Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w24 Julie bl. 14-19
  • Hou aan waak teen versoeking

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan waak teen versoeking
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOU AAN WAAK – OP WATTER GEBIEDE?
  • HOE OM WAAKSAAM TE WEES
  • HOU AAN WAAK
  • DIE SEËNINGE WAT ONS SAL KRY AS ONS AANHOU WAAK
  • Hoe om die geveg teen verkeerde begeertes te wen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Hoe om menslike swakheid te oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe om versoeking te weerstaan
    Ontwaak!—2014
  • Hou aan om Jesus te volg ná jou doop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
w24 Julie bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 29

LIED 121 Ons het selfbeheersing nodig

Hou aan waak teen versoeking

“Hou aan waak en bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie.” – MATT. 26:41.

DOEL

Om ons te help om te sien hoe belangrik dit is om dit te vermy om te sondig sowel as om die stappe te vermy wat daartoe lei.

1-2. (a) Watter waarskuwing het Jesus sy dissipels gegee? (b) Hoekom het die dissipels Jesus verlaat? (Sien ook prente.)

“DIE gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41b).a Met hierdie woorde het Jesus gewys dat hy ons onvolmaakte toestand verstaan. Maar sy woorde het ook ’n waarskuwing ingesluit: Moenie te veel selfvertroue hê nie. Vroeër daardie einste aand het die dissipels vol vertroue gesê dat hulle vasbeslote is om by hulle Meester te bly (Matt. 26:35). Hulle motiewe was goed. Maar hulle het nie besef hoe vinnig hulle vasbeslotenheid onder druk kan verswak nie. Daarom het Jesus hulle gewaarsku: “Hou aan waak en bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie.” – Matt. 26:41a.

2 Ongelukkig het die dissipels nie aanhou waak nie. Toe Jesus gearresteer is, het hulle by hom gebly of het hulle voor die versoeking om te vlug, ingegee? Hulle was onkant gevang, en daarom het die dissipels presies gedoen wat hulle gesê het hulle nooit sou doen nie – hulle het Jesus verlaat. – Matt. 26:56.

Collage: Jesus en sy apostels in die aand in die tuin van Getsemane. 1. Jesus praat met sy apostels. 2. Die apostels slaap. 3. Die apostels hardloop weg terwyl Jesus gearresteer is.

Jesus het vir sy dissipels gesê om versigtig te wees en teen versoeking te waak, maar hulle het hom verlaat (Sien paragraaf 1-2)


3. (a) As ons lojaal aan Jehovah wil bly, hoekom moet ons dit vermy om te veel selfvertroue te hê? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons kan nie bekostig om te veel selfvertroue te hê nie. Ja, ons is vasbeslote om nie enige iets te doen wat Jehovah sal seermaak nie. Maar ons is ook onvolmaak en kan maklik in die versoeking kom om iets verkeerds te doen (Rom. 5:12; 7:​21-23). Ons kan onverwags in ’n situasie beland wat die verkeerde weg baie aanloklik laat lyk. As ons lojaal aan Jehovah en sy Seun wil bly, moet ons Jesus se raad volg om aan te hou waak teen die versoeking om te sondig. Hierdie artikel kan ons help om dit te doen. Eerstens sal ons kyk op watter gebiede ons veral waaksaam moet wees. Dan sal ons bespreek hoe om onsself teen versoeking te beskerm. Laastens sal ons bespreek hoe om aan te hou waak.

HOU AAN WAAK – OP WATTER GEBIEDE?

4-5. Hoekom moet ons selfs teen minder ernstige sondes waak?

4 Selfs sondes wat minder ernstig is, kan ons verhouding met Jehovah verswak. En dit kan tot sondes lei wat ernstiger is.

5 Ons almal kom in die versoeking om te sondig. Maar ons elkeen het verskillende swakhede, of dit nou is om ernstig te sondig, om jou skuldig te maak aan die een of ander vorm van onrein gedrag of om soos die wêreld te begin dink. Byvoorbeeld, een persoon veg dalk teen die versoeking om seksueel onsedelik te wees. ’n Ander persoon het dalk ’n sterk begeerte om onrein dinge te doen, soos om te masturbeer of om na pornografie te kyk. En ’n ander persoon sukkel dalk met mensevrees, onafhanklike denke, ’n vinnige humeur of iets anders. Soos Jakobus sê “word [elkeen] getoets wanneer hy deur sy eie begeerte gelok en verlei word”. – Jak. 1:14.

6. Waaroor moet ons eerlik wees?

6 Weet jy op watter gebiede jy die maklikste versoek word? Dit hou niks goeds vir ons in om onsself te bedrieg deur ons swakhede te ontken of te dink dat ons te sterk is om iets verkeerds te doen nie (1 Joh. 1:8). Onthou, Paulus het gesê dat selfs dié “wat geestelik volwasse is,” dalk voor versoeking sal ingee as hulle nie aanhou waak nie (Gal. 6:1). Ons moet eerlik met onsself wees en erken op watter gebiede ons nie sterk is nie. – 2 Kor. 13:5.

7. Waaraan moet ons spesiale aandag gee? Gee ’n voorbeeld.

7 Wat moet ons doen sodra ons daardie gebiede geïdentifiseer het waarop ons die maklikste versoek word? Ons moet ons vermoë om versoeking te weerstaan, versterk! Dink hieraan: In Bybeltye was die poorte die swakste deel van die stadsmuur. Daarom het die poorte die meeste wagte gehad. Net so moet ons spesiale aandag gee aan enige gebiede waar ons weet ons veral swak is. – 1 Kor. 9:27.

HOE OM WAAKSAAM TE WEES

8-9. Hoe kon die jong man in Spreuke hoofstuk 7 dit vermy het om ernstig te sondig? (Spreuke 7:​8, 9, 13, 14, 21)

8 Hoe kan ons waaksaam wees? Dink aan wat ons kan leer by die jong man wat in Spreuke hoofstuk 7 bespreek word. Hy het seksuele onsedelikheid met ’n onsedelike vrou gepleeg. Vers 22 sê vir ons dat die jong man “skielik” agter haar aangeloop het. Maar soos die vorige verse wys, het hy eers ’n hele paar dinge gedoen wat geleidelik daartoe gelei het dat hy sondig.

9 Wat het daartoe gelei dat hy sondig? Eerstens, hy het in die aand “in die straat geloop, en toe . . . by [die onsedelike vrou se] hoek” gekom. Hy het toe in die rigting van haar huis gestap. (Lees Spreuke 7:​8, 9.) Toe het hy die vrou gesien, maar hy het nie omgedraai nie. Hy het eerder toegelaat dat sy hom soen en geluister terwyl sy gepraat het van die vredeoffers wat sy gebring het, dalk omdat sy hom wou laat dink dat sy nie ’n slegte mens is nie. (Lees Spreuke 7:​13, 14, 21.) As die jong man die gevare vermy het wat daartoe gelei het dat hy sondig, sou hy homself beskerm het teen die versoekings en teen die sonde.

10. Hoe kan iemand vandag dieselfde fout as die jong man maak?

10 Salomo se verslag wys wat met enige aanbidder van Jehovah kan gebeur. Hy sondig dalk ernstig en voel later dat alles “skielik” gebeur het. Of hy sê dalk: “Dit het net gebeur.” En tog, as hy nadink oor wat eintlik gebeur het, sal hy heel moontlik besef dat hy ’n paar onwyse besluite geneem het wat tot sy sonde gelei het. Dit het dalk slegte assosiasie ingesluit, sowel as skadelike vermaak, of hy het dalk plekke besoek wat nie goed is vir ’n Christen nie – of dit nou in persoon of aanlyn is. Dalk het hy ook opgehou om te bid, om die Bybel te lees, om vergaderinge by te woon of om aan die bediening deel te neem. Soos die jong man in Spreuke het hy dalk toe nie so “skielik” gesondig nie.

11. Wat moet ons vermy sodat ons nie sondig nie?

11 Wat is die les vir ons? Ons moenie net die sonde vermy nie, maar ook die dinge wat tot sonde lei. Salomo maak daardie einste punt nadat hy vertel het wat met die jong man en die onsedelike vrou gebeur het. Hy praat van die vrou en sê: “Bly weg van haar paaie” (Spr. 7:25). Hy sê ook van so ’n slegte vrou: “Bly ver weg van haar. Moenie naby die ingang van haar huis kom nie” (Spr. 5:​3, 8). Ja, ons beskerm onsself teen sonde deur ver weg te bly van die omstandighede wat daartoe lei.b Dit kan insluit dat ons sekere situasies vermy, of dinge wat nie vir Christene oor die algemeen verkeerd is nie, maar wat daarvoor bekend is dat dit ons in versoeking lei. – Matt. 5:​29, 30.

