Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb09 bl. 43-64
  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk
  • 2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb09 bl. 43-64

Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

Afrika

LANDE 57

BEVOLKING 848 582 269

VERKONDIGERS 1 122 493

BYBELSTUDIES 2 202 217

Rwanda

Terwyl ’n negejarige meisie ná skool op pad huis toe was, het sy ’n groot bedrag geld in ’n sakkie op die pad gevind. Haar gesin, wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, het besluit om toe te pas wat hulle in die Bybel geleer het. Daarom het hulle na die eienaar gesoek en die geld teruggegee. Die eienaar het vir die meisie gevra: “As ek vir jou geld gee as ’n beloning vir jou eerlikheid, wat sal jy daarmee doen?”

“Ek sal ’n Bybel koop”, het die meisie geantwoord.

Die man was verbaas en het gesê: “Ek het gedink jy sou klere of skoene koop, want ek kan sien dat dié wat jy aanhet, baie oud is.” Die meisie het volgehou dat sy ’n Bybel sou verkies. Die man wou weet waarom die gesin nie die geld gehou het nie. Nadat hy gehoor het dat hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, het hy twee Bybels gekoop, een vir die meisie en een vir sy eie gesin. Hy het ook gevra dat die Getuies sy gesin besoek om die Bybel met hulle te studeer. Albei gesinne maak goeie geestelike vooruitgang.

Sentraal-Afrikaanse Republiek

Met Jehovah se hulp het Theodora haar uiterste skaamheid te bowe gekom. Al is sy in ’n Christenhuis grootgemaak, het sy selde vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon omdat sy so skaam was. Toe sy dit wel begin bywoon het, het sy alleen gesit, nooit met enigiemand gepraat nie en onmiddellik ná die slotlied en -gebed huis toe gegaan. Kort voor lank was sy altyd by die saal, maar het selde haar hand uitgesteek om dié wat haar kom groet het, se hand te skud. Mettertyd het sy begin om by vergaderinge te antwoord en om na ander toe te gaan om hulle te groet. Deelname aan die velddiens was vir haar ’n groot stap. Toe die meisies in die buurt met haar gespot het, wou Theodora ophou preek, maar sy het tot Jehovah gebid en hom vir krag gevra. Nou is sy ’n gedoopte suster en sy doen hulppionierdiens en gee pragtige antwoorde by die vergaderinge. Sy hou vier Bybelstudies, onder andere met een van die bure wat vroeër met haar gespot het.

Madagaskar

’n Kringopsiener en sy vrou het na ’n gemeente op die platteland gereis. Op pad daarheen het hulle ’n groep veediewe met byle en spiese raakgeloop. Ná ’n stille gebed vir moed het die kringopsiener se vrou vir hulle die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld aangebied. Sy het gesê: “Vandag lewe ons in vrees. Maar God gaan binnekort die goddeloses vernietig en ’n nuwe wêreld tot stand bring waar vrede sal heers.” Een van die mans het aandagtig geluister en die traktaat geneem.

’n Jaar later het ’n man haar by ’n byeenkoms genader en gevra of sy hom onthou. Hy het gesê dat hy saam met die diewe was wat sy op die modderige pad ontmoet het en dat hy die een was wat die traktaat geneem het. Toe het hy verduidelik: “Ons was op pad terug van ’n strooptog toe ons julle ontmoet het. Wat jy gesê het, het my laat dink. Ek het vir myself gesê: ‘Ons is nie bang vir polisiemanne en soldate nie, want ons kan van hulle wegkom. Maar hoe kan ek van God wegkom as hy die goddeloses gaan vernietig?’ Daarom het ek besluit om verdere ondersoek in te stel. Toe ek terug was by die huis, het ek ’n buurman besoek wat die Bybel saam met ’n spesiale pionier gestudeer het. Ek het ingestem om ook die Bybel saam met hom te studeer, en nou gaan ek by hierdie byeenkoms gedoop word.”

Mosambiek

In 1992 het Madalena, wat net oor die 30 was, as gevolg van ’n motorongeluk ’n parapleeg geword. Daarna het sy selde die huis verlaat. Drie jaar later het Getuies buite die huis met haar pa gepraat. Hy was die leier van ’n tradisionele godsdiensgroep, wat in sy agterplaas vergader het. Madalena, wat na die gesprek geluister het en gehoor het dat die broers vra hoe dit met haar gaan, het hulle ingenooi. Hoe het dit haar tog getref dat hulle opreg in haar belangstel! Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en ’n lewendige belangstelling getoon in wat sy leer. Toe die Getuies haar ywer sien, het hulle haar op talle praktiese maniere bygestaan, soos om haar te help om vergaderinge by te woon. Met hierdie hulp kon Madalena in 2002 haar toewyding aan Jehovah simboliseer.

