DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
’n Oorsig van die Dominikaanse Republiek
Land Twee derdes van die eiland Hispaniola maak die Dominikaanse Republiek uit; die ander derde behoort aan Haïti. Die land se veelsydige geografie sluit tropiese reënwoude, hoë berge, wortelboommoerasse en woestyne in. Die hoogste bergpiek in die Dominikaanse Republiek, Pico Duarte, is 3 175 meter bo seevlak. Die grootste deel van die kuslyn bestaan uit pragtige wit strande, en in die binneland is daar vrugbare valleie, soos die Cibaovallei.
Bevolking Die inwoners is meestal van gemengde Afrika- en Europese afkoms. Daar is etlike minderheidsgroepe; Haïtiane maak die grootste van hierdie groepe uit.
Taal Spaans is die amptelike taal.
Broers en susters geniet aangename assosiasie
Bestaansmiddele Mynbou en die suiker-, koffie- en tabakbedrywe was nog altyd ’n groot bron van inkomste. Die ekonomiese groei het onlangs toegeneem danksy toerisme en die vervaardigingsbedryf.
Klimaat Die eiland het ’n matige tropiese klimaat, met ’n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 25 grade Celsius. Die gemiddelde jaarlikse reënval wissel van meer as 2 030 millimeter in die bergagtige noordooste tot minder as 760 millimeter in die droër gebiede. Die eiland word soms deur tropiese storms en orkane getref.
Kultuur Die stapelvoedsel sluit rys, bone en groente in. Dominikaners hou ook van seekos, tropiese vrugte, rissies en gebraaide meelpiesangs. Party van hierdie voedselsoorte word gevind in die gewilde dis wat bekend staan as La Bandera Dominicana (die Dominikaanse vlag). Eilandbewoners is baie lief vir bofbal, musiek en dans, veral die merengue. Die kitaar is baie gewild, asook dromme, fluite en marimbas.