Soek na verdienstelikes
1 Jesus se instruksies in verband met die predikingswerk skep vir ons ’n uitdaging. Hy het gesê: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is en bly daar totdat julle vertrek” (Matt. 10:11). Hoe kan ons met welslae na mense soek as hulle deesdae al hoe minder tyd by die huis deurbring?
2 Ontleed julle gebied: Begin deur julle gebied te ontleed. Wanneer is mense gewoonlik tuis? Waar kan hulle gedurende die dag gevind word? Is daar ’n sekere dag van die week of tyd van die dag wanneer dit vir hulle meer geleë sal wees om ’n besoek te ontvang? As jy jou bediening by die roetine en omstandighede van mense in die plaaslike gebied aanpas, kan dit jou help om die beste resultate te behaal.—1 Kor. 9:23, 26.
3 Baie verkondigers het gevind dat hulle gedurende die vroeë aandure sukses behaal. Sommige huisbewoners is dan meer ontspanne en meer geneig om te luister. Gedurende die wintermaande is telefoongetuieniswerk (waar toelaatbaar) in die aand dalk doeltreffend. Om in sakegebied te werk en in openbare plekke te getuig, is ook maniere om mense met die goeie nuus te bereik.
4 Gedurende ’n maand van spesiale bedrywighede het een gemeente gereël om op Saterdae en Sondae in die laatmiddag en op Woensdae en Vrydae in die aand te getuig. Hulle het ook gereël om telefoongetuieniswerk te doen en in sakegebied te werk. Hierdie reëlings het soveel geesdrif vir die bediening gewek dat die gemeente besluit het om daarmee voort te gaan.
5 Gaan ywerig terug: As dit in julle gebied moeilik is om mense weer tuis te vind, kan jy probeer om aan die einde van elke besoek, ook met jou eerste besoek, ’n definitiewe afspraak te maak om terug te gaan. Maak dan seker dat jy die afspraak nakom (Matt. 5:37). As dit gepas is, kan jy die huisbewoner se telefoonnommer vra. Dit kan jou ook help om weer met die persoon in aanraking te kom.
6 Ons ywerige pogings om na verdienstelikes te soek en die belangstelling wat ons vind, verder te ontwikkel, sal beslis Jehovah se seën wegdra.—Spr. 21:5.