VOLG HULLE GELOOF NA | ELIA
Hy het tot die einde toe volhard
Elia het die nuus gehoor: Koning Agab was dood. Ons kan ons voorstel hoe die ou profeet ingedagte sy baard vryf en in die verte staar terwyl hy terugdink aan al die tye wat hy te doen gehad het met daardie goddelose koning. Elia het so baie deurgemaak! Hy is gedreig en gejag en het selfs voor die dood te staan gekom — alles as gevolg van Agab en sy koningin, Isebel. Die koning het Isebel nie gekeer toe sy beveel het dat baie van Jehovah se profete vermoor moet word nie. Hulle het ook saamgekonkel om ’n onskuldige en regverdige man, Nabot, en sy seuns te vermoor net omdat hulle gierig was. In reaksie hierop het Elia Jehovah se oordeelsboodskap gegee waarin Agab en sy hele geslagslyn veroordeel is. Nou het God se woorde waar geword. Agab het gesterf op die manier waarop Jehovah voorspel het. — 1 Konings 18:4; 21:1-26; 22:37, 38; 2 Konings 9:26.
Maar Elia het geweet dat hy moes aanhou om te volhard. Isebel het nog gelewe, en sy het aangehou om haar slegte invloed oor haar familie en die nasie uit te oefen. Elia sou voor nog uitdagings te staan kom, en hy het nog baie gehad om sy vriend en opvolger, Elisa, te leer. Kom ons kyk nou na Elia se laaste drie toewysings. As ons kyk na hoe sy geloof hom gehelp het om te volhard, kan dit ons help om onsself te ondersoek en te kyk hoe ons ons eie geloof kan versterk gedurende hierdie moeilike tye waarin ons lewe.
Ahasia word geoordeel
Ahasia, die seun van Agab en Isebel, was nou die koning van Israel. In plaas daarvan dat hy uit sy ouers se foute geleer het, het hy eerder in hulle goddelose voetstappe gevolg (1 Konings 22:52). Soos hulle, het Ahasia vir Baäl aanbid. Baälaanbidding het gemaak dat mense slegte dinge doen soos tempelprostitusie, en hulle het selfs kinders opgeoffer. Sou enigiets Ahasia oorreed om sy lewe te verander en sy mense te kry om op te hou om so dislojaal aan Jehovah te wees?
Iets tragies het skielik met die arrogante jong koning gebeur. Hy het deur die tralies van sy dakkamer geval en is ernstig beseer. Al was sy lewe in gevaar, het hy nog steeds nie Jehovah gevra vir hulp nie. Hy het eerder boodskappers na die vyandige Filistynse stad Ekron gestuur om die god Baäl-Sebub te vra of daar enige kans was dat hy gesond sou word. Jehovah het genoeg gehad. Hy het sy engel na Elia gestuur en hom gesê om daardie boodskappers voor te keer. Die profeet het hulle na die koning teruggestuur met ’n ernstige boodskap. Ahasia het iets afskuweliks gedoen. Hy het gemaak asof Israel nie ’n God het nie. Jehovah het besluit dat Ahasia nooit sy siekbed sou verlaat nie. — 2 Konings 1:2-4.
Ahasia het glad nie jammer gevoel nie en het gevra: “Wat was die voorkoms van die man wat julle tegemoetgekom het en toe hierdie woorde met julle gespreek het?” Die boodskappers het geantwoord deur die eenvoudige klere van ’n profeet te beskryf, en Ahasia het dadelik gesê: “Dit was Elia” (2 Konings 1:7, 8). Dit is belangrik om op te let dat Elia maklik uitgeken kon word aan sy eenvoudige klere omdat hy so eenvoudig gelewe het en op God se diens gefokus het. Daar kon beslis nie dieselfde van Ahasia of sy ouers gesê word nie, wat gierig en materialisties was. Elia se voorbeeld laat ons vandag dink aan Jesus se raad om ons lewe eenvoudig te hou en ons oog gefokus te hou op wat regtig saak maak. — Matteus 6:22-24.
Ahasia wou wraak neem, en daarom het hy 50 soldate en hulle hoof gestuur om Elia te arresteer. Toe hulle Elia gekry het waar hy “op die top van die berg gesit” het,a het die hoof van die soldate Elia in die koning se naam kortaf beveel: “Kom af.” Dit het heel moontlik beteken dat hy doodgemaak sou word. Dink net! Al het daardie soldate geweet dat Elia ’n “man van die ware God” is, het hulle gedink dat dit ’n goeie idee is om hom te boelie en te dreig. Hoe verkeerd was hulle tog! Elia het vir die hoof gesê: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer.” God het toe iets gedoen! “Daar het vuur uit die hemel neergedaal en hom en sy vyftig verteer” (2 Konings 1:9, 10). Die tragiese uiteinde van daardie soldate is ’n duidelike herinnering dat Jehovah dit nie ligtelik opneem wanneer mense sy knegte beledig en sonder respek behandel nie. — 1 Kronieke 16:21, 22.
Ahasia het weer ’n hoof en 50 manne gestuur. Die tweede hoof was selfs meer roekeloos as die eerste hoof. Eerstens het hy niks uit die dood van daardie 51 manne geleer nie, selfs al het hy hulle as op die heuwel sien lê. Tweedens het hy nie net die eerste hoof se beledigende bevel aan Elia herhaal nie. Maar hy het dit selfs verder gevat en Elia beveel: “Kom gou af”! Hoe dom was dit tog! Hy en sy manne het toe hulle lewe op dieselfde manier verloor as die eerste groep. Maar die koning was selfs meer hardkoppig. Sonder om enigiets te voel, het hy ’n derde groep soldate gestuur. Gelukkig het hierdie derde hoof meer verstand gehad. Hy het nederig na Elia gegaan en hom gesmeek om hom en sy manne te spaar. Elia, ’n man van God, was sonder twyfel ook soos Jehovah genadig toe hy die nederige hoof geantwoord het. Jehovah se engel het vir Elia gesê om saam met hierdie soldate te gaan. Elia het geluister en het toe Jehovah se oordeel oor die goddelose koning herhaal. God se woorde het waar geword, en Ahasia het toe doodgegaan. Hy het net twee jaar lank regeer. — 2 Konings 1:11-17.
Elia was net soos Jehovah genadig teenoor die nederige hoof van die soldate
Hoe het Elia volhard al was die mense om hom hardkoppig en opstandig? Dit is ’n vraag wat ons ons vandag ook moet afvra. Was jy al ooit gefrustreerd omdat iemand vir wie jy omgee, weier om na goeie raad te luister en aanhou om verkeerde dinge te doen? Hoe kan ons volhard ten spyte van sulke teleurstellings? Ons kan iets leer uit die plek waar die soldate Elia gekry het, “op die top van die berg”. Ons kan nie met sekerheid sê hoekom Elia daar was nie, maar ons kan seker wees dat hy ’n man van gebed was. Daarom het die stilte van daardie plek hom moontlik ’n goeie geleentheid gegee om nader aan sy geliefde God te kom (Jakobus 5:16-18). Net so kan ons gereeld tyd maak om alleen met God te wees. Wanneer ons bid, moet ons God se naam gebruik en uit ons hart met hom praat oor ons probleme en bekommernisse. Dit sal dan vir ons makliker wees om te volhard wanneer mense om ons op ’n manier optree wat gevaarlik en vernietigend is.
Die verantwoordelikheid word oorgedra
Die tyd het nou gekom vir Elia om sy amptelike toewysing oor te gee. Kyk na wat hy gedoen het. Toe Elia en Elisa die dorp Gilgal verlaat het, het hy vir Elisa gevra om agter te bly terwyl hy alleen na Bet-El gaan, omtrent 11 kilometer daarvandaan. Elisa se antwoord was ferm: “So waar as Jehovah lewe en so waar as u siel lewe, ek sal u nie verlaat nie.” Nadat die twee mans in Bet-El aangekom het, het Elia vir Elisa gesê dat hy alleen na Jerigo toe sal gaan, sowat 22 kilometer daarvandaan. Elisa gee dieselfde antwoord sonder om te huiwer. By Jerigo gebeur dieselfde storie ’n derde keer voordat hulle na die Jordaanrivier toe gaan, wat sowat 8 kilometer daarvandaan is. Weer staan die jonger man vas. Hy wil Elia nie verlaat nie! — 2 Konings 2:1-6.
Elisa het ’n belangrike eienskap getoon, lojale liefde. Dit is die soort liefde wat Rut vir Naomi gewys het, die soort liefde wat ten volle aan sy doel toegewy is en weier om te laat gaan (Rut 1:15, 16). Alle knegte van God het hierdie eienskap nodig. Vandag meer as ooit tevore. Soos Elisa, kan ons sien hoe belangrik dit is?
Dit het Elia beslis geraak om die lojale liefde van sy jong vriend te sien. As gevolg hiervan het Elisa die voorreg gehad om Elia se laaste wonderwerk te sien. By die oewer van die Jordaanrivier, wat gewoonlik vinnig vloei en by sekere plekke diep is, het Elia die water met sy ampskleed geslaan. Die waters het verdeel! ‘Vyftig van die profeteseuns’ het ook hierdie wonderwerk gesien. Hulle was heel moontlik deel van ’n groep mans wat opgelei was om die leiding te neem om ware aanbidding in die land te bevorder (2 Konings 2:7, 8). Elia het waarskynlik toesig gehou oor daardie opleiding. Daar was ’n tyd, ’n paar jaar tevore, toe Elia gevoel het asof hy die enigste getroue man in die land was. Jehovah het Elia toe beloon omdat hy volhard het en hom toegelaat om te sien hoeveel groei daar onder Sy aanbidders was. — 1 Konings 19:10.
Nadat hulle die Jordaanrivier oorgesteek het, het Elia vir Elisa gesê: “Vra wat ek vir jou moet doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elia het geweet dat die tyd gekom het vir hom om weg te gaan. Hy was nie jaloers op sy jonger vriend se voorregte en aansien wat vir hom voorgelê het nie. Elia was eerder gretig om hom te help op enige manier wat hy kon. Elisa het net gevra “dat twee dele van [Elia se] gees asseblief op [hom moet] kom” (2 Konings 2:9). Hy het nie bedoel dat hy dubbel soveel heilige gees as Elia wou hê nie. Hy het eerder vir ’n erfdeel gevra wat gelyk aan die erfdeel van ’n eersgebore seun was. Volgens die wet het die eersgebore seun die grootste, of dubbele, erfdeel ontvang wat by sy nuwe verantwoordelikhede as familiehoof sou pas (Deuteronomium 21:17). As Elia se geestelike erfgenaam het hy heel moontlik besef dat hy Elia se dapper gees nodig sou hê om die werk te doen.
Elia het nederig die saak in Jehovah se hande gelos. As Jehovah Elisa toegelaat het om te sien hoe God die ouer profeet Elia wegneem, sou God se antwoord op Elisa se versoek ja wees. En kort voor lank, terwyl die twee vriende “al pratende verder geloop het”, het iets wonderliks gebeur! — 2 Konings 2:10, 11.
Die vriendskap van Elia en Elisa het albei mans beslis gehelp om deur moeilike tye te volhard
Die hemel was gevul met ’n vreemde gloeiende lig. Dit het al hoe nader gekom. Ons kan ons ’n harde suisgeluid voorstel terwyl ’n windstorm skielik opgekom het. ’n Gloeiende voorwerp het vinnig op die twee mans afgepeil wat hulle geforseer het om uitmekaar te spat. Wat hulle gesien het, was ’n strydwa wat soos vuur gegloei het. Elia het geweet dat sy tyd gekom het. Het hy opgeklim? Die Bybel sê nie. Hy het net gevoel hoe hy hoër en hoër in die lug opstyg terwyl die windstorm hom weggedra het!
Elisa het verstom toegekyk. Omdat hy gesien het hoe hierdie ongelooflike wonderwerk gebeur, het hy geweet dat Jehovah hom definitief “twee dele” van Elia se dapper gees sou gee. Maar Elisa was te hartseer om daaraan te dink. Hy het nie geweet waarheen sy dierbare ou vriend geneem is nie, maar hy het heel moontlik nie verwag om Elia ooit weer te sien nie. Hy het uitgeroep: “My vader, my vader, die strydwa van Israel en sy ruiters!” Hy het gekyk hoe sy geliefde mentor in die verte verdwyn. Toe het Elisa sy klere geskeur omdat hy so hartseer was. — 2 Konings 2:12.
Het Elia sy jong vriend se hartseer geroep gehoor toe hy in die lug opgestyg het? Het hy dalk ’n traan of twee gestort? Wat ook al gebeur het, hy het beslis besef dat hierdie vriend hom gehelp het om deur moeilike tye te volhard. Ons sal goed doen as ons uit Elia se voorbeeld leer en vriende maak met mense wat lief is vir God en hard probeer om sy wil te doen!
Jehovah het Elia na ’n nuwe toewysing geneem
Die laaste toewysing
Waarheen het Elia gegaan? Party godsdienste leer dat hy hemel toe geneem is om saam met God te wees. Maar dit is onmoontlik. Honderde jare later het Jesus Christus gesê dat niemand hemel toe is voor sy tyd op die aarde nie (Johannes 3:13). Wanneer ons lees dat “Elia . . . in die windstorm na die hemel opgevaar” het, moet ons ons afvra: Watter hemel? (2 Konings 2:11). In die Bybel verwys die woord “hemel” nie net na die plek waar Jehovah woon nie, maar ook na die atmosfeer van ons aarde, waar die wolke is en die voëls vlieg (Psalm 147:8). Elia het na hierdie hemel, die lug, opgevaar. En wat het toe gebeur?
Jehovah het die geliefde profeet na ’n nuwe toewysing geneem, hierdie keer in die naburige koninkryk Juda. Die Bybel wys dat Elia, selfs sewe jaar later, nog steeds besig was om daar te werk. Op daardie tyd het goddelose koning Joram oor Juda regeer. Hy het met die dogter van Agab en Isebel getrou, en daarom het hulle nog steeds ’n slegte invloed gehad. Jehovah het Elia beveel om ’n brief met ’n oordeelsboodskap aan Joram te skryf. Soos voorspel is, het Joram ’n aaklige dood gesterf. Nog erger, die Bybel sê dat niemand spyt was toe hy gesterf het nie. — 2 Kronieke 21:12-20.
Daar was beslis ’n groot verskil tussen daardie goddelose man en Elia! Ons weet nie presies hoe en wanneer Elia gesterf het nie. Maar ons weet dat hy nie soos Joram gesterf het nie. Mense, soos Elisa, het hom beslis gemis ná sy dood. Die ander getroue profete het hom sekerlik ook gemis. Jehovah het Elia waardeer en hom nog steeds sowat 1 000 jaar later onthou. Daarom het hy ’n voorstelling van daardie geliefde profeet in die visioen van die gedaanteverandering gebruik (Matteus 17:1-9). Wil jy by Elia leer en geloof opbou wat volhard ten spyte van moeilike tye? Moet dan nooit vergeet om vriende te maak met mense wat lief is vir God, om jou lewe op geestelike dinge gefokus te hou en om gereeld uit die hart te bid nie. Mag jy ook ’n permanente plek in die liefdevolle hart van Jehovah vind!
a Party geleerdes het gesê dat hierdie berg na die berg Karmel verwys, waar God Elia die krag gegee het om die Baäl-profete ’n paar jaar vroeër te vernietig. Maar die Bybel sê nie watter berg dit was nie.