Rooster vir nuwe gemeentelike vergadering
1, 2. Hoe sal die vergaderinge vanaf Januarie 2009 verander?
1 Gedurende die week van 21-27 April 2008 het die wêreldwye broederskap ’n opwindende aankondiging gehoor. “Vanaf 1 Januarie 2009 sal die Gemeentelike Boekstudie op dieselfde tyd as die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering gehou word. Die naam van die Gemeentelike Boekstudie sal na Gemeentelike Bybelstudie verander word.”
2 Rooster vir hierdie weeklikse vergadering: Hierdie vergadering, insluitende die liedere en gebede, sal altesaam 1 uur en 45 minute lank wees. Die vergadering sal met ’n lied en gebed (5 min.) geopen word, gevolg deur die Gemeentelike Bybelstudie (25 min.). Die Teokratiese Bedieningskool (30 min.) sal onmiddellik daarop volg. Dan sal die Diensvergadering (35 min.) met ’n lied (5 min.) begin. Die vergadering sal met ’n lied en gebed (5 min.) afgesluit word. Om jou te help om vir hierdie vergaderinge voor te berei, sal die rooster vir die Gemeentelike Bybelstudie, die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering maandeliks in Ons Koninkryksbediening verskyn.
3. Hoe sal die Gemeentelike Bybelstudie gehou word?
3 Gemeentelike Bybelstudie: Hierdie vergadering sal soos die Wagtoring-studie gehou word. Dit sal nie nodig wees om eers ’n hersiening van die vorige week se materiaal te doen nie. Die vergadering moet eerder net baie kortliks ingelei word. Dan sal daar genoeg tyd wees sodat almal wat teenwoordig is, kort kommentare kan lewer. Die presiderende opsiener sal reël dat daar elke week ’n ander ouer man toegewys word om hierdie vergadering te hou.
4. Hoe sal die Diensvergadering verander?
4 Diensvergadering: Die Diensvergadering sal dieselfde bly, maar die dele sal korter wees. Die aankondigings sal gewoonlik vyf minute duur. Dit behoort lank genoeg te wees vir noodsaaklike aankondigings en om sekere briewe van die takkantoor voor te lees. Aankondigings soos velddiensreëlings, skoonmaakreëlings, rekeningverslae en roetinebriewe van die takkantoor, hoef nie van die verhoog af gelees te word nie, maar sal op die kennisgewingbord geplaas word sodat die broers dit kan lees. Diegene aan wie programdele toegewys is, moet goed voorberei en streng bly by die tydsbepaling en die instruksies wat voorsien word.
5. Wat sal die gemeente se vergaderingrooster tydens die week van die kringopsiener se besoek wees?
5 Die kringopsiener se besoek: Die kringopsiener se weeklikse rooster sal nie verander nie. Op die Dinsdag sal die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering gehou word, gevolg deur ’n lied. Dan sal die kringopsiener ’n toespraak van 30 minute hou. Soos daar tans gedurende die week van sy besoek gedoen word, sal ’n ander aand vir die Gemeentelike Bybelstudie opsygesit word, gevolg deur ’n lied en die kringopsiener se dienstoespraak. Die vergadering sal met ’n lied en gebed afgesluit word.
6. Wat is die rol van die groepopsiener?
6 Velddiensvergaderinge: Groepopsieners sal deur die liggaam van ouer manne toegewys word om na velddiensgroepe om te sien en as herders toesig te hou oor diegene in die groep. Wanneer dit nodig is dat ’n bedieningskneg hierdie rol moet vervul, sal hy die “groepkneg” genoem word.
7. Waarna kan ons uitsien wat ons rooster vir die nuwe gemeentelike vergadering betref?
7 Met die nuwe reëling sal ons die geleentheid hê om ’n leersame, opbouende aand tydens hierdie geestelike feesmaal te geniet. Dit sal ons in staat stel om bekwame predikers en onderrigters te wees, opgelei om ’n produktiewer bediening te hê.—Ef. 4:13, 14; 2 Tim. 3:17.
8. Hoe sal dit ons sowel as ander tot voordeel strek as elkeen van ons voorberei?
8 As ons vir hierdie vergaderinge voorberei, sal dit ons help om duidelik te fokus op die hoofpunte wat gedurende elke vergadering beklemtoon word. Ons sal almal die geleentheid hê om kommentaar te lewer en sodoende by te dra tot aangename wedersydse aanmoediging (Rom. 1:11, 12; Heb. 10:24). Dit behoort ons doelwit te wees om ons ‘vooruitgang duidelik te maak’ deur “die woord van die waarheid reg [te] hanteer”.—1 Tim. 4:15; 2 Tim. 2:15.
9. Wat is ons vasbeslote om te doen, en waarom?
9 Ons is verheug oor hierdie groot verandering in ons gemeentelike vergaderinge. Mag ons almal voortgaan om op die leiding van “die getroue en verstandige slaaf” ag te slaan en na aan ons Groot Herder bly terwyl hy ons voorberei vir die groot “verdrukking” wat nou voor die deur staan.—Matt. 24:21, 45; Heb. 13:20, 21; Op. 7:14.