Madalena se ouers was diep beïndruk deur die manier waarop die Getuies hulle dogter gehelp het. Haar ma het vergaderinge begin bywoon en haar man se godsdiens verlaat. Aanvanklik het Madalena se pa gesê dat hy nooit sy godsdiens sal verlaat nie, maar mettertyd het hy ook vergaderinge begin bywoon. Sy gemeentelede het druk op hom uitgeoefen om daarmee op te hou—hy was immers hulle leier! Hy het nietemin sy standpunt ingeneem en al sy godsdienstige toebehore verbrand. In 2007 is hy en sy vrou gedoop. Die hele gesin doen geestelik goed.

Zimbabwe

Decibel, wat nege jaar oud is, getuig vir haar klasmaats en onderwysers. Eendag het Decibel gesien dat haar onderwyseres ontsteld lyk en het sy na haar toe gegaan en gevra of daar iets is wat haar ongelukkig maak. Die onderwyseres het gesê dat haar suster se kind gesterf het. Decibel het belowe om vir die onderwyseres iets te bring wat haar sou vertroos. Sy het die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf by haar ouers gekry en dit die volgende dag skool toe geneem. Die onderwyseres het ’n paar paragrawe uit die brosjure gelees en van vreugde uitgeroep. Later het sy ’n briefie aan Decibel se ouers gestuur en hulle bedank vir die opleiding wat hulle hulle dogter gegee het en vir die vertroosting wat Decibel haar gegee het in haar tyd van droefheid.

Ghana

Abigail, wat saam met haar Presbiteriaanse oupa en ouma in die suide van Ghana gewoon het, is geleer dat Jehovah se Getuies valse profete is. Sy was ontsteld toe sy hoor dat haar ouers, wat in ’n ander deel van die land woon, saam met die Getuies studeer en het aan hulle geskryf om hulle te probeer oorreed om hulle studie stop te sit. Aangesien die brief nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het sy meer as 1 000 kilometer ver gereis om met hulle te gaan praat. Abigail was geskok om in haar eie Bybel te sien dat die hel nie ’n plek is waar die goddeloses gepynig word nie. Sy het begin om die Bybel te studeer en vergaderinge by die Koninkryksaal saam met haar ouers by te woon en het later ’n ongedoopte verkondiger geword. Abigail is by ’n onlangse kringbyeenkoms gedoop.

DIE AMERIKAS

LANDE 55

BEVOLKING 898 130 531

VERKONDIGERS 3 449 038

BYBELSTUDIES 3 548 101

Dominica

Baie vroue op hierdie eiland doen hulle wasgoed langs riviere en laat dit op groot rotse en klippe droog word. Een van die vroue het ’n bekende voorwerp in die vlak water sien dryf naby die plek waar sy haar wasgoed gewas het. Sy het dit herken as die publikasie wat sy elke week saam met een van Jehovah se Getuies studeer. Nadat sy dit op ’n rots daar naby gesit het om droog te word, het sy voortgegaan met haar wasgoed.

Later die dag, toe sy haar droë klere kom haal het, het sy die boek daar vergeet. Maar ’n paar vissermanne wat van die see af teruggekom het, het die goudkleurige boek gesien, en een van hulle het dit opgetel. Die titel Wat leer die Bybel werklik? het hom getref, en hy het dit begin lees. Later het twee pioniersusters hom ontmoet toe hulle mense in sy dorpie besoek het. Hy het aan hulle verduidelik dat net 144 000 hemel toe gaan en dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is. Hy het ook gesê dat die aarde binnekort in ’n paradys omskep sal word. Toe hulle hom vra hoe hy hierdie dinge weet, het hy verduidelik hoe hy die boek gekry het en bygevoeg dat hy dit elke dag lees. Hy het vir hulle die boek gewys—nou droog maar opgeswel.

Een van die pioniers het besef dat dit die boek is wat haar Bybelstudent uit die rivier gehaal het. ’n Bybelstudie is met die visserman begin. Hy sien uit na die besprekings wat hy elke week geniet en maak goeie vooruitgang.

Bolivia

Dit is ’n uitdaging maar terselfdertyd bevredigend om in die Amasone-streek van Bolivia te getuig. ’n Groep van tien pionierbroers en -susters—in ’n klein motorboot propvol tente, kookgereedskap en baie bokse Bybellektuur—het omtrent 800 kilometer ver op die Beni-rivier van Rurrenabaque na Riberalta gereis. Hulle het meer as 70 afgesonderde gemeenskappe besoek en het meer as 800 boeke sowel as brosjures en traktate versprei. Hulle het vir omtrent 700 belangstellendes ’n Bybelstudie gedemonstreer en teruggekeer om studies met meer as 200 van hulle te hou. Toe die Getuies die dorpies verlaat, het hulle mense dikwels hoor sê: “Kan julle nie nog ’n bietjie langer bly en met ons studeer nie?” In een klein dorpie het ’n man by hulle aangedring om langer te bly, en hy was ontsteld dat die Getuies op pad was, want hy wou aanhou om saam met hulle te studeer. Hy het gesê: “Julle het die boom afgekap. Nou moet julle dit kerf en afwerk.”

Kanada

Normand werk al jare lank in ’n metaalaffineerdery in Montreal. Gedurende sy etenstyd by die werk het hy altyd die boekie Ondersoek die Skrif elke dag in die kafeteria gelees. Sy werksmaats het gesien dat hy dit lees, en party het sy uitnodiging aanvaar om die dagteks saam met hom deur te gaan. Gedurende hierdie kort besprekings het Normand die materiaal altyd op die gesinslewe en menseverhoudings probeer toepas. ’n Lid van die bestuur het ook ’n bespreking bygewoon, en hy het Normand later na sy kantoor geroep om hom te prys en gesê dat die besprekings ’n positiewe uitwerking op die lewe van die werknemers sal hê en beter verhoudings sal bevorder.

Toe meer as 30 hierdie besprekings begin bywoon het, het die bestuur Normand gevra om kleiner groepies op verskillende plekke in die affineerdery te organiseer. Hy sê: “Op die oomblik is daar elke dag drie groepe, wat my werksmaats daaglikse herinneringe noem. Hulle geniet die besprekings soveel dat een van hulle vir my instaan wanneer ek nie daar is nie. Wanneer ek weer terug is, vra hulle my oor wat hulle nie verstaan het nie.” Normand help sy werksmaats al die afgelope vyf jaar om elke dag oor ’n Bybelvers na te dink. Gevolglik het 40 van sy kollegas en hulle gesinslede al die waarheid aangeneem.

Barbados

Suster Barker, wat 89 jaar oud is, wou ’n Bybelstudie begin. Weens haar fisiese toestand kan sy nie van huis tot huis gaan nie en daarom het sy telefoongetuieniswerk probeer doen—sonder enige sukses. ’n Vergaderingdeel oor gebed het haar aangespoor, en sy het Jehovah begin smeek om haar te help om ’n Bybelstudie te begin. ’n Paar dae later het sy, met haar Bybel en tydskrifte in die hand en vasbeslote om vir enige verbyganger te getuig, voor haar huis gaan staan, al is dit nie op ’n besige straat nie. Sy het vir ’n man wat van die werk af op pad huis toe was, tydskrifte aangebied. ’n Week later het sy weer voor haar huis gestaan en dieselfde man ontmoet. Aangesien hy belangstelling getoon het in die tydskrifte wat sy by hom gelaat het, het sy vir hom die Leer Bybel-boek en ’n Bybelstudie aangebied. Tot haar groot blydskap het hy die aanbod aanvaar. Sy het teen die einde van Maart 2008 haar eerste studie met hom gehou. Sy het later uitgevind dat hy nie ver van haar af woon nie. Binne ’n paar weke het hy die vergaderinge begin bywoon. Die suster het gesê: “Ek weet Jehovah verhoor gebede, maar ek het nie gedink dat dit so gou gebeur nie!”

Chili

Toe ’n pioniersuster in Santiago in die sakedeel van haar gebied uit ’n taxi geklim het, het sy haar tydskrifhouer op die agtersitplek vergeet. In die tydskrifhouer was daar ’n hele paar tydskrifte sowel as haar eksemplaar van Ons Koninkryksbediening, waarop haar naam geskryf was. Dít, sowel as die hulp van ander Getuies wat hy in die gebied sien preek het, het die taxibestuurder in staat gestel om die suster twee dae later op te spoor. Toe hy die tydskrifhouer vir die pionier teruggee, was net haar Koninkryksbediening daarin. Die tydskrifte was weg. Hy het om verskoning gevra en verduidelik dat etlike van sy passasiers deur die tydskrifte geblaai het en gevra het of hulle een kon hou. In net een dag het al die tydskrifte hulleself versprei!

Nicaragua

Ernesto, wat ’n kaptein van die leër se spesiale troepe was, het in ’n klein dorpie naby die Karibiese kus gewoon. Jairo, ’n spesiale pionier wat uit ’n ander deel van die land gekom het om daar te preek, het Ernesto ontmoet terwyl hy van huis tot huis gegaan het en het vir hom ’n tuisbybelstudie aangebied. Al het hierdie voormalige soldaat die aanbod van die hand gewys, het Jairo aangehou, en uiteindelik is sy aanbod aanvaar. In die loop van hulle gesprekke het Jairo vertel dat sy pa die bevelvoerder van die teenrevolusionêre leër was wat teen die regeringstroepe daar naby geveg het, maar dat hy in ’n skermutseling gesterf het. Ernesto het voortgegaan met sy studie en het vooruitgang begin maak, terwyl hy die hele tyd iets vir sy Bybelonderrigter weggesteek het, waarvan hy hom uiteindelik móés vertel. Baie hartseer het hy vir Jairo vertel dat hy in bevel was van die peloton wat Jairo se pa lewend gevange geneem het en dat hy persoonlik verantwoordelik was vir sy pa se dood. Jairo was natuurlik geskok, maar hy het geweet dat dit waar is omdat die verskriklike besonderhede wat Ernesto genoem het, ooreengestem het met wat sy pa se medesoldate vroeër vir hom vertel het. Ernesto het gedink dat dit die einde van hulle vriendskap sou beteken. Maar Jairo het nie sy student gehaat nie, hy het eerder aangehou om met hom te studeer. Ernesto het vooruitgang gemaak, en hy en sy vrou is gedoop. Hy en Jairo is vandag nog vriende.

