Het jy ’n persoonlike gebied?
1. Wat is ’n persoonlike gebied?
1 ’n Persoonlike gebied is een wat aan jou toegewys word. Dit is dalk gerieflik geleë sodat jy vinnig daar kan kom en alleen of saam met ’n ander verkondiger daar kan getuig. Hoewel dit voordelig is om gemeentelike reëlings vir groepgetuieniswerk te ondersteun wanneer dit moontlik is, kan dit help om ’n deeglike getuienis te gee as verkondigers ’n persoonlike gebied het waarin hulle by ander geleenthede kan werk, veral in gemeentes wat baie gebied het.—Hand. 10:42.
2. Wat is party van die voordele om ’n persoonlike gebied te hê?
2 Voordele: Party het verdere voordele geniet deur tydens hulle middagete of direk ná werk in ’n persoonlike gebied naby hulle werksplek te getuig. Ander geniet dit om as ’n gesin ’n uur of wat saam in hulle buurt te werk voor die Gemeentelike Boekstudie. Gevolglik was die herbesoeke en Bybelstudies wat hieruit voortgespruit het, naby, en dit het moeite, tyd en onkoste gespaar. Omdat meer uitgerig kan word in minder tyd, kan dit party dalk help om van tyd tot tyd hulppionierdiens te doen of selfs om as gewone pioniers te begin dien. As ons in ’n persoonlike gebied werk en die huisbewoners leer ken, kan dit ons ook help om hulle vertroue te wen en ons aanbieding by hulle bekommernisse aan te pas, wat ons bediening doeltreffender sal maak.
3. Wat was die ondervinding van een pionier wat ’n persoonlike gebied gekry het?
3 Een pionier wat deur die kringopsiener aangemoedig is om ’n persoonlike gebied te kry, sê: “Ek het hierdie raad aanvaar en het die huisbewoners in my gebied kort voor lank goed leer ken en met hulle bevriend geraak. Ek het die tye van my besoeke verander om hulle te pas. Gevolglik het my herbesoeke vermeerder van 35 tot meer as 80 per maand, en ek het nou sewe tuisbybelstudies.”
4. Hoe kan jy ’n persoonlike gebied kry en daarin werk?
4 Hoe om dit te doen: As jy ’n persoonlike gebied wil vra, moet jy met die gebiedskneg praat. Vra gerus nog ’n verkondiger om saam met jou te werk, en hou ’n rekord van huise waar niemand tuis is nie. Jy moet die gebied binne vier maande probeer dek. As jy dit moeilik vind, kan jy jou Gemeentelike Boekstudieopsiener of ander vra om jou te help. Ná vier maande kan jy die gedekte gebied óf teruggee óf vra om weer daar te werk. Jy moet egter nie dieselfde gebiedskaart ’n onbepaalde tyd lank hou nie, maar dit teruggee sodat ander daarvoor kan vra. As jy in ’n gemeente is wat min gebied het en jy nie ’n persoonlike gebied kan kry nie, kan jy dalk jou boekstudieopsiener vir ’n deel van ’n gebied vra.
5. Wat word vereis sodat ons ons opdrag om te getuig, kan uitvoer?
5 Ons opdrag om die predikingswerk “in die hele bewoonde aarde” te doen, is ’n ontsaglike taak (Matt. 24:14). Dit vereis goeie koördinering. As ons benewens groepgetuieniswerk ook getuieniswerk in ’n persoonlike gebied doen, kan dit ons help om soveel mense moontlik met die goeie nuus te bereik.