Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 April bl. 2-7
  • Jehovah het my van jongs af opgelei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het my van jongs af opgelei
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE OPLEIDING GAAN VOORT
  • EK ONDERVIND VREUGDE IN DIE PIONIERDIENS
  • EK WORD NA SENEGAL GESTUUR
  • ONS PIONIER IN NIEU-BRUNSWYK EN QUEBEC
  • ONS ONTHOU DIÉ WAT BAIE HARD GEWERK HET
  • LESSE WAT EK BY GETROUE BROERS GELEER HET
  • ONS TREK NA DIE VERENIGDE STATE
  • Ek het baie seëninge ontvang omdat ek by goeie voorbeelde geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Ons het ons tot die Bron van ware regverdigheid gewend
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Persoonlike belangstelling bring lewenslange seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Die opleiding van Koninkryksbedienaars
    God se Koninkryk regeer!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 April bl. 2-7
Broer David Splane werk by sy lessenaar.

LEWENSVERHAAL

Jehovah het my van jongs af opgelei

SOOS VERTEL DEUR DAVID SPLANE

EK HET na die stukkie papier wat die broer so pas vir my gegee het, gestaar. Die woorde “David Splane, 8 April 1953: ‘Verkondig die wêreld se ondergang’” was daarop geskryf. “Wat’s dit?” het ek gevra. Die broer het geantwoord: “Dit is jou toewysing om ’n toespraak gedurende die Teokratiese Bedieningskool te gee.”a Ek het geantwoord: “Ek het nie hiervoor gevra nie!”

Maar ek loop die storie vooruit. Ek is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Calgary, Kanada, gebore. In die laat 1940’s het ’n jong pionier met die naam Donald Fraser aan ons gesin se deur geklop, en Ma het ’n Bybelstudie aanvaar. Sy het lief geword vir die waarheid, maar weens ernstige gesondheidsprobleme kon sy nie baie aktief in die gemeente wees nie. Ten spyte hiervan is sy in 1950 gedoop. Ongelukkig het sy minder as twee jaar later gesterf. My pa was op daardie stadium ’n ongelowige, maar hy het ingestem dat die Getuies haar begrafnisdiens kon hou.

’n Paar dae ná die begrafnis het ’n ouer gesalfde suster met die naam Alice my genooi om ’n gemeentelike vergadering by te woon. Sy het my geken omdat ek naweke saam met my ma na vergaderinge gegaan het toe sy gesond genoeg was om dit by te woon. Ek het my pa gevra of ek kon gaan. Hy het ingestem en besluit om “net een keer” saam met my te gaan om die broer wat die toespraak by my ma se begrafnis gegee het, te bedank. Daardie aand is die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering gehou. Dit sou onmoontlik gewees het om ’n meer gepaste eerste vergadering te kies vir my pa om by te woon. Hy het ’n kursus gedoen oor hoe om ’n beter openbare spreker te word, en dit wat hy by die vergadering gehoor het, het hom beïndruk. My pa het besluit om daardie vergadering elke week by te woon. Stadig maar seker het hy ander vergaderinge begin bywoon.

In daardie dae het die Teokratiese Bedieningskoolkneg die vergadering begin deur die name van die broers wat op die skool is, hardop te lees, en hulle het elkeen geantwoord: “Teenwoordig.” Een aand het ek gevra dat my naam by die volgende vergadering gelees moet word. Die broer het my opreg geprys maar het nie gevra of ek verstaan wat dit beteken nie.

Ek het nie besef dat ek aanbied om toesprake op die skool te gee nie – ek wou net hê dat my naam hardop gelees moes word! Die volgende week is my naam gelees, en ek het trots geantwoord: “Teenwoordig.” Ná die vergadering het die broers en susters my liefdevol geprys. ’n Paar weke later het ek die toewysing vir die toespraak gekry waarna ek aan die begin van hierdie artikel verwys het.

Ek was in die moeilikheid! In daardie dae is daar van studente verwag om ses tot agt minuut lange toesprake voor te berei. Daar was nie ’n toewysing om net die Bybel te lees nie. My pa het my gehelp om die toespraak voor te berei en my dit 20 keer laat oefen voordat ek dit gegee het. Daarna het ek waardevolle raad ontvang. Oor die jare heen het Jehovah my deur middel van my pa, bekwame broers en susters en Sy organisasie opgelei.

DIE OPLEIDING GAAN VOORT

Alice, wat ek vroeër genoem het, het my opgelei toe ek in die bediening begin het. In daardie dae is ons aangemoedig om drie tekste vir die huisbewoner te lees en om dan ’n boek aan te bied. Wanneer dit my beurt was om by die deur te praat, het Alice haarself voorgestel, die gesprek begin en my dan genooi om die eerste teks te lees. Daarna het ek die aanbieding oorgeneem, die tweede en die derde teks gelees en die publikasie aangebied. Later het ek geleer hoe om myself aan die begin van die besoek voor te stel. Nadat my pa in laat 1954 gedoop is, het hy van my opleiding in die velddiens oorgeneem. As ’n enkelouer het hy gedoen wat hy kon om my in die waarheid groot te maak. Wanneer dit by teokratiese aktiwiteite gekom het, was hy ’n baie gedissiplineerde persoon. Ek het altyd geweet wat ons op vergaderingaande en op Saterdag- en Sondagoggende sou doen.

Ek was net ’n gemiddelde student op skool; maar van die opleiding wat ek gedurende my 12 jaar daar ontvang het, het my regdeur my lewe gehelp. Ek het byvoorbeeld baie oor wiskunde en Engelse grammatika geleer. Die Engelse kursusse wat ek gedoen het, en ’n klas in skryfkuns het my al in my huidige toewysing as deel van die Skryfafdeling gehelp.

Ek word dikwels gevra oor my belangstelling in musiek. Albei my ouers het in musiek belanggestel. Toe ek sewe was, het ek ’n ruk lank klavierlesse geneem, maar my onderwyser was nie baie beïndruk met my vermoë nie. Sy het vir my pa gesê dat ek dalk maar moet ophou met die lesse. Ek kan verstaan hoekom – ek was op daardie stadium nie baie gemotiveerd nie.

Ná ’n paar maande het my pa ’n ander onderwyser gevind. Hierdie keer het ek klavier en sang studeer, en ek het floreer. As ’n seun-sopraan het ek ’n aangename stem gehad en ’n paar kompetisies gewen. Die rede hoekom ek musiek studeer het, was om ’n graad te kry sodat ek ander musiek kon leer en myself in die voltydse diens kon onderhou. Maar soos ek nader aan die einde van my studies gekom het, het ek besef dat ek baie tyd daaraan sou moes spandeer om te studeer vir eksamens oor harmonie, musiekgeskiedenis en komposisie. Daarom het ek opgehou studeer en as ’n gewone pionier begin dien. Dit was die jaar 1963.

EK ONDERVIND VREUGDE IN DIE PIONIERDIENS

Nadat ek ’n jaar lank pionier het, is ek as ’n spesiale pionier na Kapuskasing, Ontario, gestuur. My pioniermaat Daniel Skinner was baie ouer as ek. Hy het my baie geleer oor hoe ’n gemeente werk. Ek is aangestel om op die Gemeentelike Dienskomitee te dien toe ek 20 was, so daar was baie wat ek moes leer. Ek is so bly dat die organisasie weer beklemtoon dat dit belangrik is om jong broers op te lei. As hulle hulle toelê, kan Jehovah hulle selfs op ’n baie jong ouderdom gebruik!

Kapuskasing het sy uitdagings gehad. In die winter het die temperature tot -44 grade Celsius gedaal en dan soms net “opgewarm” tot -33 grade. Ek en Dan het die meeste van die tyd geloop na waar ons moes wees. Maar een van die baie vreugdes van die toewysing was om ’n suster met die naam Linda Cole te ontmoet, wat later Linda Splane geword het.

Linda was ’n ywerige verkondiger wat baie goeie besoeke gehad het. Sy was vrygewig, goedhartig en uitgaande. Haar ma, Goldie, was ’n getroue suster. Haar pa, Allen, het die waarheid aanvanklik teëgestaan. Ten spyte van Allen se teenstand het Goldie Linda en haar broers, John en Gordon, gereeld na die Koninkryksaal gebring en hulle in die velddiens opgelei. Op die een of ander stadium het Goldie, Linda, John en Gordon almal pionier. Jare later het Allen die waarheid aanvaar en hard in die gemeente gewerk.

In 1965 is ek genooi om die Koninkryksbedieningskool, ’n maand lange kursus, by die Bethel in Kanada by te woon om nog opleiding te ontvang. By daardie skool is ek genooi om ’n aansoekvorm in te vul om Gilead by te woon. Ek het nooit sendingwerk oorweeg nie – ek het nie gedink dat ek goed genoeg is nie – maar ek het die aansoekvorm ingevul. Ek is vir die 42ste klas aanvaar. By Gilead het ons gereeld verslae oor ons vordering by ons instrukteurs gekry. Die eerste verslag wat ek ontvang het, het my aangemoedig om soveel as moontlik oor die organisasie te leer terwyl ek by die skool is. Dit was beslis gepaste raad vir ’n 21-jarige.

Een van die kursusse wat by Gilead aangebied word, is opleiding oor hoe om die media te hanteer: die radiostasies, die televisiestasies en die pers. Ek het dit baie geniet. Ek het glad nie besef hoe baie daardie kursus my in die toekoms sou help nie, soos ek later sal verduidelik.

EK WORD NA SENEGAL GESTUUR

’n Paar dae nadat ons gegradueer het, was ek en Michael Höhle, my sendelingmaat, op pad na ons toewysing in die buiteland in Senegal, Afrika. Op daardie stadium was daar omtrent 100 verkondigers in die land.

Nadat ek ’n hele paar maande in my toewysing was, is ek genooi om een dag ’n week by die takkantoor te werk. Die “takkantoor” was net een vertrek in ’n sendinghuis. Al was dit ’n beskeie kantoor, het Emmanuel Paterakis, die takkneg, my nooit laat vergeet dat die takkantoor Jehovah se organisasie in daardie land verteenwoordig het nie. By een geleentheid het broer Paterakis besluit dat ons ’n aanmoedigende brief aan al die sendelinge moet skryf. In daardie dae was daar nie ’n maklike of goedkoop manier om afskrifte van die briewe te maak nie, en daarom is dit individueel op ’n tikmasjien getik. Dit was baie werk, veral omdat ons moes sorg dat ons nie eers een fout maak nie!

Terwyl ek laat daardie aand gereedgemaak het om na my eie sendinghuis terug te keer, het broer Paterakis vir my ’n koevert gegee. Hy het gesê: “David, die Genootskap het aan jou geskryf.” Toe ek later die koevert oopmaak, was een van die briewe wat ek getik het, daarin! Daardie ondervinding het my geleer om die organisasie te respekteer ongeag hoe groot of klein die plaaslike takkantoor dalk is.

Broer Splane en ’n groep vreugdevolle broers en susters glimlag vir ’n foto.

Saam met medesendelinge in Senegal, 1967

Ek het met ’n hele paar verkondigers in die gemeente vriende gemaak en die meeste Saterdagaande met plaaslike gesinne deurgebring. Dit was gelukkige tye! Ons bly nog steeds in kontak. En ek het al die geleentheid gehad om my kennis van Frans te gebruik toe ek takkantore regoor die wêreld besoek het.

In 1968 het ek en Linda verloof geraak. Daarna het ek maande lank probeer om deeltydse werk te vind sodat ek en Linda saam in Senegal kon pionier, maar werkgewers daar moes plaaslike mense eerder as buitelanders in diens neem. Uiteindelik, nadat ek na Kanada teruggekeer het, het ons getrou en ’n toewysing ontvang as spesiale pioniers in Edmundston, Nieu-Brunswyk, ’n klein stad op die grens van die provinsie Quebec.

David en Linda Splane glimlag terwyl hulle op ’n paadjie vol blomme staan.

Op ons troudag, 1969

ONS PIONIER IN NIEU-BRUNSWYK EN QUEBEC

Daar was geen verkondigers in die dorpie nie en min Bybelstudies. Die Katolieke godsdiens het amper elke aspek van mense se lewens oorheers. Amper elke huis het ’n teken gehad wat sê: Geen Jehovah se Getuies. Op daardie stadium was die idee om so ’n teken te respekteer, nie so belangrik as wat dit nou is nie, en daarom het ons na elke huis gegaan of daar nou ’n teken was of nie. ’n Katolieke organisasie het elke week ’n kennisgewing in die plaaslike koerant geplaas: “Kom ons hou ’n heksejag op Jehovah se Getuies.” Daar was net vier “hekse”, Victor en Velda Norberg en ek en Linda, in die dorpie – so ons het geweet van wie hulle praat!

Ek sal nooit die kringopsiener se eerste besoek vergeet nie. Nadat hy ’n week saam met ons deurgebring het, het hy gesê: “Die meeste wat julle dalk kan verwag om te bereik terwyl julle hier is, is om vooroordeel af te breek.” Van toe af het dit ons doelwit geword, en dit het gewerk! Mense het stadig maar seker die verskil tussen die nederige Jehovah se Getuies en die trotse Katolieke geestelikes begin sien. Daar is nou ’n klein gemeente in daardie stad.

Nadat ons omtrent ’n jaar in daardie afgesonderde toewysing spandeer het, is ons genooi om ’n groot gemeente in die stad Quebec te ondersteun. Ons het ses aangename maande saam met die gasvrye broers en susters daar deurgebring voordat ons genooi is om reisende werk te doen.

Vir die volgende 14 jaar het ons kringe in die provinsie Quebec bedien. Dit was opwindende tye! Die werk in Quebec was volstoom aan die gang, en dit was nie ongewoon om ’n hele paar gesinne in dieselfde gemeente te sien wat besig is om tot doop te vorder nie!

ONS ONTHOU DIÉ WAT BAIE HARD GEWERK HET

Frans-Kanadese broers en susters is maklik om lief te hê. Hulle is reguit, vreugdevol en entoesiasties. Maar dit was nie altyd vir hulle maklik om die waarheid te aanvaar nie, en familieteenstand kan intens wees. Party baie jong broers en susters is deur hulle ongelowige ouers die ultimatum gegee: “Hou op om met Jehovah se Getuies te studeer of verlaat die huis!” Min, indien enige, het onder daardie druk ingegee. Jehovah is sekerlik baie trots op hulle!

Op hierdie stadium kan ek nie anders as om te praat oor die merkwaardige groep gewone en spesiale pioniers wat in daardie jare in Quebec gedien het nie. Die meeste van hulle het van ander dele van Kanada gekom. En behalwe om die Franse taal goed te leer praat, moes hulle ook leer oor die plaaslike kultuur en die denkwyse, wat grootliks deur die Katolieke godsdiens beïnvloed is.

Spesiale pioniers is dikwels gestuur na afgesonderde gebiede waar daar geen verkondigers was nie. As gevolg van plaaslike vooroordeel was dit moeilik om verblyf te vind en selfs moeiliker om deeltydse werk te vind. Selfs pasgetroude paartjies het in groepe van vier, ses of agt gebly om uitgawes te deel. Hulle kon dit net nie bekostig om op hulle eie te bly nie. Hierdie toegewyde pioniers was harde werkers. Wanneer hulle ’n studie begin het, het hulle daardie studie hulle volle aandag gegee. Noudat Quebec nie meer hulp van buite af nodig het nie, het baie van daardie pioniers na gebiede gegaan waar daar hulp nodig is.

Toe ons gemeentes in die kringwerk besoek het, het ons gewoonlik probeer om Saterdagoggende saam met tieners te werk. Dit het ons gehelp om eerstehands uit te vind watter uitdagings hulle ondervind. Party van die tieners saam met wie ons gewerk het, dien nou in ander lande as sendelinge of in ander verantwoordelike rolle.

In daardie dae kon party gemeentes ons nie terugbetaal vir ons reisonkostes nie, en daarom het ons soms teen die einde van die maand nie meer geld oorgehad nie. Wanneer dit gebeur het, moes ons ten volle op Jehovah vertrou, aangesien hy die enigste een is wat geweet het wat ons omstandighede is. Hy het ons nooit in die steek gelaat nie. Op die een of ander manier kon ons altyd van die een gemeente na die volgende een reis.

LESSE WAT EK BY GETROUE BROERS GELEER HET

Ek het vroeër genoem hoe baie ek by ons kursus oor openbare betrekkinge by Gilead geleer het. In daardie dae het ons baie geleenthede in Quebec gehad om ’n positiewe getuienis oor die radio, op televisie en vir die pers te gee. Ek is dikwels gevra om te werk saam met Léonce Crépeault, ’n ander reisende opsiener wat baie goed was daarmee om met die media te werk. Wanneer hy met baie belangrike mense in die nuusbedryf gepraat het, het hy nie probeer om vir hulle te wys hoe baie hy weet nie; hy het eerder gesê: “Meneer, ek en my metgesel is maar net bedienaars. Ons weet baie min omtrent publisiteit. Maar ons is gevra om mense te laat weet van ’n groot byeenkoms wat Jehovah se Getuies sal hou. Enige hulp wat u ons kan gee, sal grootliks waardeer word.” Daardie nederige benadering het baie deure oopgemaak wat dalk andersins toe sou bly.

Later het die takkantoor my gevra om saam met broer Glen How, een van ons regsgeleerdes, aan sensitiewe sake te werk wat die media se aandag kon trek. Ek het baat gevind by my opleiding by Gilead en by die ondervinding wat ek met Léonce opgedoen het. Dit was ’n groot voorreg om saam met broer How te werk. Hy was absoluut vreesloos wanneer hy met die regstelsel te doen gehad het, maar die belangrikste van alles, hy was ’n man van God. Hy was baie lief vir Jehovah.

In 1985 is ons gestuur om op ’n kring naby my pa in die weste van Kanada te dien, wat ons in staat gestel het om hom die nodige ondersteuning te gee. Hy het drie maande later gesterf. Ons was tot 1989 op kringe in die weste van Kanada toe ons uit die bloute ’n uitnodiging ontvang om by die Bethelgesin in die Verenigde State aan te sluit. Dit het beteken dat ons die reisende werk ná amper 19 jaar moes verlaat. Gedurende daardie jare het ons in honderde huise gebly en duisende maaltye geëet saam met gasvrye broers en susters. Ons is baie dankbaar teenoor almal wat hulle huise oopgemaak het en hulle tafels met ons gedeel het!

ONS TREK NA DIE VERENIGDE STATE

Toe ons in Brooklyn aankom, het ek die toewysing gekry om in die Diensafdeling te werk. Ek sal altyd dankbaar wees vir die opleiding wat ek daar ontvang het. Een van die lesse wat ek geleer het, is om seker te maak van die feite en om niks aan te neem nie. Toe in 1998 het ek ’n toewysing in die Skryfafdeling ontvang, waar ek nog steeds leer hoe om te skryf. Ek het jare lank die voorreg gehad om saam met broer John Barr te werk, wat die koördineerder van die Skryfkomitee was. Die opleiding wat ek ontvang het, en die tyd wat ek met hom spandeer het, sal altyd vir my kosbaar wees. Hy het ’n pragtige Christelike persoonlikheid gehad.

David en Linda Splane op ’n foto saam met John en Mildred Barr.

Saam met John en Mildred Barr

Ek geniet dit baie om skouer aan skouer te werk saam met die nederige broers en susters wat in die Skryfafdeling dien. Hulle vra Jehovah altyd vir hulp in hulle toewysing en is ten volle bewus van die feit dat enige goeie dinge wat hulle bereik, as gevolg van Jehovah se gees is, nie as gevolg van enige natuurlike vermoë wat hulle het nie.

Broer Splane dirigeer die Wagtoring-koor van 20 broers en susters terwyl ’n suster die klavier speel.

Ek dirigeer die Wagtoring-koor by die jaarvergadering in 2009

Broer Splane gee vreugdevol vir ’n suster ’n Bybel.

Ek deel Bybels uit by die internasionale byeenkoms in 2014 in Seoel, Korea

Ek en Linda het ook die voorreg gehad om ons getroue medegelowiges in 110 lande te besoek. Ons het die liefde van die sendelinge, van die Takkomiteelede en van ander voltydse knegte eerstehands gesien. Dit was ’n seën om ook die ywer en standvastigheid te sien van die plaaslike verkondigers, wat Koninkryksbelange eerste stel ten spyte van oorlog, finansiële probleme en vervolging. Jehovah is sekerlik baie lief vir hulle!

Oor die jare heen het Linda my verskriklik baie gehelp terwyl ek my toewysings probeer nakom. Sy is ’n regte mensemens wat altyd op die uitkyk is na maniere om ander te help. Sy is ook baie goed daarmee om informele gesprekke te begin. Sy het baie sukses daarmee gehad om mense na die waarheid te trek, insluitende party wat voorheen onbedrywig was. Linda is ’n ware geskenk van Jehovah! Soos ons ouer word, is ons baie dankbaar vir die hulp van jonger broers en susters wat ons met ons reis- en ander behoeftes help. – Mark. 10:​29, 30.

Wanneer ek op die laaste agt dekades terugkyk, is ek dankbaar. Ek stem saam met die psalmis wat geskryf het: “O God, u het my van jongs af geleer, en tot nou toe bly ek u wonderlike werke verkondig” (Ps. 71:17). Ek is van plan om dit te bly doen vir so lank as wat ek lewe.

a Vandag is hierdie opleiding deel van ons vergadering in die week.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel