as ’n nasie nie vernietig sou word nie. – Jeremia 32:36-38.

Konteks van Jeremia 33:3

Die profeet Jeremia het hierdie boodskap van Jehovah in 608 VHJ ontvang gedurende die tiende regeringsjaar van koning Sedekia. Jeremia het voorspel dat Jerusalem vernietig sou word en dat Sedekia gevange geneem sou word. Omdat die koning nie van die boodskap gehou het nie, het hy Jeremia laat opsluit. – Jeremia 32:1-5; 33:1; 37:21.

Dit was onder hierdie omstandighede dat God die uitnodiging in Jeremia 33:3 gerig het. Ongelukkig het koning Sedekia en die meeste van die volk aangehou om God se uitnodiging te ignoreer en ontrou te wees (Jeremia 7:26; 25:4). Hulle het nie tot God gebid om vir sy leiding te vra nie. ’n Jaar later het Sedekia sy koningskap verloor, is Jerusalem vernietig en is die meeste oorlewendes as gevangenes na Babilon gevat. – Jeremia 39:1-7.

Die woorde in Jeremia 33:3 herinner lesers in ons dag daaraan dat God “akkurate kennis van [sy] . . . wil” kan gee en “diep dinge” kan openbaar aan dié wat tot hom bid en sy Woord, die Bybel, studeer (Kolossense 1:9; 1 Korintiërs 2:10). Hierdie diep dinge sluit in wat God belowe om in die nabye toekoms te doen. – Openbaring 21:3, 4.

Lees Jeremia hoofstuk 33 in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel. Hierdie Bybel wat maklik is om te lees, bevat oudio-opnames, verduidelikende voetnote, kruisverwysings en in die aanhangsels kan jy ekstra inligting kry soos prente, diagramme en kaarte.

Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Jeremia te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel