STUDIEWENK
Berei jou hart voor
Wanneer ons die Bybel studeer, wil ons hê dat Jehovah se gedagtes ons hart, of innerlike persoon, moet affekteer. Esra het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel toe hy “sy hart voorberei [het] om die Wet van Jehovah te raadpleeg” (Esra 7:10). Hoe kan ons ons hart voorberei?
Bid. Begin elke studiesessie met ’n gebed. Vra Jehovah om jou te help om te verstaan en toe te pas wat jy leer. – Ps. 119:18, 34.
Wees nederig. Jehovah openbaar nie die waarheid aan mense wat trots is en dink dat hulle nie sy hulp nodig het om die Bybel te verstaan nie (Luk. 10:21). Moenie navorsing doen om ander te probeer beïndruk nie. Wees nederig en verander jou denke wanneer dit nie met God se wil ooreenstem nie.
Probeer om na ’n Koninkryksliedjie te luister. Musiek het die krag om ons hart te raak en berei ons vir aanbidding voor. As jy aan die begin van ’n studiesessie na ’n Koninkryksliedjie luister, kan dit jou help om jou hart voor te berei.