Venezuela

Broers uit die dorp Machiques het in die weste van die land onder die inheemse bevolking gepreek in gebiede wat selde gedek word naby die grens met Colombia. Almal het geluister! Die leier van die Yukpa-gemeenskap het toestemming gegee dat die Gedenkmaal vir die eerste keer in hierdie gebied gehou word. Bure en ook die plaaslike skool het stoele voorsien, en meer as 200 het dit bygewoon. Ná afloop van die vergadering het die leier met respek namens die gemeenskap gesê: “Ons wil Jehovah se Getuies graag bedank. Ons hoop dat dit nie die laaste keer sal wees dat julle kom nie. Julle leer ons die waarheid, en julle is baie welkom!” Meer as 50 geniet nou ’n weeklikse tuisbybelstudie.

ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE

LANDE 47

BEVOLKING 4 026 656 360

VERKONDIGERS 618 088

BYBELSTUDIES 538 957

Taiwan

’n Suster skryf: “Ek was verheug om my halfbroer te ontmoet, wat ek nog nooit tevore gesien het nie omdat hy en sy gesin in ’n afgeleë gebied woon en dit amper onmoontlik is om daarheen te reis. Natuurlik was my pa en die res van ons gesin verheug om te hoor dat my halfbroer en sy gesin groot moeite doen om vir ons te kom kuier. Aangesien hulle in ’n gebied woon waar daar geen Getuies is nie, het ek gehoop dat hulle die goeie nuus sou aanneem. Hoe bly was ek tog toe my halfbroer se vrou en dogter belangstelling getoon het in die Bybel! Maar hoe kon ek hulle help om meer van Jehovah se voornemens te leer nadat hulle na hulle afgeleë tuiste teruggekeer het? Ek het uitgevind dat hulle ’n rekenaar en toegang tot die Internet het. Ek en my man het ’n webkamera gekoop, en nadat hulle teruggegaan het huis toe, het ons ons Bybelstudie só voortgesit. Tot my verbasing is dit ’n uitstekende metode om ’n studie te hou. Ons kan hulle reaksie sien op wat hulle in hulle eie Bybel lees sowel as in die boek wat ons bestudeer. Dit help my om te sien wat ek moet doen om hulle te help. Ons is dankbaar dat ons hierdie tegnologie kan gebruik, wat dit moontlik maak om familielede by wie ons andersins nie sou kon uitkom nie, die waarheid te leer.”

Nepal

Poernamaja, wat 16 jaar oud is, woon in ’n klein dorpie in Nepal. Haar oom het vir haar getuig, en ’n studie is begin. Nou woon sy die vergaderinge getrou een keer per week by, al moet sy twee en ’n half uur per bus na die gemeente reis. Dit is nie vir haar maklik nie. Albei haar ouers is melaats, en hulle is dus baie arm. Soggens vroeg breek Poernamaja klippe om gruis te maak om te help om haar gesin finansieel te onderhou, afgesien van die huishoudelike take wat sy doen, soos om te kook en wasgoed te was. Daarbenewens is sy nog op skool. Die busgeld om na die vergaderinge toe te gaan, is gelyk aan ’n dag se loon vir ’n werkende persoon. Soms probeer haar ouers haar aanspoor om eerder na ’n plaaslike kerk toe te gaan. Maar Poernamaja weet sy kan net by die Koninkryksaal omtrent Jehovah leer, en daarom doen sy wat sy kan om daarheen te gaan. Dit het onlangs beteken dat sy haar horlosie, ’n geskenk van haar ouma, moes verkoop. Sy gee nie net goeie antwoorde by die vergaderinge nie, maar sy vertel ook vir die mense in haar dorp wat sy leer. Sy is ’n bron van aanmoediging vir almal wat haar ken.

Maleisië

Onder die Britse koloniale heerskappy is duisende arbeiders na Maleisië gebring om in die rubberplantasies te werk. Hulle is in dorpies in die plantasies gehuisves, en baie van die dorpies bestaan nou nog. Heelwat van hierdie dorpies is moeilik om te bereik en word nie op kaarte aangedui nie. Terwyl een gemeente in ontoegekende gebied gewerk het, het hulle op ’n dorpie in ’n rubberplantasie afgekom. Twee seuns in hulle laat tienerjare, wat reeds tydskrifte geneem het, het groot belangstelling in die broers se predikingswerk getoon. Hulle het die broers genader en aangebied om hulle na ander dorpies te neem. In teenstelling met die broers het hulle die gebied baie goed geken. Hulle het op hulle motorfietse geklim en die motors deur die plantasies oor modderige paadjies en grondpaaie gelei, wat tot 45 minute tussen dorpies geneem het. Hulle het die broers na plantasies geneem wat nog nooit deur Getuies besoek is nie. Terwyl die broers gepreek het, het die twee seuns die dorpenaars aangespoor om die tydskrifte te neem en dit te lees. Hulle het die broers na altesaam drie afgeleë dorpies geneem. Die feit dat ’n uitstekende getuienis gegee is aan mense wat nog nooit die geleentheid gehad het om die goeie nuus te hoor nie, is grotendeels te danke aan die onselfsugtige hulp van hierdie seuns. Gedurende dié naweek het die 50 verkondigers van hierdie gemeente meer as 5 000 tydskrifte versprei.

