Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w22 Augustus bl. 26-31
  • Jehovah se volk is lief vir regverdigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se volk is lief vir regverdigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT IS REGVERDIGHEID?
  • VERSTERK JOU LIEFDE VIR JEHOVAH SE STANDAARDE
  • Jy moet regverdigheid met jou hele hart liefhê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Waarom geregtigheid najaag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hou aan om eers “sy regverdigheid” te soek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Skep behae in Jehovah se regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
w22 Augustus bl. 26-31

STUDIEARTIKEL 36

Jehovah se volk is lief vir regverdigheid

“Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid.” – MATT. 5:6.

LIED 9 Jehovah is ons Koning!

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Hoe was Josef getoets, en hoe het hy gereageer?

JAKOB se seun Josef het voor ’n moeilike toets te staan gekom. “Kom slaap by my,” het ’n vrou vir hom gesê. Sy was sy meester, Potifar, se vrou. Josef het geweier om dit te doen. Vandag wonder iemand dalk: ‘Hoekom het Josef geweier om by haar te slaap?’ Potifar was weg. En Josef was ’n slaaf in hulle huis; hierdie vrou kon sekerlik sy lewe baie moeilik gemaak het as hy dit nie gedoen het nie. Maar Josef het aanhou weier, al het sy aanhoudend druk op hom geplaas om by haar te slaap. Hoekom? Hy het gesê: “Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” – Gen. 39:7-12.

2. Hoe het Josef geweet dat egbreuk ’n sonde teen God is?

2 Hoe het Josef geweet dat sy God egbreuk as “’n slegte ding” beskou? Die Wet van Moses, wat duidelik gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”, sou eers tweehonderd jaar later geskryf word (Eks. 20:14). Maar Josef het Jehovah goed genoeg geken om te weet hoe Hy oor egbreuk voel. Byvoorbeeld, Josef het sekerlik geweet dat Jehovah die huwelik ontwerp het om net tussen een man en een vrou te wees. En hy sou gehoor het hoe Jehovah by twee geleenthede ingegryp het om sy oumagrootjie Sara te beskerm sodat sy aan haar man getrou kon bly. God het op ’n soortgelyke manier ingegryp om Isak se vrou, Rebekka, te beskerm (Gen. 2:24; 12:14-20; 20:2-7; 26:6-11). Terwyl Josef oor hierdie dinge nagedink het, het hy besef wat reg en verkeerd in God se oë is. Omdat Josef lief was vir sy God, was hy ook lief vir Jehovah se standaarde van regverdigheid en was hy vasbeslote om te doen wat Jehovah wou hê hy moes doen.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Is jy lief vir regverdigheid? Natuurlik is jy. Maar ons almal is onvolmaak, en as ons nie versigtig is nie kan die wêreld se beskouing van regverdigheid ons maklik beïnvloed (Jes. 5:20; Rom. 12:2). Daarom gaan ons bespreek wat regverdigheid is en hoe dit ons help as ons dit liefhet. Dan gaan ons drie stappe bespreek wat ons kan help om ons liefde vir Jehovah se standaarde te versterk.

WAT IS REGVERDIGHEID?

4. Watter verkeerde idee het baie mense oor regverdigheid?

4 Wanneer mense aan ’n regverdige mens dink, dink baie dalk aan iemand wat trots is, wat krities is of wat dink dat hy beter as hulle is. Maar God hou glad nie van sulke eienskappe nie. Toe Jesus op aarde was, het hy die godsdiensleiers van sy dag sterk gekritiseer omdat hulle hulle eie standaarde van regverdigheid geskep het (Pred. 7:16; Luk. 16:15). ’n Persoon wat werklik regverdig is, dink nooit dat hy beter as ander is nie.

5. Wat is regverdigheid volgens die Bybel? Gee voorbeelde.

5 Regverdigheid is ’n pragtige eienskap. Eenvoudig gestel, dit beteken om te doen wat reg is in Jehovah God se oë. In die Bybel dra die woorde vir “regverdigheid” die gedagte oor om volgens die hoogste standaarde te lewe – Jehovah se standaarde. Byvoorbeeld, Jehovah het gesê dat handelaars ’n “eerlike maathouer” moes gebruik (Deut. 25:15). Die oorspronklike Hebreeuse woord wat as “eerlike” vertaal is, kan ook as “regverdige” vertaal word. Daarom moet ’n Christen wat regverdig in God se oë wil wees, heeltemal eerlik wees wanneer hy besigheid doen. ’n Regverdige man is ook lief vir geregtigheid – hy haat dit om te sien dat iemand onregverdig behandel word. En ’n persoon wat regtig regverdig is, dink aan hoe Jehovah sy besluite beskou sodat hy Jehovah “in alles bly kan maak”. – Kol. 1:10.

6. Hoekom kan ons Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is, vertrou? (Jesaja 55:8, 9)

6 Die Bybel beskryf Jehovah as die Bron van regverdigheid. Dit is hoekom hy “die woonplek van regverdigheid” genoem word (Jer. 50:7). As die Skepper is Jehovah die enigste een wat die reg het om die standaarde van wat reg en verkeerd is, te stel. Omdat Jehovah perfek is, is sy beskouing van wat reg en verkeerd is ver bo ons beskouing, wat baie keer deur ons onvolmaakthede en sonde beïnvloed word. (Spr. 14:12; lees Jesaja 55:8, 9.) Maar omdat ons na God se beeld geskep is, kan ons volgens sy standaarde van regverdigheid lewe (Gen. 1:27). En ons doen dit met graagte. Ons liefde vir ons Vader motiveer ons om hom na die beste van ons vermoë na te volg. – Ef. 5:1.

7. Hoekom het ons betroubare standaarde nodig? Verduidelik.

7 Ons vind daarby baat as ons gehoorsaam is aan Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is. Kan jy sien hoekom? Stel jou voor wat sou gebeur as elke bank die waarde van geld volgens sy eie standaarde sou vasstel. Of as elke boumaatskappy sy eie standaarde van afmetings sou volg. Dinge sou baie deurmekaar wees. En as mediese personeel nie gehoorsaam sou wees aan spesifieke reëls as hulle mense behandel nie, sou party pasiënte dalk sterf. Betroubare standaarde is beslis ’n beskerming. Net so word ons beskerm deur God se standaarde van wat reg en verkeerd is.

8. Watter seëninge wag op dié wat lief is vir wat reg is?

8 Jehovah seën dié wat probeer om volgens sy standaarde te lewe. Hy belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe” (Ps. 37:29). Kan jy jou indink hoe verenig, vreedsaam en gelukkig mense sal wees wanneer almal volgens Jehovah se standaarde lewe? Jehovah wil hê dat jy daardie soort lewe moet hê. Elkeen van ons het beslis goeie redes om lief te wees vir regverdigheid! Hoe kan ons ons liefde vir hierdie eienskap versterk? Kom ons kyk na drie stappe wat ons kan neem.

VERSTERK JOU LIEFDE VIR JEHOVAH SE STANDAARDE

9. Wat sal ons help om lief te wees vir regverdigheid?

9 Stap 1: Wees lief vir die Persoon wat die standaarde stel. Om lief te wees vir regverdigheid, moet ons ons liefde versterk vir die Een wat die standaarde stel van wat reg en verkeerd is. Hoe liewer ons vir Jehovah is, hoe meer sal ons volgens sy regverdige standaarde wil lewe. Byvoorbeeld, as Adam en Eva lief was vir Jehovah, sou hulle nooit ongehoorsaam aan hom gewees het nie. – Gen. 3:1-6, 16-19.

10. Wat het Abraham gedoen om die manier hoe Jehovah dink, beter te verstaan?

10 Ons wil beslis nie dieselfde fout maak wat Adam en Eva gemaak het nie. As ons nie daardie selfde fout wil maak nie, moet ons aanhou om meer oor Jehovah te leer, sy eienskappe waardeer en probeer verstaan hoe hy dink. As ons dit doen, sal ons liefde vir Jehovah beslis sterker word. Dink aan Abraham. Hy was baie lief vir Jehovah. Selfs wanneer dit vir hom moeilik was om Jehovah se besluite te verstaan, het hy nie daarteen gerebelleer nie. Hy het eerder probeer om Jehovah beter te leer ken. Byvoorbeeld, toe Abraham uitgevind het dat Jehovah Sodom en Gomorra wou vernietig, was hy eers bang dat “die Regter van die hele aarde” die regverdiges saam met die goddeloses sou vernietig. Dit het nie vir Abraham sin gemaak nie, en daarom het hy Jehovah nederig ’n hele paar vrae gevra. Jehovah het hom geduldig geantwoord. Uiteindelik het Abraham besef dat Jehovah die harte van elke mens ondersoek en dat Hy nooit die onskuldige saam met die skuldige straf nie. – Gen. 18:20-32.

11. Hoe het Abraham gewys dat hy Jehovah liefhet en vertrou?

11 Abraham was diep geraak deur die gesprek wat hy met Jehovah gehad het oor die stede Sodom en Gomorra. Hy het beslis liewer vir sy Vader geword en meer respek vir hom gekry, selfs meer as wat hy van tevore gehad het. Jare later was Abraham se vertroue in Jehovah erg getoets. Jehovah het hom gevra om sy geliefde seun Isak te offer. Maar Abraham het sy God nou beter geken, so hierdie keer het hy nie vrae gevra nie. Abraham het net gedoen wat Jehovah hom gevra het. Maar dink net hoe hartverskeurend dit vir hom moes wees terwyl hy vir daardie taak voorberei het! Abraham moes seker diep nagedink het oor wat hy oor Jehovah geleer het. Hy het geweet dat Jehovah nooit iets sou doen wat onregverdig is of wat nie liefdevol is nie. Volgens die apostel Paulus het Abraham geredeneer dat Jehovah sy geliefde seun Isak kon opwek (Heb. 11:17-19). En Jehovah het belowe dat Isak die pa van ’n nasie sou word, en op daardie stadium het Isak geen kinders gehad nie. Abraham was lief vir Jehovah, so hy het vertrou dat sy Vader regverdig sou optree. Sy geloof het hom gemotiveer om gehoorsaam te wees, al was dit moeilik. – Gen. 22:1-12.

12. Hoe kan ons Abraham navolg? (Psalm 73:28)

12 Hoe kan ons Abraham navolg? Soos Abraham moet ons aanhou om oor Jehovah te leer. As ons dit doen, sal ons nader aan hom kom en selfs liewer vir hom word. (Lees Psalm 73:28.) Ons gewete sal opgelei word om God se denke te weerspieël (Heb. 5:14). Dan sal ons nie ingee wanneer iemand ons probeer kry om iets verkeerds te doen nie. Ons sal nie eers daaraan dink om iets te doen wat ons Vader sal seermaak en ons verhouding met hom sal beskadig nie. Maar hoe kan ons nog wys dat ons lief is vir regverdigheid?

13. Hoe kan ons regverdigheid nastreef? (Spreuke 15:9)

13 Stap 2: Probeer om elke dag jou liefde vir regverdigheid te ontwikkel. As ons wil hê dat ’n spier sterker moet word, moet ons hard werk om dit elke dag te oefen. Net so moet ons hard werk om ons liefde vir Jehovah se standaarde van regverdigheid te ontwikkel. Dit is iets wat jy elke dag kan doen. Jehovah is redelik, en hy verwag nooit dat ons meer moet doen as wat ons kan nie (Ps. 103:14). Hy verseker ons dat hy “lief [is] vir die een wat regverdigheid nastreef”. (Lees Spreuke 15:9.) As ons ’n spesifieke doelwit in Jehovah se diens nastreef, werk ons hard om dit te bereik. Dit is dieselfde wanneer ons regverdigheid nastreef. En Jehovah sal ons geduldig help om vordering te maak. – Ps. 84:5, 7.

14. Wat is “die borsplaat van regverdigheid”, en hoekom het ons dit nodig?

14 Jehovah herinner ons op ’n liefdevolle manier dat regverdigheid nie ’n las is nie (1 Joh. 5:3). Dit is eerder ’n beskerming, iets wat ons elke dag nodig het. Dink aan die geestelike wapenrusting wat die apostel Paulus beskryf het (Ef. 6:14-18). Watter gedeelte het die soldaat se hart beskerm? Dit was “die borsplaat van regverdigheid”, wat Jehovah se regverdige standaarde voorstel. Net soos ’n borsplaat die letterlike hart beskerm, beskerm Jehovah se regverdige standaarde jou figuurlike hart, die persoon wat jy innerlik is. Dit is hoekom dit belangrik is dat jy seker moet maak dat jou wapenrusting die borsplaat van regverdigheid insluit! – Spr. 4:23.

15. Hoe kan jy die borsplaat van regverdigheid aantrek?

15 Hoe kan jy die borsplaat van regverdigheid aantrek? Jy kan dit doen deur te dink aan wat God wil hê jy moet doen wanneer jy elke dag besluite maak. Wanneer jy besluit waaroor om te praat, watter musiek om na te luister, watter vermaak om na te kyk of watter boeke om te lees, vra jouself eers af: ‘Watter dinge sou ek in my hart toelaat? Sou Jehovah hierdie dinge goedkeur? Of bevorder dit onsedelikheid, geweld, gierigheid, selfsugtigheid – dinge wat Jehovah as onregverdig sien?’ (Fil. 4:8). As die besluite wat jy maak in ooreenstemming is met Jehovah se wil, sal jy toelaat dat sy regverdige standaarde jou hart beskerm.

’n Suster kyk hoe die branders breek terwyl sy teen sononder langs die strand stap.

Jou regverdigheid kan “soos die golwe van die see” wees (Sien paragraaf 16-17)

16-17. Hoe verseker Jesaja 48:18 ons dat ons vir ewig volgens Jehovah se standaarde kan lewe?

16 Wonder jy ooit of jy dag ná dag, jaar ná jaar, kan aanhou om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe? Kyk na ’n illustrasie wat Jehovah in Jesaja 48:18 gebruik. (Lees.) Jehovah belowe dat ons regverdigheid “soos die golwe van die see” kan wees. Stel jou voor jy staan op die strand en kyk na die golwe van die see wat die een ná die ander aanhoudend breek. Sou jy in daardie rustige atmosfeer wonder of daardie golwe eendag dalk net sou stop? Natuurlik nie! Jy weet dat golwe al duisende jare lank op daardie strand breek, en hulle sal beslis aanhou.

17 Jou regverdigheid kan net soos die golwe van die see wees! Hoe? Wanneer jy ’n besluit moet maak, dink eers aan wat Jehovah sou wou hê jy moet doen. En doen dit dan. Dit maak nie saak hoe moeilik die besluit dalk sal wees nie, jou liefdevolle Vader sal altyd daar wees om jou die krag te gee en om jou te help om aan te hou om elke dag volgens Sy regverdige standaarde te lewe. – Jes. 40:29-31.

18. Hoekom moet ons nie ander volgens ons eie standaarde oordeel nie?

18 Stap 3: Laat Jehovah ander oordeel. Terwyl ons hard probeer om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe, moet ons nie ander oordeel en dink dat ons beter as hulle is nie. In plaas daarvan om neer te sien op ander asof ons die reg het om hulle volgens ons eie standaarde te oordeel, moet ons in gedagte hou dat Jehovah “die Regter van die hele aarde” is (Gen. 18:25). Jehovah het ons nie die reg gegee om ander te oordeel nie. Om die waarheid te sê, Jesus het gesê: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie.” – Matt. 7:1.b

19. Hoe het Josef gewys dat hy Jehovah se oordeel vertrou?

19 Kyk weer na die voorbeeld van die regverdige man Josef. Hy het nie ander geoordeel nie, selfs nie dié wat hom sleg behandel het nie. Josef se eie broers het hom aangerand, hom as ’n slaaf verkoop en hulle pa oortuig dat hy dood was. Jare later was Josef weer saam met sy familie. Josef, wat nou ’n magtige leier was, kon sy broers streng geoordeel het en hulle teruggekry het vir wat hulle gedoen het. Josef se broers was bang dat hy dit dalk sou doen, al was hulle baie jammer oor wat hulle gedoen het. Maar Josef het hulle verseker: “Moenie bang wees nie. Is ek in die plek van God?” (Gen. 37:18-20, 27, 28, 31-35; 50:15-21). Josef het nederig besef dat net Jehovah die reg het om sy broers te oordeel.

20-21. Hoe kan ons dit vermy om te dink dat ons beter as ander is?

20 Soos Josef, besef ons dat net Jehovah die reg het om ander te oordeel. Byvoorbeeld, ons moenie aanneem dat ons weet hoekom ons broers en susters op ’n sekere manier optree nie. Ons kan nie harte lees nie; net “Jehovah kyk na die rede waarom [ons dinge] doen” (Spr. 16:2). Hy is lief vir alle soorte mense van verskillende agtergronde en kulture. En Jehovah moedig ons aan om ons ‘harte wyd oop te maak’ (2 Kor. 6:13). Ons wil lief wees vir al ons broers en susters; ons wil hulle nie oordeel nie.

21 Dit beteken ook dat ons nie mense buite die gemeente oordeel nie (1 Tim. 2:3, 4). Sou jy ooit ’n familielid oordeel wat nie dieselfde dinge glo wat jy glo nie deur te sê: “Hierdie man sal nooit in die waarheid kom nie”? Nee, dit sou beteken dat jy verwaand is en dink dat jy beter as ander is. Jehovah gee nog steeds “alle mense” ’n geleentheid om berou te toon (Hand. 17:30). Hou altyd in gedagte dat Jehovah dié wat dink dat hulle regverdiger as ander is, as onregverdig beskou.

22. Hoekom is jy vasbeslote om lief te wees vir regverdigheid?

22 Mag ons liefde vir Jehovah se standaarde van regverdigheid vreugde bevorder en ander motiveer om nader aan ons en ons God te kom. Mag ons nooit ophou “honger en dors na regverdigheid” nie (Matt. 5:6). Wees verseker dat Jehovah sien dat jy hard probeer om te doen wat reg is en dat hy altyd bly is oor jou vordering. Terwyl hierdie wêreld al hoe onregverdiger word, moet jy nie mismoedig word nie! Onthou altyd: “Jehovah is lief vir die regverdiges.” – Ps. 146:8.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat is regverdigheid?

  • Hoe help dit ons wanneer ons Jehovah se standaarde van regverdigheid toepas?

  • Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah se standaarde van regverdigheid versterk?

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a Dit is moeilik om regverdige mense in hierdie slegte wêreld te vind. Maar vandag is daar miljoene mense wat ’n regverdige weg volg. Jy is natuurlik een van hulle. Jy volg daardie weg omdat jy Jehovah liefhet, en Jehovah is lief vir regverdigheid. Hoe kan ons ons liefde vir hierdie pragtige eienskap versterk? Hierdie artikel sal bespreek wat regverdigheid is en hoe dit ons help as ons dit liefhet. Ons sal ook bespreek watter stappe ons kan neem om ons liefde vir hierdie eienskap te versterk.

b Gemeentelike ouermanne moet soms sake oordeel waarby ernstige sonde en berou betrokke is (1 Kor. 5:11; 6:5; Jak. 5:14, 15). Maar hulle hou nederig in gedagte dat hulle nie harte kan lees nie en dat hulle namens Jehovah oordeel. (Vergelyk 2 Kronieke 19:6.) Hulle doen hulle bes om God se gebalanseerde, genadige standaarde van geregtigheid toe te pas.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel