Uitbreiding by die Suid-Afrikaanse takkantoor
1 Die Suid-Afrikaanse takkantoor het tans die voorreg om vir baie lande in Afrika tydskrifte te druk. Benewens ons eie veld, wat Botswana, Lesotho, Namibië, St. Helena en Swaziland insluit, druk ons ook tydskrifte en brosjures vir Angola, Burundi, Kongo, Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe. Ons druk tydskrifte in 25 tale.
2 Die Bethelgesin was baie bly om te hoor dat die Bestuursliggaam ingestem het om sewe nuwe hoëspoed-MAN-Lithoman-rolperse vir takkantore in verskillende lande te koop. Die Suid-Afrikaanse takkantoor sal een van hierdie perse ontvang. Die nuwe pers sal tot 90 000 tydskrifte en boekkaterns (afsonderlik gedrukte dele van ’n boek) per uur druk. Dit sal ons 24 jaar oue TKS-pers vervang, wat gebruik is om etlike miljoene tydskrifte en brosjures teen 19 000 per uur te druk. Aangesien die nuwe MAN-pers baie groter en swaarder is as die perse wat ons nou het, sal dit nie in die huidige gebou pas nie.
3 Daarom moet ons die drukkery vergroot. Met die goedkeuring van die Bestuursliggaam het ons begin met die uitbreiding van die drukkery wat 8 000 vierkante meter sal beslaan. En aangesien ons die nuwe pers in April 2004 uit Duitsland verwag, moet die nuwe uitbreiding teen Februarie volgende jaar voltooi wees. Om dit in so ’n kort tydjie reg te kry, gebruik ons boukontrakteurs van buite. Een boukontrakteur doen die grondwerk ter voorbereiding, en ’n ander sal die gebou oprig. In hierdie groot gebou sal nie net die nuwe MAN-drukpers wees nie, maar ook die Versendingsafdelings, aangesien hulle meer werkruimte nodig het.
4 Omdat die drukwerk so vinnig gedoen sal word, kan ons nie meer tydskrifte met die hand afkant, tel en stapel nie. Nuwe outomatiese masjinerie sal geïnstalleer word om hierdie take te verrig. Binne ’n paar minute sal die tydskrifte gedruk, gevou, afgekant, gestapel, getel, van ’n etiket voorsien, in krimpplastiek verpak en op ’n laaibord geplaas word om per vragmotor by ander takkantore of by gemeentes in Suid-Afrika afgelewer te word. Die tydskrifte sal net gedurende hierdie laaste stap hanteer word. Danksy moderne tegnologie sal minder personeellede en tyd nodig wees. Aangesien die werk vinniger gedoen word, kan meer in ’n bepaalde tyd uitgerig word. Die rolle papier wat gebruik sal word, sal twee keer so breed soos ons huidige papier wees en sal in net minder as ’n halfuur opgebruik word.
5 Die MAN-Lithoman-pers is die heel nuutste hoëgehaltemasjien wat beskikbaar is om in ons behoeftes te voorsien. Om die pers van 240 ton se gewig te dra, moet uitgrawings gemaak word sodat ’n spesiale betonfondament gegooi kan word wat 1,6 tot 1,8 meter dik sal wees en 700 ton sal weeg.
6 ’n Belangrike stap in tegnologiese vooruitgang sal die ingebruikneming van die rekenaar-na-plaat-stelsel wees, wat al hoe meer in die drukkersbedryf gebruik word. Alle publikasies wat gedruk moet word, word elektronies na die takkantoor gestuur. Binne ’n kort tydjie word die vertaalde teks van Angola, Kongo, Zambië of ons eie vertalers ontvang, in bladsye opgemaak en met die prente gekombineer. Daarna word die inligting met behulp van die nuwe rekenaar-na-plaat-tegnologie regstreeks op ’n aluminiumplaat oorgedra, wat gereed gemaak en dan op die pers geplaas word waar dit ’n miljoen of meer eksemplare van die publikasie kan druk.
7 Ons sal nie net meer tydskrifte en brosjures kan druk nie, maar die Bestuursliggaam het ook besluit dat die Suid-Afrikaanse takkantoor slapbandboeke vir die hele Afrika moet begin druk. Toestemming is dus gegee dat die takkantoor in Duitsland een van die boekbindmasjiene wat hulle nie op die oomblik gebruik nie, vir ons stuur. Hierdie masjien, wat 40 meter lank is, sal nie net sakformaatboeke, soos die Kennis-boek, kan bind nie, maar ook groter publikasies. Hierdie nuwe boekbindery sal in ons huidige drukkery geïnstalleer word sodra ’n paar veranderinge aangebring is om daarvoor plek te maak. Ons sal ook ’n vierkleur- velgevoerde Heidelberg-Speedmasterpers ontvang om boekomslae te druk en ander vierkleurdrukwerk te doen.
8 Uit die bogenoemde is dit duidelik dat daar vir ons baie werk voorlê, maar ons voel bevoorreg dat Jehovah se organisasie ons gebruik om ons broers in ander takkantore in Afrika te dien.
9 Al hierdie veranderinge, aankope en vooruitgang kos baie geld. Waar kom die geld vandaan om vir alles te betaal? Van vrywillige bydraes wat by elke Koninkryksaal in die bussie gegooi word wat “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14” gemerk is, saam met bydraes wat regstreeks na die takkantoor gestuur word deur individue en gemeentes wat graag wil sien dat God se wil geskied. Soos nog altyd die geval was, reageer Jehovah se lojale knegte met ’n vrygewige gees wanneer daar ’n behoefte is. Dink byvoorbeeld aan die materiële dinge wat in Moses se dag nodig was om die tabernakel met al sy pragtige toebehore en gereedskap op te rig (Eks. 35:4-19). Let op die uitdrukkings “elkeen wat gewillig van hart is” in vers 5 en “al die wyses van hart” in vers 10. Die hartstoestand van die Israeliete het hulle beweeg om met gewilligheid en wysheid hulle milddadige bydraes vir Jehovah se werk te gee. Let ook op die reaksie van die volk in Eksodus 35:20, 21. Al God se knegte het die voorreg ontvang om ’n aandeel aan die oprigting van die tabernakel te hê, en hulle het gegee wat hulle kon.
10 Die vroeë Christene is ook beweeg om met ’n vrygewige gees aan Jehovah te gee, want hulle het ag geslaan op Paulus se woorde in 2 Korintiërs 9:7: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Hoewel party miskien ryk was, was die meeste ongetwyfeld gewone mense wat nie baie gehad het nie, maar wat gegee het wat hulle kon. “Want as die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie”, het Paulus gesê.—2 Kor. 8:12.
11 Die Wagtoring van 15 Januarie 1992, bladsy 18, paragraaf 16, het gesê: “Min Getuies van Jehovah is materieel ryk. Hoewel die meerderheid dus beskeie bedrae gee om Koninkryksbelange te bevorder, is hulle bydraes nogtans belangrik. Toe Jesus gesien het hoe ’n arm weduwee twee geldstukkies in ’n tempelskatkis gooi, het hy gesê: ‘Hierdie arm weduwee [het] meer as almal ingegooi . . . Want hulle almal [die ander bydraers] het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe’ (Luk. 21:1-4). Hoewel haar gawe klein was, was sy ’n blymoedige gewer, en haar bydrae is waardeer.”
12 Alles wat nou by die Suid-Afrikaanse takkantoor gedoen word en nog in die toekoms gedoen gaan word, word moontlik gemaak omdat die harte van Christenmans, vroue en kinders deur Jehovah beweeg word. Al die toerusting wat ons sal ontvang, die MAN- en die Heidelbergpers, die boekbindery en ’n aantal ander nodige masjiene, sal as skenkings van ander takkantore aan ons gestuur word, hoewel die toerusting tienmiljoene rande kos. Is ons nie dankbaar hiervoor nie? Dit alles word moontlik gemaak weens die vrygewige gees van ons broers in ander lande. Ons getroue diens hier in Afrika, soms onder moeilike omstandighede, is vir hulle ’n aanmoediging, en daarom help hulle ons soos hierbo gemeld is. So vind daar “’n gelykmaking” plaas.—2 Kor. 8:14.
13 Maar wat van die koste verbonde aan die uitbreiding van ons drukkery? Dit sal ook tienmiljoene rande kos. Die Bestuursliggaam het gereël om die geld vir die bouwerk voor te skiet, maar kan ons, hier in Suid-Afrika, bydra om hierdie koste te dek? Van ons broers doen dit reeds deur gereeld ’n bydrae in die bussie vir die wêreldwye werk te gooi. Ander verkies om hulle bydraes regstreeks na die takkantoor te stuur. Hoe dit jou ook al pas om by te dra, dit sal goed wees as ons almal ons afvra: “Wat kan ek doen om die werk, veral gedurende hierdie boutydperk, te ondersteun?” Weens hierdie uitbreiding sal al ons broers in Afrika, waaronder talle wat baie arm is, die boeke en tydskrifte bly ontvang wat hulle vir hulle persoonlike studie en die predikingswerk nodig het.
14 Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir julle ondersteuning van die Koninkrykswerk in hierdie land. Mag dit daartoe lei dat Jehovah aanhou om ons almal geestelik te seën.
[Prente op bladsy 3]
Pers in vergelyking met ’n vragmotor wat lektuur aflewer
Lengte: 44 meter
Hoogte: 5,5 meter
Gewig: 240 ton
MAN-Lithoman-pers
[Erkenning]
Copyright by MAN Roland Druckmaschinen AG
[Prent op bladsy 4]
Bouwerk aan uitbreiding van drukkery aan die gang
[Prent op bladsy 4, 5]
“Die Wagtoring” word by die takkantoor in 25 tale gedruk
Venda
Kaonde
Frans
Umbundu
Tswana
Zulu
Engels
Chichewa
Swahili
Portugees
Tsonga
Kiluba
Tumbuka
Uitbreiding van drukkery
Sepedi
Chitonga
Kirundi
Silozi
Kwanyama
Suid-Sotho
Cibemba
Afrikaans
Xhosa
Luvale
Shona
Lingala
[Prent op bladsy 5]
Uitbreiding van drukkery
[Prent op bladsy 6]
Ondersteun deur vrywillige bydraes