EUROPA

LANDE 47

BEVOLKING 733 775 190

VERKONDIGERS 1 542 507

BYBELSTUDIES 789 219

Rusland

Tatjana ly aan breinkanker. Ná ’n ernstige operasie ’n paar jaar gelede is sy in ’n saal gesit vir pasiënte met min hoop op herstel. ’n Ortodokse priester het die saal besoek sodat die pasiënte hulle sondes kon bely voordat hulle sterf. Tatjana het opgemerk dat een vrou in die saal haar krag bymekaarskraap om vir die priester geld te gee. Nadat hy weg is, het Tatjana die vrou gevra of sy enigsins beter voel. “Nee”, het die vrou mismoedig geantwoord, “ek het nie ’n woord verstaan wat hy gesê het nie.” Toe het Tatjana vir haar die goeie nuus oor die opstandingshoop vertel. Die vrou het Tatjana bedank en gesê: “Nóú voel ek beter!” Die bestuurder van die kliniek het gehoor wat gebeur het en het vir die priester gesê om nie weer te kom nie. Tatjana is in ’n afsonderlike saal gesit sodat sý eerder met ander kon praat. Die bestuurder van die kliniek het ook gevra waar Jehovah se Getuies hulle vergaderinge hou. Voordat Tatjana in die hospitaal opgeneem is, het sy Jehovah gevra om haar die krag te gee om aan te hou preek. Sy is oortuig dat Jehovah haar gebed verhoor het. Daardie maand het sy meer as 100 uur gerapporteer! Hoewel haar toestand sedertdien versleg het en sy nie haar huis kan verlaat nie, besoek die mense vir wie sy gedurende haar gereelde hospitaalbesoeke gepreek het, haar nog steeds.

Georgië

Twee tydelike spesialepionier-susters is gestuur om in ’n gebied te dien waar geen Jehovah se Getuies gewoon het nie. Terwyl hulle hulle nuwe gebied verken het, het hulle verdwaal. Hulle het deur kniediep sneeu gesukkel op soek na die pad huis toe en was baie moeg en koud. Uiteindelik het hulle voetspore gesien wat na ’n huis gelei het en begin uitroep. Chatoena, ’n jong vrou, het by die hek uitgekom en hulle onmiddellik in die warm huis ingenooi, waarvoor hulle dankbaar was. Nadat Chatoena uitgevind het dat hulle Jehovah se Getuies is, het sy verduidelik dat sy en haar gesin gedurende die tyd dat die susters in die sneeu rondgedwaal het, saam gebid het en gevra het dat God vir hulle die waarheid moet wys. ’n Paar minute later was die pioniers by hulle huis. Chatoena het gesê dat dit beslis ’n antwoord op hulle gebed was! Vandag studeer vier lede van hierdie gesin die Bybel, en twee van hulle—Chatoena en haar skoonma—is ongedoopte verkondigers.

Brittanje

Reston, wat nooit tevore die direkte benadering gebruik het om Bybelstudies te begin nie, het besluit om dit op die proef te stel. Voordat hy aan die eerste deur geklop het, het hy ’n kort gebed gedoen en Jehovah gevra om hom te help om positief te wees. Toe het hy vir die huisbewoner, Andy, ’n Bybelstudie aangebied, wat hy dadelik aanvaar het. Reston het besluit om later daardie dag vir hom die boek Wat leer die Bybel werklik? te bring. Op die bus op pad daarheen het Reston gesien dat die bestuurder ’n man is by wie hy gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! aflewer. Aangespoor deur Andy se reaksie daardie oggend het hy besluit om vir die bestuurder ’n gratis Bybelstudie aan te bied sodra die bus by sy bestemming kom.

Intussen het ’n bejaarde passasier op die bus agtergekom dat Reston ’n Getuie is en hom gevra om haar siek vriendin te besoek en vir haar te bid. Reston het gesê dat hy met graagte met haar sal praat en vertroosting uit die Bybel sal gee. Hy het die enigste eksemplaar van die Leer Bybel-boek wat hy by hom gehad het, gebruik en vir die passasier gewys hoe ’n Bybelstudie sal help. Hierdie vrou sê toe dat sy ’n studie wil hê. ’n Jong man wat oorkant hulle gesit het, het na hulle gesprek geluister. Hy het belanggestel in die prente in die boek. Daarom het Reston met graagte vir hom die boek gegee. Toe die bus by sy bestemming kom, het Reston vir die bestuurder ’n gratis tuisbybelstudie aangebied. Tot sy verbasing het die bestuurder dit gretig aanvaar en gesê dat hy baie vrae oor die Bybel het. Reston het gou na die huis van ’n broer wat daar naby woon, gegaan om nog ’n eksemplaar van die Leer Bybel-boek te kry en het eindelik later die aand by Andy se huis aangekom. Andy het die boek geredelik aanvaar. ’n Bybelstudie is begin, en Andy het gou begin toepas wat hy leer. Andy en die busbestuurder woon vergaderinge by, en Reston hou 15 Bybelstudies, wat hy almal met die direkte benadering begin het. Nou sorg hy dat hy ’n hele paar eksemplare van die Leer Bybel-boek by hom het wanneer hy getuig.

François en Monica en hulle twee kinders het na hulle motor teruggekeer ná ’n oggend in die velddiens. Maar hulle twee-en-’n-half-jarige dogtertjie, Shaé, wou nie in die motor klim voordat sy haar laaste traktaat vir iemand gegee het nie. Net toe hou ’n motor oorkant die pad stil, en twee vroue klim uit. Shaé het vir een van hulle haar traktaat, Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld, gegee, en Monica het verduidelik waaroor dit handel. Die vrou, Sierra, het belangstelling getoon en het Monica na haar huis genooi om die Bybel met haar twee tienersusters te studeer. By die eerste studie het Sierra gevra of haar twee seuns ook ’n Bybelstudie kon hê. Later het Sierra se suster se seun ook by die studie aangesluit. Sierra het tydens al hierdie studies bygesit en baie vrae gevra. Uiteindelik het sy ingestem om haar eie studie te hê. Toe het haar man dit ook gedoen. Daarna het Sierra se ma, gevolg deur ander familielede sowel as vriende, ’n Bybelstudie gevra. Shaé se vasbeslotenheid om haar laaste traktaat uit te gee, het tot 11 Bybelstudies gelei. Vier van die studente woon gemeentelike vergaderinge gereeld by.

Italië

Jennifer is in die Russiese gemeente in Milaan. Sy het ’n paar keer oor die telefoon met ’n Oekraïnse vrou, Valentina, gepraat, maar het haar nooit ontmoet nie. Eendag het hulle ’n afspraak gemaak om by ’n moltreinstasie te ontmoet. Om seker te maak dat Jennifer haar kon uitken, het Valentina gesê dat sy ’n rooi baadjie sou dra. Jennifer het by die stasie aangekom en ’n vrou met ’n rooi baadjie gesien wat lyk of sy na iemand soek. Jennifer het na haar toe gegaan en gesê: “Hallo, is jy Valentina?” Toe die vrou ja antwoord, het Jennifer gesê: “Wel, ek is Jennifer.” Maar sy het nie geantwoord nie. Jennifer was ietwat verward en het gevra: “Wag jy nie vir my nie?”

“Nee”, het die vrou geantwoord. Die vrou was wel Oekraïns, haar naam wás Valentina en sy hét ’n rooi baadjie gedra; maar sy het vir iemand anders gewag! Jennifer het gelag en die situasie verduidelik. Sy het ook aangebied om vir haar iets uit die Bybel te wys, wat sy voorberei het om met die ander Valentina te bespreek. Valentina het ingestem en aandagtig geluister. Daarna het sy vir Jennifer ’n stukkie papier gewys waarop sy Psalm 91 neergeskryf het, en sy het verduidelik dat sy lief is vir die Bybel. Jennifer het ’n Bybelstudie met hierdie Valentina begin. En wat van die ander Valentina? Later het Jennifer haar ontmoet, en ook sy het die Bybel begin studeer.

Roemenië

’n Broer het by ’n kennis gekuier en met hom en sy vrou oor die Bybel gesels. Hulle het baie belanggestel om te hoor wat die Bybel leer oor die verhouding tussen man en vrou, maar hulle kon omtrent geen tyd vind vir Bybelbesprekings nie. ’n Gesonde lewenstyl was vir die egpaar belangrik, en die man het gewoonlik elke dag agt kilometer gedraf. Ná ’n hele paar pogings om die skriftuurlike besprekings voort te sit, het die broer besluit om die man te vra of hy saam met hom kan gaan draf. Die man het geredelik ingestem. Maar die broer was nie daaraan gewoond nie en het gou agtergekom dat dit uitputtend is om te getuig terwyl jy draf! “Ek het dit reggekry om in sportklere en sonder ’n Bybel in my hand te preek”, het die broer gesê, “en moes maar verse uit my kop aanhaal.” Ná ’n paar drafsessies het hierdie egpaar groter belangstelling begin toon, en ’n gereelde tuisbybelstudie is met hulle begin. Nou is die man ’n ongedoopte verkondiger. Hy is ywerig in die veldbediening en het saam met sy seun en sy dogter by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit.

