Kan jou kind ’n volwasse besluit neem?
1. Watter standpunt het jong Getuies al oor die gebruik van bloed ingeneem? Gee ’n voorbeeld.
1 ’n Volwasse besluit waaroor? Bloedoortappings. Soos die artikel “Wandel soos Jehovah ons geleer het” in Die Wagtoring van 15 Junie 1991 toon, moes kinders van Jehovah se Getuies al ’n volwasse standpunt inneem om te bewys dat hulle begeerte om God se wet oor bloed te gehoorsaam, vir hulle net so belangrik is as vir hulle ouers. Kan dit ook van jou minderjarige kind vereis word?
2. Watter regstandaard het ’n hof toegepas in die geval van ’n minderjarige wat bloedoortappings geweier het, en wat leer Christenouers en hulle minderjarige kinders hieruit?
2 Wat sê die wet? Die Hooggeregshof van Illinois is die hoogste hof in die Verenigde State wat al beslis het oor ’n volwasse minderjarige se reg om bloedoortappings te weier. Die hof het die geval van ’n 17-jarige suster hersien en beslis: “As daar duidelike en oortuigende getuienis is dat die minderjarige volwasse genoeg is om die gevolge van haar optrede te begryp [en] om die oordeel van ’n volwassene aan die dag te lê, gee die regsbeginsel ten opsigte van volwasse minderjariges haar die gemene reg om tot mediese behandeling in te stem of dit te weier.” Die regsbeginsel ten opsigte van volwasse minderjariges word ook in Suid-Afrika erken. Wanneer dokters of amptenare dus wil vasstel of ’n kind volwasse genoeg is om sy eie besluite te neem, sal hulle dalk ’n onderhoud met die pasiënt voer om hom ’n geleentheid te gee om te sê wat sy beswaar teen bloedoortappings is. Die jongmens moet ’n redelike begrip van die erns van sy mediese toestand en die gevolge van sy keuses van behandeling hê en moet duidelik en nadruklik sê wat sy eie godsdiensoortuiging in verband met God se wet oor bloed is.
3. Oor watter vrae moet ouers ernstig nadink, en waarom?
3 Wat sal jou kind sê? Is jou kinders voorbereid om te sê hoe hulle oor hierdie kwessie voel? Glo hulle met hulle hele hart dat dit ’n goddelike bevel is om jou ‘van bloed te onthou’? (Hand. 15:29; 21:25). Kan hulle hulle oortuiging uit die Skrif verduidelik? Sal hulle hulle vaste besluit oor bloed moedig verdedig as dokters meen dat hulle lewe in gevaar is, selfs as hulle ouers nie by hulle is nie? Hoe kan jy jou kinders vir enige onverwagte toets van hulle onkreukbaarheid voorberei, aangesien ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’?—Pred. 9:11; Ef. 6:4.
4, 5. (a) Watter verantwoordelikheid het ouers, en hoe kan hulle dit nakom? (b) Watter voorsienings is beskikbaar om ouers te help?
4 Ouers, wat kan julle doen? Julle het die verantwoordelikheid om julle kinders God se beskouing van bloed te leer (2 Tim. 3:14, 15). Dit word goed verduidelik in die Redenering-boek, bladsye 69-72. Bestudeer dit sorgvuldig saam met jou gesin. Gebruik die deel “As iemand sê—” op bladsye 72-74 en hou oefensessies met jou kinders sodat hulle ondervinding kan opdoen om te verduidelik wat hulle glo en waarom (1 Pet. 3:15). Ander voorsienings waardeur ons oor die bloedkwessie onderrig word, sluit die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? en Die Wagtoring van 15 Junie 2004, bladsye 14-24, in. Die videoprogramme Transfusion-Alternative Health Care—Meeting Patient Needs and Rights en No Blood—Medicine Meets the Challenge, wat nou op die DVD met die titel Transfusion Alternatives—Documentary Series beskikbaar is, gee ook oortuigende inligting oor die redelikheid en doeltreffendheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie. Het jou gesin onlangs na hierdie aanbiedings gekyk en dit bespreek?
5 Help jou kinders om ‘seker te maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is’ in verband met bloed. Dan kan hulle ’n volwasse besluit neem wat Jehovah se seën geniet.—Rom. 12:2.