Het jy geweet?
Hoe het die tempelpriesters in die eerste eeu ontslae geraak van die bloed van diereoffers?
DIE priesters in eertydse Israel het elke jaar duisende diereoffers op die tempelaltaar geoffer. Volgens die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus is meer as 250 000 lammers op die Pasga geoffer, wat veroorsaak het dat ’n groot hoeveelheid bloed uitgestort is (Lev. 1:10, 11; Num. 28:16, 19). Wat het met al daardie bloed gebeur?
Argeoloë het ’n uitgebreide dreineringstelsel in Herodes se tempel ontdek wat gebruik is totdat die tempel in 70 HJ vernietig is. Die dreineringstelsel is blykbaar gebruik om ontslae te raak van die bloed wat by die tempel was.
Kyk na twee kenmerke van daardie dreineringstelsel:
Gate aan die onderkant van die altaar: ’n Beskrywing van ’n dreineringstelsel vir die altaar word gevind in die Misjna, ’n versameling Joodse mondelinge wette wat saamgestel is teen die vroeë deel van die derde eeu HJ. Die boek verduidelik dat daar twee gate in een hoek van die altaar was. Die bloed van die offerandes sowel as die water wat gebruik is om die altaar skoon te maak, het deur die gate gevloei regdeur die kanaal tot by die Kidron-vallei.
Hierdie eertydse tradisie van “gate” naby die altaar stem ooreen met die dinge wat moderne argeoloë gevind het. The Cambridge History of Judaism bevestig dat “’n uitgebreide dreineringstelsel” naby die tempel gevind is. Dit sê: “Dit is heel moontlik gebruik om die water te dreineer wat gemeng was met bloed van die offerandes wat uit die tempel gekom het.”
Toegang tot baie water: Die priesters het baie water nodig gehad om die onderkant van die altaar en die dreineringskanaal skoon te hou. Om hierdie belangrike taak uit te voer, het die priesters toegang gehad tot ’n konstante voorraad varswater van die stad. Die stelsel het bestaan uit kanale, akwadukte, reënputte en poele. Die wetenskaplike Joseph Patrich verduidelik dat dit lyk asof geen ander tempel van daardie tyd so ’n goeie manier gehad het om water aan ’n tempel te voorsien en om van vuil water ontslae te raak nie.