Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb13 bl. 8-41
  • Glanspunte van die afgelope jaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte van die afgelope jaar
  • 2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eiendomme is gekoop en verkoop
  • Die boodskap word versprei
  • Hulp vir alle soorte mense
  • Lofliedere in baie tale
  • Satteliet-vertaalkantore
  • Nuus van regoor die wêreld
  • Takkantoortoewydings strek Jehovah tot eer
  • Verslag oor regsaangeleenthede
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2012 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2011 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
Sien nog
2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb13 bl. 8-41

Glanspunte van die afgelope jaar

Die aardse deel van Jehovah se organisasie beweeg onstuitbaar voort! Ons nooi jou om oor die opwindende verwikkelinge van die afgelope paar maande te lees.

Eiendomme is gekoop en verkoop

’n Nuwe ligging vir die wêreldhoofkwartier

In Julie 2009 het Jehovah se Getuies ’n stuk grond in die noorde van die staat New York, VSA, gekoop met die doel om hulle wêreldhoofkwartier daarheen te verskuif. Die eiendom wat 102 hektaar beslaan, is ongeveer 80 kilometer noordwes van die bestaande fasiliteite, wat al sedert 1909 in Brooklyn, New York, geleë is.

Ongeveer 800 Betheliete sal by die nuwe fasiliteit woon en werk, wat ’n kantoorgebou, ’n diensgebou, instandhoudingsgeboue en vier woongeboue sal insluit. ’n Beskeie museum wat die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies dokumenteer, word ook beplan.

Die fasiliteit sal 18 hektaar van die aangekoopte eiendom beslaan, en die omliggende woud en vleilande sal nie ontwikkel word nie. Die tuinaanleg sal nie enige groot grasperke insluit nie. Die geboue sal eerder by die terrein se bosryke landskap inpas. Om hulpbronne te bespaar, het argitekte die geboue ontwerp om energiebesparend te wees, wat die minste moontlike impak op die omgewing en ’n lae bedryfskoste tot gevolg sal hê. Die dakke van die geboue sal byvoorbeeld bedek word met geharde plante wat min sorg nodig het om die afloop van reën te verminder en die temperatuur in die geboue te reguleer. Die ontwerp van die kantore benut natuurlike lig om die geboue te verlig. Waterbesparing is ook ’n prioriteit.

Wat het tot hierdie beplande skuif aanleiding gegee? Takkantore in ander wêrelddele help nou om Bybels en Bybellektuur te druk, iets wat voorheen uitsluitlik in Brooklyn gedoen is. In 2004 is die druk- en versendingsafdelings in die Verenigde State verskuif na Wallkill, New York, omtrent 145 kilometer noordwes van Brooklyn. Koste is ook ’n faktor. Dit is duur om die ou en verspreide fasiliteite in Brooklyn aan die gang te hou en in stand te hou. Deur na ’n kompakte fasiliteit te verskuif, kan bydraes beter benut word.

Takkantore saamgesmelt

In September 2012 is meer as 20 takkantore van Jehovah se Getuies onder die toesig van groter takkantore geplaas. Daar is twee hoofredes vir die veranderinge:

1. Tegnologie het die werk vereenvoudig. In onlangse jare het verbeteringe in tegnologie in verband met kommunikasie en die drukkuns die aantal personeel wat in groter takkantore nodig is, laat afneem. Aangesien minder mense nou by die groter takkantore gewerk het, was daar meer blyplek vir party wat in kleiner takkantore in ander lande gewerk het.

[Tabel op bladsy 13]

’n Aantal ervare Getuies sien nou na die Bybelonderrigtingswerk om vanaf strategiese plekke. Die predikingswerk in Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua en Panama val byvoorbeeld nou onder die toesig van die takkantoor in Mexiko. Gevolglik is die takkantore in hierdie ses lande toegemaak. Veertig Bethelgesinslede van hierdie takkantore het ’n nuwe toewysing by die takkantoor in Mexiko ontvang. Sowat 95 ander het in hulle tuisland gebly, waar hulle aan die voltydse bediening deelneem.

Ander in hierdie Sentraal-Amerikaanse lande het hulle werk voortgesit in vertaalkantore wat onder die toesig van die takkantoor in Mexiko val. Byvoorbeeld, sowat 20 vertalers in Panama vertaal Bybelpublikasies in inheemse tale. In Guatemala vertaal 16 Getuies publikasies in vier plaaslike tale. In Sentraal-Amerika is die aantal Betheliete weens die herorganisering van 300 na omtrent 75 verminder.

2. Meer voltydse werkers beskikbaar om die predikingswerk te doen. Weens die samesmeltings kan broers en susters wat in klein takkantore gedien het, hulle nou op die verkondiging van die goeie nuus toespits. ’n Broer in Afrika wat ’n nuwe toewysing in die predikingswerk ontvang het, het geskryf: “Gedurende die eerste paar maande was dit ’n uitdaging om my lewenswyse by die nuwe omstandighede aan te pas. Maar om elke dag in die bediening te wees, het vir my groot vreugde en tallose seëninge meegebring. Ek studeer die Bybel tans met 20 mense, en party van hulle woon nou die gemeentelike vergaderinge by.”

