Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mrt artikel 22
  • Hoe om pandemie-uitputting te hanteer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om pandemie-uitputting te hanteer
  • Nog onderwerpe
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is pandemie-uitputting?
  • Hoekom is pandemie-uitputting gevaarlik?
  • Watter Bybelwaarhede kan jou help om pandemie-uitputting te hanteer?
  • Bybelverse wat jou kan help met pandemie-uitputting
  • Sal die lewe ooit weer normaal wees? Hoe die Bybel ons kan help in ’n wêreld ná die pandemie
    Nog onderwerpe
  • Gesondheidsorg – Wat God se Koninkryk sal doen
    Nog onderwerpe
  • Sy vertroos ander ten spyte van haar gesondheidsprobleme
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • Hulle het aanhou preek gedurende die pandemie
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Sien nog
Nog onderwerpe
mrt artikel 22
’n Man sit op ’n bank met karsleutels en ’n gesigmasker in sy hand.

Hoe om pandemie-uitputting te hanteer

Het die vrees van COVID-19 jou uitgeput laat voel? As jy so voel, is jy nie alleen nie. Mense regoor die wêreld moes vir die afgelope paar maande leer om saam met die gevaar van hierdie pandemie te lewe. Dr. Hans Kluge, streeksdirekteur vir die Wêreldgesondheidsorganisasie in Europa, sê: “[Baie mense] moes groot opofferings maak om te keer dat COVID-19 versprei. In hierdie omstandighede is dit maklik en natuurlik om nie om te gee nie en ontmoedig te voel. Dit is alles tekens van uitputting.”

As jy voel dat jy pandemie-uitputting het, moenie moed verloor nie. Die Bybel help baie mense om die lewe gedurende hierdie stresvolle tye te hanteer. Dit kan jou ook help.

  • Wat is pandemie-uitputting?

  • Hoekom is pandemie-uitputting gevaarlik?

  • Watter Bybelwaarhede kan jou help om pandemie-uitputting te hanteer?

  • Bybelverse wat jou kan help met pandemie-uitputting

Wat is pandemie-uitputting?

Pandemie-uitputting is nie ’n mediese toestand nie, maar word gebruik om mense se natuurlike reaksie te beskryf. Hulle het hierdie reaksie omdat die pandemie hulle lewe verander het en veroorsaak het dat hulle onseker voel oor die toekoms. Elke persoon reageer anders, maar ’n paar van die algemene tekens van pandemie-uitputting sluit in:

  • Geen motivering nie

  • Verandering in eet- en slaapgewoontes

  • Geïrriteerdheid

  • Stres oor dinge wat gewoonlik goed hanteer word

  • Sukkel om te konsentreer

  • Gevoelens van hopeloosheid

Hoekom is pandemie-uitputting gevaarlik?

Pandemie-uitputting kan vir ons en vir ander gevaarlik wees. As ons nie versigtig is nie, kan ons stadig maar seker die motivering verloor om veiligheidsmaatreëls vir COVID te volg. Ons kan dalk geleidelik oorgerus raak, al hou die virus aan om te versprei en mense dood te maak. Ons wil dalk meer vryheid hê omdat ons moeg is om onder beperkings te lewe, ’n gesindheid wat ons en ander in gevaar kan stel.

Gedurende hierdie stresvolle tye sien baie dat die volgende woorde in die Bybel waar is: “As jy mismoedig word in moeilike tye, sal jy min krag hê” (Spreuke 24:10). Die Bybel bevat waarhede wat ons kan help om situasies te hanteer wat ons ontmoedig, insluitende hierdie pandemie.

Watter Bybelwaarhede kan jou help om pandemie-uitputting te hanteer?

  • Bly op ’n fisiese, maar nie ’n sosiale afstand nie

    Wat die Bybel sê: “’n Ware vriend . . . is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

    Hoekom dit saak maak: Ware vriende bou mekaar op (1 Tessalonisense 5:11). Maar as jy jouself vir lang tydperke afsonder, is dit sleg vir jou gesondheid. – Spreuke 18:1.

    Probeer die volgende: Bly in kontak met jou vriende deur middel van video- en foonoproepe of e-pos en teksboodskappe. Praat met vriende wanneer jy ’n slegte dag het, en maak seker hoe dit met hulle gaan. Ruil idees uit oor wat julle help om die lewe gedurende die pandemie te hanteer. Vind maniere om iets liefdevol vir ’n vriend te doen, en dan sal jy en jou vriend beter voel.

    Wat party sê

    Meagan.

    “Ek probeer planne maak om ’n video-oproep met vriende te hê. Partykeer kuier ek net met een vriend. En ander kere is dit lekker om as ’n groep te kuier en ’n speletjie te speel of net te gesels. Selfs al is dit nie dieselfde as om fisies saam te kuier nie, help dit baie. Die pandemie het die lewe moeilik gemaak. So dit is belangrik om in kontak te bly met ons vriende en om eerlik te wees oor hoe ons voel. Dit kan moeilik wees om dit te doen, maar ons het almal hulp nodig.” – Meagan, Kanada.

    Nathan en Emma saam met hulle kinders, Eli en Hope.

    “Ons mis ons familie en vriende, maar ons het maniere gevind om hulle van ons liefde te verseker. As ’n familie het ons kaartjies en klein geskenkies vir baie van ons vriende gemaak en ’n aanmoedigende Bybelvers daarby ingesluit om hulle te laat weet dat ons aan hulle dink. Dit het ons baie gelukkig gemaak! Deur tyd te spandeer om dinge vir ander te doen, help dit ons om van ons eie bekommernisse en angs te vergeet.” – Emma saam met haar man, Nathan, en hulle kinders, Eli en Hope, Verenigde State.

  • Maak die beste van jou huidige omstandighede

    Wat die Bybel sê: “Maak die beste gebruik van julle tyd.” – Efesiërs 5:16.

    Hoekom dit saak maak: As jy jou tyd wyslik gebruik, kan dit jou help om positief te bly en om nie te bekommerd te wees nie. – Lukas 12:25.

    Probeer die volgende: Eerder as om op dinge te fokus wat jy nie meer kan doen nie, soek na maniere om die meeste van jou situasie te maak. Byvoorbeeld, is daar projekte waarvoor jy nou tyd het of stokperdjies wat jy nou graag wil doen? Kan jy meer tyd met jou gesin spandeer?

    Wat party sê

    Evan en Samantha saam met hulle kinders, Eli en Adam.

    “Ons kon ’n hele paar ekstra projekte rondom die huis doen. Ons het groente en kruie geplant, kunsprojekte gedoen en die huis mooi gemaak.” – Evan saam met sy vrou, Samantha, en hulle kinders, Eli en Adam, Suid-Afrika.

    Ivan en Eve.

    “Ek en my vrou spandeer nou meer tyd saam as wat ons enige ander tyd in ons huwelik van 30 jaar gedoen het. Ons is nou liewer vir mekaar en ons waardeer mekaar se swakhede en sterk punte meer as ooit tevore. Ons is nou ook beter voorbereid om mekaar te ondersteun as daar swaar tye in die toekoms is.” – Ivan saam met sy vrou, Eve, Italië.

  • Bly by ’n roetine

    Wat die Bybel sê: “Laat alles . . . ordelik plaasvind.” – 1 Korintiërs 14:40.

    Hoekom dit saak maak: Wanneer mense ’n roetine het, is hulle geneig om gelukkiger te voel.

    Probeer die volgende: Maak ’n rooster met jou huidige situasie in gedagte. Sit spesifieke tye opsy om skoolwerk, sekulêre werk en huishoudelike takies te doen, sowel as om dinge te doen wat jou nader aan God kan bring. Sluit ander aktiwiteite in wat goed is vir jou, soos om tyd saam met jou familie te spandeer, buite te wees en te oefen. Kyk nou en dan na jou rooster en maak aanpassings as dit nodig is.

    Wat party sê

    Kgaogelo.

    “Ek het amper dieselfde roetine as wat ek voor die pandemie gehad het. Ek het party van my gewone aktiwiteite met oefening vervang, maar ek staan nog steeds dieselfde tyd op in die oggend. My roetine help my om nie net aan die pandemie te dink nie, maar ook om meer op my familie en vriende te konsentreer.” – Kgaogelo, Suid-Afrika.

    Carmel.

    “Ek hou daarvan om op te staan en my koffie en ontbyt soos gewoonlik te maak. Dan trek ek aan en maak ek myself reg asof ek uit die huis gaan. Dit het my gehelp om goed te voel oor myself en om beter te konsentreer deur die dag.” – Carmel, Frankryk.

  • Pas aan by die seisoene

    Wat die Bybel sê: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit.” – Spreuke 22:3.

    Hoekom dit saak maak: Afhangend van waar jy bly, kan die verandering in seisoen jou geleenthede verminder om vars lug en sonlig te kry. Hierdie dinge is goed vir jou fisiese en emosionele gesondheid.

    Probeer die volgende: As dit begin winter word, probeer om jou sitkamer of werksarea rond te skuif sodat jy meer sonlig kan kry. Al is dit koud, kyk of daar dinge is wat jy buite kan doen. As dit moontlik is, kry winterklere wat jou sal toelaat om meer tyd buite te spandeer.

    In die somer sal meer mense buite wil wees, so wees versigtig. Beplan waarheen jy wil gaan, en kies tye wanneer daar nie baie mense sal wees nie.

    Wat party sê

    Sameena.

    “Ek bly in ’n plek waar dit baie reën, so dit help om nie ’n vaste roetine te hê nie. Sodra ek sien dat die son skyn, probeer ek so gou as moontlik buite toe gaan. Al loop ek net ’n bietjie of ry ek fiets terwyl die son skyn, help dit my om beter te voel.” – Sameena, Frankryk.

    Tiffany.

    “Dit was makliker in die somer, want ek kon dinge buite doen, maar nou dat dit winter word, het ek ’n lys gemaak van dinge wat ek binne die huis kan doen.” – Tiffany, Kanada.

  • Hou aan om COVID-veiligheidsmaatreëls te volg

    Wat die Bybel sê: “Die dwaas is roekeloos en het te veel selfvertroue.” – Spreuke 14:16.

    Hoekom dit saak maak: COVID-19 is dodelik, en as ons nie versigtig is nie, kan ons dit kry.

    Probeer die volgende: Kyk gereeld na plaaslike betroubare riglyne en maak seker dat jy nog steeds versigtig is. Dink aan hoe die dinge wat jy doen jou, jou familie en ander sal raak.

    Wat party sê

    Daryn.

    “Ek doen wat ek kan om te keer dat die virus versprei. Hoewel ander die reëls ignoreer, fokus ek op wat ek kan doen om myself en my familie veilig te hou.” – Daryn, Suid-Afrika.

  • Versterk jou verhouding met God

    Wat die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” – Jakobus 4:8.

    Hoekom dit saak maak: God kan jou help om enige uitdaging te hanteer. – Jesaja 41:13.

    Probeer die volgende: Lees elke dag ’n gedeelte in God se Woord, die Bybel. Hierdie program van Bybellees kan jou help om nader aan God te kom.

Jehovah se Getuies hou nog steeds vergaderinge gedurende die COVID-19-pandemie. Kontak hulle asseblief om uit te vind hoe jy gehelp kan word deur hierdie reëling. Byvoorbeeld, regoor die wêreld gebruik hulle videoverbinding om hulle gemeentelike vergaderinge, die jaarlikse herdenking van Jesus se dood en die jaarlikse streekbyeenkoms te hou.

Wat party sê

Roberto.

“Ek het my ekstra tyd gebruik om die Bybel te lees. Dit gee my meer vertroue in Jehovaha se beloftes. Ek kan sien dat dinge baie beter sal wees in die toekoms.” – Roberto, Italië.

Alta en Jannie.

“Ek en my man lees die Bybel saam en maak ’n punt daarvan om tekste te memoriseer. Gebed, Bybellees en om die Bybel se hoop met ander te deel, gee ons die krag om ons situasie te hanteer.” – Alta en haar man, Jannie, Suid-Afrika.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.

Bybelverse wat jou kan help met pandemie-uitputting

Jesaja 30:15: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.”

Betekenis: As ons op God se raad vertrou, kan dit ons help om kalm te bly in moeilike tye.

Spreuke 15:15: “Vir die een wat swaarkry, is elke dag sleg, maar vir die een met ’n vrolike hart is die lewe ’n fees.”

Betekenis: As ons op positiewe dinge fokus, kan dit ons help om selfs in moeilike tye gelukkig te wees.

Spreuke 14:15: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.”

Betekenis: Volg gesondheidsvoorsorgmaatreëls, en moenie net dink dat sulke beperkings onnodig is nie.

Jesaja 33:24: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”

Betekenis: God belowe om ’n einde te maak aan alle soorte siektes.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel