Mediese sorg van die hoogste gehalte—Wat is dit?
“Enige pasiënt wat bloedlose behandeling ontvang, ontvang in werklikheid chirurgie van die hoogste gehalte moontlik.” Dit is die woorde van dr. Michael Rose, mediese direkteur en narkotiseur. Watter prosedures en alternatiewe vir oortappings word ingesluit in “bloedlose behandeling”? Dit is belangrik dat jy weet sodat jy ingeligte besluite aangaande mediese behandeling en chirurgie kan maak. Kyk na die video No Blood—Medicine Meets the Challenge. Toets jou begrip ná die tyd met die volgende vrae.—Let wel: Omdat die video kort operasietonele bevat, moet ouers onderskeidingsvermoë aan die dag lê wanneer hulle saam met jong kinders daarna kyk.
(1) Wat is die hoofrede waarom Jehovah se Getuies bloedoortappings weier? (2) Wat wil Jehovah se Getuies hê wanneer dit by mediese sorg kom? (3) Watter basiese reg het pasiënte? (4) Waarom is dit redelik en verantwoordelik om alternatiewe vir oortappings te kies? (5) Watter twee dringende prioriteite het dokters in die geval van ernstige bloedverlies? (6) Wat is die vier beginsels waarop strategieë vir alternatiewe vir oortappings berus? (7) Hoe kan dokters (a) bloedverlies tot die minimum beperk, (b) die verlies van rooibloedselle beperk, (c) bloedproduksie stimuleer en (d) verlore bloed herwin? (8) Beskryf die prosedures wat bekend staan as (a) bloedverdunning (hemodilution) en (b) selherwinning (cell salvage). (9) Waaroor moet jy ingelig wees wanneer dit kom by enige alternatief vir ’n oortapping? (10) Kan ernstige en ingewikkelde operasies sonder die gebruik van bloedoortappings gedoen word? (11) Watter positiewe verwikkeling vind in die mediese gemeenskap plaas?
Aanvaarding van party van die behandelings wat in die video verskyn, is ’n saak waaroor elkeen persoonlik moet besluit in ooreenstemming met sy Bybelopgeleide gewete. Het jy al besluit watter alternatiewe vir oortappings jy persoonlik en vir jou kinders sal aanvaar? Familielede wat nie Getuies is nie, moet ook ten volle ingelig word omtrent jou besluite en die redes daarvoor.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Junie 2004 en 15 Oktober 2000.