DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Vryheid om te preek
Sluipmoord op Trujillo
Teen 1960 het Trujillo se diktatorskap toenemende internasionale kritiek uitgelok en interne teenstand ondervind. Te midde van al hierdie politieke spanning het Milton Henschel van die wêreldhoofkwartier die land in Januarie 1961 besoek en ’n driedaagse byeenkoms bygewoon. Daar was 957 by die openbare vergadering, en 27 is gedoop. Gedurende sy besoek het broer Henschel die broers gehelp om die werk te begin herorganiseer en gebiedskaarte te maak.
Twee kringopsieners, Enrique Glass en Julián López, is aangestel om gemeentes te besoek. Julián het verduidelik: “My kring het bestaan uit twee gemeentes in die ooste van die land en al die gemeentes in die noorde. Enrique se kring het die res van die ooste en die hele suide ingesluit.” Hierdie besoeke het kontak tussen die gemeentes en die organisasie herstel en die broederskap geestelik help opbou.
Salvino en Helen Ferrari op pad na die Dominikaanse Republiek, 1961
Salvino en Helen Ferrari, gegradueerdes van die tweede klas van Gilead, het in 1961 in die land aangekom. Hulle ondervinding as sendelinge in Kuba was baie nuttig in die groot geestelike oeswerk in die Dominikaanse Republiek. Salvino het later op die Takkomitee gedien tot sy dood in 1997, en Helen is al 79 jaar in die voltydse diens, waarvan sy die grootste deel as ’n sendeling gedien het.
Kort ná Salvino en Helen se aankoms in die land is Trujillo se skrikbewind op die aand van 30 Mei 1961 tot ’n gewelddadige einde gebring toe sluipmoordenaars met gewere op sy motor losgebrand het. Maar sy dood het nie tot politieke stabiliteit gelei nie; die land is dus nog jare lank deur burgerlike en politieke onrus geteister.
Die predikingswerk gaan voort
Intussen het nog sendelinge in die land aangekom. William Dingman van die eerste klas van Gilead en sy vrou, Estelle, asook Thelma Critz en Flossie Coroneos, is net twee dae ná die sluipmoord op Trujillo van die takkantoor in Puerto Rico na die Dominikaanse Republiek gestuur. “Die land was in beroering toe ons daar aankom”, verduidelik William, “en daar was heelwat militêre bedrywigheid. Mense het gevrees dat daar ’n revolusie sou wees, en soldate het almal op die hoofweg deursoek. Ons is by etlike kontrolepunte voorgekeer, en by elkeen is ons bagasie deursoek. Alles, selfs die kleinste items, is uit ons tasse gehaal.” Dit was ’n uitdaging om in so ’n onstabiele politieke klimaat te preek.
Thelma Critz en Estelle en William Dingman is ná 67 jaar se ywerige sendingdiens nog steeds in die land
“Gedurende Trujillo se diktatorskap”, het William gesê, “is die publiek vertel dat Jehovah se Getuies Kommuniste is en dat hulle baie slegte mense is. . . . Maar ons het geleidelik daarin geslaag om vooroordeel af te breek.” Danksy die hernieude bedrywigheid het al hoe meer opregte mense gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer. Teen die einde van die 1961-diensjaar was daar 33 spesiale pioniers in die land.