Jare lank ’n landmerk in Brooklyn

Die 4,6 meter hoë rooi letters bo-op die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies is al meer as 40 jaar lank, dag en nag, ’n bekende gesig vir baie inwoners van die stad New York. Baie van hulle maak daarop staat om te sien hoe laat dit is of wat die temperatuur is.

’n Teken is aanvanklik meer as 70 jaar gelede deur die vorige eienaar van die gebou opgerig. Maar nadat Jehovah se Getuies die gebou in 1969 gekoop het, het hulle die teken verander na hoe dit vandag lyk.

Broers rig die letters vir die neonteken “Wagtoring” in 1970 op

Talle aanpassings is al aan die teken aangebring om dit doeltreffender en akkurater te maak. Sedert die middel-1980’s word nie net die tyd en die temperatuur in grade Fahrenheit nie, maar ook die temperatuur in grade Celsius, afwisselend vertoon.

Eboni, wat die teken vanaf haar woonstel in Brooklyn kan sien, het gesê: “Dis lekker om net by die venster uit te kyk om die tyd en temperatuur te sien voordat ek werk toe gaan. Dit help my om betyds te wees en te besluit wat ek moet aantrek.”

Sal die teken nog 40 jaar lank daar bly? Aangesien Jehovah se Getuies van plan is om hulle wêreldhoofkwartier te verskuif, sal hierdie besluit by die toekomstige eienaars van die gebou berus.

Die boodskap word versprei

Iets nuuts vir Manhattan

In November 2011 het ’n groep Getuies van Jehovah die Bybel se boodskap aan die mense van Manhattan begin meedeel deur aantreklike uitstaltafels en -waentjies te gebruik. Hierdie kampanje vind plaas in die suidelike deel van Manhattan, die besigste en oudste wyk van die stad New York. Die gebied is in vier sones verdeel. In elke sone is daar meer as een plek waar Bybellektuur netjies uitgestal word op ’n tafel of waentjie wat deur ’n plaaslike pionier beman word. Die meeste lektuurstalletjies is in of naby vervoersentrums, waardeur tienduisende mense elke dag stroom.

’n Pionieregpaar bied tydskrifte aan by ’n lektuurstalletjie in Grand Central Station in die stad New York

Hier kan mense die Bybel se antwoord op talle vrae kry. Mense wat nie baie tyd by die stalletjie wil deurbring nie, kan ’n publikasie neem om later te lees. Lektuur is in baie tale beskikbaar. As iemand ’n publikasie aanvra in ’n taal wat nie beskikbaar is nie, kan dit bestel word en ’n paar dae later afgehaal word.

Die publiek sowel as die owerheid het hierdie kampanje verwelkom. ’n Polisiebeampte het gesê: “Waarom doen julle dit nou eers? Julle het werklik wat mense nodig het.” Een man het skielik gaan staan toe hy die boek Wat leer die Bybel werklik? gesien het. Hy het gesê dat hy mense die boek op die moltrein sien lees het en gewonder het waar hulle dit gekry het. Nou weet hy.

’n Jong man het ses weke lank elke dag verby een van die tafels geloop op pad werk toe. Uiteindelik het hy gestop en gesê: “Ek het hulp nodig.” Diegene wat die tafel beman het, het hom met graagte gehelp. Hulle het hom ’n Bybel gegee en vir hom gewys hoe hy daarby kan baat vind. Ander verbygangers het ook gestop om entoesiastiese gesprekke oor geestelike sake te voer, en in agt maande het 1 748 die begeerte uitgespreek om die Bybel te bestudeer. Teen Junie 2012 is 27 934 tydskrifte en 61 019 boeke deur middel van hierdie kampanje onder die publiek versprei.

Ons tydskrifte—Minder bladsye, meer tale

Vanaf die nommers vir Januarie 2013 sal die aantal bladsye van die Ontwaak! en van die publieke uitgawe van Die Wagtoring van 32 na 16 bladsye verminder word. Omdat die tydskrifte minder materiaal bevat, sal vertaalspanne dit in meer tale beskikbaar kan stel. Die Ontwaak! word tans in 98 tale vertaal, en Die Wagtoring in 204. Die studie-uitgawe van Die Wagtoring sal steeds 32 bladsye bevat.

Van die artikels wat voorheen in die tydskrifte uitgegee is, verskyn nou slegs op die webwerf www.jw.org/af. Dit sluit in “Vir jongmense”, “My Bybellesse” en die verslag oor die Gileadgraduering wat voorheen in die publieke uitgawe van Die Wagtoring verskyn het asook “Vir gesinsbespreking” en “Jongmense vra” wat in die Ontwaak! verskyn het.

Daarbenewens voorsien ’n reeks aanlyn artikels wat slegs op die webwerf verskyn, duidelike, bondige antwoorde op vrae oor die Bybel en oor Jehovah se Getuies. Die gedrukte materiaal kan ook van die webwerf afgelaai word. Met ’n rekenaar of ander elektroniese toestel kan gebruikers vinnig toegang verkry tot ons publikasies op www.jw.org, wat in meer as 440 tale beskikbaar is.

Ons webwerf kry ’n nuwe baadjie

Gedurende die afgelope paar maande het tientalle Getuies van Jehovah by die wêreldhoofkwartier in New York gewerk om www.jw.org aantrekliker en gebruikersvriendeliker te maak vir diegene wat rekenaars of draagbare toestelle gebruik. Toe hulle die webwerf opgeknap het, het hulle twee oogmerke in gedagte gehad:

1. Om ons webwerwe saam te smelt. Drie webwerwe van Jehovah se Getuies is saamgesmelt om een amptelike webwerf te vorm—www.jw.org. Die ander twee, www.watchtower.org en www.jw-media.org, is afgeskaf. Danksy die samesmelting van die webwerwe sal diegene wat inligting by of oor Jehovah se Getuies soek, net op een webwerf hoef te soek. ’n Mens kan byvoorbeeld die Bybel en verwante publikasies in baie tale lees, daarna luister of bladsye daarvan druk.

Op 27 Augustus 2012 is die herontwerpte webwerf www.jw.org bekend geste!

2. Om meer inligting te voorsien. Die bygewerkte webwerf bevat antwoorde op Bybelvrae en inligting oor die predikingswerk, takkantore, Koninkryksale en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies. ’n “Nuus”-gedeelte lewer berig oor gebeure wat die Getuies regoor die wêreld raak. Daar is ook interaktiewe dele vir gesinne, tieners en kinders.

Honderdduisende mense lees ons publikasies elke dag aanlyn. Hulle laai byna ’n halfmiljoen oudio-, EPUB-, PDF- of gebaretaalvideolêers af. Elke dag vra honderd mense ’n Bybelstudie aan.

Hulp vir alle soorte mense

Die twee meter lange Bybel

Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling​—beskikbaar in Engelse, Spaanse en Italiaanse braille​—wissel van 20 tot 28 bundels en het ten minste twee meter rakruimte nodig! Ander brailleformate het minder spasie nodig as ’n Bybel in reliëfdruk. Braillenotaboeke stel blindes byvoorbeeld in staat om aantekeninge te maak en om toegang te verkry tot elektronies gebergde inligting deur middel van ’n draagbare toestel met pennetjies wat op en af beweeg om braillesimbole voort te bring. Die blindes kan ook publikasies vind en daarna luister met behulp van skermlesers, wat geskrewe teks in gesproke woorde omskep.

Die Getuies publiseer al meer as 100 jaar lank Bybelpublikasies vir die blindes, en dit is nou in 19 tale beskikbaar. Hoewel belangstellende blindes hierdie publikasies kosteloos kan ontvang, gee die meeste vrywillig ’n bydrae.

Broer Anthony Bernard in Sri Lanka gebruik sy Bybel in Engelse braille om gesinsaanbidding te hou

Die Getuies het ’n rekenaarprogram ontwikkel wat teks in baie tale in braille kan oorskryf. Nadat ’n omskakelingstabel opgestel is wat die betrokke taal se letters sowel as die braillekarakters bevat, kan die program die teks in braille omskakel. Dit gee ook die publikasie ’n formaat wat dit vir blindes makliker maak om dit te lees. Hierdie outomatisering sal dit moontlik maak om braillepublikasies, onder andere die Bybel, te vervaardig in feitlik enige taal wat braillekarakters het, insluitende dié wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie.

Wanneer ’n nuwe publikasie in die verlede by ’n streekbyeenkoms vrygestel is, is daar vir die gehoor gesê dat dit later in braille bestel kan word. Verlede jaar het die Amerikaanse takkantoor by die gemeentes uitgevind watter byeenkomste blinde persone van plan was om by te woon en in watter formaat hulle die publikasies verkies (reliëfdruk, elektroniese notaboek of elektroniese skermleser).

Eksemplare in reliëfdruk is gestuur na die streekbyeenkomste waar daar blindes was sodat hulle die nuwe vrystellings op dieselfde tyd as die res van die gehoor kon kry. ’n Week ná die streekbyeenkoms is publikasies in elektroniese formaat per e-pos gestuur aan elkeen wat dit aangevra het.

’n Blinde suster het gesê: “Dit was ’n wonderlike voorreg om die lektuur saam met die res van die gehoor te ontvang. Psalm 37:4 sê dat Jehovah ons die versoeke van ons hart sal gee. Hierdie naweek het hy dit gedoen!” ’n Ander blinde Getuie het begin huil en gesê: “Ons dank Jehovah dat hy so goed vir ons sorg!”

Duisende leer om te lees en skryf

In 2011 het Jehovah se Getuies meer as 5 700 mense gehelp om te leer lees en skryf. Kom ons kyk na wat in party lande gebeur het:

Ghana: Gedurende die afgelope 25 jaar het ons meer as 9 000 mense gehelp om te leer lees en skryf.

’n Lees-en-skryf-klas wat in Zambië gehou word

Mosambiek: Meer as 19 000 het oor die afgelope 15 jaar geleer om te lees. ’n Student met die naam Felizarda het gesê: “Ek is bly dat ek Bybeltekste nou vir ander kan lees. Dit was voorheen vir my baie moeilik.”

Salomonseilande: Die takkantoor skryf: “In die verlede het baie wat in afgesonderde gebiede gewoon het, nie toegang tot skole gehad nie. Daarbenewens het baie min meisies skoolopleiding ontvang. Veral vroue het dus by lees-en-skryf-klasse baat gevind. Nadat hulle die kursus voltooi het, het baie van hulle meer selfvertroue.”

Zambië: Sedert 2002 het byna 12 000 hulle lees- en skryfvaardighede verbeter. Agnes, wat 82 jaar oud is, sê: “Toe daar aangekondig is dat die gemeente lees-en-skryf-klasse gaan hou, was ek verheug. By die eerste les het ek geleer om my eie naam te skryf!”

Lofliedere in baie tale

Jehovah se Getuies vertaal Bybellektuur reeds in sowat 600 tale. Om ’n volledige liedereboek van 135 liedere te vertaal, is ’n baie groot uitdaging. Nietemin is die volledige nuwe liedereboek, Sing vir Jehovah, binne drie jaar in 116 tale vertaal. ’n Weergawe van die liedereboek wat uit 55 liedere bestaan, is in nog 55 tale beskikbaar, en liedereboeke in tientalle ander tale word tans vertaal.

Salomonseilande: ’n Gemeente sing in Salomonseilandse Pidgin

[Grafiek op bladsy 25]

Vertalers van liedere stel dit hulle ten doel om die lirieke op so ’n manier weer te gee dat dit betekenisvol en mooi is en ook maklik onthou kan word. Die woorde van ’n loflied moet ook eenvoudig genoeg wees sodat die betekenis en bedoeling van elke frase dadelik begryp kan word wanneer iemand dit sing. In elke taal moet die woorde en musiek op natuurlike wyse bymekaar pas en vloei, asof dit die woorde is van die persoon wat dit sing.

Hoe bereik die vertalers hierdie doel? Hulle doen nie ’n letterlike vertaling van die oorspronklike Engelse lirieke van Sing vir Jehovah nie, maar skryf eerder nuwe lirieke vir die musiek wat die boodskap van die oorspronklike lied oordra. Hoewel vertalers getrou by die skriftuurlike gedagte van elke lied probeer bly, gebruik hulle uitdrukkings wat algemeen is in hulle eie taal en maklik verstaan en onthou kan word.

Die eerste stap is om ’n letterlike vertaling van die Engelse lied te doen. ’n Getuie wat ’n goeie liriekskrywer is, omskep dan die vertaalde teks in kleurvolle en tog betekenisvolle lirieke. Die vertaalspan en proeflesers, wat altyd skriftuurlike akkuraatheid probeer handhaaf, gaan dan die werk van die liriekskrywer na. Hoewel dit baie werk verg om ons liedereboek te vertaal, verskaf dit aan Jehovah se Getuies in alle wêrelddele groot vreugde om lofliedere in hulle eie taal te sing.

Satteliet-vertaalkantore

Die boek Openbaring het voorspel dat die gesalfdes in ons dag mense sou nooi om te kom en “die water van die lewe [te] neem, verniet” (Op. 22:17). Hierdie uitnodiging sou aan “alle . . . volke en tale” gerig word (Op. 7:9). Tot onlangs toe het die meeste vertalers by hulle takkantoor gewerk, al word hulle taal in ander dele van die gebied gepraat. Dit was vir hulle ’n uitdaging om met hulle taal in voeling te bly en die harte te bereik van diegene wat die vertaalde publikasies lees. Maar nou word baie vertaalspanne verskuif na kantore wat geleë is in die gebiede waar hulle taal gepraat word. Dit was in baie opsigte ’n seën, soos toegelig word deur die woorde van die volgende vertalers.

’n Maja-vertaler in Mexiko het gesê: “Ek het gevoel soos ’n plantjie wat weer in sy eie grond, sy natuurlike omgewing, geplant is.” ’n Vertaler in die suide van Rusland het gesê: “Die feit dat die kantoor geleë is waar die mense die taal praat, is vir die vertalers wonderlik. Hoe die taal op die televisie, in boeke en op die Internet gebruik word, verskil baie van hoe mense in die daaglikse lewe praat. Ons kan net natuurlik vertaal as ons blootgestel word aan hoe mense praat.”

“Ek het gevoel soos ’n plantjie wat weer in sy eie grond, sy natuurlike omgewing, geplant is”

’n Tshiluba-vertaler in Kongo sê: “Ons praat ons taal elke dag—in ons daaglikse bedrywighede, soos wanneer ons inkopies doen en met ons bure gesels, in ons predikingswerk en by Christelike vergaderinge. Ons studeer wat ons vertaal het, en ons gebruik die Tshiluba-publikasies in die bediening; ons kan dus eerstehands sien of mense die taal verstaan wat ons as vertalers gebruik.”

’n Lhukonzo-vertaler in Uganda het gesê: “Jy sal nie glo hoeveel vreugde dit ons verskaf om vergaderinge by te woon wat gehou word in die taal wat ons praat en waarin ons vertaal nie. Ons geniet die veldbediening ook meer omdat ons nou in die taal van ons hart met mense praat.”

[Kaart op bladsy 27]

Die gemeentes waarna die vertalers gestuur is, het ook baat gevind. ’n Suster het oor die Maja-vertalers gesê: “Die vertalers se aanmoedigende woorde en goeie voorbeeld is vir ons ’n aansporing. Dit is soos om ’n deel van Bethel by ons te hê, en dít is iets baie spesiaals.”

Die Luo-vertaalspan in Kisumu, Kenia

Die gemeente sowel as die vertalers vind hierdie reëling aanmoedigend. ’n Vertaler in Kenia het gesê: “Omdat baie min gedrukte materiaal in Luo beskikbaar is, het die mense hier nooit gedink dat daar publikasies van so ’n hoë gehalte in hulle taal beskikbaar sou wees nie. Daarom is talle verheug om dit te ontvang. Wanneer ek hierdie reaksie sien, is dit werklik vir my aanmoedigend en spoor dit my aan om in my toewysing te volhard en my bes te doen.”

Baie van hierdie vertalers dien al jare lank, selfs dekades, by ’n takkantoor. Hulle goeie gees en bereidwilligheid om die belange van Jehovah se skape bo hulle eie te stel, word grootliks waardeer, en hierdie gees word geseën. ’n Xhosa-vertaler in Suid-Afrika het die gevoelens van baie opgesom en gesê: “Die besluit deur die Bestuursliggaam om hierdie vertaalkantore op te rig, was ’n uitstekende besluit. Ons was gelukkig by Bethel, maar ons is gelukkiger by die vertaalkantoor.”

Nuus van regoor die wêreld

“Die broers het goed vir ons gesorg”

Op Sondag 3 Junie 2012 het ’n tragiese lugramp in Nigerië plaasgevind. ’n Vliegtuig met 153 mense het neergestort in ’n digbevolkte voorstad van Lagos, Nigerië se grootste stad, en almal aan boord asook ’n onbekende aantal mense op die grond het hulle lewe verloor.

Lagos, Nigerië: Ná die vliegtuig-ongeluk

Collins Eweh en sy gesin het op die boonste verdieping gewoon van die drieverdiepingwoonstelgebou wat deur die vliegtuig getref is. Toe die ongeluk plaasgevind het, was die gesin by ’n gemeentelike vergadering in die Koninkryksaal.

Ongeveer half vier die middag, gedurende die Wagtoring-studie, het Collins en sy vrou, Chinyere, ’n hele paar oproepe op hulle selfone ontvang, wat hulle nie beantwoord het nie. Chinyere het haar selfoon onmiddellik ná die vergadering beantwoord. Die bure het vir haar gesê dat hulle woonstelgebou aan die brand is. Toe die Eweh’s daar aankom, het hulle gesien dat die vliegtuig in hulle gebou vasgevlieg en op ’n ander gebou te lande gekom het, waar dit aan die brand geslaan het.

“As ons by die huis was”, het Chinyere gesê, “was ons beslis dood. Ná die ramp het ons net ons vergaderingklere oorgehad, maar ons lewe ten minste. Die kringopsiener het onmiddellik ’n noodlenigingskomitee aangestel, en die broers het goed vir ons gesorg. Ons is baie dankbaar.”

Collins het gesê: “Familielede wat my teëgestaan het omdat ek ’n Getuie is, het van mening verander. Een van hulle het vir my gesê: ‘Jou Jehovah verhoor gebede. Bly by jou God, want hy help jou.’ Iemand anders het gesê: ‘Wat jy ook al doen om God te dien, hou aan om dit heelhartig te doen.’ Ons het werklik Jehovah se hand gesien. Ek is baie bly.”

Die parlement keur wetlike registrasie goed

Boedapest, Hongarye: Ons broers getuig vir besoekers waar hulle ook al gevind kan word

Op 27 Februarie 2012 het die regering van Hongarye die wetgewing in verband met godsdienste gewysig en Jehovah se Getuies as ’n geregistreerde godsdiensgemeenskap erken. Hierdie wetlike status sal nuttig wees in die verkondiging van die goeie nuus in Hongarye. Dit beteken ook dat Jehovah se Getuies nie belasting hoef te betaal nie en laat hulle toe om skenkings te aanvaar en pastorale besoeke in tronke en hospitale te doen.

’n Gedenkmaal in die buitelug

’n Spesiale pionier in Rundu, Namibië, het verslag gelewer oor die Gedenkmaal wat hy in ’n nabygeleë dorpie bygewoon het. Belangstelling is daar gevind, en daarom het die broers besluit om die Gedenkmaal vir die eerste keer in die plaaslike taal, Rumanyo, te hou. Hy het geskryf: “Dit was ’n pragtige toneel. Ons was in die buitelug onder die volmaan met die beligting van paraffienlampies en twee batteryligte.” Dit het die groep na aan Jehovah laat voel. Hoewel die enigste verkondiger in die gebied eers in Maart begin preek het, is die Gedenkmaal deur 275 bygewoon!

Takkantoortoewydings strek Jehovah tot eer

Die datum 19 November 2011 is ’n spesiale dag in die geskiedenis van Jehovah se organisasie in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Tsjad. Op daardie dag het 269 broers en susters bymekaargekom voor die takfasiliteite wat kort tevore voltooi is. Dit was wonderlik om Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam, daar te hê om die nuwe Bethelkompleks aan Jehovah toe te wy vir gebruik in Sy diens. Gedurende die program is ’n oorsig van die geskiedenis van die predikingswerk in die twee lande gegee. In die Sentraal-Afrikaanse Republiek het die werk in 1947 begin, en in Tsjad het dit in 1959 begin. In die volgende toespraak is besonderhede oor die bouwerk bespreek, asook wat dit behels het om die geboue te voltooi. Nadat groete van verskeie lande oorgedra is, het die gehoor die toewydingstoespraak geniet wat deur broer Herd gehou is. Die 42 lede van die Bethelgesin is dankbaar dat hulle agt vertaalkantore, ’n kombuis, ’n eetsaal en ’n wassery het wat in hulle behoeftes voorsien. Die 22 kamers en ander fasiliteite, soos ’n ontvangsportaal, administratiewe kantore en ’n versendingsafdeling, help die Bethelgesin om hulle werk doeltreffend te verrig.

Dit was die eerste toewyding van die takkantoor in Kongo

Broer Jackson hou die toewydingstoespraak in Kinshasa, Kongo

Saterdag 26 Mei 2012 was ’n belangrike dag vir Jehovah se Getuies in Kongo (Kinshasa). Ná agt jaar se konstruksie- en opknappingswerk is die takfasiliteite toegewy. Hoewel daar al byna 50 jaar lank ’n takkantoor in Kongo is, was hierdie geleentheid spesiaal omdat dit die eerste keer is dat ’n toewydingsprogram vir die takkantoor gehou is. Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam het die toewydingstoespraak by die takkantoor gehou voor ’n gehoor van 2 422 waarvan die meerderheid meer as 40 jaar lank gedoopte Getuies was. Daar was 117 gaste uit 23 lande. Party sendelinge wat etlike jare tevore in Kongo gedien het, het aanmoedigende ondervindinge vertel. Almal was verheug oor die besluit om hierdie geboue alleenlik vir die aanbidding van Jehovah te gebruik.

Verslag oor regsaangeleenthede

Op 30 Junie 2011 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat die regering van Frankryk die regte van Jehovah se Getuies geskend het toe hulle ’n belasting van 60 persent gehef het op alle skenkings wat Jehovah se Getuies in Frankryk tussen 1993 en 1996 ontvang het. Hoewel die Hof die partye gevra het om ’n vreedsame ooreenkoms te bereik, het die regering volgehou dat die buitensporige belasting nie onwettig is nie, en daarom was ’n vriendelike skikking nie moontlik nie. In ’n beslissing wat op 5 Julie 2012 bereik is, het die EHMR die Franse regering beveel om “al die gevolge” van die belasting te verwyder. Benewens die 4 590 295 euro (R50 493 245) wat gekonfiskeer is toe die belasting gehef is (plus opgeloopte rente sedert die geld gekonfiskeer is), moet die regering die Getuies ’n bykomende 55 000 euro (R605 000) vir regskoste betaal.

Jehovah se lojale knegte in Eritrea is hulle burgerskap ontneem omdat hulle hulle neutrale standpunt getrou gehandhaaf het (Jes. 2:4). Oor die afgelope 17 jaar is baie in hegtenis geneem, en op die oomblik is daar omtrent 50 broers en susters in die tronk, insluitende bejaarde vroue en kinders, waarvan die jongste twee jaar oud is. In Julie 2011 was broer Misghina Gebretinsae die eerste Getuie wat in Eritrea se tronke gesterf het. Voor sy dood was hy ’n week lank in alleenopsluiting in ’n plaatmetaal-vraghouer; na bewering het hy onder “verdagte” omstandighede gesterf. Ons broers wend steeds pogings aan om met amptenare te praat om hulle te help verstaan dat ons vreedsame en neutrale standpunt nie op ’n gebrek aan respek vir die regering van Eritrea dui nie.

Indië: Een van ons broers staan buite die hof voordat hy tronk toe geneem is

Jehovah se Getuies in Indië het steeds te kampe met massageweld wanneer hulle in die bediening uitgaan. Mans, vroue, minderjariges en selfs ’n 60-jarige ouma en ’n 18 maande oue baba, is verbaal en fisies aangeval. Party is gedwing om hulle klere uit te trek en is selfs met die dood gedreig. Die feit dat die polisie weier om op te tree en bevooroordeeld is, het die Getuies se situasie verder vererger. Pleks daarvan om die skuldiges te vervolg, het die polisie die Getuies op grond van valse kriminele aanklagte opgesluit. Dikwels is dié wat in hegtenis geneem word, onderhewig aan onredelike borgvoorwaardes en moet hulle verbale en fisiese aanvalle deur die polisie verduur. Hulle word ook dikwels mediese sorg, kos en water ontsê. Daarna moet hulle hulle jare lank teen kriminele aanklagte verdedig voordat hulle vrygespreek word. Etlike klagtes is al by die Nasionale Menseregtekommissie ingedien in die hoop dat dit ons broers sal help.

Turkye: Ondanks die ontberinge wat hy verduur het, hou broer Feti Demirta aan om ywerig te preek

In November 2011 het die EHMR eendragtig besluit dat Turkye Yunus Erçep se reg op gewetensvryheid geskend het. Hy is een van Jehovah se Getuies wat weens sy gewetensbeswaar teen militêre diensplig skuldig verklaar en in die tronk gegooi is. Sedert Maart 1998 is broer Erçep al 39 keer vir militêre diensplig opgeroep en meer as 30 keer geregtelik vervolg. Broer Erçep is al beboet, opgesluit en na ’n psigiatriese hospitaal gestuur weens “godsdiensparanoia”.

In Oktober 2004 het broer Erçep ’n aansoek by die EHMR ingedien. In sy beslissing het die Hof gesê dat “die aansoeker, as een van Jehovah se Getuies, van militêre diensplig vrygestel wil word, nie vir persoonlike voordeel of gerief nie, maar op grond van sy opreg gehuldigde godsdiensoortuigings”.

Feti Demirtaş is nog ’n Getuie van Jehovah in Turkye wat militêre opleiding geweier het toe hy in 2005 vir diensplig opgeroep is. Hy is in hegtenis geneem, geslaan, geregtelik vervolg en was 554 dae in die tronk voordat hy in Junie 2007 vrygelaat is. Omdat broer Demirtaş nie bereid was om sy Bybelse oortuigings prys te gee nie, is ’n verslag opgestel wat sê dat hy ’n geestesiekte het. Die EHMR het teen Turkye beslis en bevind dat die Turkse owerheid broer Demirtaş onmenslik behandel het en sy reg op gewetensvryheid geskend het.

Die twee bogenoemde beslissings deur die EHMR is bereik kort ná die mylpaalbeslissing van Julie 2011 (Bayatyan v. Armenië), waarin die Groot Kamer van die EHMR bevestig het dat die Europese Konvensie die regte van gewetensbeswaardes beskerm. Hierdie beslissings is bindend vir alle lidstate van die Europese Raad, insluitende Turkye.

In Januarie 2012 het die EHMR ook teen Armenië uitsprake gelewer in die saak Bukharatyan v. Armenië en die saak Tsaturyan v. Armenië. Dit het bevestig dat die godsdiensvryheid van twee Getuies van Jehovah wat gewetensbeswaar teen militêre diensplig aangeteken het, geskend is. In die uitspraak het die Hof sy mylpaalbeslissing Bayatyan v. Armenië gemeld.

Maar ten spyte van hierdie geskiedkundige uitsprake teen Armenië hou die regering aan om gewetensbeswaardes geregtelik te vervolg, skuldig te verklaar en in die tronk te gooi. Wysigings aan die Wet oor Alternatiewe Diens, wat in Maart 2012 deur die regering van Armenië bekragtig is, moet nog deur die parlement bespreek word. Ons hoop dat die Armeense regering die beslissings van die EHMR sal implementeer deur die broers wat nog as gewetensbeswaardes in die tronk is, vry te laat.

Jehovah se Getuies in Azerbeidjan het steeds met regeringsdruk te kampe—klopjagte en inhegtenisnemings omdat hulle godsdiensvergaderinge bywoon, sensuur op godsdienslektuur, deportasie van buitelandse lede, verbale en fisiese mishandeling deur die polisie en die moontlikheid van deregistrasie. Nadat die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings die Getuies se aansoek om herregistrasie afgekeur het, het die polisie al hoe meer die Getuies se vreedsame vergaderinge vir aanbidding ontwrig, met hulle bediening ingemeng en die invoer en verspreiding van hulle Bybellektuur beperk. Die howe het Jehovah se Getuies swaar boetes opgelê vir die verspreiding van godsdienslektuur en die bywoning van godsdiensvergaderinge. Een suster is byvoorbeeld R15 272 beboet omdat sy ’n vergadering in die stad Ganja bygewoon het. Aangesien hierdie strafoptrede ons godsdiensvryheid skend, wat deur die Europese Konvensie oor Menseregte gewaarborg word, is daar al dikwels by die EHMR aansoek gedoen in die hoop dat dit die teistering en vervolging van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan sal beëindig.

Wetstoepassingsbeamptes in verskeie dele van Rusland hou aan om Jehovah se Getuies te teister en te vervolg en plaas druk op die howe om die Getuies te veroordeel omdat hulle hulle vryheid om God te aanbid, uitoefen. Op grond van ’n wet in verband met ekstremisme, wat alom gekritiseer word, het die Russiese howe ten minste 64 publikasies van Jehovah se Getuies as ekstremisties verklaar. ’n Aanklaer het onlangs gevra dat Leer by die Groot Onderwyser, ’n boek wat kinders van Jesus Christus leer, as ekstremisties verklaar moet word. In baie dele van Rusland het die howe toegang geblok tot Jehovah se Getuies se amptelike webwerf. Hulle het wetstoepassingsbeamptes toestemming gegee om gemeentelede in die geheim dop te hou, deur onder meer van geheime videowaarneming gebruik te maak en hulle pos te onderskep. Die polisie voer dus gereeld onderhoude met bure wat teen die Getuies gekant is, deursoek die huise van Getuies en konfiskeer godsdienslektuur en ander persoonlike items. Getuies is al in hegtenis geneem terwyl hulle op straat was, hulle motor bestuur het of van ’n trein afgeklim het. Christelike vergaderinge is deur polisie ontwrig, en ouer manne is geregtelik vervolg vir die geestelike herderswerk wat hulle in die gemeente doen. In sommige streke probeer aanklaers om die howe te oortuig om die Plaaslike Godsdiensorganisasies (LRO) van Jehovah se Getuies te laat ontbind.

In Mei 2012, in die stad Taganrog, is 17 Getuies daarvan aangekla dat hulle kriminele bedrywighede organiseer en daaraan deelneem bloot omdat hulle hulle geloof beoefen. Die LRO van Jehovah se Getuies in hierdie streek is in 2009 op bevel van die hof ontbind, en die Koninkryksaal is weens beweerde ekstremisme gekonfiskeer. Aangesien hulle nie hulle Koninkryksaal kon gebruik nie, het die Getuies in huise of gehuurde sale vergader, maar nou probeer die owerheid om alle georganiseerde aanbidding te beëindig. In Julie 2012 is ’n pionieregpaar in die Siberiese stad Tsjita daarvan skuldig bevind dat hulle haat stook omdat hulle die sogenaamde ekstremistiese Bybelstudieboek Wat leer die Bybel werklik? versprei het toe hulle ander van hulle geloof vertel het. Hulle is albei tot 200 uur gedwonge arbeid gevonnis, maar hulle het appèl aangeteken.

Hoewel Jehovah se Getuies twee klinkende oorwinnings teen Rusland in die EHMR behaal het—Koeznetsof en Ander v. Rusland in 2007 en Jehovah se Getuies van Moskou v. Rusland in 2010—ignoreer die Russiese owerheid steeds die beslissings van hierdie vooraanstaande Hof. Jehovah se Getuies het dus nog 19 aansoeke wat voor die EHMR aanhangig gemaak is in die hoop dat verdere beslissings van die EHMR die Russiese owerheid sal beweeg om die vervolging van Jehovah se volk te staak en hulle toe te laat om “[voort te gaan] om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”.—1 Tim. 2:2.

Suid-Korea stuur jong broers steeds tronk toe weens hulle Christelike neutraliteit. Sowat 45 jong broers word elke maand skuldig verklaar en tot een en ’n half jaar tronkstraf gevonnis. Gevolglik is daar op die oomblik ongeveer 750 broers in Korea in die tronk. Dit is die enigste land in die wêreld waar soveel Getuies van Jehovah vir hulle geloof opgesluit is. Sedert 1950 is nagenoeg 17 000 Getuies van Jehovah tot altesaam meer as 32 000 jaar tronkstraf gevonnis.

In 2012 het die owerheid Getuie-gewetensbeswaardes nog erger begin onderdruk deur—vir die eerste keer—broers tot tronkstraf te vonnis wat gewetensbeswaar aangeteken het toe hulle as reserviste opgeroep is. In die verlede is sulke persone net ’n boete opgelê wanneer hulle geweier het om militêre opleiding as ’n reservis te ontvang. Omdat ’n persoon oor die jare etlike kere opgeroep word om in die reserwemag te dien, sal diegene wat teen reserwediens beswaar aanteken, herhaaldelik voor die hof moet verskyn. Byvoorbeeld, in November 2011 is Ho-jeong Son tot agt maande tronkstraf gevonnis. Toe, in Junie 2012, is hy weer verhoor, en hierdie keer is hy tot ses maande tronkstraf gevonnis. Hy is onmiddellik ná die tweede verhoor opgesluit en ná 29 dae op borgtog vrygelaat, hangende die uitslag van sy appèlaansoek. Hy staar nou tronkstraf van 14 maande in die gesig.

Elke maand word sowat 45 jong broers in Suid-Korea skuldig verklaar en tot een en ’n half jaar tronkstraf gevonnis

Die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee het Suid-Korea op verskeie geleenthede veroordeel omdat hulle persone se reg op gewetensvryheid skend. Nuwe aansoeke is op die oomblik voor hierdie komitee en voor die Suid-Koreaanse Grondwetlike Hof aanhangig in ’n poging om die saak op te los.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel