Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 April bl. 14-19
  • Om nader aan mekaar te kom, is goed vir ons!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Om nader aan mekaar te kom, is goed vir ons!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOEKOM ONS NADER AAN MEKAAR MOET KOM
  • BETOON EER AAN MEKAAR
  • DAAR MOENIE “ENIGE VERDEELDHEDE ONDER JULLE [WEES] NIE”
  • ONS MOET LIEFHÊ “MET DADE EN IN WAARHEID”
  • Jehovah is baie lief vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • “Om nader aan God te kom”, is goed vir ons!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 April bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 16

LIED 87 Kom! Word verkwik

Om nader aan mekaar te kom, is goed vir ons!

“Kyk! Hoe goed en hoe aangenaam is dit as broers in eenheid bymekaar woon!” – PS. 133:1.

FOKUS

Voorstelle oor hoe om nader aan mekaar te kom en die baie seëninge wat ons kry as gevolg van ons vriendskappe met mede-aanbidders.

1-2. Wat is een ding wat vir Jehovah belangrik is, en wat wil hy hê moet ons doen?

MIN dinge is vir Jehovah belangriker as die manier hoe ons ander mense behandel. Jesus het ons geleer dat ons ons naaste moet liefhê soos ons onsself liefhet (Matt. 22:​37-39). Dit sluit in dat ons liefdevol moet wees, selfs teenoor dié wat nie dieselfde dinge as ons glo nie. Wanneer ons sulke liefde betoon, volg ons Jehovah God na, wat “sy son [laat] opkom oor die goddeloses en die goeies, en . . . dit [laat] reën op die regverdiges en die onregverdiges”. – Matt. 5:45.

2 Al is Jehovah lief vir alle mense, is hy veral lief vir dié wat doen wat reg is (Joh. 14:21). Hy wil hê dat ons hom moet navolg. Hy spoor ons aan om “intense liefde” vir ons broers en susters te hê en om “hartlike broederliefde” aan hulle te betoon (1 Pet. 4:8; Rom. 12:10). Wanneer ons daaraan dink om sulke liefde aan iemand te betoon, dink ons dalk aan die soort liefde wat ons voel vir ’n geliefde familielid of ’n dierbare vriend.

3. Wat moet ons omtrent liefde onthou?

3 Liefde, soos ’n huisplant, het tyd en aandag nodig sodat dit sal groei. Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Hou aan om broederlike liefde te betoon” (Heb. 13:1). Jehovah wil hê dat ons moet aanhou om ons liefde vir ander te versterk. Hierdie artikel sal bespreek hoekom ons nader aan ons broers en susters moet kom en hoe ons kan aanhou om dit te doen.

HOEKOM ONS NADER AAN MEKAAR MOET KOM

4. Volgens Psalm 133:​1, hoe kan ons waardering vir ons verenigde broederskap behou? (Sien ook prente.)

4 Lees Psalm 133:1. Ons stem saam met die psalmis wat geskryf het dat ware vriendskap met dié wat Jehovah liefhet, “goed” en “aangenaam” is. Maar net soos iemand ’n pragtige boom wat hy elke dag sien, as vanselfsprekend kan aanvaar, kan ons die prag van ons Christelike eenheid as vanselfsprekend aanvaar. Ons sien ons broers en susters dikwels, dalk ’n hele paar keer ’n week. Hoe kan ons waardering vir hulle behou? Ons liefde vir ons broers en susters sal groei as ons tyd maak om te dink aan hoe kosbaar elkeen vir die gemeente en vir ons is.

Collage: 1. ’n Suster bewonder ’n pragtige boom. 2. Later gee sy ’n ander suster ’n drukkie by ’n streekbyeenkoms. Ander by die byeenkoms is gelukkig en praat met mekaar.

Moet nooit die prag van ons Christelike eenheid as vanselfsprekend aanvaar nie (Sien paragraaf 4)


5. Watter uitwerking kan ons liefdevolle broederskap op ander hê?

5 Party wat ’n vergadering vir die eerste keer bywoon, word diep beïndruk deur die liefde wat ons vir mekaar het. Hulle kom dalk tot die gevolgtrekking dat hulle die waarheid gevind het net omdat hulle hierdie liefde sien. Jesus het gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Joh. 13:35). Kyk na die ondervinding van Chaithra, ’n universiteitstudent wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het. Sy het ’n uitnodiging aanvaar om ’n streekbyeenkoms by te woon. Nadat sy die eerste dag in persoon bygewoon het, het sy vir haar Bybelonderrigter gesê: “My ouers het my nog nooit drukkies gegee nie. Maar by julle byeenkoms het ek in net een dag 52 drukkies gekry! Ek het Jehovah se liefde deur hierdie geestelike familie gevoel. Ek wil deel van daardie familie wees.” Chaithra het aangehou om vordering te maak en is in 2024 gedoop. Ja, wanneer nuwes ons goeie werke sien, insluitende die liefde wat ons vir mekaar het, word hulle dikwels beweeg om Jehovah te dien. – Matt. 5:16.

6. Hoe kan dit ons beskerm wanneer ons nader aan ons broers en susters kom?

6 Om nader aan ons broers en susters te kom, kan ons beskerm. Paulus het vir mede-Christene gesê: “Hou aan om mekaar elke dag aan te moedig . . . sodat niemand van julle verhard word omdat hy deur die krag van sonde bedrieg is nie” (Heb. 3:13). As ons so mismoedig word dat ons voete begin afdwaal van die pad van regverdigheid kan Jehovah ’n medegelowige wat dit raaksien, beweeg om ons die hulp te gee wat ons nodig het (Ps. 73:​2, 17, 23). Sulke aanmoediging is beslis goed vir ons.

7. Wat is die verband tussen liefde en eenheid? (Kolossense 3:​13, 14)

7 Ons is deel van ’n groep mense wat hard werk om liefde aan mekaar te betoon, en daarom geniet ons baie seëninge (1 Joh. 4:11). Byvoorbeeld, liefde motiveer ons om aan te hou om “mekaar te verdra”, en dit dra by tot ons Christelike eenheid. (Lees Kolossense 3:​13, 14; Ef. 4:​2-6.) As gevolg daarvan geniet ons ’n liefdevolle atmosfeer by ons vergaderinge wat geen ander groep op die aarde geniet nie.

BETOON EER AAN MEKAAR

8. Hoe help Jehovah ons om verenig te wees met ons broers en susters?

8 Die wêreldwye eenheid wat ons geniet, is ’n wonderwerk. Jehovah maak dit moontlik, al is ons onvolmaak (1 Kor. 12:25). Die Bybel sê dat ons “deur God geleer [word] om mekaar lief te hê” (1 Tess. 4:9). Met ander woorde, Jehovah sê vir ons deur middel van die Bybel presies wat ons moet doen om nader aan mekaar te kom. Ons kan “deur God geleer” word deur sy leringe goed te bestudeer en dit toe te pas (Heb. 4:12; Jak. 1:25). En dit is presies wat Jehovah se Getuies probeer doen.

9. Wat leer Romeine 12:​9-13 ons daaroor om eer aan mekaar te betoon?

9 Hoe leer God se Woord ons om nader aan mekaar te kom? Kyk na wat Paulus hieroor te sê gehad het, soos ons kan sien in Romeine 12:​9-13. (Lees.) Ons moet veral aandag skenk aan die woorde: “Neem die leiding om eer aan mekaar te betoon.” Wat beteken dit? Ons moet die inisiatief neem om “hartlike broederliefde” aan ander te betoon deur vergewensgesind, gasvry en vrygewig te wees, onder andere (Ef. 4:32). Jy hoef nie vir jou broer of suster te wag om nader aan jou te kom nie. Jy kan ‘die leiding daarin neem’ om dit te doen. Dit is gepas dat Jesus gesê het: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – Hand. 20:35.

10. Hoe kan ons wys dat ons ywerig is “om eer aan mekaar te betoon”? (Sien ook prent.)

10 Dit is interessant dat Paulus, onmiddellik nadat hy vir ons gesê het om die leiding daarin te neem om eer aan mekaar te betoon, gesê het dat ons “hardwerkend, nie lui nie” moet wees. Iemand wat hardwerkend is, is ywerig. Wanneer hy ’n taak kry om te doen, doen hy dit deeglik. Spreuke 3:​27, 28 spoor ons aan: “Moenie die goeie terughou van dié wat dit nodig het as dit vir jou moontlik is om te help nie.” So, wanneer ons sien dat iemand hulp nodig het, doen ons wat ons kan om hom te help. Ons huiwer nie, en ons neem nie aan dat iemand anders dit sal doen nie. – 1 Joh. 3:​17, 18.

’n Jong broer op ’n leer maak die blare skoon uit die geut van ’n ouer broer se huis.

Ons moet die inisiatief neem om ons broers en susters te help wat hulp nodig het (Sien paragraaf 10)


11. Wat kan ons help om nader aan mekaar te kom?

11 Nog ’n manier hoe ons eer aan ander kan betoon, is deur vinnig te wees om hulle te vergewe wanneer hulle ons seermaak. Efesiërs 4:26 sê: “Moenie toelaat dat die son ondergaan terwyl julle nog kwaad is nie.” Hoekom nie? As ons dit doen, sou ons “die Duiwel ’n geleentheid gee” soos vers 27 sê. In sy Woord sê Jehovah oor en oor vir ons om mekaar te vergewe. Kolossense 3:13 spoor ons aan: “Hou aan om . . . mekaar vryelik te vergewe.” Om die foute van ander te vergewe, is een van die beste maniere om nader aan hulle te kom. Wanneer ons dit doen, help ons “om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:3). Eenvoudig gestel, vergifnis kan direk bydra tot ons eenheid en vrede.

12. Hoe help Jehovah ons om ander te vergewe?

12 Ja, ons vind dit dalk moeilik om dié te vergewe wat ons seergemaak het. Maar ons kan dit regkry met die hulp van God se gees. Ná die aansporing om ‘hartlike broederliefde teenoor mekaar te betoon’ en om ‘hardwerkend te wees’, spoor die Bybel ons aan: “Gloei van die gees.” Iemand wat “gloei”, is vol ywer en entoesiasme as gevolg van die heilige gees. So God se gees kan ons help om hartlike broederliefde te betoon en om mekaar vryelik te vergewe. Daarom smeek ons Jehovah opreg om ons te help. – Luk. 11:13.

DAAR MOENIE “ENIGE VERDEELDHEDE ONDER JULLE [WEES] NIE”

13. Wat kan verdeeldhede onder ons veroorsaak?

13 Die gemeente bestaan uit “alle soorte mense” uit ’n verskeidenheid agtergronde (1 Tim. 2:​3, 4). As ons nie versigtig is nie, kan hierdie verskille verdeeldhede veroorsaak wanneer dit kom by persoonlike keuses, soos ons kleredrag en voorkoms, gesondheidsorg of vermaak (Rom. 14:4; 1 Kor. 1:10). Omdat God ons geleer het om mekaar lief te hê, moet ons versigtig wees om nie daarop aan te dring dat ons persoonlike keuses beter is as dié van ander nie. – Fil. 2:3.

14. Hoe moet ons altyd teenoor ander probeer wees, en hoekom?

14 Ons kan ook verdeeldhede in die gemeente voorkom deur ons bes te probeer om ten alle tye opbouend en aanmoedigend teenoor ander te wees (1 Tess. 5:11). In onlangse tye het ’n aantal mense wat onbedrywig was of wat uit die gemeente verwyder is, teruggekeer. Ons verwelkom hulle liefdevol! (2 Kor. 2:8). Let op wat met een suster gebeur het wat teruggegaan het na die Koninkryksaal nadat sy tien jaar lank onbedrywig was. Sy het gesê: “Almal het met my geglimlag en my hand geskud” (Hand. 3:19). Hoe het hierdie eenvoudige dade van liefde haar geraak? Sy sê: “Dit het my laat voel asof Jehovah se hand besig is om my terug te lei na geluk.” As ons opbouend is teenoor almal kan ons deur Christus gebruik word om dié “wat uitgeput is en ’n swaar las dra,” aan te moedig. – Matt. 11:​28, 29.

15. Wat is nog ’n manier hoe ons eenheid kan bevorder? (Sien ook prent.)

15 Nog ’n manier hoe ons eenheid kan bevorder, is deur middel van ons woorde. Job 12:11 sê: “Toets die oor nie woorde soos die tong kos proe nie?” Net soos ’n goeie kok altyd sy kos sal proe om seker te maak dat dit lekker is voordat hy dit aan ander bedien, moet ons mooi dink oor wat ons gaan sê voordat ons dit sê (Ps. 141:3). Ons doel moet altyd wees om seker te maak dat wat ons gaan sê, opbouend, aanmoedigend en ‘voordelig is vir dié wat dit hoor’. – Ef. 4:29.

’n Broer proe wat hy gekook het voordat hy dit vir sy gaste bedien.

Dink oor wat jy gaan sê voordat jy dit sê (Sien paragraaf 15)


16. Wie veral moet daarin belangstel om op ’n aanmoedigende manier met ander te praat?

16 Getroude mans en ouers veral moet seker maak dat hulle op ’n manier praat wat aanmoedigend is (Kol. 3:​19, 21; Tit. 2:4). Ouermanne moet ook ’n bron van aanmoediging en vertroosting wees as herders van Jehovah se kudde (Jes. 32:​1, 2; Gal. 6:1). ’n Bybelspreuk herinner ons: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” – Spr. 15:23.

ONS MOET LIEFHÊ “MET DADE EN IN WAARHEID”

17. Hoe kan ons seker maak dat ons liefde vir ons broers en susters opreg is?

17 Die apostel Johannes moedig ons aan om lief te hê, “nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:18). Ons wil hê dat ons liefde vir ons broers en susters uit die hart moet kom. Hoe kan ons dit regkry? Hoe meer tyd ons met ons broers en susters deurbring, hoe nader sal ons aan mekaar kom en hoe sterker sal ons liefde vir mekaar wees. So skep geleenthede om tyd met ander deur te bring – by die vergaderinge en in die bediening. Maak tyd om by ander te gaan kuier. Wanneer ons dit doen, wys ons dat ons “deur God geleer [word] om mekaar lief te hê” (1 Tess. 4:9). En ons sal aanhou om eerstehands te ondervind “hoe goed en hoe aangenaam” dit is “as broers in eenheid bymekaar woon!” – Ps. 133:1.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom is dit goed vir ons om nader aan mekaar te kom?

  • Hoe kan ons die leiding daarin neem om eer te betoon?

  • Hoe kan ons eenheid bevorder?

LIED 90 Bemoedig mekaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel