INDONESIË
Die werk brei na die ooste uit
In 1953 is Peter Vanderhaegen aangewys om kringwerk in Indonesië te doen. Sy kring het die hele land ingesluit en het sowat 5 100 kilometer van oos na wes en 1 800 kilometer van noord na suid gestrek. Terwyl hy hierdie groot gebied gedek het, het hy dikwels voor uitdagings te staan gekom.
Peter Vanderhaegen
In 1954 het broer Vanderhaegen na die oostelike deel van Indonesië gereis, ’n gebied waar daar baie godsdienste is. Dit sluit in die eilande Bali, wat ’n groot Hindoe-bevolking het; Lombok en Sumbawa, wat hoofsaaklik Moslem is; Flores, wat grotendeels Katoliek is; en Sumba, Alor en Timor, wat hoofsaaklik Protestants is. Hy het met ’n ou bootjie van eiland tot eiland gepreek voordat hy in Kupang, die hoofstad van Timor, aangekom het. “Ek het twee weke in Timor gepreek”, het broer Vanderhaegen vertel. “Ondanks swaar reën het ek al my lektuur geplaas, 34 intekeninge op tydskrifte gekry en ’n hele paar Bybelstudies begin.” Spesiale pioniers het hierdie belangstelling verder gekweek en ’n gemeente in Kupang begin. Van daar af het die goeie nuus na die nabygeleë eilande Rotè, Alor, Sumba en Flores versprei.
Toe die Protestantse geestelikes in Kupang sien dat hulle kuddes na Jehovah se Getuies luister, was hulle woedend van afguns. ’n Senior geestelike het Thomas Tubulau, ’n bejaarde tingieter met net een hand, beveel om nie meer saam met die Getuies te studeer nie. Hy het ook gedreig dat iemand sy lewe gaan verloor as Thomas nie ophou om ander te vertel van wat hy leer nie. Thomas het moedig geantwoord: “’n Christen sou nooit sê wat jy nou net gesê het nie. Jy sal my nooit weer in jou kerk sien nie.” Thomas het ’n ywerige Koninkryksverkondiger geword, en sy dogter het ’n spesiale pionier geword.
Die kerkleiers in Timor was nogtans vasbeslote om ’n einde te maak aan die werk van Jehovah se Getuies. In 1961 het hulle die Departement van Godsdienssake en die plaaslike militêre owerheid sover gekry om die huis-tot-huis-bediening te verbied. Die broers het dus eenvoudig hulle velddiensmetodes verander. Hulle het gepraat met mense by markte en waterputte, met vissermanne wat hulle vangs na die strand toe gebring het en met gesinne wat grafte by begraafplase besoek het. Ná ’n maand het die militêre owerheid tou opgegooi en oor die radio aangekondig dat daar godsdiensvryheid in Timor is. Toe die Departement van Godsdienssake volgehou het dat die huis-tot-huis-predikingswerk nog steeds verbode is, het die broers gevra dat hulle dit op skrif moet stel. Die amptenare het geweier. Daarna het die broers hulle huis-tot-huis-werk ongehinderd voortgesit.
Toe die sendelinge Piet en Nell de Jager en Hans en Susie van Vuure in 1962 in Papoea aangekom het, is hulle ook deur die Christendom se geestelikes teëgestaan. Drie senior geestelikes het die sendelinge gekonfronteer en daarop aangedring dat hulle êrens anders moet gaan preek. Van die preekstoel af, in pamflette en koerante en oor die radio het die geestelikes Jehovah se Getuies valslik daarvan beskuldig dat hulle mense teen die regering opstook. Hulle het ook enige kerklidmate wat saam met die sendelinge begin studeer het, gedreig, omgekoop of probeer oorreed om op te hou. En hulle het druk op die plaaslike gemeenskap se hoofmanne geplaas om die predikingswerk teë te staan.
Maar ten spyte van die geestelikes se pogings het ’n hoofman die sendelinge na sy dorpie genooi. “Nadat die hoofman die dorpsbewoners bymekaargeroep het, het ek en Piet twee kort toesprake gehou om ons werk te verduidelik”, het Hans vertel. “Toe het ons vrouens gedemonstreer hoe ons gewoonlik aan mense se deure klop, ingaan as hulle ons innooi en ’n kort Bybelboodskap bespreek. Die hoofman en die dorpsmense het van ons aanbieding gehou en ons toegelaat om vryelik met ons werk voort te gaan.”
Ander voorvalle het soortgelyk afgeloop. Moslems het selde die predikingswerk teëgestaan; die teenstand het byna altyd van die Christendom se geestelikes gekom. Dit is vandag nog die geval.
“Voor goewerneurs . . . as ’n getuienis”
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matt. 10:18). Dit het dikwels in Indonesië gebeur.
In 1960 het ’n vooraanstaande Nederlandse teoloog in Djakarta ’n boek uitgegee wat Jehovah se Getuies as valse Christene bestempel het. Hierdie boek het baie geestelikes beweeg om beskuldigings teen die Getuies in te bring. Die geestelikes in een dorp het byvoorbeeld aan die Departement van Godsdienssake geskryf om die Getuies daarvan te beskuldig dat hulle hulle “kerklidmate verwar”. Toe die amptenare die broers gevra het of hulle op die beskuldigings wil reageer, het hulle die feite voorgelê en ’n goeie getuienis gegee. Een godsdiensamptenaar het sy kollega aangeraai: “Los Jehovah se Getuies uit. Hulle maak bietjie vuur onder die slaperige Protestante.”
’n Besending Paradys-boeke word afgelaai, 1963
In 1964 het ’n groep Protestantse geestelikes in Papoea die Parlementêre Komitee vir Maatskaplike en Godsdienssake versoek om die werk van Jehovah se Getuies te verbied. Die broers by die takkantoor het ook gevra om voor die komitee te verskyn om die werk te verdedig. “Ons het byna ’n uur lank met die komitee gepraat en ons Bybelonderrigtingswerk verduidelik”, het Tagor Hutasoit gesê. “Een politikus wat teen ons gekant was—’n Protestant—het ons valslik daarvan beskuldig dat ons godsdiensoproerigheid in Papoea veroorsaak. Maar die meeste Moslem-komiteelede was simpatiek. Hulle het vir ons gesê: ‘Die Grondwet waarborg godsdiensvryheid, en daarom het julle die reg om te preek.’” Ná hierdie vergadering het ’n belangrike staatsamptenaar in Papoea gesê: “Die nuwe regering . . . waarborg godsdiensvryheid, en dit geld ook vir nuwe godsdienste in die land.”