DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Vry en toe weer verbied
Onverwagte vryheid
Manuel Hierrezuelo is gedurende ’n ondervraging deur die owerheid doodgemaak
Regdeur die moeilike jare van die verbod het Lennart en Virginia Johnson en Roy en Juanita Brandt in hulle sendingtoewysing gebly. “Ek en Roy Brandt is vir amptelike ondervraging ingeroep”, het Lennart vertel. “Amptenare van die Trujillo-regering het broer Manuel Hierrezuelo vroeër genooi om hulle te kom sien.” Ongelukkig is Manuel gedurende die ondervraging doodgemaak, maar hy het sy onkreukbaarheid tot die einde toe gehandhaaf. En wat het met Lennart en Roy gebeur? Lennart het verder gesê: “Toe ons daar gekom het, is ons afsonderlik ondervra, en ons antwoorde is klaarblyklik opgeneem. Dit is al wat toe gebeur het, maar twee maande later het die koerante aangekondig dat die Trujillo-regering die verbod op Jehovah se Getuies ophef en dat ons ons bedrywighede kan voortsit.”
Voor die verbod in 1950 was daar in die Dominikaanse Republiek 261 verkondigers wat aan die predikingswerk deelgeneem het. Toe die verbod in Augustus 1956 opgehef is, was daar 522 wat die goeie nuus verkondig het. Die broers was verheug toe hulle uitvind dat hulle hulle bediening vryelik in die openbaar kon uitvoer nadat hulle ses jaar lank tronkvonnisse opgelê, onderdruk en voortdurend dopgehou is.
Hoe het Jehovah se volk op hierdie verbasende verandering gereageer? Hulle het onmiddellik die werk begin herorganiseer! Hulle het plekke gesoek om as gemeentes te vergader, nuwe gebiedskaarte gemaak en gemeentelike lêers saamgestel. Die broers was verheug dat hulle lektuur kon bestel en ontvang. Hulle het hulle nuwe vryheid om te preek, ywerig benut. Gevolglik was daar teen November 1956, net drie maande later, 612 verkondigers wat aan die predikingswerk deelgeneem het.
Die geestelikes se haatveldtog
Toledano se memorandum het planne uiteengesit om te verhinder dat ons publikasies in die land ingebring word
Die Katolieke geestelikes het egter onmiddellik planne begin beraam om die Getuies se goeie naam te skend. Gerugsteun deur die konkordaat wat Trujillo met die Vatikaan gesluit het, het die geestelikes hulle pogings verskerp om die regering te beïnvloed om die Getuies uit te wis. Die Katolieke priester Oscar Robles Toledano het ’n memorandum aan die minister van binnelandse sake, Virgilio Álvarez Pina, gestuur en die regering gevra om hom te ondersteun in sy poging om “die Dominikaanse bevolking bewus te maak van die groot gevaar wat die sekte ‘Jehovah se Getuies’ inhou”.
Toledano het verduidelik dat dit sy hoofdoel is “om die bekeringskampanje van Jehovah se Getuies te verydel”. Toledano het ook in sy memorandum aanbeveel dat ons publikasies nie in die land toegelaat moet word nie, “veral nie die boek ‘Die waarheid sal julle vrymaak’ en Die Wagtoring nie”.
Weer eens ’n verbod
Die godsdiensleiers en hulle handlangers in Trujillo se regering het die sameswering om die Getuies aan te val, ondersteun. Francisco Prats-Ramírez, die president van die Dominikaanse Party, het in Junie 1957 in ’n memorandum aan Trujillo verduidelik: “Ek beplan ’n reeks vergaderinge om die skadelike, antipatriotiese neigings van Jehovah se Getuies teë te werk.”
Hierdie lasterveldtog het ’n onmiddellike uitwerking gehad, soos verduidelik word in die boek Trujillo—Little Caesar of the Caribbean: “Gedurende die somermaande van 1957 het die Dominikaanse pers ’n reeks aantygings deur hooggeplaaste staatsamptenare gedruk waarin hulle Jehovah se Getuies van ‘oproerige en skadelike’ bedrywighede beskuldig het. Die kettingreaksie is aan die gang gesit die dag toe ’n Jesuïetepriester met die naam Mariano Vásquez Sanz die sekte op een van Trujillo se radionetwerke, La Voz Dominicana [die Dominikaanse Stem], veroordeel het as knegte van Kommunisme en die lede daarvan beskryf het as ‘’n verdorwe, geslepe, kriminele, verraderlike vyand’. Toe het ’n pastorale brief wat deur die aartsbiskoppe Ricardo Pittini en Octavio Antonio Beras onderteken is, die priesterdom aangespoor om hulle gemeentelede teen hierdie ‘verskriklike kettery’ te beskerm.”
Die gesamentlike poging van die Kerk en die Staat was doeltreffend. In Julie het die Parlement van die Dominikaanse Republiek ’n wet uitgevaardig wat Jehovah se Getuies verbied het. Kort daarna het die polisie ons broers begin aanrand en mishandel. Omtrent 150 broers is in hegtenis geneem.