Toon persoonlike belangstelling—Deur oplettend te wees
1 Niemand is so goed soos Jehovah God en Christus Jesus om mense se spesifieke behoeftes raak te sien en aan hulle hulp te bied nie (2 Kron. 16:9; Mark. 6:34). Wanneer ons uitvind waarin die mense wat ons in ons bediening ontmoet, belangstel en waaroor hulle besorg is, kan ons ons aanbieding van die goeie nuus dienooreenkomstig aanpas.
2 Let op besonderhede: Jesus was oplettend (Mark. 12:41-43; Luk. 19:1-6). Wanneer ons die huisbewoner se deur nader en godsdienstige versierings, slagspreuke op voertuie of speelgoed op die werf opmerk, kan ons ook geleenthede skep om ’n doeltreffende getuienis van die goeie nuus te gee.
3 Iemand se gesigsuitdrukkings en houding kan iets omtrent sy gevoelens openbaar (Spr. 15:13). Miskien het hy weens die dood van ’n geliefde of ’n ander kommerwekkende situasie vertroosting nodig. Hy sal dit moontlik waardeer as ons vir hom ’n paar gepaste tekste lees (Spr. 16:24). Kom die huisbewoner haastig by die deur uit of het sy ’n huilende baba in haar arms? Dan is dit moontlik beter om te reël om op ’n ander tyd terug te keer. As ons bedagsaam is en “meegevoel betoon”, beweeg ons die persoon dalk om te luister wanneer ons weer kom.—1 Pet. 3:8.
4 Pas jou aanbieding aan: Die apostel Paulus het opgelet dat die stad Atene ’n altaar het wat “Aan ’n Onbekende God” gewy is. Dit het ’n uitwerking gehad op hoe hy die goeie nuus aangebied het, want hy het gesê: “Waaraan julle . . . onwetend godvrugtige toegewydheid betoon, dít verkondig ek aan julle.” Paulus se taktvolle benadering het party van die aanwesiges beweeg om na die Koninkryksboodskap te luister en gelowiges te word.—Hand. 17:23, 34.
5 As ons oplettend is, help dit ons ook om uit te vind waarin iemand belangstel sodat ons ons benadering dienooreenkomstig kan aanpas. Gebruik vrae wat die huisbewoner sal aanspoor om sy mening uit te spreek. Dink aan tekste wat gebruik kan word om sy belangstelling te wek (Spr. 20:5). As ons oplettend is en opregte persoonlike belangstelling in ander toon, sal dit ons help om die goeie nuus op bekwame wyse bekend te maak.