STUDIEARTIKEL 24
LIED 98 Die Skrif — Deur God geïnspireer
Lesse wat ons kan leer uit ’n sterfbedprofesie – Deel 1
“Kom staan hier sodat ek vir julle kan sê wat aan die einde van die dae met julle sal gebeur.” – GEN. 49:1.
FOKUS
Praktiese lesse uit Jakob se sterfbedprofesie in verband met Ruben, Simeon, Levi en Juda.
1-2. Wat het Jakob gedoen voordat hy gesterf het, en hoekom? (Sien ook prent.)
OMTRENT 17 jaar het verbygegaan vandat Jehovah se getroue kneg Jakob saam met sy huisgesin van Kanaän na Egipte gereis het (Gen. 47:28). Gedurende daardie tyd het hy groot vreugde ondervind toe hy herenig is met sy geliefde seun Josef en uiteindelik weer sy gesin bymekaar sien. Maar nou besef Jakob dat hy binnekort gaan sterf. Daarom roep hy sy gesin bymekaar vir ’n belangrike vergadering. – Gen. 49:28.
2 In daardie dae was dit algemeen vir ’n sterwende gesinshoof om die lede van sy gesin bymekaar te roep om sy laaste instruksies aan hulle te gee (Jes. 38:1). By daardie vergadering sê hy dalk ook wie ná sy dood die gesinshoof sal wees.
Jakob op sy sterfbed, en hy dra ’n profesie aan sy 12 seuns oor (Sien paragraaf 1-2)
3. Volgens Genesis 49:1, 2, hoekom is Jakob se woorde veral betekenisvol?
3 Lees Genesis 49:1, 2. Maar dit was glad nie ’n gewone vergadering nie. Jakob was ’n profeet. Gedurende hierdie vergadering het Jehovah sy kneg geïnspireer om oor belangrike toekomstige gebeure te praat wat ’n groot impak op sy nakomelinge sou hê. As gevolg daarvan word daar soms na Jakob se woorde verwys as sy sterfbedprofesie.
4. Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons Jakob se sterfbedprofesie ondersoek? (Sien ook die venster “Jakob se gesin”.)
4 In hierdie artikel sal ons kyk na wat Jakob vir vier van sy seuns gesê het: Ruben, Simeon, Levi en Juda. In die volgende artikel sal ons Jakob se woorde aan sy agt ander seuns bespreek. Soos ons sal sien, het Jakob nie net oor sy seuns gepraat nie, maar ook oor hulle nakomelinge, wat uiteindelik die eertydse nasie Israel sou word. ’n Hersiening van daardie nasie se geskiedenis sal duidelik vir ons wys hoe Jakob se profetiese woorde waar geword het. En deur sy woorde te ondersoek, sal ons waardevolle lesse leer wat ons kan help om ons hemelse Vader, Jehovah, gelukkig te maak.
RUBEN
5. Watter voorreg het Ruben dalk verwag om van sy pa te ontvang?
5 Jakob praat eerste met Ruben en sê: “Jy is my eersgeborene” (Gen. 49:3). As die eersgeborene het Ruben heel moontlik verwag om ’n dubbele deel van sy pa se besittings te ontvang. Hy het dalk ook verwag om die gesinshoof te word ná sy pa se dood en dat daardie voorreg met verloop van tyd aan sy eie kinders oorgedra sou word.
6. Hoekom het Ruben nie die eersgeboortereg ontvang nie? (Genesis 49:3, 4)
6 Maar Ruben het nie die eersgeboortereg ontvang nie (1 Kron. 5:1). Hoekom nie? ’n Paar jaar vroeër het hy by Jakob se byvrou Bilha geslaap. Sy was die diensmeisie van Jakob se geliefde vrou, Ragel, wat gesterf het (Gen. 35:19, 22). Ruben was Jakob se ander vrou, Lea, se seun. Dalk was Ruben deur seksuele drange aangedryf. Of moontlik het hy by Bilha geslaap om te keer dat Jakob haar meer liefhet as sy ma. Ongeag wat die rede was, wat hy gedoen het, was baie verkeerd in Jehovah sowel as in sy pa se oë. – Lees Genesis 49:3, 4.
7. Wat het met Ruben en sy nakomelinge gebeur? (Sien ook die venster “Jakob se sterfbedprofesie”.)
7 Jakob het vir Ruben gesê: “Jy sal nie groot wees nie.” Daardie woorde het waar geword. Daar is geen rekord dat enige van Ruben se nakomelinge ’n koning, ’n priester of ’n profeet geword het nie. Maar Jakob het nie sy seun onterf nie, en Ruben se nakomelinge het ’n volle stam in Israel geword (Jos. 12:6). Ruben het in ander situasies gewys dat hy goeie eienskappe het, en daar is geen rekord dat hy ooit weer onsedelikheid gepleeg het nie. – Gen. 37:20-22; 42:37.
8. Watter lesse kan ons uit Ruben se voorbeeld leer?
8 Wat kan ons leer? Ons moet hard werk om selfbeheersing te ontwikkel en om nie seksuele onsedelikheid te pleeg nie. As ons ooit in die versoeking kom om te sondig, moet ons stop en dink oor hoe ons dade Jehovah, ons gesin en ander sal seermaak. Ons moet ook die volgende onthou: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes” (Gal. 6:7). Aan die ander kant laat dit wat met Ruben gebeur het, ons dink aan Jehovah se genade. Al sal Jehovah ons nie beskerm teen die gevolge van ons foute nie, sal hy ons pogings seën wanneer ons doen wat reg is.
SIMEON EN LEVI
9. Hoekom was Jakob ontevrede met Simeon en Levi? (Genesis 49:5-7)
9 Lees Genesis 49:5-7. Daarna het Jakob met Simeon en Levi gepraat. Maar wat hy gesê het, het gewys dat hy ontevrede is met wat hulle gedoen het. Jare vroeër is Jakob se dogter, Dina, verkrag deur ’n Kanaänitiese man met die naam Sigem. Dit is verstaanbaar dat al Jakob se seuns baie ontsteld was oor wat met hulle suster gebeur het, maar Simeon en Levi het gewelddadig geword. Hulle het vir die manne van Sigem gelieg en gesê dat daar vrede tussen hulle sal wees as die manne hulle laat besny. Die manne het ingestem en dit gedoen. Terwyl hulle nog in pyn was as gevolg van die besnydenis, het Simeon en Levi “hulle swaarde geneem [en] in die stad ingegaan, terwyl niemand in die stad iets vermoed het nie, en . . . almal wat manlik is, doodgemaak”. – Gen. 34:25-29.
10. Hoe is Jakob se profetiese woorde oor Simeon en Levi vervul? (Sien ook die venster “Jakob se sterfbedprofesie”.)
10 Jakob was baie ontsteld oor hoe gewelddadig sy twee seuns opgetree het. Hy het voorspel dat hulle regoor Israel verstrooi en versprei sou word. Daardie profetiese woorde het meer as 200 jaar later waar geword toe die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het. Die stam van Simeon het ’n paar stede regoor Juda se gebied ontvang (Jos. 19:1). Levi se erfdeel het bestaan uit 48 stede wat regoor Israel verstrooi is. – Jos. 21:41.
11. Watter goeie dinge het die stamme van Simeon en Levi gedoen?
11 Die nakomelinge van Simeon en Levi het nie die foute van hulle voorvaders herhaal nie. Die stam van Levi het Jehovah lojaal aanbid. Toe Moses die Wet van Jehovah by die berg Sinai ontvang het, het baie Israeliete betrokke geraak by afgodiese kalfaanbidding, maar die Leviete het Moses ondersteun en hom gehelp om dit stop te sit (Eks. 32:26-29). Jehovah het gekies om die stam van Levi af te sonder en het hulle die kosbare voorreg van die priesterskap gegee (Eks. 40:12-15; Num. 3:11, 12). Later, gedurende die verowering van die Beloofde Land, het die stam van Simeon dapper geveg saam met die stam van Juda, in ooreenstemming met Jehovah se doel. – Rigt. 1:3, 17.
12. Watter lesse kan ons leer uit die voorbeelde van Simeon en Levi?
12 Wat kan ons leer? Moet nooit toelaat dat woede die dryfkrag agter jou besluite en dade is nie. As jy of ’n geliefde al sleg behandel is, is dit net natuurlik om ontsteld te wees (Ps. 4:4). Maar ons moet onthou dat Jehovah dit nie goedkeur as ons dinge sê of doen wanneer ons bitter kwaad is nie (Jak. 1:20). Ons hanteer ’n onreg – of dit nou binne of buite die gemeente is – in ooreenstemming met Bybelbeginsels, en sodoende vermy ons die skade wat onbeheerste woede veroorsaak (Rom. 12:17, 19; 1 Pet. 3:9). Al doen jou ouers dinge wat Jehovah nie goedkeur nie, moet jy onthou dat jy nie verplig is om hulle voorbeeld te volg nie. Moenie tot die slotsom kom dat jy ’n verlore saak is en dat jy nie Jehovah se seën kan hê nie. Jehovah sal jou pogings seën om aan te beweeg en om te doen wat reg is.
JUDA
13. Hoekom was Juda dalk angstig toe dit sy beurt was om sy pa se woorde te hoor?
13 Juda was die volgende seun met wie sy pa sou praat. Nadat Juda Jakob se woorde aan sy ouer broers gehoor het, was hy dalk angstig. Om die waarheid te sê, hy het ook ’n paar ernstige foute gemaak. Hy het heel moontlik gehelp om die stad Sigem te stroop (Gen. 34:27). Hy het Josef saam met sy broers as ’n slaaf verkoop en hulle pa daaroor bedrieg (Gen. 37:31-33). Later het hy by sy skoondogter Tamar geslaap omdat hy gedink het dat sy ’n prostituut is. – Gen. 38:15-18.
14. Watter goeie dinge het Juda gedoen? (Genesis 49:8, 9)
14 Maar onder inspirasie het Jakob Juda net geseën en geprys. (Lees Genesis 49:8, 9.) Juda het gewys dat hy baie besorgd is oor sy bejaarde pa se gevoelens. En hy het ook meegevoel betoon aan sy jongste broer, Benjamin. – Gen. 44:18, 30-34.
15. Op watter maniere is Juda geseën?
15 Jakob het voorspel dat Juda die leier van sy broers sou wees. Maar ’n baie lang tyd sou verbygaan voordat daardie profesie vervul sou word. Juda word eers omtrent 200 jaar later genoem as die stam wat die leiding geneem het toe hulle die nasie Israel, ná die uittog uit Egipte, deur die wildernis gelei het na die Beloofde Land (Num. 10:14). Jare later het Juda die leiding geneem in die verowering van die Beloofde Land (Rigt. 1:1, 2). En Dawid, een van Juda se nakomelinge, was die eerste van baie konings wat uit daardie stam gekom het. Maar daar is meer.
16. Hoe is die profesie in Genesis 49:10 vervul? (Sien ook die venster “Jakob se sterfbedprofesie”.)
16 Jakob het geopenbaar dat die permanente Heerser van die mensdom ’n nakomeling van Juda sou wees. (Lees Genesis 49:10 en voetnoot.) Daardie Heerser is Jesus Christus, die een wat Jakob Silo genoem het. ’n Engel het die volgende oor Jesus gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32, 33). Jesus word ook “die Leeu uit die stam van Juda” genoem. – Op. 5:5.
17. Hoe kan ons Jehovah navolg in die manier hoe ons ander beskou?
17 Wat kan ons leer? Jehovah het Juda geseën, al het hy ’n paar ernstige foute gemaak. Maar het Juda se broers dalk gewonder wat Jehovah in hom gesien het? Wat ook al die geval is, Jehovah het iets goeds in Juda gesien en hom daarvoor geseën. Hoe kan ons Jehovah se voorbeeld navolg? Wanneer ’n mede-Christen ’n spesiale voorreg ontvang, kom ons dalk eers in die versoeking om op daardie persoon se swakhede te fokus. Maar dit sal goed wees om te onthou dat daardie persoon se goeie eienskappe Jehovah se hart beslis bly maak. Jehovah soek na die goeie in sy aanbidders. Kom ons probeer om dieselfde te doen.
18. Hoekom moet ons geduldig wees?
18 Nog ’n les wat ons uit Juda se ondervinding kan leer, is dat ons geduldig moet wees. Jehovah vervul altyd sy beloftes, maar hy doen dit nie altyd op ’n manier of op ’n tyd wat ons verwag nie. Juda se nakomelinge het nie onmiddellik die leiding onder God se volk begin neem nie. Maar hulle het dié wat Jehovah aangestel het om dit te doen, lojaal ondersteun, of dit nou Moses die Leviet, Josua die Efraimiet of koning Saul die Benjaminiet was. Laat ons ook vandag wie ook al Jehovah kies om die leiding onder ons te neem, ondersteun. – Heb. 6:12.
19. Wat kan ons leer oor Jehovah uit die bespreking van Jakob se sterfbedprofesie?
19 Wat het ons sover gesien in ons bespreking van Jakob se sterfbedprofesie? Dit is duidelik dat “mense . . . nie [sien] soos God sien nie” (1 Sam. 16:7). Jehovah is baie geduldig en vergewensgesind. Al verskoon hy nie verkeerde gedrag nie, verwag hy ook nie volmaaktheid van sy aanbidders nie. Hy kan selfs individue seën wat in die verlede ernstige foute gemaak het as hulle opreg berou toon en begin doen wat reg is. In die volgende artikel sal ons kyk na wat Jakob vir sy agt oorblywende seuns gesê het.
LIED 124 Bly lojaal