“Wysheid word deur sy werke geregverdig”
1. Hoe word ons werk deur party beskou?
1 Soms kry ons ’n negatiewe reaksie by huisbewoners wat ons misverstaan of wat verkeerd ingelig is oor Jehovah se Getuies. Hulle beskouing is dalk deur bevooroordeelde mediaberigte beïnvloed. In party plekke is ons al selfs as “’n gevaarlike sekte” bestempel. Hoe moet ons reageer wanneer ons voor sulke kritiek te staan kom?
2. Wat sal ons help om ontmoediging te vermy wanneer ons voor kritiek te staan kom?
2 Behou ’n positiewe gesindheid: Jesus en ander knegte van Jehovah in die eerste eeu is dikwels verkeerd verstaan en gesmaad (Hand. 28:22). Tog het hulle nie toegelaat dat kritiek hulle hulle laat skaam vir hulle bediening nie. Jesus het gesê: “Wysheid word deur sy werke geregverdig” (Matt. 11:18, 19). Hy het aangehou om sy Vader se wil met ywer te doen, vol vertroue dat die waarde van die goeie nuus vir waarheidsoekers duidelik sal wees. Ons kan ontmoediging vermy deur te onthou dat God se eie Seun op ’n soortgelyke manier behandel is.
3. Waarom moet negatiewe berigte en teenstand ons nie verbaas nie?
3 Jesus het gesê dat die wêreld sy volgelinge sal haat net soos dit hom gehaat het (Joh. 15:18-20). Negatiewe berigte en teenstand moet ons dus nie verbaas nie. Trouens, ons moet verwag dat dit algemener sal word namate ons dieper in die laaste dae inbeweeg en Satan se woede toeneem (Op. 12:12). Ons kan ons verbly in hierdie aanduiding dat Satan se wêreld se tyd amper om is.
4. Hoe moet ons antwoord as ons ’n negatiewe reaksie op die goeie nuus kry?
4 Ons antwoord moet aangenaam wees: Wanneer ons ’n negatiewe reaksie kry, moet ons altyd ’n aangename en sagte antwoord gee (Spr. 15:1; Kol. 4:5, 6). As die situasie dit toelaat, kan ons aan ’n opregte huisbewoner verduidelik dat daar baie verkeerde inligting oor Jehovah se Getuies is of hom vra waarom hy voel soos hy voel. Ons sagte antwoord kan maak dat hy bevraagteken wat hy oor Jehovah se Getuies gehoor het en luister wanneer ’n Getuie hom weer besoek. Maar as die huisbewoner baie kwaad is, is dit dalk die beste om ons te verskoon. Ons kan seker wees dat Jehovah ons bediening op prys stel ongeag hoe ander ons beskou.—Jes. 52:7.