Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Julie bl. 20-25
  • Het jy “die geheim daarvan geleer” om tevrede te wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy “die geheim daarvan geleer” om tevrede te wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WEES DANKBAAR
  • BLY GEFOKUS EN NEDERIG
  • DINK NA OOR JOU HOOP
  • “DIÉ WAT HOM VREES, KOM NIKS KORT NIE”
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onthou dat Jehovah “die lewende God” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Herken jy die waarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Julie bl. 20-25

STUDIEARTIKEL 31

LIED 111 Ons redes tot vreugde

Het jy “die geheim daarvan geleer” om tevrede te wees?

“Ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees.” – FIL. 4:11.

FOKUS

Hoe om te leer om tevrede te wees deur dankbaar te wees, deur gefokus en nederig te wees en deur na te dink oor ons hoop vir die toekoms.

1. Wat beteken tevredenheid, en wat beteken dit nie?

IS JY tevrede met wat jy het? Iemand wat tevrede is, vind vreugde en vrede deur te fokus op sy huidige seëninge. Hy voel nie bitter of kwaad as gevolg van wat hy nie het nie. Maar om tevrede te wees, beteken nie dat ons nie omgee oor hoe ons ons lewe lei nie. Byvoorbeeld, dit is gepas dat ’n Christen uitreik na geleenthede om sy diens uit te brei (Rom. 12:1; 1 Tim. 3:1). Maar hy verloor nie sy vreugde as diensvoorregte nie so vinnig kom soos wat hy verwag het nie.

2. Hoekom is dit so gevaarlik om ontevrede te wees?

2 Ontevredenheid kan tot ernstige gevolge lei. Dié wat nooit tevrede is met wat hulle het nie, werk dalk baie lang ure om materiële dinge te koop wat hulle nie regtig nodig het nie. Ongelukkig het ’n paar Christene al selfs geld en ander dinge gesteel wat hulle graag wou hê. Hulle het dalk vir hulleself gesê: ‘Ek verdien dit,’ ‘Ek het lank genoeg gewag’ of ‘Ek sal die geld later terugbetaal.’ Maar om te steel, maak Jehovah ongelukkig en bring skande oor sy naam (Spr. 30:9). Ander is so teleurgesteld omdat hulle nie ’n diensvoorreg ontvang het nie dat hulle heeltemal opgehou het om Jehovah te dien (Gal. 6:9). Hoe kan ’n toegewyde aanbidder van Jehovah dit selfs oorweeg om dit te doen? Die probleem is dalk dat die persoon opgehou het om te leer om tevrede te wees.

3. Watter versekering kry ons in Filippense 4:​11, 12?

3 Ons almal kan leer om tevrede te wees. Die apostel Paulus het geskryf dat hy “geleer [het] om in alle omstandighede tevrede te wees met wat [hy] het”. (Lees Filippense 4:​11, 12.) Hy het daardie woorde geskryf terwyl hy in die tronk was. Al was dit die geval, het hy nie sy vreugde verloor nie. Hy het “die geheim daarvan geleer” om tevrede te wees. As ons sukkel om tevrede te wees, kan Paulus se woorde en ondervinding ons daarvan verseker dat ons kan leer om tevrede te wees. Ons moenie verwag dat ons outomaties tevrede sal wees met ons omstandighede nie. Ons moet eerder leer om tevrede te wees. Hoe? Kom ons bespreek eienskappe wat ons sal help om die geheim daarvan te leer om tevrede te wees.

WEES DANKBAAR

4. Hoe help ’n dankbare gees ons om tevrede te wees? (1 Tessalonisense 5:18)

4 ’n Dankbare gees help ons om tevrede te wees. (Lees 1 Tessalonisense 5:18.) Byvoorbeeld, wanneer ons regtig dankbaar is omdat ons het wat ons nodig het, is ons minder geneig om te bekommerd te wees oor die dinge wat ons wil hê maar nie het nie. Wanneer ons nadink oor die diensvoorregte wat ons nou geniet, sal ons daarop fokus om ons bes in daardie toewysings te doen, eerder as om obsessief daarmee te word om ’n nuwe voorreg te ontvang. Dit is geen wonder dat die Bybel ons aanmoedig om in ons gebede vir Jehovah dankie te sê nie! ’n Dankbare gees help ons om “die vrede van God, wat alle denke oortref,” te voel. – Fil. 4:​6, 7.