Oseanië

LANDE 30

BEVOLKING 37 545 115

VERKONDIGERS 97 329

BYBELSTUDIES 55 266

Australië

’n Pionierbroer skryf: “’n Dokter met die naam Pam het my gevra om gereeld vir haar die jongste nommers van die tydskrifte te bring. Sy het ’n vol program, en ek het haar net een keer in ses maande tuis gevind; daarom het ek die tydskrifte altyd met ’n vriendelike nota onder haar deur gelos. Nadat ek haar sewe maande lank probeer sien het, het ek die tydskrifte sowel as ’n uitnodiging na die komende streekbyeenkoms onder haar deur gelaat. Ek het ook my kontaknommer gegee, maar het niks van haar gehoor nie. In November, ná die byeenkoms, het ek haar weer besoek en ’n nota van Pam op die deur gekry.

“Pam het geskryf dat sy die tydskrifte baie geniet en dat sy dit ook vir haar kollegas gee. Hulle gee dit weer vir hulle pasiënte by die hospitaal. Toe het sy gesê hoeveel sy die byeenkoms geniet het. Sy het die uitnodiging na die byeenkoms gelees en het drie dae verlof geneem om dit by te woon. Sy het verduidelik dat sy fotokopieë van die uitnodiging gemaak het en dit in haar kollegas se poshokkies gesit het met ’n nota wat hulle gevra het om haar te bel as hulle wou saamkom. Teen die einde van die week het 16 van haar kollegas—almal dokters—ook gereël om die drie dae verlof te neem om dit by te woon. Al 17 hierdie belangstellendes het die drie dae van die byeenkoms bygewoon as gevolg van een uitnodiging wat onder ’n deur gelaat is! Pam het nou ’n gereelde studie in die Leer Bybel-boek en het groepbesprekings gereël met almal wat die byeenkoms bygewoon het.”

’n Ander broer vertel: “Terwyl ek by ’n huis verbygegaan het waar die Getuies gevra is om nie te besoek nie, het ek ’n man en vrou op die stoep gesien wat ontsteld gelyk het en in trane was. Ek het gevoel dat ek eenvoudig nie by hulle kon verbygaan terwyl hulle ooglopend hulp nodig het nie; daarom het ek na hulle toe gegaan en gevra of daar iets is wat ek kan doen. Die paartjie het my in hulle huis ingenooi en hulle hart begin uitstort. Hulle het hulle dogter drie jaar laas gesien. Die vrou sou kort daarna ’n kankeroperasie ondergaan, en sy was nie seker of sy dit sou oorleef nie. Sy was bang dat sy haar dogter nooit weer sou sien nie. ’n Paar dae vroeër het hulle vir die pastoor van hulle charismatiese kerk gevra om hulle te help, maar hy het nie die situasie ernstig opgeneem nie en het niks gedoen nie. Ek het ’n paar skriftuurlike gedagtes genoem oor Jehovah wat naby die gebrokenes van hart is.

“Ná omtrent ’n uur was daar ’n klop aan die deur. Ek het eers gedink dat dit die pastoor van die kerk is. Maar by die deur was daar ’n netjiese jong vrou. Dit was die langverlore dogter! Dit was ’n uiters emosionele oomblik, en ek het dus gesê dat dit dalk beter sou wees as ek gaan. Maar die dogter het my verras deur te sê dat sy verkies dat ek daar bly omdat sy haar ouers iets wou vertel. Sy het verduidelik dat sy vroeër by drank en dwelms betrokke geraak het en besig was om haar lewe te verwoes, maar dat ’n studie van die Bybel haar laat terugkom het huis toe en weer kontak met haar ouers laat maak het. Sy is kort tevore as een van Jehovah se Getuies gedoop.”

’n Paar dae later het die pastoor hulle besoek, en hulle het vir hom gesê dat die dogter teruggekom het omdat sy een van Jehovah se Getuies geword het. Hy het uit die huis uitgeloop sonder om ’n woord te sê. Terwyl hy op pad uit was, het die man uitgeroep en hom gevra om ’n brief wat op die tafel gelê het, saam te neem—hulle bedankingsbrief uit die kerk.

Papoea-Nieu-Guinee

’n Groep van 23 broers en susters het uitgegaan om in gebied wat selde gedek word, te gaan werk. Die reis, wat hulle te voet afgelê het, was moeilik, aangesien hulle berge en riviere moes oorsteek. In een dorpie het ’n suster ’n Anglikaanse predikant ontmoet wat verheug was om ’n verduideliking van Daniël 2:44 te hoor. Hy het vir die suster gesê: “Ons is hier soos verlore skape.” Hy het tydskrifte en brosjures geneem en ook vir ’n Bybel gevra.

Drie dae later, in ’n ander dorpie, het twee susters met twee jong vroue gepraat wat bly was om die Koninkryksboodskap te hoor. Toe hulle pa dieselfde middag nog van sy tuin af terugkom, het hulle vir hom vertel wat hulle uit die Bybel geleer het. Hulle pa het gesê dat hy hierdie wonderlike boodskap self wou hoor. Hy het gereël om al die broers en susters te ontmoet by die hut waar hulle gebly het. Aangesien die man die hoofman van die dorpie was, het hy gereël dat kos voorberei word en vir die broers gestuur word. Later dié aand het hy met sy lamp daar aangekom, saam met ander dorpenaars. Hulle het gesê: “Ons was verbaas om julle te sien, want dit is die eerste keer dat Jehovah se Getuies na ons dorpie toe kom.” Die broers het Matteus 24:14 vir hulle gewys as die rede vir die besoek. Die seëninge van die Koninkryk is verduidelik, en lektuur is by hulle gelaat.

Op die vyfde dag van hulle reis het die broers omtrent eenuur die middag in ’n dorpie aangekom. Die dorpenaars het gedink dat hulle daar sou oornag en het begin om ’n skuiling vir die broers te bou om in te slaap. Maar die broers het verduidelik dat hulle met almal wou praat en nog dieselfde dag sou vertrek. ’n Goeie getuienis is aan al die dorpenaars gegee, insluitende die hoofman, wat lektuur geneem het en vir die broers kokosneute, piesangs en papajas in ruil daarvoor gegee het.

Fidji

In ’n plattelandse gebied voer pioniers hulle bediening te voet uit en reis hulle op paaie wat stowwerig of modderig is. Nagamma en haar dogter, Reshma, wat gewone pioniers is, het Ushla, ’n blinde suster, genooi om ’n maand lank saam met hulle te pionier. Elke dag het hulle, een aan elke kant van haar, baie kilometers ver geloop. ’n Gesin het een bedompige dag op hulle stoep gesit en kyk hoe die drie susters tussen die poele op die modderige pad loop. Toe sien hulle hoe die blinde suster in ’n poel trap en hoe modder op haar been spat. Die susters het gaan staan en haar been skoongevee. Die pa van die gesin kon sy nuuskierigheid nie meer bedwing nie en het die susters nader geroep. Hy het gesê: “Elke dag sien ons julle drie hier loop. Waar gaan julle heen?” Hulle het verduidelik dat hulle op pad is om ’n Bybelstudie te gaan hou. Daarop het hy gesê dat hy ook hulle boodskap wil hoor as dit so belangrik is dat hulle so ver sal loop om mense daarvan te vertel! ’n Studie is met hierdie gesin begin.

Guam

Liza, ’n jong vrou van die Filippyne, het op die eiland Tinian as ’n inwonende bediende gewerk. Dikwels wanneer Jehovah se Getuies die huis besoek het, het sy vir Die Wagtoring en Ontwaak! gevra. Al het sy gesê dat sy van die tydskrifte hou, het sy dit eintlik gebruik om die vuur aan te steek.

Vroeg in 2007 het Liza haar werk verloor, en aangesien sy nie blyplek gehad het nie, het sy op die strand geslaap. Eendag het sy verby die plaaslike Koninkryksaal geloop waar twee susters buite in die skaduwee gesit het. Hulle het Liza genooi om saam met hulle mango’s te eet, en sy het by hulle gaan sit en heerlik gesels. Die volgende dag toe sy by die Koninkryksaal verbyloop, het die susters weer met haar gesels, en in die loop van die gesprek het sy gesê: “Ek hoop dat ek eendag na julle kerk toe kan kom.” Hoewel die susters ’n bietjie verleë gevoel het omdat hulle haar nie vroeër genooi het nie, het hulle haar aangemoedig om die vergadering daardie aand by te woon. Sy het hulle uitnodiging aanvaar in die hoop dat die Getuies haar sou help om werk te kry.

Gedurende die vergadering was Liza beïndruk deur die opregtheid van die broers en susters en hulle besorgdheid oor mense. Dit het Liza tot trane beweeg, want sy het besef dat sy om ’n selfsugtige rede na die vergadering toe gekom het. Sy het ook aan al die tydskrifte gedink wat sy verbrand het. Omdat die liefde wat die broers en susters betoon het, haar hart geraak het, het sy van toe af elke vergadering bygewoon en die Bybel gereeld bestudeer. Sy het werk gekry, as ’n verkondiger gekwalifiseer en is in Februarie 2008 gedoop.

[Prent op bladsy 45]

Madalena

[Prent op bladsy 48]

“Wagtoring”-studie op ’n motorboot

[Prent op bladsy 50]

Suster Barker wag geduldig om vir verbygangers te getuig

[Prent op bladsy 53]

Poernamaja maak gruis om haar gesin te help onderhou

[Prent op bladsy 54]

’n Indiërvrou by ’n rubberplantasie kry ’n getuienis

[Prent op bladsy 57]

Reston studeer met Andy

[Prent op bladsy 58]

Shaé

[Prent op bladsy 63]

Nagamma en Reshma help Ushla

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel