Vraebus
◼ Waarom moet goeie oordeel aan die dag gelê word wat die gebruik van ’n telefoonverbinding vir gemeentelike vergaderinge betref?
Baie gemeentes het dit vir persone wat weens siekte of ander onvermydelike omstandighede soms nie gemeentelike vergaderinge by die Koninkryksaal kan bywoon nie, moontlik gemaak om met behulp van ’n telefoonverbinding tuis na die vergadering te luister. Goeie oordeel en sorgvuldige organisering is nodig om te verseker dat hierdie liefdevolle voorsiening gebruik word deur diegene wat dit werklik nodig het. Daarom moet die ouer manne wat toesig hou oor hierdie reëling, dit organiseer en monitor sodat “alles welvoeglik en volgens reëling geskied”.—1 Kor. 14:40.
Ouer manne moet toesien dat voorkeur gegee word aan verkondigers in hulle gemeente wat ’n chroniese siekte het of gestremd is of wat om ander redes aan die huis gebonde is. ’n Verkondiger wat tydelik siek of buite aksie is, of ’n progressiewe Bybelstudent wat huisgebonde is, kan ook baat vind by hierdie voorsiening en by die bywoningsyfer ingesluit word. As daar nie genoeg telefoonlyne is vir dié met ’n definitiewe behoefte nie, kan ander reëlings getref word, soos om hulle van ’n opname van die vergadering te voorsien.
Niks kan natuurlik vergelyk word met die voordele daarvan om ons vergaderinge persoonlik by te woon nie. Wanneer ons saam met ons broers is, lei dit tot “wedersydse aanmoediging” en help dit nuwelinge besef hoe belangrik dit is om vergaderinge by te woon. Wanneer ons teenwoordig is by ons vergaderinge, leer ons baie meer uit demonstrasies, kan die ouer manne ons persoonlik bystaan en ondervind ons eerstehands die hartlike liefde van die broederskap. Die woorde van ’n bejaarde suster wat ’n drukkie by iemand gekry het voordat sy die Koninkryksaal verlaat het, is beslis waar: “Jy kan dít nie oor die telefoon kry nie!”—Rom. 1:11, 12.
Soos Anna “wat nooit van die tempel afwesig was nie”, woon baie van ons bejaarde broers en susters vandag Christelike vergaderinge gereeld by wanneer hulle gesondheid en omstandighede dit toelaat (Luk. 2:36, 37). Hoewel hulle die telefoonverbinding gebruik wanneer nodig, beskou hulle dit nie as ’n gerieflike alternatief om van vergaderinge by die Koninkryksaal weg te bly nie. Mag ons hulle goeie voorbeeld navolg en ons altyd vreugdevol inspan om ons vergaderinge persoonlik by te woon waar ons ons groot God, Jehovah, aanbid.—Ps. 95:1-3, 6; 122:1.