AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK
Afrika
LANDE 58
BEVOLKING 994 839 242
VERKONDIGERS 1 421 375
BYBELSTUDIES 3 516 524
Hulle het hulle onderwyser gevolg
José is ’n jong pionierbroer wat in die buitewyke van Luanda, Angola, woon. Hy is ’n onderwyser by ’n skool wat naby die Koninkryksaal geleë is. Die 86 leerders vir wie hy klas gee, is lief vir hom en respekteer hom omdat hy Christelike eienskappe openbaar en ’n goeie onderwyser is. Aangesien een van sy gemeentelike vergaderinge om vieruur die middag op ’n weeksdag gehou word, het hy toestemming ontvang om daardie dag van die week vroeër op te hou werk. Ná werk gaan hy reguit na die Koninkryksaal.
Party leerders het gewonder waarom José vroeër ophou werk en waarheen hy gaan. Eendag het twee leerders hom uit nuuskierigheid gevolg en die vergadering bygewoon. ’n Ruk later het nog drie leerders die vergadering bygewoon, en daardie dag het José ’n deel op die Diensvergadering behartig. Die nuus hieroor het vinnig deur die klas versprei. In die daaropvolgende weke het die getal leerders wat die vergadering bygewoon het, van 5 tot 21 gestyg. Die verkondigers by die Koninkryksaal het vir hulle almal Bybelstudies aangebied, en die meeste van hulle het die aanbod aanvaar. Toe die leerders publikasies skool toe gebring het, het nog leerders belanggestel en die vergaderinge begin bywoon. Teen die einde van die skooljaar het 54 van die 86 leerders al ’n vergadering bygewoon. José het gesê dat 23 van die leerders goeie geestelike vordering maak en nog steeds vergaderinge bywoon.
Nie genoeg gebied nie?
Nigerië: Joseph en Evezi gebruik ’n DVD-speler in die bediening
Toe Joseph en Evezi, twee spesiale pioniers, by hulle nuwe toewysing in Nigerië aangekom het, het ’n hele paar moedelose verkondigers vir hulle gesê: “Ons het nie genoeg gebied nie. Ons werk ons gebied oor en oor.” Ná ’n jaar het Joseph aan die takkantoor geskryf en gesê: “Ons werk elke dag van die week in ons gebied en ons oorkom vooroordeel en onverskilligheid. Ons gebruik ’n draagbare DVD-speler in die bediening om video’s vir kinders sowel as tieners en volwassenes te wys. Die gevolg: Ek en my vrou hou elke maand 18 Bybelstudies, en soms kan ons nie by al ons Bybelstudente uitkom nie. Die kinders vra ons ook aanhoudend om vir hulle die video’s oor Caleb te wys.”
Eilandbewoners vra hulp
Kongo (Kinshasa): ’n Visserman luister na die Koninkryksboodskap
In April 2014 het die takkantoor in Kongo (Kinshasa) ’n roerende brief ontvang van ’n groep vissermanne wat woon op Ibinja-eiland in die Kivu-meer. Hierdie vissermanne reis dikwels na stede in die omgewing om besigheid te doen. Toe hulle eenkeer na die stad Bukavu gereis het, het hulle Jehovah se Getuies teëgekom. Die Getuies het hulle van die goeie nuus vertel en vir hulle ’n Bybel en lektuur gegee.
Die vissermanne het gehou van wat hulle gelees het en het ander op die eiland vertel wat hulle geleer het. Omdat baie mense belanggestel het, het een van die vissermanne teruggekeer na Bukavu om die Getuies te soek sodat hy hulle na Ibinja kon nooi. Toe hy hulle nie kon vind nie, het hy aan die takkantoor geskryf en gesê: “Stuur asseblief die Getuies om ons te kom help sodat ons die Bybel so goed soos hulle kan leer ken en kan leer hoe om vir ewig te lewe. Ons het blyplek vir hulle. Ek het grond waarop ’n kerk gebou kan word. Die Bybelverse in julle boeke het ons laat besef dat die priesters en pastore ons nie die waarheid leer nie. Ons is oortuig dat ons die ware godsdiens gevind het. Daar is baie mense hier op Ibinja wat graag die Bybel wil studeer en Jehovah se Getuies wil word.”
Volgens die brief was daar sowat 40 belangstellendes op die eiland. Daar is meer as 18 000 mense op Ibinja, maar geen Getuies nie. Die takkantoor het onmiddellik twee spesiale pioniers wat die plaaslike taal praat, na die eiland gestuur.
Die pastoor luister nou
“Ek sal nooit weer ’n Gedenkmaal misloop nie.” Dit is wat ’n pastoor van ’n vername Protestantse kerk in Suid-Afrika gesê het. Wat het hierdie godsdiensleier beweeg om die Gedenkmaal in April 2014 by te woon? Eendag het twee broers van verskillende rasse saam velddiens gedoen en aan sy deur geklop. Hulle het geweet dat die pastoor gewoonlik nie met hulle wil praat nie. Adaine, een van die broers, vertel wat gebeur het: “Ons was verbaas toe hy die deur oopmaak en ons innooi. Ons het ’n lang bespreking gehad. Hy was verstom dat ’n wit man in ’n swart gemeenskap preek en in sy eie taal met hom praat. Die pastoor het ’n Bybelstudie aanvaar.”
Adaine sê verder: “Hierdie man was meer as 40 jaar lank ’n sendeling en ’n pastoor, maar hy het eers op 80-jarige ouderdom al die antwoorde op sy vrae gevind. Hy hou baie van die boek Volg hulle geloof na. Hy gebruik van die punte wat hy tydens sy Bybelstudie leer, in sy preke by sy kerk. Hy het die boek Wat leer die Bybel werklik? vir sy gemeentelede gewys. Hy het vir hulle gesê: ‘Wanneer Jehovah se Getuies na julle huis toe kom met hierdie boek, moet julle hulle verwelkom en luister na wat hulle te sê het, want hierdie boek is vol geestelike skatte.’”
Die pastoor het vir Adaine gesê dat sy kerkleiers hom streng vermaan het en hom gewaarsku het om nie in sy preke oor Jehovah se Getuies te praat nie. Hy het nie geweet wat om te doen nie. Adaine het ’n ondervinding onthou van ’n lekeprediker in Mianmar in die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2013. Nadat Adaine die ondervinding vir die pastoor gelees het, het hy gesê: “Dit klink soos ek! Ek moet ’n baie belangrike besluit neem, en ek kan dit nie langer uitstel nie.”
Die pastoor het sy eerste Gedenkmaal op 14 April 2014 bygewoon en gesê dat hy nooit weer ’n Gedenkmaal sal misloop nie. Hy het gesê dat hy vasbeslote is om alle bande met valse godsdiens te verbreek.
Hulle deurkruis kakaoplantasies
Ghana: Baffour en Aaron getuig in ’n kakaoplantasie
Baffour en Aaron dien as spesiale pioniers in Bokabo, ’n gebied in die weste van Ghana waar kakao verbou word. Die huisies in hulle uitgestrekte gebied kan slegs bereik word met die talle nou voetpaadjies wat deur die plantasies kronkel. Dit is maklik om te verdwaal as jy die verkeerde paadjie neem! Eendag het Baffour en Aaron, in plaas van die gewone roete, ’n ander paadjie gekies. Hulle het toe by hutte uitgekom wat hulle nog nooit tevore besoek het nie. Daar het hulle Michael en Patience ontmoet, wat in hulle boodskap belanggestel het en met graagte ’n Bybelstudie aanvaar het. Later het Michael vir hulle gesê: “Ons gaan al twee jaar lank nie meer kerk toe nie omdat ons daar dinge gesien het wat nie ooreenstem met wat die Bybel leer nie. Van toe af studeer ek en Patience die Bybel elke aand saam om antwoorde op ons vrae te probeer vind. Ons het vir hulp gebid om die waarheid te vind.” Hulle het vergaderinge onmiddellik begin bywoon, al moes hulle ver deur die plantasies loop. Die egpaar is verlede jaar gedoop en het as gewone pioniers begin dien. Nou deurkruis hulle ook die kakaoplantasies op soek na ander wat ‘vir hulp bid om die waarheid te vind’.
Michael en Patience stap in ’n plantasie