STUDIEARTIKEL 13
LIED 4 “Jehovah is my Herder”
Jehovah se hand is nooit te kort nie
“Is die hand van Jehovah te kort?” – NUM. 11:23.
FOKUS
Om op Jehovah te vertrou om in ons materiële behoeftes te voorsien en om die vertroue wat ons alreeds het, te versterk.
1. Hoe het Moses gewys dat hy op Jehovah vertrou toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het?
ONDER die voorbeelde van geloof wat in die boek Hebreërs genoem word, staan Moses uit (Heb. 3:2-5; 11:23-25). Hy het gewys dat hy geloof het toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het. Hy het geweier om deur Farao en sy leërmag geïntimideer te word. Hy het op Jehovah vertrou en die volk deur die Rooisee gelei, en later in die wildernis in (Heb. 11:27-29). Die meeste Israeliete het vertroue verloor in Jehovah se vermoë om vir hulle te sorg, maar Moses het op sy God bly vertrou. Moses het goeie rede gehad vir sy geloof omdat God deur middel van ’n wonderwerk kos en water voorsien het sodat die volk in die droë wildernis kon oorleef.a – Eks. 15:22-25; Ps. 78:23-25.
2. Hoekom het God Moses gevra: “Is die hand van Jehovah te kort”? (Numeri 11:21-23)
2 Maar ten spyte van Moses se sterk geloof het hy, omtrent ’n jaar nadat Jehovah die Israeliete bevry het, getwyfel aan Jehovah se vermoë om vir Sy volk vleis te gee. Moses kon nie verstaan hoe Jehovah genoeg vleis kon voorsien vir die miljoene wat in die verlate wildernis gekamp het nie. Daarom het Jehovah Moses gevra: “Is die hand van Jehovah te kort?” (Lees Numeri 11:21-23.) Hier verwys die uitdrukking “die hand van Jehovah” na God se heilige gees, of sy krag in werking. Jehovah het Moses in werklikheid gevra: ‘Dink jy regtig dat ek nie kan doen wat ek sê ek sal doen nie?’
3. Hoekom moet ons belangstel in Moses en die Israeliete se ondervinding?
3 Het jy al ooit gewonder of Jehovah in jou en jou gesin se materiële behoeftes sal voorsien? Of jy nou het of nie, kom ons ondersoek die ondervinding van Moses en die Israeliete, wat min vertroue gehad het in God se vermoë om vir hulle te sorg. Die Bybelbeginsels wat betrokke is, sal ons help om ons vertroue te versterk dat Jehovah se hand nooit te kort is nie.
LEER BY MOSES EN DIE ISRAELIETE
4. Wat het dalk veroorsaak dat baie begin twyfel het dat Jehovah vir hulle kon sorg?
4 Kyk na die konteks. Die nasie Israel en “’n groot gemengde skare” nie-Israeliete was ’n ruk lank in die groot wildernis terwyl hulle van Egipte na die Beloofde Land gereis het (Eks. 12:38; Deut. 8:15). Die gemengde skare het moeg daarvoor geword om manna te eet, sowel as baie van die Israeliete, wat ook begin kla het (Num. 11:4-6). Die volk het begin verlang na die kos wat hulle in Egipte gehad het. Omdat die volk by Moses gekla het, het hy gedink dat hy vleis vir hulle almal moet vind, maar hy het nie geweet waar hy dit sou kry nie. – Num. 11:13, 14.
5-6. Wat kan ons leer uit die invloed wat die gemengde skare op baie Israeliete gehad het?
5 Die Israeliete is blykbaar beïnvloed deur die ondankbaarheid van die gemengde skare. Ons kan ook beïnvloed word deur die ondankbare gees van ander en ontevrede begin word met wat Jehovah voorsien. Dit kan gebeur as ons verlangend terugkyk na wat ons voorheen gehad het of as ons jaloers raak op wat ander het. Maar ons sal gelukkiger wees as ons leer om tevrede te wees met die dinge wat ons het.
6 Die Israeliete moes onthou het dat God hulle daarvan verseker het dat hulle ’n oorvloed materiële dinge sou geniet wanneer hulle hulle nuwe tuiste bereik het. Daardie belofte sou in die Beloofde Land vervul word, nie terwyl hulle in die wildernis rondgetrek het nie. Net so moet ons, eerder as om te fokus op wat ons nie in hierdie wêreld het nie, fokus op wat Jehovah belowe om ons in die nuwe wêreld te gee. Ons kan ook nadink oor tekste wat ons kan help om ons vertroue in Jehovah te versterk.
7. Hoekom kan ons oortuig wees dat Jehovah se hand nie te kort is nie?
7 Maar jy wonder dalk hoekom God Moses gevra het: “Is die hand van Jehovah te kort?” Jehovah was dalk besig om Moses te help om nie net te dink oor die krag van Sy magtige hand nie, maar ook oor hoe verreikend dit is. God kon vleis in oorvloed vir die Israeliete voorsien, al was hulle in die afgeleë wildernis. Met “’n magtige hand en ’n uitgestrekte arm,” het God sy krag gewys (Ps. 136:11, 12). So wanneer ons ’n moeilike tyd deurmaak, moet ons nie twyfel dat Jehovah se hand ons persoonlik sal bereik nie. – Ps. 138:6, 7.
8. Hoe kan ons dit vermy om dieselfde fout te maak as wat baie in die wildernis gemaak het? (Sien ook prent.)
8 Jehovah het kort daarna vleis voorsien; die volk het ’n oorvloed kwartels gehad. Maar die Israeliete het nie vir God dankie gesê vir hierdie wonderwerk nie. Baie van hulle het eerder baie gierig geword. Hulle het dag en nag gewerk om ’n groot hoeveelheid kwartels bymekaar te maak. Jehovah was woedend vir dié “wat selfsugtige begeertes geopenbaar het”, en hy het hulle gestraf (Num. 11:31-34). Ons kan uit daardie voorbeeld leer. Ons moet versigtig wees dat ons nie gierig begin word nie. Of ons nou ryk of arm is, ons moet dit ’n prioriteit maak om “skatte in die hemel” bymekaar te maak deur ’n sterk vriendskap met Jehovah en Jesus op te bou (Matt. 6:19, 20; Luk. 16:9). Wanneer ons dit doen, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah vir ons sal sorg.
Watter gees het baie in die wildernis geopenbaar, en wat kan ons leer uit wat gebeur het? (Sien paragraaf 8)
9. Waarvan kan ons seker wees wanneer dit kom by God se ondersteuning?
9 Jehovah strek sy hand uit om sy volk vandag te help. Maar dit beteken nie dat ons nooit geldprobleme sal hê of dat ons nooit honger sal wees nie.b Maar Jehovah sal ons nooit verlaat nie. Hy sal ons ondersteun gedurende al ons moeilike tye. Hoe kan ons wys dat ons vertrou dat Jehovah vir ons sal sorg? Kom ons kyk na twee situasies: (1) wanneer ons finansiële probleme het en (2) wanneer ons beplan vir ons toekomstige materiële behoeftes.
WANNEER ONS FINANSIËLE PROBLEME HET
10. Watter finansiële probleme sal ons dalk hê?
10 Soos die einde van hierdie wêreld al hoe nader kom, kan ons verwag dat ekonomiese toestande al hoe erger sal word. Politieke onrus, gewapende konflikte, natuurrampe of nuwe pandemies sal dalk lei tot onverwagse uitgawes of veroorsaak dat ons ons werk, ons besittings of ons huis verloor. Ons sal dalk na ’n nuwe werk moet soek waar ons nou bly of dit moet oorweeg om saam met ons gesin na ’n ander gebied te trek sodat ons vir hulle kan sorg. Wat kan ons help om besluite te maak wat wys dat ons in Jehovah se hand vertrou?
11. Wat kan jou help om finansiële probleme te hanteer? (Lukas 12:29-31)
11 ’n Belangrike en effektiewe stap is om met Jehovah te praat oor jou bekommernisse (Spr. 16:3). Vra hom vir die wysheid wat jy nodig het om goeie besluite te maak en vir ’n kalm hart sodat jy nie “angstig en gespanne” oor jou situasie voel nie. (Lees Lukas 12:29-31.) Hou aan om hom te vra om jou te help om tevrede te wees met die basiese dinge in die lewe (1 Tim. 6:7, 8). Doen navorsing in ons publikasies oor hoe om finansiële probleme suksesvol te hanteer. Baie het baat gevind by die inligting wat op jw.org beskikbaar is in verband met ekonomiese probleme.
12. Watter vrae kan ’n Christen help om die beste besluit vir sy gesin te maak?
12 Party het ’n werk aanvaar wat vereis het dat hulle moes wegtrek van hulle familie af, maar baie het later besef dat dit nie ’n goeie besluit was nie. Voordat jy ’n nuwe werk aanvaar, moet jy nie net dink aan die moontlike finansiële voordele nie, maar ook aan wat dit jou geestelik sal kos (Luk. 14:28). Vra jou af: ‘Watter uitwerking sal dit dalk op my huwelik hê as ek en my maat nie saam is nie? Watter impak sal dit op my Christelike assosiasie en op my bediening hê?’ As jy kinders het, moet jy jou ook hierdie belangrike vraag afvra: ‘Hoe sal ek my kinders grootmaak “in die dissipline en riglyne van Jehovah” as ek nie by hulle is nie?’ (Ef. 6:4). Laat toe dat God se denke jou lei, nie dié van familie of vriende wat nie Bybelbeginsels respekteer nie.c Tony, wat in Wes-Asië bly, het ’n hele paar goeie werksgeleenthede gekry om in die buiteland te werk. Maar nadat hy oor die saak gebid het en dit met sy vrou bespreek het, het hy besluit om nie die geleenthede te aanvaar nie en om eerder hulle gesin se uitgawes te probeer verminder. Vandag sê Tony: “Ek het die voorreg gehad om ’n hele paar mense te help om Jehovah te leer ken, en ons kinders is entoesiasties oor die waarheid. Ons gesin het geleer dat Jehovah vir ons sal sorg solank ons die woorde van Matteus 6:33 toepas.”
WANNEER ONS BEPLAN VIR ONS TOEKOMSTIGE MATERIËLE BEHOEFTES
13. Watter dinge kan ons nou doen om in ons materiële behoeftes te voorsien wanneer ons ouer word?
13 Ons vertroue in Jehovah se hand kan ook getoets word wanneer ons dink aan hoe ons situasie dalk sal wees wanneer ons ouer word. Die Bybel moedig ons aan om hard te werk sodat ons in ons toekomstige materiële behoeftes kan voorsien (Spr. 6:6-11). As ons kan, sal dit goed wees om ’n bietjie geld weg te sit vir die toekoms. Geld bied ’n mate van beskerming (Pred. 7:12). Maar ons moet dit vermy om die najaging van materiële dinge die fokus van ons lewe te maak.
14. Hoekom moet ons Hebreërs 13:5 in gedagte hou wanneer ons vir ons toekomstige finansiële behoeftes beplan?
14 Jesus het gewys hoe dwaas dit is as iemand geld opgaar, maar “nie ryk is teenoor God nie” (Luk. 12:16-21). Niemand weet wat môre sal bring nie (Spr. 23:4, 5; Jak. 4:13-15). Ons ondervind ’n spesifieke uitdaging as navolgers van Christus. Jesus het gesê dat ons gereed moet wees om al ons besittings ‘op te gee’ om sy dissipels te wees (Luk. 14:33). Eerste-eeuse Christene in Judea het so ’n verlies met vreugde aanvaar (Heb. 10:34). In hedendaagse tye moes baie broers hulle finansiële sekuriteit opoffer omdat hulle geweier het om enige politieke party te ondersteun (Op. 13:16, 17). Wat het hulle gehelp om dit te doen? Hulle het absolute vertroue in Jehovah se belofte: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” (Lees Hebreërs 13:5.) Ons doen ons bes om vir ons toekomstige behoeftes te beplan, en as onverwagse dinge met ons gebeur, vertrou ons dat Jehovah ons sal ondersteun.
15. Watter gebalanseerde beskouing moet Christenouers van hulle kinders hê? (Sien ook prent.)
15 In party kulture kry paartjies hoofsaaklik kinders sodat die kinders die ouers finansieel kan ondersteun wanneer hulle ouer word. In ’n sekere sin beskou hierdie paartjies hulle kinders as ’n “aftreeplan”. Die Bybel sê dat ouers in hulle kinders se behoeftes moet voorsien (2 Kor. 12:14). Natuurlik sal ouers dalk praktiese hulp nodig hê wanneer hulle oud word, en baie kinders reël graag dat hulle dit kry (1 Tim. 5:4). Maar Christenouers besef dat hulle baie gelukkiger sal wees wanneer hulle hulle kinders help om knegte van Jehovah te word, eerder as wanneer hulle hulle kinders grootmaak met die doel om later finansieel vir hulle te sorg. – 3 Joh. 4.
Toegewyde Christenpaartjies hou Bybelbeginsels wyslik in gedagte wanneer hulle besluite oor hulle toekoms maak (Sien paragraaf 15)d
16. Hoe kan ouers hulle kinders voorberei om hulleself finansieel te onderhou? (Efesiërs 4:28)
16 Leer jou kinders deur jou voorbeeld om op Jehovah te vertrou terwyl jy hulle help voorberei om hulleself te onderhou. Leer hulle van kleins af hoe belangrik dit is om hard te werk. (Spr. 29:21; lees Efesiërs 4:28.) Terwyl hulle grootword, help hulle om hulle bes op skool te doen. Ouers kan navorsing doen om Bybelbeginsels te vind en hulle kinders te help om te besluit hoe om opvoeding wyslik te gebruik. Dit sal hulle kinders in staat stel om hulleself te onderhou en ’n volle aandeel aan die Christelike bediening te hê.
17. Waarvan kan ons seker wees?
17 Jehovah se lojale knegte kan staatmaak op sy vermoë en sy begeerte om in hulle materiële behoeftes te voorsien. Terwyl ons al hoe nader aan die einde van hierdie wêreld kom, kan ons verwag dat ons vertroue in Jehovah getoets sal word. Maar ongeag wat gebeur, laat ons vasbeslote wees om te vertrou dat Jehovah sy krag sal gebruik om materieel vir ons te sorg. Ons kan daarvan seker wees dat sy magtige hand en sy uitgestrekte arm nooit te kort sal wees om ons te bereik nie.
LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom
a Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van Oktober 2023.
b Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 September 2014.
c Sien die artikel “Niemand kan twee here dien nie” in Die Wagtoring van 15 April 2014.
d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Toegewyde Christenpaartjie bly in kontak met hulle kind, wat saam met haar man dien op ’n Koninkryksaalbouprojek.