Moet Christene die Sabbat onderhou?
Die Bybel se antwoord
Daar word nie van Christene vereis om ’n weeklikse sabbat te onderhou nie. Christene is onder “die wet van die Christus”, wat nie die onderhouding van die Sabbat insluit nie (Galasiërs 6:2; Kolossense 2:16, 17). Waarom kan ons daarvan seker wees? Eerstens, kyk na die oorsprong van die Sabbat.
Wat is die Sabbat?
Die woord “sabbat” kom van ’n Hebreeuse woord wat beteken “om te rus; om op te hou”. Dit kom die eerste keer in die Bybel voor in gebooie wat aan die eertydse nasie Israel gegee is (Eksodus 16:23). Die vierde van die Tien Gebooie sê byvoorbeeld: “Ten einde die sabbatdag te gedenk, om dit heilig te hou, moet jy ses dae arbei en al jou werk doen. Maar die sewende dag is ’n sabbat vir Jehovah jou God. Jy mag geen werk doen nie” (Eksodus 20:8-10). Die Sabbatdag het geduur van sonsondergang op Vrydag tot sonsondergang op Saterdag. Gedurende hierdie tyd moes die Israeliete nie hulle woonplek verlaat, ’n vuur aansteek, hout bymekaarmaak of ’n vrag dra nie (Eksodus 16:29; 35:3; Numeri 15:32-36; Jeremia 17:21). Iemand wat die Sabbat verontagsaam het, is die doodstraf opgelê.—Eksodus 31:15.
’n Paar ander dae in die Joodse kalender, sowel as die 7de en 50ste jaar, is ook sabbatte genoem. In Sabbatsjare moes die land nie bewerk word nie en kon daar nie daarop aangedring word dat ’n Israeliet sy skuld betaal nie.—Levitikus 16:29-31; 23:6, 7, 32; 25:4, 11-14; Deuteronomium 15:1-3.
Jesus se offerande het die Sabbatswet uit die weg geruim
Waarom is die Sabbatswet nie op Christene van toepassing nie?
Die Sabbatswet was net van toepassing op mense wat onderworpe was aan die res van die Wet wat deur Moses oorgedra is (Deuteronomium 5:2, 3; Esegiël 20:10-12). God het nooit van ander mense vereis om ’n sabbatsrus te onderhou nie. En selfs die Jode is “van die Wet [van Moses] onthef”, insluitende die Tien Gebooie, deur die offerande van Jesus Christus (Romeine 7:6, 7; 10:4; Galasiërs 3:24, 25; Efesiërs 2:15). Christene onderhou nie meer die Wet van Moses nie, maar volg eerder die verhewe wet van liefde.—Romeine 13:9, 10; Hebreërs 8:13.
Wanopvattings oor die Sabbat
Wanopvatting: God het die Sabbat ingestel toe hy op die sewende dag gerus het.
Feit: Die Bybel sê: “God het die sewende dag begin seën en dit geheilig, omdat hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskep het om dit te maak” (Genesis 2:3). Hierdie vers bevat nie ’n wet aan die mens nie, maar ’n verklaring van wat God op die sewende skeppingsdag gedoen het. Die Bybel maak geen melding van enigiemand wat voor die dae van Moses ’n sabbatsrus onderhou het nie.
Wanopvatting: Die Israeliete was onder die Sabbatswet voordat hulle die Wet van Moses ontvang het.
Feit: Moses het vir die Israeliete gesê: “Jehovah ons God het in Horeb [die streek om die berg Sinai] ’n verbond met ons gesluit.” Hierdie verbond het die Sabbatswet ingesluit (Deuteronomium 5:2, 12). Die Israeliete se ondervinding in verband met die Sabbat toon dat dit vir hulle iets nuuts was. As die Israeliete vroeër in Egipte onder die een of ander Sabbatswet was, hoe sou die Sabbat hulle dan aan hulle verlossing uit Egipte kon herinner het, soos God gesê het dit sou? (Deuteronomium 5:15). Waarom moes daar vir hulle gesê word dat hulle nie op die sewende dag manna mag optel nie? (Eksodus 16:25-30). En waarom het hulle nie geweet wat om te doen in die eerste opgetekende geval van iemand wat die Sabbat verbreek het nie?—Numeri 15:32-36.
Wanopvatting: Die Sabbat is ’n ewige verbond en is dus nog steeds ’n vereiste.
Feit: Party Bybelvertalings verwys wel na die Sabbat as ’n “ewige verbond” (Eksodus 31:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar die Hebreeuse woord wat met “ewige” vertaal word, kan ook beteken “tot onbepaalde tyd”, nie noodwendig vir ewig nie. Die Bybel gebruik byvoorbeeld dieselfde woord om die Israelitiese priesterskap te beskryf, wat God omtrent 2 000 jaar gelede beëindig het.—Eksodus 40:15; Hebreërs 7:11, 12.
Wanopvatting: Christene moet die Sabbat onderhou, aangesien Jesus dit onderhou het.
Feit: Jesus het die Sabbat onderhou omdat hy ’n Jood was, wat beteken het dat hy van geboorte af onder verpligting was om die Wet van Moses te gehoorsaam (Galasiërs 4:4). Nadat Jesus gesterf het, is hierdie Wetsverbond—insluitende die Sabbat—uit die weg geruim.—Kolossense 2:13, 14.
Wanopvatting: Die apostel Paulus het as Christen die Sabbat onderhou.
Feit: Paulus het op die Sabbat in sinagoges ingegaan, maar nie om die Sabbat saam met die Jode te onderhou nie (Handelinge 13:14; 17:1-3; 18:4). Hy het eerder, in ooreenstemming met die gebruik van destyds, die goeie nuus in sinagoges verkondig, aangesien besoekende sprekers genooi kon word om diegene toe te spreek wat vir aanbidding bymekaargekom het (Handelinge 13:15, 32). Paulus het “elke dag” gepreek, nie net op die Sabbat nie.—Handelinge 17:17.
Wanopvatting: Die Christelike Sabbat is op Sondag.
Feit: Die Bybel bevat geen gebod dat Christene Sondag, die eerste dag van die week, aan rus en aanbidding moet wy nie. Vir die vroeë Christene was Sondag ’n werksdag soos enige ander dag. The International Standard Bible Encyclopedia sê: “Sondag het eers teen die 4de eeu die kenmerke van ’n sabbat begin aanneem, toe [die heidense Romeinse keiser] Konstantyn sekere vorme van werk op Sondag verbied het.”a
Maar wat van Skrifgedeeltes wat skynbaar aandui dat Sondag ’n spesiale dag is? Die Bybel sê dat die apostel Paulus “op die eerste dag van die week”, Sondag, saam met medegelowiges geëet het, maar dit maak net sin, want Paulus sou die volgende dag vertrek (Handelinge 20:7). Party gemeentes is ook aangesê om “op elke eerste dag van die week”, Sondag, geld vir noodleniging opsy te sit, maar dit was net ’n praktiese wenk om elkeen te help met hulle begroting. Die bydraes is by die huis gehou, nie by ’n vergaderplek ingegee nie.—1 Korintiërs 16:1, 2.
Wanopvatting: Dit is verkeerd om een dag elke week vir rus en aanbidding opsy te sit.
Feit: Die Bybel laat hierdie besluit aan elke Christen oor.—Romeine 14:5.
a Sien ook die New Catholic Encyclopedia, Tweede uitgawe, Deel 13, bladsy 608.