Ons span ons met graagte in om Jehovah te dien!
1 Die apostel Paulus het hom met graagte “heeltemal uitgestort” sodat hy sy Christelike bediening kon uitvoer (2 Kor. 12:15). Net so werk baie Christene vandag ywerig as pioniers. Ander wat groot gesinsverantwoordelikhede het, sit tyd in hulle besige rooster opsy om elke week aan die bediening deel te neem. Party met ernstige gesondheidsprobleme gebruik hulle beperkte energie om Koninkryksbelange te bevorder. Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien hoe Jehovah se volk, ongeag ouderdom of omstandighede, hulle in Jehovah se diens inspan!
2 Naasteliefde: As ons ons bes doen in Jehovah se diens en sodoende toon dat ons God en ons naaste liefhet, kry ons ’n skoon gewete. Aangesien Paulus nie net die goeie nuus aan ander meegedeel het nie, maar ook sy siel, kon hy met voldoening sê: “Ek roep julle . . . op hierdie dag tot getuies dat ek rein is van die bloed van alle mense” (Hand. 20:24, 26; 1 Tess. 2:8). As ons aan die bediening deelneem in die mate wat ons omstandighede toelaat, sal ons nie bloedskuldig word nie.—Eseg. 3:18-21.
3 As ons hard werk om ander te help, maak dit ons gelukkig (Hand. 20:35). ’n Broer het gesê: “Ja, ek is moeg wanneer ek saans by die huis kom ná ’n dag in Jehovah se diens. Maar ek is gelukkig en ek dank Jehovah omdat hy my vreugde gegee het wat niemand kan wegneem nie.”
4 Liefde vir God: Die belangrikste rede waarom ons ons in Jehovah se diens inspan, is dat dit ons hemelse Vader behaag. Liefde vir God beweeg ons om sy gebooie te bewaar, wat insluit dat ons die predikingswerk doen en dissipels maak (1 Joh. 5:3). Selfs wanneer mense onverskillig is of ons teëstaan, hou ons vreugdevol aan om hard vir Jehovah te werk.
5 Dit is nie nou die tyd om te verslap nie. Ons lewe gedurende die oestyd (Matt. 9:37). ’n Boer werk gewoonlik lang ure gedurende die oestyd, want hy het min tyd om die oes in te samel voordat dit begin bederf. Daar is ook min tyd oor vir die geestelike oeswerk. Mag ons almal die tyd waarin ons lewe, in gedagte hou en aanhou om ons kragtig in die bediening in te span.—Luk. 13:24; 1 Kor. 7:29-31.