12. Watter vaste besluit het Job geneem, en hoe sou dit hom help om versoeking te weerstaan? (Job 31:1)

12 Om situasies te vermy wat tot sonde lei, sal ons ’n vaste besluit moet neem. Dit is wat Job gedoen het. Hy “het ’n verbond met [sy] oë gemaak” om nooit met onsedelike begeertes na ander vrouens te kyk nie. (Lees Job 31:1.) Deur by daardie besluit te bly, sou hom help om nooit die gevaar te loop om egbreuk te pleeg nie. Ons kan ook ’n vaste besluit neem om enige iets te vermy wat heel moontlik tot versoeking kan lei.

13. Hoekom moet ons ons denke beskerm? (Sien ook prente.)

13 Ons moet ook ons denke beskerm (Eks. 20:17). Party glo dat daar niks mee verkeerd is om oor ongepaste begeertes te fantaseer nie solank ’n mens nie daarop reageer nie. Maar dit is verkeerd om so te dink. Wanneer iemand die heeltyd aan ’n verkeerde begeerte dink, maak hy daardie begeerte sterker. In ’n sin skep hy ’n versoeking wat hy nou sal moet weerstaan. Ons sal natuurlik soms verkeerde gedagtes kry. Dit is belangrik om hierdie gedagtes onmiddellik te verwerp en dit met goeies te vervang. Wanneer ons dit doen, keer ons dat verkeerde gedagtes ’n kragtige begeerte word wat moeilik is om te weerstaan en wat dalk selfs daartoe sal lei dat ons ernstig sondig. – Fil. 4:8; Kol. 3:2; Jak. 1:​13-15.

Collage: 1. ’n Broer kyk TV in die aand. 2. Hy kyk skelmpies na ’n vrou saam met wie hy werk. 3. Hy en die vrou drink saam by ’n kroeg.

Ons moet enige iets vermy wat heel moontlik tot versoeking sal lei (Sien paragraaf 13)


14. Wat kan ons nog help om teen versoeking te waak?

14 Wat kan ons nog doen om teen versoeking te waak? Ons moet heeltemal oortuig wees dat ons altyd daarby sal baat vind as ons Jehovah se wette gehoorsaam. Ons sal dalk soms sukkel om ons gedagtes en begeertes in ooreenstemming te bring met wat God goedkeur, maar die innerlike vrede wat ons sal ondervind, sal beslis die moeite werd wees.

15. Hoe sal dit ons help om teen versoeking te waak as ons die regte begeertes ontwikkel?

15 Ons moet die regte begeertes ontwikkel. As ons leer om te “haat wat sleg is” en om “lief [te wees] vir wat goed is”, sal ons selfs meer vasbeslote word om situasies te vermy wat tot sonde lei (Amos 5:15). Die regte begeertes sal ons ook help om versoeking te weerstaan wanneer ons skielik in ’n situasie is wat ons nie verwag het of kon voorkom het nie.

16. Hoe kan geestelike aktiwiteite ons help om aan te hou waak? (Sien ook prente.)

16 Hoe kan ons die regte begeertes ontwikkel? Ons moet so besig as moontlik bly met geestelike aktiwiteite. Wanneer ons by Christelike vergaderinge of in die bediening is, kom ons nie maklik in die versoeking om iets verkeerds te doen nie. Ons versterk eerder ons begeerte om Jehovah gelukkig te maak (Matt. 28:​19, 20; Heb. 10:​24, 25). As ons God se Woord lees en studeer en daaroor nadink, versterk ons ons liefde vir wat goed is en ons haat vir wat sleg is (Jos. 1:8; Ps. 1:​2, 3; 119:​97, 101). Onthou, Jesus het vir sy dissipels gesê: “Bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41). Wanneer ons tyd met ons hemelse Vader in gebed spandeer, gee ons hom die geleentheid om ons te help en versterk ons ons vasbeslotenheid om hom gelukkig te maak. – Jak. 4:8.

’n Goeie geestelike roetine versterk ons om versoekings te weerstaan (Sien paragraaf 16)c


HOU AAN WAAK

17. Met watter swakheid het Petrus meer as een keer gesukkel?

17 Ons kan heel moontlik party van ons swakhede heeltemal oorkom. Maar ons vind dalk dat ons sukkel om ander swakhede te oorkom. Kyk na die voorbeeld van die apostel Petrus. Hy het voor mensevrees ingegee toe hy drie keer gesê het dat hy Jesus nie ken nie (Matt. 26:​69-75). Dit het gelyk asof Petrus daardie vrees oorkom het toe hy ’n moedige getuienis voor die Sanhedrin gegee het (Hand. 5:​27-29). Maar ’n paar jaar later het hy tydelik opgehou om saam met nie-Joodse Christene te eet “omdat hy bang was vir dié wat besny is” (Gal. 2:​11, 12). Petrus se vrees het teruggekom. Dalk het hy dit nooit heeltemal oorkom nie.

18. Wat kan gebeur wanneer dit by party swakhede kom?

18 Ons kan in ’n soortgelyke situasie wees. Hoe? ’n Swakheid wat ons gedink het ons oorkom het, kan dalk terugkeer om ons weer te versoek. Byvoorbeeld, een broer erken: “Ek het pornografie tien jaar lank weerstaan en myself oortuig dat my probleem verby is. Maar die verslawing het diep binne-in my gelê en wag vir die regte omstandighede om weer sy lelike kop uit te steek.” Maar hy het nie opgegee nie. Hy het besef dat hy elke dag hard sal moet probeer om hierdie versoeking te weerstaan – dalk vir die res van sy lewe in hierdie wêreld. Hy probeer selfs harder om ver van pornografie af te bly, en sy vrou en die ouermanne help hom baie.

19. Hoe kan ons ’n swakheid waarmee ons sukkel, weerstaan?

19 Hoe kan ons ’n swakheid waarmee ons sukkel, weerstaan sodat ons nie daarop reageer nie? Deur Jesus se raad in verband met versoeking te gehoorsaam: “Hou aan waak.” Selfs gedurende tye dat jy sterk voel, moet jy aanhou om situasies te vermy wat tot versoeking kan lei (1 Kor. 10:12). Hou aan om die dinge te doen wat jou gehelp het om suksesvol te wees. Spreuke 28:14 sê: “Gelukkig is die man wat altyd waaksaam is.” – 2 Pet. 3:14.

DIE SEËNINGE WAT ONS SAL KRY AS ONS AANHOU WAAK

20-21. (a) Watter seëninge sal ons geniet as ons aanhou waak teen versoeking? (b) Wat sal Jehovah vir ons doen as ons ons deel doen? (2 Korintiërs 4:7)

20 Ons kan seker wees dat dit die moeite werd is om aan te hou waak teen versoeking. Wanneer ons sondig, sal ons dit dalk vir “’n kort tydjie . . . geniet,” maar om volgens Jehovah se standaarde te lewe, sal ons baie gelukkiger maak (Heb. 11:25; Ps. 19:8). Dit is omdat ons gemaak is om volgens sy weë te lewe (Gen. 1:27). As ons dit doen, sal ons ’n skoon gewete hê en die geleentheid kry om vir ewig te lewe. – 1 Tim. 6:12; 2 Tim. 1:3; Jud. 20, 21.

21 Ja, “die vlees is swak”. Maar dit beteken nie dat ons hulpeloos is nie. Jehovah staan gereed om ons die nodige krag te gee. (Lees 2 Korintiërs 4:7.) Maar let op dat God die krag gee wat bo die normale is. Die normale krag – die moeite wat ons elke dag insit om teen versoeking te waak – is ons verantwoordelikheid. As ons ons deel doen, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons ekstra krag sal gee wanneer ons hom in gebed daarvoor vra (1 Kor. 10:13). Ja, met Jehovah se hulp kan ons aanhou waak teen versoeking.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Op watter gebiede moet ons aanhou waak teen versoeking?

  • Hoe kan ons teen versoeking waak?

  • Hoekom moet ons aanhou waak?

LIED 47 Bid elke dag tot Jehovah

a WAT DIT BETEKEN: “Die gees” in Matteus 26:41 is die dryfkrag in ons wat veroorsaak dat ons ’n sekere manier voel of op ’n sekere manier optree. “Die vlees” is ons onvolmaakte sondige toestand. So ons het dalk die beste bedoelings om te doen wat reg is, maar as ons nie versigtig is nie kan ons voor die versoeking ingee om iets te doen wat volgens die Bybel verkeerd is.

b Iemand wat ernstig gesondig het, kan hulp vind in die Geniet die lewe vir ewig!-boek, les 57 punt 1-3 en in die artikel “‘Kyk reguit vorentoe’ na die toekoms” in Die Wagtoring, November 2020, bl. 27-29, par. 12-17.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer lees die dagteks in die oggend, lees die Bybel gedurende sy middagete en woon die vergadering in die week in die aand by.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel