Kan pogings om vrede te bewaar ’n vreedsame wêreld skep?
Daar is die hele tyd oorloë en gewapende konflik wat in die wêreld aan die gang is. As gevolg hiervan is die Verenigde Nasies en ander organisasies betrokke by vredebewaringsoperasies.a Dit sluit in om verteenwoordigers te hê in gebiede waar daar konflik is. Hulle hoop om te help om gebiede waar daar baie geweld is, te stabiliseer. Die VN se sekretaris-generaal António Guterres sê: “Die Verenigde Nasies se vredebewaarders is die belangrikste deel van ons pogings om ’n vreedsamer wêreld te hê.”
Oor die jare het vredebewaringsoperasies ’n mate van sukses gehad. Byvoorbeeld, hulle het onskuldige mense beskerm en vlugtelinge gehelp om terug te keer na hulle huise. Hulle het ook noodsaaklike kos en voorrade voorsien en gemeenskappe gehelp om weer basiese dienste aan hulle burgers te lewer. Maar vredebewaringspogings kom voor ernstige uitdagings te staan wat hulle sukses beperk. Sal daar ooit blywende oplossings wees wat die wêreld werklik vreedsaam kan maak? Watter antwoorde gee die Bybel?
Uitdagings om vrede te bewaar en die Bybel se oplossings
Die uitdaging: ’n gebrek aan samewerking. Dit is nie altyd maklik om verskeie militêre en nie-militêre organisasies, gewoonlik van verskillende lande, te kry om saam te werk nie. Partykeer het sulke organisasies gesukkel om goed saam te werk omdat hulle mekaar misverstaan en verskillende prioriteite het.
Die Bybel se oplossing: ‘Die God van die hemel sal ’n koninkryk oprig en ’n einde aan al daardie koninkryke [menseregerings] maak, en dit alleen sal vir ewig bestaan.’ – Daniël 2:44.
In die nabye toekoms sal God ’n einde aan alle oorloë maak en wêreldwye vrede bring (Psalm 46:8, 9). Hy sal alle regerings op aarde met net een regering vervang: God se Koninkryk. Wanneer ’n volmaakte regering in die hemel oor ’n planeet vry van konflik regeer, sal daar nie meer ’n behoefte wees aan menslike vredebewaringsorganisasies nie.
Die uitdaging: beperkte hulpbronne en vermoëns. Vredebewaringsoperasies het nie altyd genoeg mense, finansiële ondersteuning of ander hulpbronne nie, en dit beperk wat hulle kan doen. Persone wat as vredebewaarders dien, moet ook in omgewings werk wat al hoe meer ingewikkeld en gevaarlik raak.
Die Bybel se oplossing: “Die God van ons Here Jesus Christus . . . het [Jesus] aan sy regterhand in die hemelse plekke laat sit, ver bo elke regering en gesag en mag.” – Efesiërs 1:17, 20, 21.
Die almagtige God, Jehovah,b het Jesus, die aangestelde Koning van God se Koninkryk, alles gegee wat hy nodig het om suksesvol te heers (Daniël 7:13, 14c). God het Jesus baie mag, kennis, wysheid en onderskeidingsvermoë gegee – baie meer as enige menseregering of organisasie (Jesaja 11:2). Jesus het ook ’n leërmag magtige engele wat hy kan gebruik (Openbaring 19:14). Geen situasie is te ingewikkeld of te moeilik vir hom nie.
Jesus sal die hulpbronne en vermoëns wat God hom gegee het, gebruik om meer te doen as net konflik te verwyder. Hy sal ware kalmte, veiligheid en vrede bring vir almal wat onder God se Koninkryk bly. – Jesaja 32:17, 18.
Die uitdaging: wetlike beperkings. Vredebewaarders word partykeer verhinder deur opdragte wat onduidelik is of wat hulle beweging en optrede beperk. As gevolg hiervan kan hulle nie ander op ’n effektiewe manier beskerm of hulle doelwitte ten volle bereik nie.
Die Bybel se oplossing: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan [Jesus] gegee.” – Matteus 28:18.
God het Jesus ’n duidelike opdrag gegee om wêreldwye vrede te bring en hom volle gesag gegee om dit te laat gebeur (Johannes 5:22). Jesus sal nooit onregverdig optree of korrup word nie (Jesaja 11:3-5). Dit is met goeie rede dat die Bybel Jesus die “Prins van Vrede” noem, wie se Koninkryk op “geregtigheid en regverdigheid” gevestig is. – Jesaja 9:6, 7.
God se Koninkryk sal ware vrede bring
Menslike vredesmagte kan maar net ’n mate van stabiliteit bring en dalk ’n einde maak aan gewapende konflik in ’n streek. Maar hulle kan nie die hoofoorsaak van geweld verwyder nie – die haat wat binne baie mense se harte broei.
“Die fundamentele probleem is dat daar geen vrede is om te behou nie.” – Dennis Jett, voormalige Amerikaanse ambassadeur.
Aan die ander kant, God se Koninkryk sal ware vrede bring omdat dit mense help om haat uit hulle harte te verwyder. Byvoorbeeld, toe Jesus op aarde was, het hy sy volgelinge deur sy woord en voorbeeld geleer hoe om vrede te maak en liefde aan ander te toon:
Jesus het ook gesê dat die onderdane van God se Koninkryk deur hulle liefde vir ander geïdentifiseer sal word. Die Bybel maak dit duidelik dat dié wat ander mense haat nie toegelaat sal word om onder God se Koninkryk te lewe nie:
Jehovah God, wat die mens geskep het, weet wat die beste manier – die enigste manier – is om wêreldwye vrede te bring. Sy Koninkryk sal sukses behaal waar mensepogings, insluitende vredebewaringspogings, misluk het.
a Die Verenigde Nasies en ander organisasies gebruik ook verwante terme soos “om vrede te bevorder”, “om vrede te maak”, “om vrede te ondersteun” en “vredesoperasies”.
b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”
c In Daniël 7:13, 14 verwys die term “seun van die mens” na Jesus Christus. – Matteus 25:31; 26:63, 64.