5. Watter redes het die Israeliete gehad om dankbaar te wees? (Sien ook prent.)

5 Kyk na wat met die Israeliete gebeur het. Hulle het ’n hele paar keer by Jehovah gekla dat hulle nie die kos gehad het wat hulle in Egipte geniet het nie (Num. 11:​4-6). Dit is so dat die lewe in die wildernis nie maklik was nie. Wat sou hulle gehelp het om tevrede te wees? Hulle moes dankbaar nagedink het oor wat Jehovah reeds vir hulle gedoen het. In Egipte, waar hulle as slawe mishandel is, het Jehovah die tien plae gebring oor die mense wat hulle gevange geneem het. Nadat die Israeliete bevry is, het hulle “die Egiptenare gestroop” van hulle silwer, goud en klere (Eks. 12:​35, 36). Toe die Israeliete tot by die Rooisee gejaag is, het Jehovah die water deur middel van ’n wonderwerk verdeel. En terwyl hulle deur die wildernis getrek het, het hy hulle daagliks met manna gevoed. So, wat was dan die probleem? Die Israeliete was ontevrede, nie omdat hulle nie die kos gehad het wat hulle nodig gehad het nie, maar omdat hulle nie dankbaar was vir wat hulle reeds gehad het nie.

Party Israeliete sê vir Moses hoe ontevrede hulle is oor die manna wat hulle optel, terwyl ander daar naby hulle dophou en aanhou om manna op te tel.

Hoekom het die Israeliete ontevrede geword? (Sien paragraaf 5)


6. Wat kan ons help om dankbaar te wees?

6 Wat kan jou help om dankbaar te wees? Eerstens, maak elke dag tyd om te dink aan die goeie dinge wat jy geniet. Jy kan selfs twee of drie dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is (Klaagl. 3:​22, 23). Tweedens, sê dat jy dankbaar is. Neem die inisiatief om ander te bedank vir wat hulle vir jou doen. En die belangrikste van alles, sê gereeld vir Jehovah dankie (Ps. 75:1). Derdens, maak goeie vriende met mense wat dankbaar is. Dankbaarheid is aansteeklik; en dit is ook die geval met ontevredenheid (Deut. 1:​26-28; 2 Tim. 3:​1, 2, 5). Wanneer ons daarop fokus om te wys dat ons dankbaar is, is ons minder geneig om ontevrede te wees.

7. Wat het Aci gehelp om dankbaar te wees, en wat was die gevolg?

7 Kyk na wat gebeur het met Aci, wat in Indonesië bly. Sy erken: “Gedurende die COVID-19-pandemie het ek my omstandighede begin vergelyk met dié van my medegelowiges. As gevolg daarvan het ek ontevrede geword” (Gal. 6:4). Wat het haar gehelp om haar denke te verander? Aci sê: “Ek het die seëninge wat ek elke dag ontvang het, begin tel en begin nadink oor die baie goeie dinge wat ek verkry het omdat ek deel van God se organisasie is. Dan het ek vir Jehovah gesê hoe dankbaar ek is. As gevolg daarvan het ek regtig tevrede begin voel.” As negatiewe gedagtes jou oorweldig, kan jy soortgelyke dinge doen om weer ’n dankbare gees te verkry?

BLY GEFOKUS EN NEDERIG

8. In watter strik het Barug getrap?

8 Die profeet Jeremia se sekretaris, Barug, het tydelik in ’n strik getrap. Barug het ’n moeilike toewysing gehad, naamlik om Jeremia te ondersteun terwyl hy ’n sterk boodskap aan ’n ondankbare nasie oorgedra het. Op een stadium het Barug sy fokus verloor. Eerder as om te fokus op wat Jehovah wou hê hy moes doen, het hy blykbaar te veel aan homself begin dink en aan wat hy wou doen. Deur middel van Jeremia het Jehovah vir Barug gesê: “Jy soek groot dinge vir jouself. Hou op om hierdie dinge te soek” (Jer. 45:​3-5). Hy het met ander woorde gesê: “Wees tevrede met jou huidige omstandighede.” Barug het die teregwysing aanvaar en Jehovah se goedkeuring behou.

9. Volgens 1 Korintiërs 4:​6, 7, wat sal nederigheid ons beweeg om te erken? (Sien ook prente.)

9 Soms voel ’n Christen dalk dat hy ’n sekere diensvoorreg verdien. Hy is dalk baie talentvol, hardwerkend of ervare – of dalk al drie. Maar ander ontvang dalk die einste voorreg wat hy graag wil hê. Hoe kan hy oor die saak redeneer? Hy kan nadink oor wat die apostel Paulus geskryf het, soos ons kan sien in 1 Korintiërs 4:​6, 7. (Lees.) Elke voorreg wat ons ontvang en elke talent wat ons het, kom van Jehovah af. Ons verdien nie hierdie gawes nie. Dit is alles bewyse van Jehovah se onverdiende goedheid. – Rom. 12:​3, 6; Ef. 2:​8, 9.

Collage: Broers en susters met diensvoorregte. 1. ’n Broer is besig om die druk van die pype by ’n teokratiese fasiliteit na te gaan. 2. ’n Broer voer ’n onderhoud met ’n suster by ’n gebaretaalbyeenkoms. 3. ’n Broer gee ’n toespraak by ’n gemeentelike vergadering.

Enige gawe wat ons het, is ’n bewys van Jehovah se onverdiende goedheid (Sien paragraaf 9)b


10. Hoe kan ons leer om nederig te wees?

10 Ons kan leer om nederig te wees deur diep na te dink oor die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het. Dink aan wat gebeur het op die aand dat Jesus sy apostels se voete gewas het. Die apostel Johannes het geskryf: “Jesus, wat geweet het [1] dat die Vader alles in sy hande gegee het en [2] dat hy van God af gekom het en [3] na God toe gaan, het . . . begin om die dissipels se voete te was” (Joh. 13:​3-5). Jesus kon gevoel het dat sy apostels sy voete moes was. Maar gedurende sy lewe op die aarde het hy nooit gevoel dat hy ’n beter en gemakliker lewe verdien nie (Luk. 9:58). Jesus was nederig; hy was tevrede. Hy het vir ons ’n volmaakte voorbeeld gestel. – Joh. 13:15.

11. Hoe het nederigheid Dennis gehelp om tevrede te voel?

11 Dennis, van Nederland, het Jesus se voorbeeld van nederigheid probeer navolg, maar dit was nie altyd maklik nie. Hy sê: “Soms let ek op dat gevoelens van trots of ontevredenheid in my groei, soos wanneer iemand anders ’n diensvoorreg ontvang. Wanneer dit gebeur, studeer ek die onderwerp van nederigheid. Ek het in die JW Library®-app sekere verse oor nederigheid gemerk sodat ek dit vinnig kan vind en weer kan lees. Ek het ook party toesprake oor nederigheid op my foon afgelaai, en ek luister dikwels daarna.a Ek het geleer dat ons al die werk doen wat ons doen sodat ons Jehovah kan verheerlik, nie onsself nie. Ons elkeen speel ’n klein rol in wat Jehovah besig is om te bereik.” As jy ontevrede begin voel met jou situasie, moet jy stappe neem om te leer om nederig te wees. Dit sal jou vriendskap met Jehovah versterk en jou help om tevrede te voel. – Jak. 4:​6, 8. 

DINK NA OOR JOU HOOP

12. Watter hoop vir die toekoms help ons om tevrede te wees? (Jesaja 65:​21-25)

12 Ons voel meer tevrede wanneer ons nadink oor die wonderlike hoop wat vir ons voorlê. Jehovah se eie woorde wat deur die profeet Jesaja opgeteken is, erken hoe frustrerend die lewe vandag kan wees en verseker ons dat Jehovah daardie frustrasies sal wegneem. (Lees Jesaja 65:​21-25.) Ons sal in veilige en gemaklike huise bly. Ons sal betekenisvolle werk hê, en ons sal gesonde en lekker kos eet. Ons sal nooit weer bekommerd wees dat slegte dinge met ons of ons kinders kan gebeur nie (Jes. 32:​17, 18; Eseg. 34:25). Ons toekoms is wonderlik, en dit is seker.

13. In watter omstandighede moet ons veral fokus op ons hoop?

13 Ons moet nou meer as ooit tevore op ons hoop fokus. Hoekom? Want ons lewe in “die laaste dae”, en ons almal het probleme wat “moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Jehovah help ons elke dag om te volhard deur ons die leiding, krag en ondersteuning te gee wat ons nodig het (Ps. 145:14). En ons Christelike hoop kan ons gedurende moeilike tye versterk. Dalk sukkel jy om in jou gesin se materiële behoeftes te voorsien. Beteken dit dat jy altyd sal moet sukkel om kos op die tafel te sit? Beslis nie! Jehovah het belowe om jou in die Paradys te gee wat jy nodig het – en baie, baie meer (Ps. 9:18; 72:​12-14). Jy sukkel dalk met chroniese pyn, depressie of die een of ander ernstige siekte. Is dit maar net jou lot in die lewe, met geen hoop dat jy ooit verligting sal kry nie? Glad nie. Siekte en die dood sal in God se nuwe wêreld verdwyn (Op. 21:​3, 4). Daardie hoop help ons om nou tevrede te voel – vry van woede en bitterheid. Ons kan tevrede voel terwyl ons onregte, verlies, siekte of enige ander probleem verduur. Hoekom? Want maak nie saak hoe moeilik ons huidige uitdagings dalk is nie, ons weet dat ons “moeilike tye . . . net ’n kort rukkie [duur]” en dat die nuwe wêreld binnekort permanente verligting sal bied. – 2 Kor. 4:​17, 18.

14. Hoe kan ons ons hoop versterk?

14 Hoe kan ons ons hoop versterk aangesien dit ons help om tevrede te wees? Net soos iemand dalk ’n bril moet opsit om dinge wat ver is, duideliker te sien, moet ons dalk gepaste stappe neem om ons hoop te versterk sodat ons die toekomstige Paradys duideliker kan sien. Wanneer ons oorweldig voel deur bekommernisse oor ons finansies, kan ons dink aan hoe ons lewe sal wees wanneer geld, skuld en ekonomiese ongelykheid weg is. As ons angstig is oor diensvoorregte wat ons nog nie ontvang het nie, kan ons dink aan hoe onbelangrik sulke bekommernisse sal wees nadat ons volmaaktheid bereik het en Jehovah al duisende jare lank dien (1 Tim. 6:19). Aan die begin sal dit dalk moeilik wees om na te dink oor die toekoms eerder as om ons te bekommer oor die dinge wat ons nou deurmaak. Maar met verloop van tyd kan dit vir ons natuurlik word om uit te sien na die toekoms wat Jehovah belowe het.

15. Wat leer jy uit Christa se woorde?

15 Kyk hoe hoop Christa, wat getroud is met Dennis, wat vroeër aangehaal is, gehelp het. Sy vertel: “Ek het ’n progressiewe spiersiekte wat my dwing om ’n rolstoel te gebruik en om die meeste van die dag in die bed deur te bring. Ek is elke dag in pyn. My dokter het onlangs vir my gesê dat my toekoms nie goed lyk nie. Maar ek het dadelik gedink: ‘Hy sien die toekoms anders.’ Ek is gefokus op my hoop, wat my gemoedsrus gee. Vandag moet ek dalk die lewe in hierdie wêreld verduur, maar ek sal die nuwe wêreld ten volle geniet!”

“DIÉ WAT HOM VREES, KOM NIKS KORT NIE”

16. Hoekom kon koning Dawid skryf dat dié wat Jehovah vrees, ‘niks kortkom nie’?

16 ’n Kneg van Jehovah wat tevrede is, sal nog steeds probleme ondervind. Koning Dawid het ten minste drie van sy kinders aan die dood verloor. Hy is valslik beskuldig, verraai en jare lank as ’n vlugteling gejag. Maar terwyl hy ’n baie moeilike tyd deurgemaak het, het hy die volgende van Jehovah gesê: “Dié wat hom vrees, kom niks kort nie” (Ps. 34:​9, 10). Hoekom kon hy dit sê? Want al verwag ons as Jehovah se volk nie ’n probleemvrye lewe nie, is ons oortuig dat ons nooit sal kortkom wat ons regtig nodig het nie (Ps. 145:16). En ons kan op Jehovah staatmaak om ons deur al ons moeilike tye te ondersteun. Ons kan tevrede wees.

17. Hoekom is jy vasbeslote om die geheim daarvan te leer om tevrede te wees?

17 Jehovah wil hê dat jy tevrede moet wees (Ps. 131:​1, 2). So probeer jou bes om die geheim daarvan te leer om tevrede te wees. As jy hard werk om dankbaar te wees, om gefokus en nederig te bly en om jou hoop te versterk, sal jy kan sê: “Ja, ek is baie tevrede.” – Ps. 16:​5, 6.

HOE HELP DIE VOLGENDE JOU OM TEVREDE TE WEES?

  • Om dankbaar te wees

  • Om gefokus en nederig te bly

  • Om na te dink oor jou hoop

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

a Byvoorbeeld, kyk op jw.org die Oggendaanbidding-programme Jehovah sorg vir die nederiges en Trots kom voor ’n ineenstorting.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer doen instandhoudingswerk by ’n teokratiese fasiliteit, ’n broer voer by ’n kringbyeenkoms ’n onderhoud met ’n suster wat gebaretaal geleer het en ’n broer gee ’n openbare toespraak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel